Die afgelope paar weke word daar met groot ywer in koerante en op TV ’n rasdebat gevoer, en daar het ’n paar interessante menings uitgekom.
Wat niemand, tot my verbasing, egter nog uitgelig het nie, is twee baie basiese beginsels. Die eerste is dat ’n debat, by its very nature, ’n wenner en dan by implikasie ’n verloorder voorveronderstel. Iemand moet reg wees, en die enigste manier om dit te doen, is om jou opponent verkeerd te bewys. Is dit nie juis ons probleem in Suid-Afrika nie? Ons is opponente in stede van vennote; ons moet teen elke prys wen. Ons is te trots om te sien dat gelykop speel partykeer ’n wen-wen-situasie is. Rumi het gesê: “Out beyond right and wrong there is a field. I will meet you there.” Het dit nie tyd geword dat ons met mekaar begin praat, net met die doel om te luister en te probeer verstaan eerder as om onsself te probeer verontskuldig en die ander een probeer verkeerd bewys nie? Het dit nie tyd geword dat ons in stede van debatte, eerder dialoog probeer nie?
Die tweede punt wat niemand maak nie, is dat ons nie ’n nierassige samelewing is nie. Ons is ’n gepolariseerde, rasbewuste, veelrassige samelewing. Ons is ’n nasie met 11 amptelike tale en ’n hele paar nie-amptelikes, met diverse kulture en gewoontes. Ons het soveel om te celebrate in ons verskeidenheid, maar ons kies om eerder krampagtig in ons kampies laer te trek en vanuit die veiligheid van “ons” groep mekaar met wantroue te bejeën. En natuurlik veronderstel “ons” dat daar ’n “julle” moet wees, ’n ander wat nie deel van “ons” groep is nie. Daar is geen ander verklaring vir die feit dat Zuma se tribalism campaign soveel sukses behaal nie. Daar’s geen ander verklaring voor dat mense in hulle duisende verkies om ’n kontroversiële, verdelende weergawe van ’n ou volkslied wat die grootste deel van die bevolking uitsluit, te sing nie.
Ons is nie ’n rainbow nation nie. Ons het die potensiaal om dit te wees, maar ons is nie, bloot omdat ons probeer voorgee alles is piekfyn. Alles word onder die mat ingevee, maar stadig maar seker is ons besig om te trip oor al die opgehoopte vrese, wantroue en woede wat ons so frantically probeer wegsteek. Thoreau sê in sy boek Walden: “The mass of men lead lives of quiet desperation. What is called resignation is confirmed desperation. From the desperate city you go into the desperate country ...” Dit klink soos 2015-Suid-Afrika. Het dit nie tyd geword dat ons ons desperation erken en werk maak daarvan nie?
Die gepubliseerde debatte probeer ’n politieke oplossing vir ons probleme voorstel. Ek twyfel egter of die politieke wil daar is om ons as een nasie te verenig. Hoe gaan die politici dan hulle bestaan regverdig as die ANC nie teen die wit gevaar van die DA waarsku, die DA nie “korrupsie!” kan gil, die EFF nie met #paybackthemoney en beloftes van nasionalisering van myne hulleself as politieke martelare kan uitmaak, en die res nie maar in die slipstream saamgesleur kan word nie?
Verbaas dit my dat mense in oorweldigende meerderhede ANC stem, ten spyte van korrupsie en swak dienslewering? Glad nie. Watse alternatief het hulle? Godzilla? Die EFF en hulle militante optrede? Cope of Agang, wat nie eers hulle eie partye kan run nie, laat staan nog die land? Buthelezi en sy pienk veer en sy faux Britse “poppycock”-aanmerkings wanneer dinge nie na wense verloop nie? Onder die ANC kan mense ten minste met hulle koppe hoog loop in die wete hulle klagtes oor rassisme val nie op dowe ore nie, al het hulle nie huise of opvoeding gekry soos belowe nie.
Ons antwoord lê nie in ’n politieke oplossing nie. Ons kan nie wag vir die politici om hulle eie belange opsy te stoot of te hoop dat daar oorvleueling tussen hulle belange en ons belange sal wees nie. Ons gewone mense moet ’n begin maak om hande te vat, moeilik soos wat dit mag wees.
Op universiteit het ek aan ’n groep, Koinonia, behoort. Die groep se doelstellings was eenvoudig: deel ’n maaltyd met mense van ’n ander kultuur en kleur, en praat oor jou dag. Klink eenvoudig, nie waar nie, tot jy onthou dit was in die laat tagtigs en om te fraternise oor die kleurgrens, kon jou in die moeilikheid met die gereg laat beland.
Miskien het ons nodig om weer ’n nasionale Koinonia te begin. Die Waarheid-en-Versoeningskommissie het wonderlike doelstellings gehad, maar ek dink nie hulle het ver genoeg gegaan nie. Hulle het nóg waarheid nóg versoening gebring. Tim du Plessis sê ergerlik in sy stuk in Rapport, en dis iets wat ek gereeld by wit mense hoor: “Maar ek het mos verskoning gevra. Ek was selfs by die WVK. Wat wil julle hê moet ek nog doen? Hoeveel keer moet ek nog verskoning vra?” Asof ekskuus sê al die seer en haat en woede en vernedering en skaamte en ontneming van menswees kan regmaak.
Dis nie so eenvoudig nie. Dis nie so maklik nie.
Adriaan Vlok was grootliks tot ’n bespotting gemaak toe hy Frank Chikane se voete gaan was het, maar miskien het hy ’n dieper verstaan gehad dat blote ekskuus sê nie genoeg is nie, dat iets tangible dit moet vergesel.
Die meeste swart en bruin mense is gefrustreerd, want bitter min het verander. Hulle hoef nie meer bakhand by die boer se kombuisdeur te staan nie. Hulle hoef nie meer baas te sê nie. Hulle hoef nie twee keer te dink en seker te maak voor hulle op ’n strand gaan, of by ’n restaurant wil instap nie. Hulle kan, en as daar teen hulle diskrimineer word, is die reg aan hulle kant. Daar’s goed wat hulle kan doen.
In ’n klein dorpie soos die een waar ek bly, sien mens egter nog boer en hond voor in die bakkie terwyl die arbeiders in wind en weer agterop moet sit en bibber. Die rasbewustheid en die saamlopende vooroordele is nie meer so openlik nie, maar dis nog steeds pervasively daar. Ek ervaar dit elke keer as ’n wit man ’n deur oophou, al die wit vroue in die geselskap laat deurstap en dan voor my by die deur uitstap. Diskwalifiseer my bruin vel en my kroes hare my van basiese bedagsaamheid? Maak dit my minder vrou, of minder geregtig op dieselfde behandeling?
Ek sien dit elke keer as ’n swart man in die straat aangestap kom en die wit vroue subtiel maar en masse na die ander kant van die straat stap, of hulle handsakkies stywer onder die arm vasknyp. Ek sien dit elke keer in die fake glimlag wat ’n wildvreemde wit persoon my gee, een van daais wat verskyn en verdwyn sonder om ooit die oë te haal. Niks word gesê nie. Niks hóéf gesê te word nie. Die prejudices is nog alive and well. Dis sulke polite slights, die klein stekies waarmee ons verstaan gemaak word dat ons nie wit genoeg en daarom nie goed genoeg is nie, wat verbittering veroorsaak. En dan word swart verbittering met groot verbasing en verontwaardiging hanteer: “Julle het dan nou die land, wat meer wil julle hê?”
My antwoord is altyd: Aanvaarding as mens is ’n goeie begin.
Ginger Rogers het na bewering een keer gesê: “Everything Fred (Astaire) does, I have to do backwards and in high heels. I have to do twice as well to be considered half as good.” As jy die geringste sweem van pigmentasie in jou vel het in Suid-Afrika, dan het jy dit al aan eie bas ervaar.Word jy bevorder, kan dit nooit op meriete wees nie, dit moet affirmative action wees. Is jy welgesteld, moet jy ’n tenderpreneur en by implikasie korrup wees, jy kon onmoontlik hard gewerk het vir jou geld.
Ek het in 2010 die Jan Rabie/Rapport-boekprys vir my debuut, Troos vir die Gebrokenes, ontvang. Die volgende klompie boekbesprekings wat ek gedoen het, was ek keer op keer op keer gevra of ek dink ek het die prys gekry omdat ek bruin is. Die subteks was duidelik: Obviously kon meriete nie ’n oorweging gewees het nie. En die moontlikheid dat ek dalk gevoelens het wat seergemaak kan word, is klaarblyklik glad nie ’n oorweging nie.
Deesdae dink ek twee keer voor ek instem tot ’n boekbespreking.
Ek is besig om ’n baie tentatiewe vriendskap te ontwikkel met ’n vrou van ’n ander kultuur. Sy kom van ’n selfs kleiner dorpie (en ek vermoed selfs meer konserwatief) as die een waar ek bly. ’n Paar dae terug vertel sy my, in ’n onverwagte maar baie welkome burst van openhartigheid, dat sy nie goed met small talk is nie. My onmiddellike, eerste reaksie was: “Hallelujah, gee die vrou ’n Bells.” Ek haat small talk, dit voel soos ’n mors van tyd. Tempus fugit. Daar’s mos groter vrae om te vra, belangriker issues om oor te praat.
Hoe meer ek egter dink daaroor, hoe meer wonder ek oor die waarde van small talk vir ons as ’n nasie. Ek weet nie watse musiek of boeke my vriendelike acquaintance geniet nie, of sy hou van flieks, of sy ’n significant other het, of sy broers en susters het nie – eenvoudige goed wat ek sou weet as ons al twee beter was met small talk.
Maar kom ons neem dit op ’n meer nasionale skaal. As ’n nasie is ons so geneig om mense te label op grond van hulle taal, hulle kleur, hulle kleredrag. Ek het al vantevore geskryf oor hoeveel ek labels haat, omdat dit mense lui maak. Ons maak judgement calls gebaseer op ’n ervaring wat ons dalk met een of twee persone van ’n spesifieke groep gehad het. Dis hoekom dit so maklik is om te sê die ANC is korrup, of Afrikaners is rassiste, of bruin vroue steel, of swart mans verkrag. Dis hoekom prisoniere by plekke soos Auschwitz gestroop was van hulle besittings en hulle name. Dis makliker om ’n nommer op ’n rekenaar of in ’n boek uit te vee as om ’n persoon met ’n familie en ’n geskiedenis na die gaskamers te stuur.
Wat sou gebeur as ons die moeite doen om ’n gesprek te begin met ’n persoon van ’n ander groep? Small talk. Net gesels oor familie en vriende en belangstelling toon in die minutiae van mekaar se lewens. Nie diep gesprekke oor politiek en godsdiens nie. Anyway, ons weet mos almal niemand het destyds vir die NP gestem nie – hoe hulle aan bewind gekom het is ’n mystery op dieselfde vlak as hoe die Bermuda-driehoek werk.
Wat sou gebeur as ons die moeite doen om iets omtrent ’n ander kultuur te leer, om ’n paar frases van ’n ander inheemse taal te leer? Dis makliker gesê as gedoen, ek weet. Ons dorpe is uitgelê om apartheid te fasiliteer. Gaan kyk maar in jou eie dorp. Tussen die wit, bruin en swart woongebiede is daar gewoonlik groot stukke grond wat vir industriële gebruik soneer is, of wat aan een of ander staatsinstansie behoort, of daar’s sportgronde. Integrasie gaan nie sommerso organies gebeur nie. Die gevolg is dat mense uit hulle pad moet gaan en ekstra moeite doen as hulle met iemand van ’n ander groep wil sosialiseer. Die meeste van ons is gewoon nie bereid om daai moeite te doen nie. Dis makliker om tussen “ons” mense te bly, waar mense ons taal praat, ons verwysings verstaan, ons insider grappe ken.
Dit maak die golf tussen “ons” en “hulle” net soveel groter, totdat ons op ’n dag besef dit het onoorbrugbaar geword.
Op Witte Donderdag hernu priesters in die Anglikaanse kerk, waar ek aanbid, hulle priesterlike geloftes. Dan kom al die priesters in die bisdom bymekaar, en dis gewoonlik een groot feestelike ervaring. Die diens is altyd in Engels, Afrikaans en Xhosa in die Wes-Kaap. In ander landsdele is dit in wat ook al die dominante tale vir daardie gebied is. Dit is ’n roerende, verenigende ervaring om te kan sing, lees en aanbid in jou eie taal en ook dié van jou naaste. Ons neem dit as meesal as vanselfsprekend aan, maar hierdie Witte Donderdag het ek opnuut besef watter kosbare gawe ons deel.
Watter verskil sou dit nie maak as ons in ons gemeenskappe moeite wou doen om mekaar se taal en kultuur te leer verstaan, om ons oop te stel vir diversiteit sonder prejudices nie? Watter verskil sou dit nie maak as ons in ’n inheemse taal kon groet en na iemand se welstand verneem nie? Klein goedjies wat reuse stappe nader aan mekaar represent.
Ons kry ons humanity uit die connections wat ons bou, met familie, met vriende, met gedeelde belangstellings, uit ons geskiedenis. Dis die betekenis van ubuntu op sy suiwerste.
As ek weet my swart werker het ’n siek kind, sy’t die hele nag nie ’n oog toegemaak nie en dis ’n siekte wat my eie kind al gehad het, gaan ek haar nog so ongeduldig uittrap as sy laat kom, of stadiger werk, of kort-kort oproepe huis toe maak? Natuurlik nie, want in stede van ’n lui werknemer wat lyf wegsteek, gaan ek ’n bekommerde, moeë ma sien. Ek gaan haar humanity raaksien. Ek gaan empatie hê met dit waardeur sy gaan. En as ek haar humanity raaksien, moet dit ’n invloed hê op hoe ek haar behandel.
Is dit nie soveel meer meaningful as ’n ergerlike ekskuus wat niks regmaak en die aanhoorder resentful laat voel omdat hulle griewe en onregte nie ernstig opgeneem is nie? Is dit nie ubuntu nie?


Kommentaar
Liefste Bettina, wanneer kan ons 'n broodjie saam breek? Het behoefte aan klets oor skryf, menswees, Christenwees-sommer als en ja ook die liefde! Asseblief!
Beste Bettina
Ek is wit, manlik en middeljarig. Ek hoor wat jy sê en ek aanvaar jou as mens. En ek vra onvoorwaardelik om verskoning vir my en my mense se onmenslikheid van die verlede (en hede). En ek sal uit die hart uit oor en oor verskoning vra en dit ondersteun met dade. Dankie vir jou toewyding aan ware menswees. Suid-Afrika het mense soos jy bitter nodig!
Goeie artikel. Ek sal wil byvoeg almal, soos in almal in die land het een moerse groot klap of inspuiting vir gesindheidsverandering nodig. Almal word geklasifiseer of etiketeer as een of ander booswig. Ons moet eerstens verder kyk as wat ons neuse lank is en ophou met moddergooiery, verwyte en beskuldigings. Aanvaarding en respek vir mekaar sal ook help. Respek word verdien aanvaarding word aan gewerk deur optrede, gedrag en selfgelding. Rassepolarisasie is 'n voltydse taak deur die huidige regime, en hulle kry dit reg. "Divide and rule."