Program: ATKV Boeke-oase 2012

  • 0

Gesprekke en boekbekendstellings by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees

Meer uiteenlopend kan dit nie wees nie – van kampvuurliedjies tot ernstige kerkkwessies; van Florida (Gauteng) tot Kaapstad. Die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees se boekprogram is propvol gesprekke en sluit ’n paar bekendstellings van nuwe boeke in. Alles gratis.

Boeke waarvan die ink nog bykans nat is, is Deborah Steinmair se verbeeldingryke speurroman Die neus; Piet Strauss se Belhar geweeg – ’n nugter blik op die kwessies rondom die Belhar-belydenis; die FAK-sangbundel: Volume 2; en Harry Kalmer se Vlieger en die gevare van die close dance (gebundelde rubrieke oor Vlieger uit Florida se wêreld, wat groot aanhang in Rapport gehad het).

Uit die poësie-stal gesels Andries Visagie met Loftus Marais oor sy langverwagte tweede bundel, Kry my by die gewone plek aguur, waarin hy verskillende fasette van Kaapstad belig. In die gewilde Hardop met gedigte en musiek val die fokus vanjaar op Adam Small met gedigte van verskeie digters wat as huldeblyk vir Small geskryf is.

Die Suid-Afrikaanse geskiedenis kom onder die loep met ’n bespreking van Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag, onder redaksie van Fransjohan Pretorius. Onthou! Kronieke van vroue- en kinderlyding, 1899-1902 (saamgestel deur AWG Raath en Elria Wessels) is ’n lywige boek oor die konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog, wat meer as 200 foto’s insluit.

Die Nederlandse joernalis en skrywer Fred de Vries kyk in Rigtingbedonnerd van buite na die sogenaamde Afrikaner – almiskie ’n oorkoepelende term, maar in betekenis en definisie baie beslis nie eenduidig nie. Wilna Adriaanse se roman ’n Klein lewe vertel die lewensverhaal van ’n middeljarige wit vrou – onlosmaaklik deel van dié kontinent en met ’n geskiedenis wat ’n rol gespeel het in die ontwikkeling van haar identiteit.

Die twee Du Plessis’s van die Noordwes se geweste – P.G. du Plessis en Hans du Plessis – praat land en sand. Oor nuwe boeke (Hans se Karos orie dyne met nuwe Griekwapsalms en ander gedigte het onlangs verskyn); oor pryse (P.G. het so pas die Helgaard Steyn-prys vir Fees van die ongenooides gekry); oor skryf; en wat in die toekoms nog uit hul penne gaan kom.

Diegene wat selwers hul hand aan skryf wil waag en erns het met hoe daar met taal omgegaan word, kan onder meer nader staan vir ’n gesprek (met ’n spesifieke fokus op radiodramas) oor die skryfkuns na aanleiding van Die Afrikaanse skryfgids wat onlangs verskyn het. Ná die sukses van Wannie Carstens en Kris van de Poel se Teksredaksie is ’n Engelse boetie, Text Editing: A Handbook for Students and Practitioners (met die samewerking van John Linnegar), ook nou beskikbaar.

By die ATKV Boeke-oase word die wonder van woorde en boeke gevier. Dit is geleë op die feesterrein en is daagliks oop van 08:00 tot 19:00. Graffiti Boeke bring weer stapels en stapels nuwe boeke om van te kus en te keur, en Jan se tweedehandse boeke is ’n lekkerte vir die snuffelaars.

Die fees word van 2 tot 7 Oktober in Potchefstroom aangebied. Vir meer besonderhede besoek Clover Aardklop se webwerf by www.cloveraardklop.co.za.

Lees ’n onderhoud met Kabous Meiring oor die ATKV Boeke-oase.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top