Waarnemings en wense van ’n onderwyser-bibliotekaris

  • 3

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan [email protected].

Die opskrif bevat reeds die meeste van die bona fides wat ek op die tafel wil plaas voordat ek begin idees aanteken. Ek skryf vanuit die perspektief van ’n Afrikaans Huistaal-onderwyser, maar ook dié van ’n hoërskoolbibliotekaris. Die skool waar ek werk, is ’n privaatskool wat die Independent Examination Board (IEB) se kurrikulum volg.

Dit beteken ’n paar dinge:

  • Daar is die geld en die visie om ’n skoolbiblioteek te vestig en te ontwikkel (onder meer deur aankope van nuwe boeke) en om ’n opgeleide bibliotekaris aan te stel.
  • Die IEB skryf slegs in matriek letterkunde voor: in die ander grade kan onderwysers en skole self kies wat hulle wil behandel.

Vanuit hierdie raamwerk wil ek graag enkele waarnemings deel omtrent boeke en letterkunde op skool soos ek dit tans beleef, en ook ’n paar wense uitspreek vir die toekoms.

Is daar ’n konflik tussen die biblioteek en die internet?

Dit is hartseer om te verneem dat daar skole en skoolrade is wat voel dat daar wel so ’n konflik bestaan, veral in die lig van die regering se plan om biblioteke in skole te (her)vestig (of dié plan sal vrug dra, sal ons nog moet sien). Hierdie beskouing van ’n konflik tussen die tradisionele biblioteek en die "ultramoderne" rekenaartegnologie berus op twee denkfoute:

  • ’n Mens het nie meer boeke nodig nie – alles is op die internet beskikbaar.
  • Sonder boeke is ’n bibliotekaris onnodig; kinders weet presies hoe om die internet te gebruik.

Project Gutenberg

Sug. Die internet is fantasties en het ons wêreld ingrypend verander, ja. Maar dit vervang nog nie ten volle wat boeke bied nie. Veral ouer boeke is nie altyd beskikbaar nie, ten spyte van wat Project Gutenberg en soortgelyke ondernemings doen. Terwyl die meeste boeke van die afgelope paar jaar elektronies beskikbaar is en boeke wat nie meer onder kopiereg val nie, deur Project Gutenberg en sy soortgenote gedigitaliseer word, is daar ’n paar dekades se boeke wat nog nie op hierdie wyse beskikbaar gestel kan word voordat formele toestemming verkry is nie. Gooi ’n mens die boeke weg, verdwyn hierdie tydperk se produkte.

Om boeke uit kinders se wêreld weg te neem beroof hulle dus van ’n belangrike inligtingsbron. En onthou ook dat nie alle skole in Suid-Afrika elektrisiteit het nie – vir hulle is internettoegang nie vanselfsprekend nie.

Voorts is mense wat bogenoemde denkfoute maak, uit voeling met wat in die biblioteekwetenskap gebeur. Die feit dat biblioteekgrade se hoofvak as inligtingkunde bekend staan, is ’n leidraad: bibliotekarisse werk al dekades lank nie uitsluitlik met boeke nie, maar met enige soort inligtingsbron. As ’n mens bloot kyk na die program van die ISASA-skoolbibliotekariskonferensies oor die afgelope twee dekades, sien jy hoe bibliotekarisse bewus is van hul veranderende omgewing. Hulle word voortdurend heropgelei om nuwe inligtingsbronne vir hul kliënte te kan ontsluit. En ten spyte van die snelle pas van verandering bly hul taak basies dieselfde: om die pad tussen die gebruiker en die inligtingsbron so kort as moontlik te maak.

Kinders weet inderdaad baie van die gebruik van die internet. Maar hulle weet lank nie alles nie en werk daarom nie altyd ewe slim nie. Dit lei daartoe dat hulle nie altyd die beste voordeel trek uit die rykdom wat die internet bied nie. Daarvoor is bibliotekarisse steeds nuttig: hulle is – anders as die informasietegnologiepersoneel – opgelei om studente te help om by die nodige inligting uit te kom. Daarby kan hulle studente help om die inligting wat verkry word, te evalueer en te verwerk tot produkte wat die groot sonde van die navorsingswêreld, plagiaat, vermy.

’n Veronderstelde konflik tussen die internet en tradisionele biblioteke is dus ’n denkfout. Dit is ’n onding om die biblioteek heeltemal uit te gooi en te vervang met ’n rekenaarlokaal, veral as daar nie steeds ’n inligtingspesialis op die personeel is om die studente met navorsing te help nie.

Watter afdeling van ’n biblioteek word die meeste gebruik?

Hierdie vraag sal sekerlik verskillend beantwoord word deur verskillende bibliotekarisse, en sal onder meer afhang van die belangstellings van die biblioteekpersoneel. In die meeste navorsingsprojekte wat in ons skool uitgevoer moet word, moet leerders meer as net internetbronne benut; daarom is daar wel navrae na niefiksie-boeke.

Dit is egter die fiksierakke wat die drukste besoek word. Studente moet dikwels vir taalvakke boeke lees en verslae daaroor skryf; hierbenewens is daar ’n klein persentasie toegewyde lesers wat gereeld die nuwe boeke kom inspekteer en stapels uitneem – en volgens die terugvoer, beslis lees!

Die leespatrone wat ek waarneem, sluit die volgende in:

Koop Harry Potter and the Sorcerer's Stone by Kalahari.com.

Koop The fault in our stars by Kalahari.com.
  • Reeksboeke is uiters gewild. Dit is nie ’n nuwe verskynsel nie, maar is sekerlik iets wat deur JK Rowling se Harry Potter-reeks (1997–2007) opnuut gewild gemaak is.
  • Die meeste reekse wat verskyn, val in die fantasie- of wetenskapfiksiegenres en beeld gewoonlik ’n distopie uit. ’n Mens kry omtrent nie meer losstaande boeke in hierdie genres nie: verhale word van die begin af beplan om oor drie of sewe of twaalf boeke te strek.
  • Teenoor die tendens in die joernalistiek om sinne, paragrawe en tekste korter en korter te maak, lyk dit soms of boeke dikker en dikker word. JK Rowling se eerste Harry Potter-boek is meermale afgewys omdat die manuskrip van 200 bladsye te lank sou wees; baie fantasieverhale lyk egter deesdae kort as hulle slegs 300 bladsye bevat, veral as hulle langs die populêre knewels van die dag staan.
  • So nou en dan verskyn daar ’n fenomeen, soos John Green se The fault in our stars. Met ’n gelukkige kombinasie van ’n uitstekende verhaal, ’n uitstekende skrywer en ’n uitstekende bemarkingsveldtog (wat dikwels ook ’n rolprent insluit) dring so ’n boek deur tot die algemene bewussyn en kry dit mense aan die lees wat erken dat hulle glad nie van lees hou nie, maar hierdie boek nie kon neersit nie. (Ek kon nog nie Green se roman lees nie, omdat ons skoolbiblioteek se kopie nooit by die skool slaap nie!)

Die opmerkings hier bo handel almal oor papierboeke (of soos ’n kollega dit speels noem: dooie-boom-boeke) en oor Engelse boeke.

Hoe werk biblioteke met e-boeke?

Vir die eerste keer sedert die ontwikkeling van die kodeks (die papierboek soos ons dit vandag ken, met ’n rug en bladsye wat geblaai kan word) in die eerste eeu nC word die konsep van ’n boek opnuut gedefinieer. Die ontwikkeling van suksesvolle en gewilde apparate wat boeke in elektroniese formaat leesbaar gemaak het, het ons begrip van wat ’n boek is, radikaal gewysig.

Die geskiedenis van die sukses van die internetboekwinkel Amazon is welbekend; ook dat hulle hul wins gebruik het om ’n bepaalde e-boek-formaat te subsdieer. Daar het egter ’n hele paar ander formate en platforms ontwikkel wat e-boeke algemeen beskikbaar gestel het.

Die e-boek lewer egter bepaalde probleme op vir die biblioteek, juis weens die manier waarop dit verkoop en versprei word. Tog het daar onlangs ’n paar stelsels ontstaan wat e-boeke deur biblioteke uitleenbaar maak. Ons skoolbiblioteek het op so ’n stelsel ingeteken.

Die negatiewe punte van ’n e-boekstelsel sluit in:

  • Die hoë koste van subskripsie. (Vir die instandhouding van die programmatuur en die hardewarestruktuur) en van individuele e-boeke (in elektroniese formaat is ’n boek nie noodwendig goedkoop nie; bowendien kry ons nie outomaties toegang tot al die boeke wat op die platform beskikbaar is nie – ons moet vir elke titel wat ons in ons biblioteek wil hê, betaal.)
  • Die beperktheid van die aanbod. (Al het ons stelsel al meer as ’n miljoen boeke beskikbaar, is die meeste daarvan nog in Engels; die oorgrote meerderheid is van Amerikaanse uitgewers, met enkele Britse uitgewers wat hul produkte op hierdie platform beskikbaar stel.)
  • Die feit dat ons die boeke huur en nie besit nie. (As ons sou besluit om nie meer hierdie bepaalde stelsel te gebruik nie, sou ons al die inhoud waarvoor ons betaal het, verloor.)
  • Verbruikersweerstand. (Hoewel sommige studente begin lees het omdat hulle dit nou elektronies kan doen, weier ander om op die stelsel aan te teken, omdat hulle kies om slegs papierboeke te lees.)

Daarteenoor is die voordele vir die biblioteekpersoneel groot: ons hoef nie te wag vir aflewering nie; ons hoef die boek nie te prosesseer of oor te trek, vol stempels en plakkers te maak, Deweynommers daarvoor uit te werk of rakspasie daarvoor te vind nie. As ’n gebruiker die boek verloor of beskadig, is dit sy/haar toestel wat betrokke is, nie die e-boek nie. Die boek word vir twee weke uitgeneem; daarna verdwyn dit van die gebruiker se profiel, of dié persoon nou daarvan vergeet het of nie, en is weer in die stelsel beskikbaar – geen laat boeke, ernstige administrasie of boetes meer nie. Die biblioteek is ook deur hierdie platform altyd en oral oop: waar die gebruiker ook al internettoegang het, kan boeke uitgeneem word.

Ons het egter nog geen Afrikaanse boeke op hierdie stelsel nie: uitgewers van Afrikaanse boeke het maar onlangs eers begin om hul boeke op hierdie platform beskikbaar te stel.

Gaan e-boeke papierboeke vervang? Wel, kodekse het na ongeveer 500 jaar die boekrol vervang, maar ons het vandag trappe naas roltrappe, klaviere naas klawerborde, besems naas stofsuiers. Ek sien nie e-boeke as ’n bedreiging vir die papierboek nie, maar as ’n nuttige aanvulling.

Hoe staan sake met Afrikaanse jeugboeke in die skoolbiblioteek?

Ek hoor dikwels van studente dat daar niks in Afrikaans is om te lees nie. Dit is natuurlik glad nie waar nie: oor die afgelope dekade het daar belangrike groei in Afrikaanse jeugliteratuur voorgekom. Maar dit is waar dat daar veel minder is om te lees in Afrikaans as in Engels: vir elke Afrikaanse titel wat ek kan oorweeg, is daar tientalle in Engels. Die verskeidenheid en gehalte in Engels word nog nie naastenby geëwenaar deur die aanbod van Afrikaanse uitgewers nie.

Fanie Viljoen

Daar is etlike uitstekende skrywers vir jongmense in Afrikaans. Ek het onlangs ’n hele paar boeke van Fanie Viljoen gelees, om nou maar een voorbeeld te noem, en telkens moes ek my lewe opskort om eers uit te vind hoe hierdie verhaal nou gaan verloop. Hierin lê een van die groot voordele van die IEB-stelsel opgesluit: ons kan vinnig besluit om ’n nuwe titel aan te koop en as voorgeskrewe werk te gebruik.

Hoe staan sake met voorgeskrewe boeke?

Daar word, soos vroeër genoem, bepaalde titels vir matriek voorgeskryf om te verseker dat ’n sinvolle vraestel vir al die kandidate opgestel kan word. Hierin lê ’n paar kwessies opgesluit: (1) ’n Voorgeskrewe roman vir matriek behoort darem iets om die lyf te hê; die meeste boeke wat spesifiek vir jongmense geskryf het, is daarvoor te yl. (2) Dit moet ook nie te lank wees nie, omdat daar soveel ander dinge te doen is tydens ’n matriekjaar. (3) Dit moet ook verkieslik nie onskuldige matrieks en konserwatiewe ouers ontstig nie. (4) Seker die groot kwessie: dit moet nog in druk wees oor ongeveer twee jaar, wanneer die pas opgestelde lys van krag word (’n lys voorgeskrewe tekste word twee of drie jaar agtereenvolgens gebruik). Dit is opvallend hoe gou ’n roman uit druk raak en onbeskikbaar word.

DJ Opperman

Met dramatekste is die probleem nog erger: daar word dikwels ’n ouer drama saam met ’n nuwer een voorgeskryf om onderwysers die keuse te bied en om die ouer dramas onder sommige studente se aandag te bring. Vir 2014 is DJ Opperman se Vergelegen voorgeskryf, ter viering van die digter se geboorte 100 jaar gelede. Dit was onmoontlik om nuwe kopieë te kry vir ’n klas van 12 studente. Die uitgewers het uiteindelik goedgunstig ingewillig om nuwe kopieë vir ons gebruik te druk.

Die kwessie lê ten dele by die getalle. Met ’n klein groep kandidate landwyd gaan IEB-kandidate wat Afrikaans op huistaalvlak volg, nie ’n uitgewer ryk maak met die aankoop van ’n voorgeskrewe boek nie. ’n Mens kan hoop dat die beskikbaarheid van e-boeke hierdie probleme uit die weg sal ruim, maar is uitgewers bereid om ouer tekste te digitaliseer sodat studente daartoe toegang kan kry?

’n Soortgelyke kwessie kom voor met die studie van poësie. Die bloemlesing wat tans gebruik word vir die matriekgedigte, is in 2004 gepubliseer. Dit is moontlik om gedigte te kies uit die mees onlangse Groot verseboek (2008), maar kan ons van studente verwag om meer as R600 te betaal vir ’n stel boeke waaruit minder as twintig gedigte voorgeskryf word? Daar het besonder lanklaas ’n nuwe poësiebloemlesing vir die skolemark verskyn.

Bowendien sal ’n mens wel meer onlangse gedigte op die voorgeskrewe lys wou insluit. ’n Oplossing sou wees om ’n studiebloemlesing van die voorgeskrewe gedigte saam te stel, maar dan moet daar indringende onderhandelings met die verskillende uitgewers gevoer word om dit moontlik te maak.

Omdat die Afrikaanse mark in sy geheel so klein is, skat ek dat dit moeilik is om sulke nisgroepe soos die IEB se Afrikaans Huistaal-studente te akkommodeer. Ek dra bloedweinig kennis omtrent produksiekoste en hoe dit die prys van boeke en e-boeke beïnvloed. Die koste van nuwer tegnologiese produkte, veral vir ’n klein mark soos Afrikaans, mag dalk onredelik hoog wees. Tog hoop ’n mens dat uitgewers en ander belangegroepe nuwe maniere sal ondersoek om die Afrikaanse letterkunde beskikbaar te stel.

Koop Klaprose teen die wind (eBoek) by Kalahari.com.

Koop Geldwolf by Kalahari.com.

Koop Ek, Anna van Wyk by Kalahari.com.

Dit mag lesers interesseer om te weet watter boeke wel die afgelope paar jaar voorgeskryf is. Romans sluit in: Klaprose teen die wind (Marzanne Leroux-Van der Boon); Infanta (Deon Meyer); Toorbos en Die uitgespoeldes (Dalene Matthee); Bidsprinkaan (André P Brink); Equatoria (Tom Dreyer); Geldwolf (Carel van der Merwe); Bart Nel (J van Melle); en Wildvreemd (Carina Stander). Dramas sluit in: Mirakel en Diepe grond (Reza de Wet); Boetman my seun en Kaburu (Deon Opperman); Periandros van Korinthe en Vergelegen (DJ Opperman); My plaas se naam is Vergenoeg (George Weideman); en Ek, Anna van Wyk (Pieter Fourie).)

Hoe kan kraakvars tegnologie nóg deur Afrikaanse uitgewers benut word?

Ek het ’n toepassing/app vir my iPad gekoop van Shakespeare se sonnette. Die teks word verskaf, asook ’n afdruk van die eerste uitgawe, saam met aantekeninge en woordverklarings wat die gedigte vir die lesers verhelder. Daarby word elke sonnet voorgedra deur ’n bekende akteur (Kim Cattrall, Patrick Stewart, David Tennant en Stephen Fry is onder vele meer betrokke).

Hierdie formaat sou ’n ideale alternatief gewees het vir die onlangse publikasie van die honderd gewildste Afrikaanse gedigte, soos deur die publiek bepaal. Daar het ’n CD-stel daarmee saam verskyn waar bekendes die gedigte voordra; om dit op video vas te lê sou ’n volgende stap kon wees. Soortgelyke projekte kan onderneem word om die versamelde werke – of seleksies daaruit – van belangrike Afrikaanse digters opnuut toeganklik te maak.

’n Soortgelyke app as die een met die Shakespeare-sonnette verskaf die teks van TS Eliot se The Waste Land, saam met aantekeninge en sewe verskillende stemopnames, waarvan twee Eliot se eie voorlesings bied. Daarbenewens is daar ’n video-opname waar Fiona Shaw die gedig in sy geheel "opvoer". Hierdie formaat mag dalk ’n uitstekende kans bied om die oorspronklike teks van NP Van Wyk Louw se Raka na dekades weer in druk te bring (op die oomblik is slegs die versnipperde skooluitgawe in druk – ’n skande vir ons letterkunde). Nog ’n kandidaat vir hierdie behandeling is Opperman se Joernaal van Jorik. Sulke toepassings sal studente en onderwysers opnuut in aanraking bring met belangrike tekste uit die Afrikaanse literatuur wat tans moeilik bekombaar is.

Haec fabella docet

Nee, ek Latyn nie, ek steel by AG Visser: "Hierdie verhaaltjie leer ons dat ..." (vry vertaal).

Onderwysers en bibliotekarisse is bewus van die navorsing oor die belang van lees. Dit maak (amper) nie saak wat en hoe jy lees nie, maar hoe meer jy lees, hoe beter kan jy die strome teks wat ons lewens deesdae deurspoel, begryp en verwerk. Die beskikbaarheid van boeke en die studie van letterkunde op skool is dus in sekere opsigte voor die hand liggend en van durende belang.

Daarby is daar heelwat navorsing oor die belang van studie in die moedertaal; dit beteken dat dit vir Afrikaanssprekende studente noodsaaklik is om moedertaaltekste te hê wat hulle graag wil lees.

Daar is sekerlik bloedweinig Afrikaanssprekendes wat hulself as lesers bestempel wat nie in ander tale ook kan lees nie. Terwyl Engelssprekende lesers lewenslank net in Engels hoef te lees, moet lesers van ander tale dikwels in meer as een letterkunde lees om in hul behoeftes te voorsien. Dit lei daartoe dat sommige Afrikaanssprekende lesers verkies om slegs Engels te lees.

Om hierdie redes is dit belangrik dat die Afrikaanse jeugliteratuur sal groei en diversifiseer sodat dit minstens in terme van verskeidenheid en gehalte met Engels kan meeding.

Die regering se voorneme om ’n biblioteek by elke skool in te rig, moet ondersteun word; hopelik sal wydbelese bibliotekarisse aangestel kan word om studente by boeke uit te bring wat van hulle entoesiastiese lesers sal maak.

Daar is baie om oor opgewonde te wees in die Afrikaanse jeugletterkunde en wat daarmee op skool gedoen kan word. Daar is egter nog baie werk voor: gesprekke tussen uitgewers en onderwysinstansies is nodig om opwindende én bekostigbare produkte te ontwikkel om in al die behoeftes wat geïdentifiseer is, te kan voorsien.

<< Gaan terug na Poolshoogte

Uit die LitNet-argief
Poolshoogte
Die bedryf van ’n aanlyn digkunsakademie
– Nini Bennett
2014-08-05
Akademies
Etlike gedagtes oor moedertaalonderrig in Suid-Afrika na Apartheid
– Neville Alexander
2006
LitNet Akademies-resensie-essay
Alice Miller – Saartjie Baumann en Thomas
– Joan Hambidge
2011-08-31
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Bemagtig opvoeders vir onmiddellike mobilisasie van grondslagfase-leerders se geletterdheid
– Mariette Koen
2008-10-02
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Metakognitiewe bewustheid as vereiste vir die effektiewe onderrig van leesbegripstrategieë
– Betsie Klopper
2013-04-29
KuberKlas
Vraestelle
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die skrywer en nuwe publikasiekontekste: Interaktiwiteit en wisselwerking in aanlyngemeenskappe – Fanie Viljoen se Pynstiller as gevallestudie
– Franci Greyling
2012-09-28
Briewe deur die lug
Die boek, die skrywer en die internet
– Deon Meyer
2000

Young Voices Conference 2004
Purchasing books and awareness of book design
– Michiel Botha
2004-11-17

Onderhoud
Storierak: NB-Uitgewers se nuwe kinderboektoep
– Nèlleke de Jager, Naomi Meyer
2013-12-12

 

  • 3

Kommentaar

  • Baie dankie vir hierdie besonders insiggewende artikel, Coenraad. Ek dink diegene van ons wat by onafhanklike skole betrokke is, is inderdaad geseën dat ons nuwe voorgeskrewe tekste kan kies en kan aankoop soos ons behoeftes verander. (Dit is egter jammer dat mens soms ouers het wat sekere onderwerpe in boeke afkeur - ek is 'n ware rebel wanneer dit by boeke kom en skryf met opset die mees kontroversiële tekste voor. Terloops, ek is nog nie afgedank nie.) Dit is ook lekker om te sien wat die jeug graag lees en dat e-boeke (waaraan ek persoonlik 'n kleintjie dood het) darem nog nie die heerlike reuk van ink op papier sal vervang nie.  

  • Avatar
    Johannes Comestor

    'n Gesaghebbende artikel propvol goeie insig. As 'n biblioteekboek so gewild is dat die bibliotekaris dit nie te lees kry nie, is die aangewese opsie om dit self aan te skaf. Enige mens, sekerlik insluitende enige bibliotekaris, behoort 'n onderskeid te tref tussen boeke wat hy bloot wil leen en die wat hy self wil besit. 'n Eie boekversameling is kenmerkend van 'n beskaafde mens. 

  • Avatar
    Coenraad Walters

    Inderdaad, Johannes - danksy Leserskring lê The fault in our stars rustig in my huis en wag om aandag: een van omtrent 4000 boeke, waarvan 'n skokkende persentasie nog wag op hul oomblik in die hand en onder die oë! Dié dat ek voel ek ken die versameling in my biblioteek nie goed genoeg nie: met 'n daaglikse stukkie leestyd probeer ek dié agterstand inhaal.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top