Het nie vandag lus om oor die winterweer of ander koeitjies en kalfies te skryf nie. Soos die ou dominee gesê het dis nie nou my toeleg nie. Wil oor die Siekte-industrie en 'n spesifieke afdeling daarvan skryf. As iemand aanstoot neem is hy of sy welkom om te reageer want dit bring ons op die hoogte met die jongste verskonings. Voor almal instorm en die dieredokters my byvoorbeeld gryp (ly hulle aan skuldgevoelens?) moet ek verduidelik dat ons by menslike pasiënte is en spesifiek wil aandag gee aan die manne en vroue wat heeldag in mense se monde krap en glad nie skaam is om op ruim vergoeding aan te dring nie.
'n Storie het soms 'n paar oorsake: gehoor dat slegs 15% van ons bevolking tans siekefondse kan bekostig en dat die persentasie nog verder kan daal. Sien nou die dag die man wat my gras sny, of liewer ons kompleks s'n (anders dink iemand dalk ek is ryk). Hy praat swaar en pynlik. Al sy tande is verwyder (lekker eufemistiese weergawe van die waarheid!) en winkeltande is op die rou wonde geplaas. Hy hoop darem dit sal binnekort beter gaan.
Dit blyk verder die man (wat ander ouens se gras sny om te kan eet) se siekefonds kos hom R5 000 per maand (hy het afgesien van grasmasjiene en 'n bakkie met 'n sleepwa, ook 'n vrou en twee kinders). Moenie dink die gawe ouens en vrouens, van verskillende kleure, by die Siekefonds (volgens hulle foto-advertensie) is met R5 000 per maand tevrede nie. Hulle strip eerstens die ou se aansienlike spaarrekening en daarna skuld hy hulle steeds geld. Om 'n pynlike storie te verkort: die skoonmaak van die pasiënt se mond saam met die plastiektande veroorsaak rekenings van meer as R60 000. As 'n klein smash só lyk wil mens nie eens aan groter ellendes dink nie. Niemand van ons wil hê 'n professionele man moet met 'n stupid R200 000 karretjie ry nie, maar soos die koeie nou gemelk word gaan die meeste koeie (met die uitsondering van 'n klompie miljoenêrs) binnekort droog wees.


Kommentaar
George ek het nie 'n siekefonds nie. Nie dat ek nie een kan bekostig nie maar is genadiglik gesond. My vrou het so drie jaar gelede kanker gehad. Ons is na 'n staatshospitaal waar sy die beste denkbare behandeling en versorging kry wat ek aan kan dink. Ons gaan nog gereeld vir opvolgbesoeke en kan regtig nie kla oor die behandeling wat sy kry nie. Die probleem is egter nooddiensbehandeling wat onder verdenking is. Ek weet nie wat om oor mediese/siekefondse te dink nie. Daar is seker gevalle waar dit handig te pas gekom het. Daar is gevalle waar die fonds drooggetap is. My gevolgtrekking is dat siekefondse vir gesonde mense is. Versekeringspolisse is ook onder verdenking. Die ander probleem is die mens/lede misbruik baie keer die fondse/skemas. Jy as relatief gesonde persoon kruissubsidieer die kranke. Die aktuarisse sal meer lig daarop kan werp.
Reusedwerg, dankie vir jou kommentaar. In die laaste plek is die groot probleem Mammon: GELD. Sal graag iemand wil ontmoet wat voel hy het genoeg geld. Dit sal lekker wees om saam met die persoon tee te drink en net te luister wat hy/sy meedeel. Hoe meer jy het hoe meer wil jy hê en soms lyk dit of professionele mense (durf ek byvoeg: ten spyte van hoogheiligheid) erger deur Mammon regeer word as die res. As siekefondse moet verdwyn sal dit eerstens medici wees wat skade ly.
Wou eintlik oor wortelkanale ook skryf want reeds in die 1920's was daar wetenskaplike studies wat sterk daaroor gevoel het dat bore nie naby tandwortels moet kom nie, want die oomblik dat die wortel binnegedring word, word bakterieë vrygestel, wat op geen manier weer vernietig of beheer kan word nie. 'n Tand is nie solied nie en eerder soos 'n spons. Die probleem is egter te omvattend vir 'n brief en gevolglik het ek dit uitgelos, maar dit lewer rande. As iemand hierop wil ingaan lees gerus ter aanvang: http://www.westonaprice.org/holistic-healthcare/root-canal-dangers/.
Dis goed om te hoor dat jou vrou se siekte onder beheer is. Het 'n dogter aan die siekte afgestaan en die probleem vir jare bestudeer.