Praat binne grense

  • 0

Met groot verwagting begin ek lees aan Praat verby grense. Dit is ’n gesprek tussen Laurie Gaum en sy pa, Frits, albei leraars in die NG Kerk. Pa en seun wat met mekaar gesels oor God, die lewe, dood, gesag van die Bybel en homoseksualiteit en ’n rits ander belangrike temas.

Dit is in die styl van ’n klomp e-posse wat tussen April en Oktober 2009 tussen hulle gewissel het, ’n paar jaar ná die selfmoord van Douw Steyn, Laurie se lewensmaat. En natuurlik hul homoseksuele verhouding wat op sensasionele wyse in die openbaar bespreek is.

Laurie, toe ’n jong predikant in die NG Kerk St Stephen’s in Kaapstad, se lewe is op sy kop gekeer met kerkrade, ringe en sinodes. Gebeure wat Laurie baie diep verwerping laat beleef. “Jy het die gay kwessie soos niemand anders nie op die tafel geplaas,” skryf sy pa, en Laurie wat aangrypend antwoord met: “Pa moet onthou dat ek Douw liefgehad het.”

Frits vertel hoe hy en sy seun deur sy gayskap moes worstel. Ek begin opgewonde raak, want hier word daar nou eerlik naby grense gepraat – hierdie boek kan werklik die groter debat verby grense neem.

Die grense verby praat … stop egter hier.

Want stadig maar seker begin die dieperliggende denkraamwerke wat agter pa en seun se woorde lê, vorm aanneem. En vinnig vloei die gesprek na hoe hulle die Bybel lees en wie God vir hulle is. En hier word daar ongelukkig geen grense verby gepraat nie.
NG Kerk-dogma, met so ’n bietjie nuwe geur van Laurie se kant, word voorgehou. Ja, vir seker bring Laurie ’n sagter, sensitiewer en meer oop kant van die kerk na vore en beweeg naby die grens wat oorgesteek kan word, maar word vinnig deur sy pa terug getrek.

Ek vermoed dat nie Frits óf Laurie besef hoe hulle binne die grense praat nie. Frits wat sommer so terloops praat van die belangrikheid van die leë graf en vir Willie Esterhuyse so twee keer bykom oor sy ongeloof. Laurie wat weer op sy beurt pragtig praat oor ’n gelyker samelewing waar daar ’n einde is aan diskriminasie van ekonomie, klasse, rasse, geslag en seksuele oriëntasie. Maar direk daarna praat van God se seën en die een doop en God se aanvaarding van almal. Wie is die God van wie gepraat word?  Hulle is so seker van hierdie grens dat hulle nie eers verder daar gaan nie.

Die gevoel wat ek kry, is dat pa en seun in ’n swembad swem – vlinderslag, dan onder die water in duik, mekaar nat spat en verskeie toertjies – maar telkens by die rand van die swembad kom en hulle dan met mening wegskop, terug na die middel.

Praat verby grense kon mense gehelp het om in die see te begin swem, vry, oop sonder kante. Maar hulle kies om beheers, berekend en NG Kerk-korrek te praat. “Die grense wat die kerk wil oorsteek, is daardie dinge wat skeiding bring tussen mense en verhoed dat die evangelie vrylik na ander vloei,” skryf Frits. Presies hierdie stelling is wat die gesprek veilig binne die kerkgrense hou.

Die hele siening van “die ander” wat bereik moet word met die evangelie, wys dat Frits nie regtig grense verskuiwe nie. En Laurie wat later antwoord dat hy ’n teologie van weerloosheid voorstaan, maar dit nooit regkry om uit die swembad te klim en in die oop see  te gaan swem nie. Want in die swembad is ’n mens nie regtig weerloos nie. Om egter in die oop see te swem – dáár beleef jy weerloosheid!

Wat van gay mense wat nie meer deel voel van die kerk nie? Wat van mense wat so seer gekry het in die kerk dat hulle hulself buite die Christelike tradisie sien, die ateïste en agnostici? Wat van dié wat Frits noem wat “wegkeer” eerder as “bekeer”? Hierdie boek kon ’n wonderlike hulpmiddel geword het vir die gesprek verby die grense van “my god is die regte god”-sindroom.

Pa en seun (twee NG Kerk-dominees) preek veilig voort binne die grense.

Ek sit die boek stadig neer … Ek het gehoop, maar nouja.

Ek wonder hoe die gesprek werklik sou verloop het as pa en seun nie heeltyd vir hulle gehoor gepraat het nie?

 

– Dr Abel Pienaar is ’n godsdiensfilosoof en skrywer van die boek Saam op soek na God; soeke na ’n eietydse spiritualiteit.

<< Terug na indeksblad | Back to index <<

<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top