Poort 2010 ’n minipoort tot die binnewêreld van jong skrywers

  • 0

Titel: Poort 2010
Redaksie: Marius Crous, Franci Greyling en Betsie van der Elst
Prys: R30

Klik hier om Poort 2010 te koop.

 

My ouerige HAT verskaf drie verklarings vir die woord poort:

1. ’n Groot, aansienlike deurgang in ’n muur of ander tipe omheining.
2. Toegang. Soos in die poorte van die hemel (of die hel).
3. ’n Deurgang tussen berge.

My ouerige HAT sou nie kon weet dat Poort ook die naam is van ’n kompetisie vir jeugdige skryftalent wat jaarliks deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aangebied word nie, of dat Poort die versamelbundel van geselekteerde inskrywings in die kompetisie is nie. Hierdie laaste poort, Poort 2010 (onder redaksie van Marius Crous, Franci Greyling en Betsie van der Elst), bevat 18 gedigte en 20 stukke prosa.

Elke skryfsel is op sigself ’n minipoort wat die leser deur die muur help en toegang bied tot die binnewêreld van die jong skrywers wat die werke neergepen het, en as versameling is die bundel ’n “aansienlike deurgang” na die bestaanswêreld van ’n seker faksie van Suid-Afrika se tieners.

Deur die mure

Die tekste wat in Poort 2010 versamel is, raak aan ’n wye spektrum temas, waaronder liefdesverhoudings, nostalgiese herinneringe, geweld in die samelewing en verhoudings met ouers en gesagsfigure sterk figureer. Daar is ook ’n opvallende worsteling met klasverskille, en in heelparty van die tekste, byvoorbeeld “Wanneer honger jou eetlus wegvat” (37), “Ek loer vir jou vanuit my ghetto” (44), “Kootjie se koffer” (51) en “Kersfees op die straat se hoek” (22), word ’n poging aangewend om die wêreld van die “ander” in die verbeelding binne te gaan en die spreekwoordelike myl in hul skoene te loop.

Verhale soos “My naam is Koster Swart” (33), “Reën” (48) en “Bloedgeld” (53) werk op ’n baie grafiese vlak met geweld en laat ’n mens wonder wat die uitwerking van die konstante blootstelling aan die moorddadigheid van ons samelewing op hierdie kinders het. Veral in “Reën” word die vrees van die inbraak baie mooi vasgevang, en dit is jammer dat daar ’n byna komiese prentjie aan die einde van die verhaal geplaas is wat die spannende en eindelik tragiese stemming versteur.

Dit is opvallend dat die skrywers in die poësie-afdeling merendeels met meer persoonlike materiaal omgaan. Hier word liefdesverhoudings en seksuele ontwaking, die dood van vriende en familielede en die verhouding met God op ’n meer onmiddellike en intieme vlak as materiaal ontgin. Die invloed van ouer digters soos Eybers en Jonker is veral in die jong dames se gedigte oor die liefde te bespeur, terwyl die vaste rympatrone van digters soos AG Visser in baie van die ander gedigte opslag vind.

Die verhale en gedigte waarin die tieners se eie leefwêreld verwoord word, is die mees geslaagde tekste in die bundel. Selfs in die gevalle waar hierdie verhale nie so goed geskryf is nie, is dit interessante en soms boeiende leesstof, omdat dit ’n eerstehandse blik bied op ’n wêreld wat vinniger verander as waarmee ons kan byhou, en die tieners se ervaring daarvan.

Voor die poorte

Volgens die SA Akademie se webwerf het ’n rekordgetal jong skrywers hierdie jaar voor die poorte aangemeld: die kompetisie het 268 inskrywings van leerders van graad 10 tot 12 regoor Suid-Afrika, en selfs Namibië, gelok. Louise Viljoen, voorsitter van die Letterkundekommissie van die Akademie, verantwoord in die voorwoord van Poort 2010 die idee van ’n kompetisie as aanmoediging vir jong skrywers om hul produkte deurlopend te slyp en te verfyn.

Om jou skryfwerk in ’n regte-egte boek te sien is vir die meeste aspirantskrywers die toegangspunt tot ’n verbeelde literêre hemel. Ongelukkig veronderstel dit ook toegang tot ’n baie spesifieke hel.

Wanneer skrywers ernstig raak oor skryfwerk, gaan ’n sekere onskuld vir ewig verlore. In ’n praatjie wat Danie Marais tydens die Nuwe Stemme-werkswinkels gelewer het, het hy die digter Tony Hoagland aangehaal wat sê: “The initiation into knowledge will infect the learner with the virus of self-consciousness.” Hierdie “virus” het die meeste van die skrywers in Poort 2010 nog nie aangesteek nie – en dit is die versamelbundel se sterkste én swakste eienskap.

Die onselfbewustheid waarmee die skryftaak aangepak word, hou die stukke lig, toeganklik en sonder die pretensie wat byna noodwendig in literêre tekste aanwesig is. Dit is onskuldige skryfwerk en dikwels vol hoop en optimisme, salig onbewus van die grys areas en geweldige kompleksiteit wat onderliggend is aan baie van die temas waaroor daar geskryf word. Dit is die skryfwerk van kinders, en om dit te lees sal jou laat verlang na die tyd toe dit moontlik was om op hierdie ongekunstelde manier na situasies te kyk.

Die ander kant van die saak is dat die tekste juis vanweë die afwesigheid van die kennis-virus in clichés en kortpaaie verval. Die oorvereenvoudiging en direktheid van die segswyses veroorsaak dat daar nie veel is om oor te herkou nie, en dat baie van die tekste die leser glad nie bybly of tot nadenke stem nie. Daar is ’n prekerigheid aan baie van die tekste wat heelwat irritasie ontlok, en by die gedigte vier geforseerde rym ongelukkig hoogty.

Nou besef ek natuurlik dat hierdie nie die werk van professionele skrywers is nie, en dat die opstelle en gedigte waarskynlik in klas- en eksamensituasies geskryf word. Maar noudat die boek gedruk is en met sy ISBN in biblioteke skouers skuur met die werke van ander ingewydes in die literêre hemel, moet die jong skrywers se werk tog in ’n mate met dié van hul skrywershelde vergelyk word om sodoende die slyping en verfyning te bewerkstellig waarna daar in die voorwoord verwys word.

In die wengedig, “Lees is ’n fees!” deur Hedwig van der Merwe, het die jong skrywer dit oor die helde en karakters in sy gunsteling-boeke, en hoe hy hoop om ook eendag ’n eie boek te skryf. Dit is een van ’n paar strofes wat uit ’n aantal rymende kwatryne bestaan, maar in hierdie geval word die vaste rympatroon met meer sukses en minder opvallende rymdwang aangewend. Die inhoud is egter effe yl en nie werklik op enige manier vernuwend of eers interessant nie – ’n beswaar wat ongelukkig teen heelwat van die gedigte in die bundel gemaak kan word. Baie van die gedigte steun swaar op cliché, en die segswyses en woordkeuses is geyk en onoorspronklik.

Hier en daar is daar vind ons mooi beeldspraak, ’n vars sienswyse of oulike nuutskepping. Daar is momente in gedigte soos “swart sambreel” (12), “dis genoeg” (27), “eso es todo” (17) en “verskiet” (13), en ek het die intertekstuele spel in “Eksamen” (10) baie geniet, omdat die tekste waarna verwys word, help om die leefwêreld en verwysingsraamwerk van die skrywer in te kleur.

Die vorm van die gedigte is nie altyd funksioneel nie – daar word graag geëksperimenteer met die uitleg van die gedigte op die bladspieël, maar die doel van die eksperimente is nie altyd duidelik nie, en veroorsaak dikwels leesversperring.

“Die voëltjie” (31) deur Cornelia van Biljon is as wenner van die prosa-afdeling aangewys. Die verhaal bevat mooi beskrywings van die milieu wat heel geslaagd die gemoedstoestand van die hoofkarakter onderstreep, maar verval ongelukkig teen die einde in sentimentaliteit. Die beeld van die voëltjie-droom is egter ’n mooie wat ’n mens wel bybly.

Heelwat van die verhale ly aan ’n prekerigheid wat vinnig irriterend raak, en oor die algemeen sou dit lekker wees om die stemme van meer aweregse en rebelse individue te hoor. In sommige verhale vind ’n vreemde soort buikspraak plaas, waar die stem van ’n volwassene se opinie oor ’n saak in so ’n mate geëggo word dat die skrywer se eie stem heeltemal uitgedoof word. Hier dink ek byvoorbeeld aan “Die lig in my lewe” (62), wat oor kragonderbrekings handel.

Daar is heelwat verhale weet heel lekker lees en hier en daar een wat ’n mens darem nou en dan laat lag. Dit blyk dat die jong skrywers die skryf van verhale en opstelle as ’n ernstige saak sien, en graag gewigtige onderwerpe aanpak, alhoewel hulle nog nie altyd opgewasse is om met die nodige sensitiwiteit of insig daaroor te skryf nie.

Die voorkoms van die boek het ’n negatiewe effek op die persepsie van die leser. Die voorblad lyk soos dié van ’n outydse skooljaarblad, en ’n mengsel van verskillende lettertipes word aangewend, wat baie onprofessioneel lyk. Comic sans en soortgelyke lettertipes gee die boek ’n informele gevoel, en die “clip-art”-grafika wat as versiering aangewend is, doen afbreuk aan die skryfwerk. Die generasie wat in die boek verteenwoordig word, is visueel gesofistikeerd en geletterd en dit sou goed wees as die uitgewers in die uitgawes wat volg, meer eenvoudige, gesofistikeerde ontwerp oorweeg.

Oor die berge

Poort 2010 is ’n bundel wat die vitaliteit en belangstelling in die literatuur onder leerders mooi illustreer, en ook die aandag kan vestig op sekere tekortkominge in terme van die ontwikkeling van jong skrywers. Daar is duidelik heelwat jongmense wat skryf as ’n poort deur die berge van hul bestaan sien, ’n manier van sin maak van die wêreld se probleme. Daar moet in hierdie jongmense se opleiding belê word, sodat hulle die gereedskap kan bekom en die vaardighede kan aanleer wat hulle sal in staat stel om weë te baan waarop baie mense in die toekoms sal wil loop.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top