Pro-dink, oor geloof

  • 0

Pro-dink

Jou storie is amper soos myne. Dit neem heelwat leeswerk, kop-skoonmaak, ’n oop gemoed, pogings om buite jou eie veilige raamwerk te dink en nogal moed om uit die donker te kom! As ek so in die koerante lees hoe die kerke wroeg oor die Belydenis van Belhar, gay-kwessies, saambly voor die huwelik en die ewige gekerm oor die vier van Kersfees op die regte manier, dan is ek so verlig dat hierdie blok van my been af is.

Ek sit heerlik terug en verlustig my aan my vryheid van dogmatiese gebondenheid, wat my al die jare in kettings gehou het. Dis salig om te besef dat ek net my lewe kan geniet en die beste maak van die hier en nou. Ek hoef nie te wonder of dit ’n god se straf is, wanneer alles nie reg gaan nie. Ek aanvaar dit bloot as deel van die lewe. Ek weet ek is ’n goeie mens, wat nie heeltyd by ’n fiktiewe persoon om vergifnis hoef te smeek vir iets wat ek dalk verkeerd gedoen het nie.

Dis wonderlik om te besef dat ek nie in “sonde ontvang en gebore” is nie, maar net daar is omdat ’n natuurlike biologiese proses plaasgevind het. Ek hoef nie te bekommer oor ’n hiernamaals, hemel of hel nie. Ek weet ek word deel van die omgewing die dag wanneer ek my kop neerlê. Dis bevrydend om te besef dat goedheid, liefde, altruïsme, vergewensgesindheid, deernis, empatie, simpatie en alle ander goeie menslike eienskappe, nie die alleen-besittings van enige godsdiens of geloof is nie.

Ek staan in verwondering oor die natuur en beskou dit as my kompas en riglyn van hoe ek moet lewe. Ek skiet nie af dat die mens nog nie by die antwoord uitgekom het wat die beginpunt van alles is nie, maar ek hoef nie in vrees te leef vir ’n mens-uitgedinkte, jaloerse god wat die sondes van ouers sal straf aan hul kinders tot in die derde en vierde geslag nie. Ek hoef nie te glo aan engele, duiwels, gevalle engele, arke, mense in walvismage, pratende slange, vrouens wat uit mans se ribbes vervaardig is nie, water wat in wyn verander het nie en al die ander vreemde verhale nie.

Ek hoef net onbevange myself te wees en die lewe met sy lief en leed te leef, soos wat dit na my kant toe kom!

Groetnis

Perdebytjie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top