
Foto: Canva
Poste restante
die probleem met die teorie
van momente –
hulle’s moeilik te verklaar
vlietend en onsigbaar
mooi of gevaarlik –
mens vergis jou maklik
van ver lyk die verskille klein
soos dié tussen sneeu en vliegas
patrone op die teëls
neem tussen besemhale
hardkoppig tóg vorm aan
soos wat mens die as
van bokse vol briewe
met uitlandse seëls
’n pêrel op ’n dasspeld
en ongedeelde oomblikke –
sonder die uitkomkans
wat ’n mat jou sou bied –
eenvoudig moet wegvee
opgeruimd staan netjies

