Dis herfs in die Karoo. Agter ons rûens lê Langenhoven se Swartberge. Ons soek na die lokaal vir die volgende show op ons lys. Die program sê dis in die NG Kerk. Kan nie wees nie. ’n Jazzkonsert binne-in die grote NG Kerk? Die een wat pronk met ’n windhaan op ’n lang skerp toring? Wat vertel jy my nou!

Foto: Knipoog Media
In die voorportaal is daar jonge meisies met lipstiek wat almal welkom heet. En binne slaan als my asem weg. ’n Verhoog met musiekinstrumente, mikrofone en klankversterkers. ’n Netwerk van elektriese kragdrade wat al die masjiene verbind. Maar bowenalles, sagte diskoligte wat om die beurt geel, blou en dan pienkpers skadu’s gooi.
Sesuur op die kop en die Kyle Shepherd Trio val weg. Sonder om te groet. Net so. En kort voor lank toe besluit die dorp se perde om liefs die vlaktes in te hol. Hier kom groot moeilikheid. Teen die derde snit toe lig Kyle sy agterstewe van die bankie af en lê skuins oor die keyboard. En daai vingers! Nog nooit so iets gesien nie. Vingers wat rek en krimp. Reguit trek en dan omdop. Vrou, ek sê jou, as die ritme eers van Kyle besit neem, dan bly hy net so hang met sy stêre in die lug. Elke nou en dan as hy mik om oor te skakel na vyfde rat, dan gooi hy eers die regterhand skuins agtertoe, skud ’n lit met mening los en kom dan terug vir die volgende frontale aanval op die arme klawers. En daai keyboard, die hink ’n pink, proes, lag en huil tot die sap spat.

Kyle Shepherd (Foto: Knipoog Media)
Links van Kyle staan Shane Cooper. Lyk asof die surfboard hom nou net daar by Muizenberg uitgespoel het. Peaky Blinders-kep op die kop, wit Vans aan die voete, bene gebêre in ’n los broek. Hy het die baskitaar aan die nek beet. Lyk of hy stry gekry het met die snare. Op en af. Vorentoe. Agtertoe. En dis nie lank nie toe hensop die baskitaar en begin tjank. Dis toe dat die ore van die lastige jakkalse daar op die omgewing se skaapplase helemal plat trek. Halfpad deur kry Shaney-boy warm. Nou trek hy eers sy jassie uit. Skud sy nek los. Tree dan vorentoe en wurg met hernude geesdrif die nou makgemaakte baskitaar. En links? Ja, dit is net so. Links van hom ry Jonno Sweetman lankal die dromme bloots dieselle vlaktes in.

Jonno Sweetman en Shane Cooper, the band Hassan'Adas (Foto: Knipoog Media)
Teen halftyd is die manne natgesweet en die gemeente goed opgestook. Dit is ’n geklappery en ’n gejil. Die wolwefluite bons terug van die mure. Iemand begin voete stamp en soos ’n trop doen ons mee tot die vloerplanke begin vibreer. En dan skielik die laaste paar akkoorde. Die drie towenaars tree na vore en buig diep vir die Prins van Albert. Die gemeente spring op en gooi hulle hande in die lug. Dis net toe wat my oog weer die Psalm-vers, so uitgebeitel op die muur, vang: “Steek julle hand op na die hemel en loof die Here.”
Vrou, ek sê jou, ek kon nie bybly nie. Soveel te sien. Soveel te hoor. Elke sinaps is gevonk. En deur die are pols en ruis die bloed. Ja, dis waar. Op daai moment toe dink ek dis reg met my om vanaand net hier in hierdie kerk te midde van hierdie mensgemaakte magic die lepel sekuur in die dak te steek.
.....
Op daai moment toe dink ek dis reg met my om vanaand net hier in hierdie kerk te midde van hierdie mensgemaakte magic die lepel sekuur in die dak te steek.
.....
Soos ’n amorfe, dog geoliede, amebe beweeg die skare en masse na buite. Daar op die trappe van die kerk hap-hap die kil Karoo-luggie aan onse warme nekke. Dis ’n uur tot die volgende konsert. Ons is af in die pad op soek na versterkings in die Ladies Bar van die hotel.
Op pad terug, in die pikgitdonkerte, skitter honderde sterre in die koepel van die hemel. Ons maak dit net-net betyds vir die laaste show van die aand, Karoo Jazz Project with Tribal Echoes Feat. Op die kop agtuur begin elke instrument eers luier en dan tel dit stoom op vir ’n full-throttle launching to the moon. Elon Musk-styl.
Op die verhoog, gebaai in eers geel, dan groen, en uiteindelik pienk lig, is daar musikante, rappers, digters en sangers. Die orkes se leier, ’n kitaarspeler met rooi velskoene, gee die pas aan. Hy verduidelik dat die Karoo ’n besonderse plek is. En dat Karoo-jazz ’n eiesoortige baksel is. En die songs? Die songs is van local issues: jonges wat op strate rondlê, tik wat wink en verwoes, ma’s wat doodgaan, pa’s wat weghol en wegbly, en van meisies wat alleen grootword. Vrou, ek sê jou, die snit (en snik) oor Leeu Gamka sleep jou saam, gat oor kop, totdat jy nes ’n tolbos al in die rondte draai en draai.
Maar kyk wie sien ek raak! Daar agter die frontlinie van die kontrei se jonges sit die einste Ramon Alexander van gisteraand se show voor die keyboard. Ghoemajazz se eietydse vertolker. ’n Volgeling van oom Robbie Jansen. Wat het ons dan nou hier? Die man. Enigmaties. Flegmaties. Wie weet. Maar suster, een ding is vir seker: Die man het goue vingers. Getoor en getik al die pad van die Morawiese Kerk daar in Louwskloof.
Net so voor 9-uur Saterdagaand 6 Mei 2023 wil ons uit onse nate bars. Toe die jonge rieldanser met die two-tonekapsel eers in die paadjie tussen die kerkbanke begin stof opskop, toe hys ek ook maar die wit vlag. En die hele gemeente jil tesame: vettes en maeres, jonges en stokoues, Kaapse vroue met hul hoedens en wol-ensembles, en die local aunties met hul selfgebreide wolmussies. Orals waar jy kyk, is daar monde wat lag, hande wat klap, lywe wat wieg, en gemoedere wat opwel en oorspoel.
Betowerend.
Magies.
Fantastagories.
Dis met ’n lamte in ons gebeendere dat ons Sondagoggend aantree vir die afsluiting. Toe ons inswaai by die hekke vir die People’s Concert, lui die kerkklokke. ’n Uitnodiging vir die kudde om nader te staan. Maar volgens die kennisgewing vasgemaak aan die kerk se heining wei die gewone kudde elders. “Die kerkdiens om 11-uur, 7 Mei skuif na Seekoegat.”
So met die intrapslag sit die kerkbanke reeds vol. Bo in die dak leun die orrelis oor die klawers van die enorme orrel. “Wat ’n vriend het ons in Jesus” dawer uit die orrelpype. Met die plathand vee ek ’n druppel uit my oog. Die seremoniemeester tree nader. ’n Laaste verwelkoming en verskeie bedankings vir die Prins Albert Gemeenskapstrust en tientalle andere wat meegewerk het om Prins Albert vanjaar op die jazz map te sit. Dan begin die skouspel met musikante wat beurte maak om te pronk. Ek voel weer hoe die lokomotief op dreef kom, spoed optel en dan uitbundig begin weghol. Dis toe Mike Rossi kort voor 12 die fluit laat sing dat sewe engele hul vlerke gelyk klap en hemel toe vlieg.
*
Sprakeloos klim ons in die warmgebakte voertuig, waai-waai vir die ambulans en brandweerbystand-ouens en ry dan traag weg uit die dorp van allegoriese sprokies terug na onse saai lewens in die Boland.
So ingegord agter die stuurwiel wonder ek oor die lang-afgestorwe predikers met die stywe wit boordjies daar in hul grafte. Was daar net krete van verontwaardiging daar vanuit die begraafplaas? Dog die forse, talentvolle en omstrede dominee van die 1880’s, ene Adriaan Hofmeyr, sou seer sekerlik sy seën oor Journey to jazz uitgespreek het? Dit was op sy aandrang dat geld ingesamel is vir die orrel. En in 1886, toe die orrel uiteindelik al die pad van die Empire af aankom, het die einste Adriaan self voor die klawers ingeskuif en luidkeels begin sing. Dit was blykbaar ’n heuglike blyspel. Net soos nou, 140 jare later, tussen hierdie einste mure van hierdie heilige gebou, op hierdie dorp, in hierdie streek, in onse arme arme land.

Foto: Knipoog Media


Kommentaar
Elrena, jy kry dit reg om die gees van hierdie wonderlike ervaring met jou woorde vas te vang. Buiten my vriende en die grond is dit bowenal die gees van Suid-Afrikaanse ervarings wat ek mis hier in die buiteland, maar om jou stuk te lees, laat my voel asof ek self daar in die kerk in Prins Albert was en saamgedans het. Baie dankie daarvoor.
Jy voel die gees in hierdie storie. Kerk en musiek. Lekkerrr!
Skryf, vertel, alte plesierig op die oor!