Sê nou maar daar was geen duiwel nie en geen hel nie.
Sê nou maar daar was geen straf vir ongelowiges na die dood nie.
Dan is dit mos nie meer nodig om ’n god te aanbid nie, want jy is veilig!
Kan julle sien hoe interafhanklik die twee dinge is, geloof in ’n god aan die een kant en die duiwel aan die anderkant? Kobus, kan jy sien jy het eintlik die duiwel nodig om jou geloof te regverdig? Jy moet liewer die duiwel met meer respek behandel, ou vriend!
Heiden


Kommentaar
Soos ek tevore gesê het en nou weer sê, Heiden – jou insiglose en onkundige getuienis weerspieël die rede waarom jy ’n heiden is – jy weet niks en erger nog, dit blyk dat jy niks wíl weet nie, want jy is arrogant, verwaand en baie bevooroordeeld.
Die snert wat jy kwytraak, sal jy nie by ware gelowiges hoor nie, maar wel by ander heidene – ongelowiges.
Jy sien, ons dien nie die HERE omdat ons bang is vir die duiwel, nie. Ons is nie bang vir hom, nie. Niemand het tot geloof gekom uit vrees vir die duiwel nie, maar omdat hulle ’n pad met God, met die HERE, wil stap – omdat hulle Hom liefkry, vertrou en eerste wil stel in hul lewens en die wonderlike vooruitsig het om eendag ’n ewigheid in Sy Persoonlike teenwoordigheid deur te bring. Wanneer mens eers ’n pad met die HERE begin stap, dán eers besef jy wat jy gemis het vooraf. Dit is wonderlik!
Jy sien, die duiwel pas nêrens daar in nie – maar vir jou in jou spirituele toestand ís die duiwel natuurlik ’n toekomstige boelie – tensy jy natuurlik tot bekering kom. En daarin is jy natuurlik welkom, jy sal verwelkom word!
Kobus de Klerk