Postkoloniale literatuur en die representasie van trauma. Hennie van Coller reageer

  • 0

Hennie van Coller reageer op die artikel “Postkoloniale literatuur en die representasie van trauma: ’n Verkenning van Verkenning” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Cilliers van den Berg.

My gevraagde kommentaar op die uitstekende artikel van Cilliers van den Berg, “Postkoloniale literatuur en die representasie van trauma: ’n Verkenning van Verkenning”, sal die vorm aanneem van kanttekeninge.

Van den Berg definieer trauma (2) as “’n unieke historiese gebeurtenis wat nie sinvol deur die individu of kollektiewe groep ervaar, gerepresenteer en aan ander gemedieer kan word nie”. Sentraal in sy beredenering is die opvatting dat werklikheidservaring diskursief van aard is én sy skepsis aangaande “die vermoë van taal om enigsins die volle betekenis van die werklikheid te kan ontsluit” (3). Dit kom daarop neer dat trauma inderwaarheid nie gerepresenteer kan word nie (behalwe op wat hy “metonimiese aard” noem). Dit skakel Van den Berg met die postkolonialisme, waar daar ook ’n representasieprobleem opduik. Omdat die Ander nie geken en deurgrond kan word nie, kan hy/sy ook derhalwe nie werklik gerepresenteer word nie. Later word hierdie denke verder gevoer deurdat gesê word dat ook die geskiedenis onrepresenteerbaar is (9): “Historiese kennis kan wel in ’n mindere of meerdere mate op ’n rytjie geplaas word, maar ’n indringende begrip oor [van?] die verlede skiet tekort. En daarom skyn ’n getroue representasie van die verlede onmoontlik te wees […] Geskiedskrywing bemoei sigself dus met ’n onrepresenteerbare ‘objek’, of dan, ’n trauma ontologies gesetel in die beperkinge van die historiese diskoers.”

Van den Berg gaan verder deur te stel dat fiktiewe representasie poog “om eerder begrip te skep as om kennis oor die verlede te rekonstrueer en konsolideer” (10). Omdat representasie van die geskiedenis dus onmoontlik is, “inherent tekortskiet”, “word dit in verband gebring met ’n algemene, ontologiese beskrywing van trauma”. As ek hom goed begryp is én trauma én die Ander én die geskiednis oor een kam te skeer synde moeilik, of glad nie representeerbaar nie.

Om trauma te ervaar, is om uitgelewer te wees aan ’n narratief waarbinne jy teen wil en dank ’n rol speel, maar die diskursiewe gang nie kan beïnvloed en selfs nie kan begryp nie. Die trauma spruit uit die feit dat jy uitgelewer is aan die willekeur van ander (die Verteller of die Noodlot), en uit die feit dat daar in die narratief geen kousale logika (een van die belangrikste kenmerke van ’n narratief) bestaan nie en jy derhalwe oorgelewer is aan wat WF Hermans “moedswil en misverstand” genoem het – toeval en willekeur. Vanselfsprekend raak representasie van die trauma dan ’n probleem, veral omdat dit problematies is om koherensie en logika te skep.1

Trauma-ervaring is verwant aan opvattinge oor vervreemding, soos dié van Seeman (1959) wat magteloosheid, betekenisloosheid, normloosheid, sosiale isolasie en selfvervreemding as die belangrikste kenmerke daarvan beskou. In hul studie van die Modernisme noem Fokkema en Ibsch (1987:44) dat trefwoorde van die Modernisme bewuswording, vervreemding en observasie is. Dit bring hul weer in verband met vorme van representasie. Ekstreme selfvervreemding lei tot onthegting en tot ’n situasie waarin net “observasie” nog moontlik is. Desondanks het die moderniste steeds maniere gevind om te representeer en voorbeelde daarvan kom ruimskoots in Fokkema en Ibsch voor.

In hierdie verband is die opvattinge van Ankersmit (2010) relevant. In hierdie boeiende studie rig hy ’n verwyt aan politieke filosowe wat hulle só bemoei met die teoretiese gondslae van hul vak en die probleme rakende representasie dat hulle hul plig versaak om maar enigsins te skryf oor die belangrikste politieke probleme in die moderne wêreld. Dit is volgens hom nie net ’n selfsugtige “opsluit in haar eigen kleine wereld” nie, maar dis ’n onverskilligheid ten aansien van die groot probleem van die eie tyd én spreek van onverskilligheid teenoor die groot publiek (Ankersmit, 2010:272).

Volgens hom is die verhouding tussen denke en werklikheid die belangrikste tema van die Westerse filosofie sedert 1600 (273). Maar, is sy verwyt, hoe meer hulle die denke en werklikheid by mekaar probeer bring, hoe meer jaag hulle die twee juis verder uit mekaar uit. Dit lyk my dis ook van toepassing op die begripspaar representasie en werklikheid.

Ankersmit is veel meer pragmaties. Hy haal LP Hartley aan wat in sy roman The go-between gesê het: “The past is a foreign country”, wat nogal herinner aan Karel Schoeman se romantitel ’n Ander land. Volgens Ankersmit (2010: 280) is dit die skrywer én die historikus se taak om vir lesers as gids op te tree op pad na die verlede. Vir hom toon die gids-metafoor twee dinge: die plekbeskrywings moet waar wees: “Dat zij de waarheid en niets dan de waarheid moeten verwoorden over het verleden [… maar] … de waarheid is slechts diensbaar aan de reis naar het verleden. Vertrek men vanuit een ander heden, of naar een ander verleden, dan zijn ook andere ‘plaats-beschrijvingen’, andere waarheden nodig. Er bestaat dus niet zoiets als ‘de’ waarheid over het verleden.”

In die tweede plek leer die diensbaarheid van die waarheid aan die bereiking van ons bestemming in die verlede ons ook iets oor die aard van die historiese teks. Daar is baie verskillende paaie na die verlede, net soos daar verskillende paaie na enige bestemming is. Die interessantste meningsverskille ontstaan dus eers as daar gepraat word oor die verskillende paaie na die verlede, wat van belang is en wat belangrik is as jy op ’n bepaalde plek in die verlede wil kom. Dit gaan dus in die geskiedskrywing nooit oor waarheid nie, maar oor wat belangrik is.

Vir Lorenz (1998:326) is fiksie en geskiedenis nie dieselfde begrippe nie, want “The importance of the intersubjective character of the rules of ‘doing history’ in contrast to ‘doing literature’ cannot be overemphasized because it constitutes history’s distinguishing hallmark as an empirical discipline “ (sy beklemtoning).

Toegang tot die verlede verkry jy deur nougesette navorsing van byna elke aspek daarvan, én deur inlewing via die verbeelding sodat jy by wyse van spreke die sweet van die slawe kan rúik en hul krete van pyn kan hóór. Dit is die metode van Schoeman in Verkenning. (Outo)biograwe soos JC Steyn maak weer ruimskoots gebruik van ander outentifiseringstegnieke soos die opnoem van handelsname, boek-en tydskriftitels, die pryse van vergange se dae se produkte, briewe en dokumente.

Dit is opvallend dat Schoeman toenemend van vervreemdingstegnieke (soos metanarratiewe kommentaar) gebruik maak om juis die afstand tussen nou en toe te beklemtoon. Ook Steyn-hulle se herkonstruksie bevestig eerder die “andersheid” van die verlede.

Dan Sleigh volg in Afstande, sy pas-verskene historiese roman, ’n ander weg, naamlik juis deur “domestikasie”, die tegniek wat in die vertaalwetenskap beteken om iets uit ’n vreemde kultuur (die bronkultuur) te vertaal met ’n begrip wat bekend is vir die leser in die doelkultuurSleigh oorbrug doelbewus die afstand wat gewoonlik bestaan tussen historiese tye. In Afstande is die tydsverskil tussen die romangebeure (die historiese tyd) en die publikasietyd inderdaad meer as 2 000 jaar. Dit spreek daarom boekdele vir die outentisiteit van Sleigh se historiese roman dat sy historiese representasie inderdaad lees soos ’n spannende en aktuele relaas uit ons eie tyd. Sonder enige manipulasie word daar voortdurend ’n parallel geskep tussen twee tye wat duisende jare uitmekaar lê. In hul oornagplekke koop jy toe weliswaar ’n bondel strooi om op die grond mee te slaap waar kort gelede ’n amputasie plaasgevind het. En water kom uit ’n put. Privaatbadkamers lê nog eeue in die verskiet, maar wat beskrywe word, is onmiskenbaar gastehuise wat met ons eie variant veel gemeen het. Of sy representasie “waar” is, is kwalik ter sake; dit is boeiend en hy is ’n uitnemende gids tot ’n vergete wêreld. Na my gevoel is dít ook oorheersend ’n metaforiese manier van representasie.

Wanneer gekyk word na Van der Berg se representasiemodel, is dit vir my besonder moeilik om te agterhaal presies wat hy in die praktyk bedoel met ’n sogenaamde “metonimiese representasie”. Hy sê in hierdie verband dat “die mees produktiewe representasie van trauma sou getipeer kon word as ’n selfrefleksiewe representasie of demonstrasie van trauma se onrepresenterbaarheid: dus ’n representasie wat die suggestie laat dat dit tekortskiet en feilbaar en voorlopig is.” Dit beteken in die praktyk ’n werk wat representasie dus op ’n metavlak problematiseer; dit is ’n vorm van representasie wat die gevaar loop om te versand in (teoretiese) inersie en dit raak selfs na my gevoel ’n impasse: ’n oorbeheptheid met representasie as teoretiese probleem en ’n onvermoë of onwilligheid om dit liefs binne ’n narratief op metaforiese wyse te illustreer.

Onlangs het daar ’n nuwe Nederlandse literatuurgeskiedenis verskyn, omdat die geskiedenis van die Nederlandse letterkunde belangrik genoeg is, het die redakteurs dit gestel. Ankersmit beweer dat alle mense eintlik historici is in die sin dat hulle elkeen ’n gids is ten opsigte van ’n bepaalde terrein. Vanselfsprekend, sou hy kon sê, met die besef dat hulle slegs gidse is en nooit die (volle) waarheid sal kan bereik nie. Dit mag mens desondanks nie verhoed om handelend op te tree nie. In terme van ons debat: historici mag nie beswyk voor die “trauma” van die onrepresenteerbaarheid van die verlede en gewoon hul weergawe neerpen nie.

Daddow (2008: 53) sê van Hayden White: “White’s normative agenda in exploding history was to de-privilege the status of professional history as the guardian of what can legitimately be studied in the past and how that past can legitimately be represented. His aim was to explode history for the sake of it or to do away with the discipline of history altogether. By contrast, White’s aim has been clear throughout: to make history more relevant to us in our daily lives by reconnecting it to the poetic and artistic ways of representing reality.” Weer eens staan die verpligting wat die historikus teenoor ’n groter publiek het, sentraal.

Representasie van die Ander is in die verlede reeds op die spits gedryf met die verwyt dat ’n blanke byvoorbeeld nooit ’n swart persoon sou kon representeer nie. Indien ’n skrywer ’n dier kan (probeer) representeer, sou hy seker ook die Ander kon probeer representeer – altyd met die besef van onvolledigheid, onvolkomenheid en dergelike meer. Maar dit behoort geen beletsel te wees om dit te probeer nie.

Só moet ook die getraumatiseerdes ’n narratief daarstel, sonder die verwagting (of pretensie) van “waarheid” of selfs volledigheid. Maar anders sit ons met die ou dilemma van hulle wat beweer dat daar geen betekenis bestaan of te agterhaal is nie – vanselfsprekend is hul eie bewering dus ook betekenisloos. Só kom ons nie verder nie en grawe ons vrugteloos na die ingegroeide toonnael.

Verwysings

Daddow, O. 2008. Exploding history: Hayden White on disciplinization. Rethinking History, 12(1):41-58.

Fokkema, Douwe en Elrud Ibsch. 1987. Modernist Conjectures. A mainstream in European Literature 1910-1940. Londen: C Hurst & Co.

Lorenz, C. 1998. Can Histories be True? Narrativism, Positivism, and the ‘Metaphorical Turn’. History and Theory, 37(1):309-29.

Seeman, M. 1959. On the Meaning of Alienation. American Sociological Review, 24(6):783-91.



1 My dank aan Burgert Senekal vir insigte uit sy onvoltooide tesis “The representation of alienation and identity in counterinsurgencies: Vietnam an Namibia/Angola”, wat hy onder my leiding skrywe.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top