Vlugskrifnotas
(vir ? toekomstige argument)

  • 7

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan [email protected].

1. Inleiding

Die redakteur het my om ’n stuiwer gevra op grond van ’n opmerking wat ek in ’n artikel in ’n internasionale webblogruimte gemaak het (lees dit hier):

Floundering on political and economic forces beyond its control, literary academia in South Africa – in its critical mass – is woefully failing the vanguard of present-day poetic imagination. Despite its best efforts it remains tethered to a backward glance and as far as the future goes, seems tendentiously groping.

Ek herinner lesers daaraan dat ek vanuit ’n baie bepaalde hoek en ruimte praat, as digtende outeur en as organiese intellektueel wat ook soms kritiese bydraes lewer. My fokus in dié bydrae is op die beskoulike ruimte rondom die Afrikaanse digkuns.

En beslis is dit ’n bepaalde ruimte, nie een met ’n “universele” inhoud, soos sommiges skynbaar dink nie. Dit bevat bepaalde eienskappe en voorkeure, en besuinigings en marginaliserings eie aan sy aard en sy mark, en veral geliefde begrotings en vergrotings. En dit het ’n bepaalde kollektiewe mentaliteit.

Dit vind mens al hoe meer uit soos wat jy oor kultuurgrense gesprek voer, of eerder gewoon in die stilte ander kontekste waarneem of daardeur beweeg. ’n Huidige literêre beursverblyf in Europa waar ek my tot middel-2015 sal bevind, verleen sigself baie goed tot ’n afstandelike beskouing van die Afrikaanse literêre ruimte.

Wat my veral opval, is hoe skerp die isoleringsfaktor is wat gepaard gaan met die keuse om in Afrikaans te skryf. Die beste wat kan gebeur, is dat literêre binnewerkinge nie hierdie isolasie verder verskerp nie.

Naas die interessante literêr-karterende bydraes wat reeds op Poolshoogteverskyn het, sit ek hier my subjektiewe en impressionistiese noot in.

2. Vraagstelling

Daar is normaalweg ’n “uitruiling” wat plaasvind tussen skrywers en literêre akademici. Dis my indruk dat dit van sekondêre aard is vir die meeste skrywers, maar tog belangrik vir hulle. Die primêre uitruiling is tussen skrywers self.

Bona fide literêre akademici, wat dus nie ook “skeppende skrywers” is nie, en wat uitsluitlik of hoofsaaklik die beskoulike genres bedien, is besonder kosbaar vir onpartydige beskoulikheid. Afrikaans het wel ’n paar geloofwaardige karteerders opgelewer.

DJ Opperman

NP van Wyk Louw

In die lig hiervan moet ek my egter al hoe meer dikwels die vraag afvra: Watter waarde het akademiese beskouings in die Afrikaanse ruimte deesdae vir die keuses wat ek as digter maak? En die antwoord is: “Bitter min.”

Die Afrikaanse akademiese beskouingsruimte sien vir my beperk en beperkend daaruit. In die algemeen kan ek dit nie vertrou om ruimtes vir my oop te dink óf na wense te interpreteer nie. Trouens, as ek eerlik moet wees, het dit, op enkele uitsonderings na, amper onbeduidend vir my persoonlike ontwikkeling as outeur geword.

En dis jammer, want die uitruiling waarvan ek praat, bly potensieel baie verrykend. By ’n onlangse konferensie van Europese skrywers, kritici, filosowe en politici het ek die onbetwisbare waarde van sodanige interaksies self waargeneem.

In teenstelling met die Afrikaanse literêre beskoulikheid in sy strekking vandag, het sommige beskouers uit die verlede, hoofsaaklik Opperman en Van Wyk Louw, vir my steeds baie waarde (aangepas in die lig van ’n veranderde tyd).

My bedenkinge ten spyt, stel ek as leser intens belang in die beskoulike sfeer. Die kritikus is ook ’n kunstenaar (en ek bedoel dié beskrywing nie as ’n metafoor nie). Dis ’n genre waarmee hy besig is, al dink hy skynbaar nie naastenby dikwels genoeg só aan homself nie.

Die Nederlandse en Duitse literêre ruimtes, waartoe ek tans toegang het, sidder van wellewende en opbouende interaksie. Daar vind ek min van die vertrouensbreuk wat ek ten opsigte van my eie Afrikaanse ruimte ervaar en waarvan my verblyf in Europa my meer gevoelig bewus maak.

En ek praat nie van ’n vertrouensbreuk weens swak politieke gedrag tussen lede onderling, wat wel endemies in die Afrikaanse literêre ruimte is nie. Laasgenoemde sien ek gewoon as tiperend van die demokratiese individuasievlak van Suid-Afrika as geheel, wat nie baie hoog is nie, en soortgelyke ruimtes wêreldwyd.

Ek praat van ’n breuk in vertroue oor wat ek sien as tekortkominge in die akademiese denke rondom die letterkunde, spesifiek rondom die digkuns.

Ek wil ’n siening aanbied van hoe ons hier uitgekom het, beginnende met die vraag: Wat het sedert van Wyk Louw en Opperman se beskoulike opstelle tot nou toe verander? Die antwoord: ’n Baie spesifieke vorm van literêre intelligensie, wat ek beskoulike intuïsie sal noem, het onder ons neuse uit die meeste Afrikaanse letterkundebesprekings verdwyn.

3. Die probleem

Voor ek die plaaslik-gegenereerde redes vir hierdie gevoelige, wesenlike verlies uiteensit, wil ek enkele bykomende faktore uitwys wat daartoe bygedra het.

Die lae politieke individuasievlak – soos dit manifesteer in wigindrywingsaksies, verdagmaking, ostrasering en ’n algemene minagting vir interaksiewaardes – en hoe dít ekstra erg ’n relatief geïsoleerde letterkunde in die midde daarvan kan tref, het ek reeds genoem.

Denis Hirson

Die tweede faktor is die ideologiese gedrewenheid van die Suid-Afrikaanse samelewing. Die hoë ideologiese valensie wat Eerste Wêreld-lande tot heel onlangs aan postapartheid toegedig het (en deels steeds doen), dra by. ’n Ideologiese omgewing is meestal partydig, irrasioneel en onwetenskaplik, terwyl dit sigself as die teenoorgestelde sal bemark: “ónpartydig, rasioneel en uiters wetenskaplik”.

Ek sal nooit die dag vergeet toe Denis Hirson, ’n samesteller van ’n internasionale bloemlesing oor “Suid-Afrikaanse poësie”, my in Nieu-Bethesda gebel het nie. Hy wou weet of ’n gedig van my wat hy wou opneem, “Die murasie”, oor die gedwonge verskuiwings van apartheid handel. “Dit gaan mos oor Distrik Ses?” het hy dringend gesê-vra. Ek het “Ja, natuurlik” geantwoord, want ek was natuurlik gevlei oor die oproep, en voor ek kon sê “mes!” of behoorlik kon nadink oor my haastige antwoord, het Hirson totsiens gesê en die telefoon neergesit.

Vir jare daarna het ek self geglo my gedig handel oor ’n voormalige murasie van Distrik Ses. Nou moet ek erken: daar is geen so ’n leidraad daarin te bespeur nie, nie redelik gesproke nie. En as ek reg onthou (moeilik om te doen in ’n ideologies gedrewe samelewing), was die verwysing ’n murasie buite Stellenbosch wat afgebrand het en waarin, God behoede, blankes waarskynlik eens gewoon het. Hirson tref mens as ’n intens ideologies gedrewe samesteller.

Die derde faktor: die vervlakkings wat meegebring word deur globalisasie en die globale mediakultuur. Hieroor word daagliks elders en oral geskryf.

Die vierde faktor: die sloping van die geesteswetenskappe, taal en letterkunde deur kortsigtige beleid in die hoër onderwys in Suid-Afrika. Al die genoemde faktore versterk die langsame atrofie wat ek hier onder gaan bespreek. En tog kom die vername impetus vir die afbreking van binne Afrikaans self.

Maar wat ís “intuïsie”? Soos sommige ander geestesfunksies, soos byvoorbeeld geheue, is dit moeilik om ten volle te begryp of te beskryf. En tog bestaan dit. Só sê ’n Engelse woordeboek: “direct perception of truth; immediate apprehension, independent of any reasoning process; a keen and quick insight”. Die belangrikste is hierdie inskrywings: “cognition of an object not inferred by a previous cognition of the same object” (my kursivering); en “pure, untaught knowledge”.

Die feit dat ons huidige postmoderne tyd “suiwer, ononderrigte kennis” of “regstreekse persepsie” as absolutes bevraagteken, en tereg ook, verander nie aan die tersaaklikheid daarvan as relatiewe betekenisse nie, en dit geld vir die betekenis van intuïsie. Dit gaan hier oor ’n bepaalde manier van insigverkryging. (Sommige postmodernistiese bevraagtekenings wat self as absolutes optree, kan straks as ’n vyfde eksterne faktor genoem word wat intuïsie as leesfunksie bedreig. Ek praat verderaan oor hoe dié verskynsel in Afrikaans voordoen. In die wêreldletterkunde raak dit egter al hoe minder die geval namate die postmodernisme ontplooi, verdiep en van sy oorvereenvoudigings wegbeweeg.)

Ter sprake by “intuïsie” is ’n vorm van waarneming, onderskeibaar van die rasionele en wetenskaplike bewussyn. Dit deurstraal taal, maar kom van vóór die ontstaan daarvan as daadwerklike sisteem. Taal word rasioneel opgebou, maar bevat ook andersoortige “logikas”, die pretaal-logikas (meervoud), wat taallogika kan oorskry, oortref en vervorm en dus ook “posttaallogikas” kan invoel. Intuïsie funksioneer integrerend tussen bewussynsfunksies, as arbiter, as ondermyner, as herbeskikker en as besoeking (engel). Dit is die vermoë om gelyktydig binne sowel as buite kontekste te dink, te skep en veral oordele te maak.

Dit klink byna vanselfsprekend dat hierdie vermoë belangrik sal wees vir die beoefening van die skryfkuns. Waarom sal dit dus nie ook wesenlik wees vir die interpretasie daarvan nie, aangesien ons weet dat interpretasie ’n vorm van (voort)skrywing is?

Hoe meer ek sommige Afrikaanse letterkunderesensies of -artikels deur die afgelope jare gelees het, hoe meer het ek besef wat ’n groot aantal daarvan gemeen het: ’n aversie teenoor óf ’n gebrek aan beskouingsintuïsie. Soms is daar groot geleerdheid en ingeligtheid in die besprekings te bespeur, maar die boublok wat dit alles sinryk en oortuigend én oortreffend moet maak, ontbreek of word gewoon geïgnoreer.

4. Vis in die punch

Gilbert Gibson

Lees 'n resensie van [vii]

Antjie Krog

Rainer Maria Rilke

Duino-Elegieë

Henning Pieterse

John Ashberry

Miroslav Holub

Cesare Pavese

Anne Carson

Koop Plainwater by Kalahari.com

Marlene van Niekerk

Koop Kaar by Kalahari.com

Koop Poskaarte by Kalahari.com

GWF Hegel

TT Cloete

Intuïsie is inderdaad ’n wesenlike komponent van oorlewing sowel as kunsskepping. En veral is dit wesenlik vir literêre beskouing. Beskouingsintuïsie behoort as die enkele grootste bemagtigingsfaktor van literêre kritiek beskou te word. Maar in Afrikaans het ander belange dit totaal gemarginaliseer.

Ironies genoeg is daar ’n skerp en verblydende terugkeer na intuïtiewe soepelheid – wat groter implisiete denkspronge van die leser verwag – in die onlangse Afrikaanse digkuns te bespeur. Hier dink ek onder meer aan Gilbert Gibson se gedigte. Maar in die Afrikaanse kritiek is intuïsie op velerlei maniere toenemend onder beleg.

’n Resensie van Gibson se bundel [vii] op Versindaba toon by uitstek wat so dikwels verkeerd gaan met die Afrikaanse kritiek van vandag. Die een na die ander ontledende, “intertekstuele” en psigologies-filosofiese verwysing word opgestapel in ’n vergeefse poging om begrip op die werk te kry. Die skuiwe wat Gibson maak, veral in terme van beeldgebruik, word egter glad nie raakgesien nie, want dit is te ver verwyder van die manier waarop dieselfde skuiwe in die verlede gemaak is. (Nie eens sy intertekstuele verwysings word in die resensie na behore begryp nie.)

Dit alles bring my by ’n moontlike rede vir die wegkalwing van intuïsie as intelligensievorm in die Afrikaanse literêre beskoulikheid. En die begin van dié atrofie lê veel verder terug as twintig jaar gelede. Trouens, dit begin in die laat jare sestig en die vroeë sewentigerjare: die einste jare wat dikwels aangevoer word as die geboorte van die tydgenootlike Afrikaanse literêre intellektualiteit. Toevallig gaan die tydperk ook gepaard met die kwyning van Opperman en die dood van Van Wyk Louw.

Die verintellektualisering van beskoulike kritiek wat in die genoemde tydperk begin deursypel het na Afrikaans, het ons betreklik geïsoleerde Afrikaanse letterkunde sleg getref. Dit het intuïsie as die wesenlike beskoulike funksie aan teoretisering onderwerp en die pad oopgemaak vir die uiteindelike uitskuiwing daarvan. En omdat dit alles in die naam van ’n selfingenome mondigwording (“sestig” en daarná) gebeur het, is die slagting wat so tersluiks plaasgevind het, glad nie geëien vir wat dit was nie. Daar was eintlik vis in die punch. Toevallig het hierdie “mondigwording” ook gepaard gegaan met ’n skerp toename in kulturele isolasie weens politieke faktore, en so is vir die afskakeling van nóg meer ligte gesorg.

Sogenaamde polities betrokke letterkunde is toe voorgehou as noodsaaklike vervanging vir alles en enigiets wat dit voorafgegaan het. Laasgenoemde is nie soseer afgemaak nie – glad nie – maar dit is wel in ’n historiese lêer weggebêre. Dít het die noodsaaklike gleuf vir verbreking met die verlede verskaf waarin literêre intuïsie ’n sterk rol gespeel het.

Die “betrokkenheid” wat die Afrikaanse poësie daarná getref het, was niks anders nie as ’n St Bartholomeusnag waarin die ware eise van intuïtiewe verbeelding gewoon uitgeroei is deur merendeels opportunistiese kwasikuns nie. En wat dit vergesel het, was dikwels opgeblase, selfingenome pseudo-intellektuele literêre beskoulikheid.

Toevallig het dit alles ook gepaard gegaan met ’n ongekende vlaag nuwe publikasies. Daar was groot trots in hierdie eindelose “mondigwording” met die afgeskakelde paartieligte. Hier was die sleutels vir ’n nuwe kar.

Ek voer nie aan dat betrokkenheid ’n onvanpaste reaksie was op wat in die land aan die gebeur was nie. Inteendeel. Maar behalwe twee groot digters, Antjie Krog en Breyten Breytenbach (en nog een, die “kontrabetrokke” MM Walters), het Afrikaans nie genoeg gehad om aan te bied in daardie terme ten einde die vergeetagtigheid wat in die kritiek ingetree het, te regverdig nie.

Die groot probleem was ’n té letterlike interpretasie van die begrip betrokkenheid. Hierdie letterlikheid van interpretasie, wat geensins eie is aan Afrikaans nie, maar baie gevaarlik is vir ’n kleiner letterkunde, het die resepsie van die een ná die ander stroming in Afrikaans, veral die sogenaamde “postmodernisme”, gekenmerk.

Dit laat mens wonder of daar ’n rede hiervoor bestaan, en daar is wel een. In Frans, die heimat van die begrip betrokkenheid (literature engagé), bestaan ’n lang tradisie van abstrakte literêre begrippe, waarvan die simbolisme een van die belangrikstes is. In Afrikaans was daar in dié tyd net een werklik oorheersende voorafgaande tradisie, en dit was realisme (in meer as een gedaante), ook in die poësie. (Met realisme in die poësie bedoel ek poëtikale verbande wat uitsluitlik of in die eerste plek die omringende rieële wêreld weerspieël sonder ? wesenlike mediasie deur andersoortige verbande, en met ? implisiete betekenisvlak wat nie té ver daarvan verwyderd staan nie.) Van Wyk Louw se hantering van die Duitse simbolisme is daar wel, maar dis ’n uitsondering op die reël. En selfs hy het gehou aan die “realistiese” kant van die begrip. Dit kan jy duidelik sien as jy sy werk met die groot simbolistiese digter Rainer Maria Rilke s’n vergelyk.

Afrikaans se ondergrond is realisme, en nogmaals realisme. Selfs die resepsie van ’n “surrealistiese” digter soos Breyten Breytenbach het gepaard gegaan met ’n erg verengde nosie van surrealisme, een wat nie naastenby aan hierdie digter reg laat geskied het nie. By uitstek is die begrip wat op die mees letterlike wyse denkbaar in Afrikaans geïnkorporeer is, en wel binne die sogenaamde teoretiserende gewrig van literêre beskouing (waaroor Heilna du Plooy in haar Poolshoogte-artikel hiernaas skryf), die klaaglik ongelukkige begrip simbolisme. Die onvoorspelbare vryswewendheid van die begrip, wat so sentraal staan aan Mallarmé se siening daarvan, word afgesny ten gunste van ’n deterministiese, meer realistiese weergawe (veral wat betref die begrip van beelding). ’n Mens hoef hier maar net die Duino-Elegieë van Rilke soos dit in Afrikaans vertaal is, te vergelyk met sommige van TT Cloete se gedigte om te sien wat ek bedoel.

(Dit beteken nie dat hierdie “realistiese” simbolisme nie ook goeie momente opgelewer het nie, onder meer in Henning Pieterse se werk, maar dit kan nie gelyk gestel word aan simbolisme per definisie nie. Dis eintlik ’n baie bepaalde Suid-Afrikaanse simbolisme, én dis miskien by uitstek wat interessant is daaromtrent.Dit funksioneer egter veel meer realisties, en op sy swakste veel meer letterlik, as die Europese en Suid-Amerikaanse simbolisme.)

Verder hoef mens maar net te gaan kyk na die al hoe meer letterlike wyse waarop beskrywings soos “abstrak” (as negatiewe begrip) en “konkrete beelding” (as positiewe begrip) tans deur sommige Afrikaanse resensente hanteer word, om te weet hier is ’n probleem. Dit strook net nie met hoe dieselfde begrippe internasionaal gehanteer word nie, en die regstreekse teelaarde vir hierdie mistastings is die meer onlangse dekades van teoretisering rondom die Afrikaanse poësie.

Te dikwels word “konkrete beelding” geplaas op ’n vlak wat mens kan vergelyk met ’n tasbare voorwerp of prentjie. Maar die begrip van beelding en metaforiek het lankal verander en uitgebrei. Die begrip van korrelasie is veel meer verwikkeld en subtiel as voorheen. Feit van die saak is dat alle poësie, selfs elementêre volkspoësie, ’n proses van gelyktydige konkretisering én abstrahering verteenwoordig. Miskien is ’n beter vergelyking vir die poëtiese beeld die hologram, wat beide ding én abstraksie is.

(Ek wil die leser van hierdie artikel daaraan herinner dat ek hier op “problematiese implikasies” konsentreer en ek wil nie aanvoer dat die genoemde teoretiserende gewrig in Afrikaans nie ook bepaalde waarde gehad het nie.)

In ’n neutedop: die neiging tot ’n verletterliking van ingevoerde teoretiese beskouings het ’n sekere voorskriftelikheid in die hand gewerk. Die toonaangewende poësie van die wêreld val slegs baie gedeeltelik binne die teoretiese omskrywings wat in Afrikaans aangetref word. Die verletterlikende neigings wat in die kritiek voorkom, kan nie die reikwydte van implisietheid wat die beste hedendaagse poësie kenmerk – soos dié van byvoorbeeld John Ashberry of Anne Carson of Miroslav Holub se werk, om nie te praat van ’n groot narratiewe digter soos Cesare Pavese nie – bevat nie. Dit kan nié die radikale herinterpretasie van oorgelewerde kodes wat in sulke oeuvres voorkom, na behore interpreteer nie.

Dit beteken nie dat daar nie ook werk bestaan wat wel daardeur beskryf kan word nie. Dit beskryf baie goed die gros van Afrikaanse poësie tot op hede, wat op sy beurt nie noodwendig swakker is as die beste net omdat dit deur “letterlike” teorieë beskryf kan word nie. Die probleem kom in by wat daardie teorieë nié kan beskryf nie, en die oombliksgewrig waarin dit die duidelikste vertoon, is nou.

Die digters wat in die paragraaf hier bo genoem word, is meesters van sekere postmoderne strekkings: die vermenging van genres, die aanbod van poësie in kodes wat histories aan ander genres behoort, die uitstel van metaforiese korrelasie wat soms oor bladsye heen strek, ensovoorts. Anne Carson se Plainwater of The Beauty of the Husband of die verhalende gedigte in De dood zal komen en jouw ogen hebben van Cesare Pavese, soos in Nederlands vertaal deur Willem van Toorn, kan as emblematiese voorbeelde dien.

Hierdie aspekte bring my nou uit by die begrip postmodernisme en die soms baie gedeeltelike manier waarop dit in die letterkundebeskouing te lande geïnterpreteer word, iets wat insgelyks verband hou met die “ondergrond van realisme” en die neigings tot verletterliking wat ek noem.

Vermeende eienskappe van die postmodernisme word te dikwels as ’n prototipiese meesterrelaas ingespan by ontleding, iets waarvan vooraf van ’n teks verwag word om aan te voldoen. In so ’n situasie staan literêre intuïsie vanselfsprekend nie ’n kat se kans nie. Dit sneuwel by voorbaat by die melkpiering.

Die eerste probleem met die meesterrelaas-voorveronderstelling is dat die postmodernistiese gewrig waarin ons ons noodwendig bevind, nie staties is nie, al hoe minder en al hoe vinniger so, en telkens voordat werk in terme daarvan beskyf kan word, het die eienskappe van die postmodernisme reeds verander.

Nog ’n probleem met die postmoderniteit is die aanname (en dis deels ’n realiteit) dat dit vervlak, en dat die verskil tussen “diep” en “oppervlakkig” daarom ’n modernistiese droom is wat verbygegaan het.

Die waarheid is dat van die beste poësie van die postmoderniste tydvak, meer as ooit gedurende die verstreke modernistiese tydvak, soms intens verwikkeld en/of denkend (lees: intellektueel) te werk gaan. En op die wêreldtoneel is dit al ’n baie lang tyd die geval. Die nadenkende reaksie wat sommige goeie poësie in hierdie tydvak vra, het nie verminder nie, maar geïntensiveer. Dit is so omdat die verbeelding al hoe meer dimensioneel te werk gaan – of die poësie in herhalende lae aangebied word soos aangetref in Kaar van Marlene van Niekerk, of andersins gestroop en puntig aangebied word en ’n enkele kardinale sprong vra, soos by John Ashberry.

Wat verbygegaan het, is nie intellektualisme nie, maar die vaste onderskeid tussen gevoel en intellek. Wie gaan besluit bo of onder watter rugwerwel die een vóórkom of die ander? Wie gaan die arbiter van drolkleure wees (as Breyten my die gebruik van sy metafoor sal verskoon)? Feit is intellek word uit gevoel gebore, en andersom. Soos die vreeslike tweeling word hulle saam aangetref. Die een se skuld is die ander se onskuld en meestal ruil hulle rolle.

Een van die mooiste, veelseggendste gedigte in die geskiedenis van die mensdom is dié een, en dis net een sin sónder enjambement: “Die uil van Minerva sprei haar vlerke teen middernag.” Die digter? ’n Filosoof, GWF Hegel. Die vertaler? Ek swyg.

Die verbygaan van vaste onderskeidings beteken ook nie nou dat die “ou woorde” nie langer met relatiewe betekenisse gebruik mag word nie. Betekenisse as relatiewe konstrukte het nooit verbygegaan nie, slegs heelwat meer beweeglik en onvoorspelbaar geword. Daar is al lankal ’n herontginning van modernistiese wyses in die postmoderne poësie aan die gang, maar met dié kardinale verskil: dit verteenwoordig nie meer ’n soeke na “waarheid” nie, maar na egtheidsgehalte.

En, ag hemel, iewers hoor ek die arme suster wat kla dat mens nie meer oor “verbeelding” of “idee-inhoud” van gedigte kan praat nie, want kwansuis bestaan daar niks buite die verbuigbare, hoorbare tegniek van die taal self nie. Laasgenoemde ’n postmoderne opvatting, glo.

Ja en nee. Taal is ’n dimensionele, voortspieëlende produk, en alle poësie is nié opgesluit in die hoorbare en sienbare taalverbuigings daarvan nie. (Dis juis ’n postmoderne insig dat taalbetekenis voortrollend – lees: voortspieëlend – is en nie “gestop” kan word nie. In die woorde van Alfred Schaffer in sy jongste digbundel: “een tol die steeds sneller draait steeds sneller tot hij zich/ onstoffelijk tolt”.)

Van die grootste poësie is doodgewone sinne. TT Cloete is in sy andersins klinkende opstel “Die dromende denke van die digter” gans verkeerd om te meen dat die poësie wesenlik onvertaalbaar is. Dit gaan afhang van watter poësie. Die onderskeid tussen ’n soort poësie wat sy betekenis primêr op ’n klankkas-wyse oordra (moeiliker te vertaal), en die ander soorte oordraging wat moontlik is, word steeds gans te moedswillig in Afrikaanse besprekings geïgnoreer. ’n Gebrek aan genuanseerdheid ten opsigte hiervan kan tot gevolg hê dat núwe manifestasies van klankwerkings selfs in gevalle waar “klank-en-sigbaarheid” regmatig die klem van die beskouing behoort te wees, ook nie geëien word nie.

Oor die slaggate in die gebruik van die huidige gonsbegrip, ikonisiteit, en hoe dit die potensiaal bevat om die dimensionaliteit van toekomstige digprodukte in te perk, om die futuristiese vormbeweeglikheid en vormsubtiliteit te keer wat so aan die orde van die dag word, daaroor swyg ek maar. Dit bring my wel terug by die reeds genoemde verletterliking van die begrip abstrak, wat mens as al hoe meer selfingenome in Afrikaanse digkunsbesprekings tref. Wat sou dié valse lakmoestoetsie vir Paul Celan se digkuns beteken het as hy in Afrikaans geskryf het?

Die “postmoderne” kritiek in Afrikaans is geneig om op ’n vooraf beslote manier na produkte te kyk sonder om genoegsaam te besef dat daardie produkte ook terugpraat en die vooraf beslote leesmaniere ongeldig kan verklaar voordat die einde van die teks bereik word. Dit laat allermins reg geskied aan die postmodernistiese gees.

En as intuïsie nie telkens die offermaagd was nie, as daar net meer dikwels “onskuldig” en oopkop gelees sou word, sou die flikkering van die rooi ligte meer dikwels raakgesien word. ’n “Grootse” voorbeeld waar literêre intuïsie gesneuwel het, is in die jongste samestelling van die bloemlesing Groot verseboek, waar postmoderne opvattinge soos intertekstualiteit te dikwels gesonde oordeel verdring het. ’n Voorbeeld waar dit oorleef het, is die bloemlesing Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960. En nie omdat hier nie ook maar gevaar geloop word om op ’n letterlike wyse om te gaan met die begrip postmodernisme nie, maar omdat intuïsie geweier het om op die altaar te gaan lê. Sodoende het ’n bloemlesing tot stand gekom wat ’n uitstekende prentjie van die beste Afrikaanse digkuns gee. Dit kon ook maar Rose uit China geheet het.

Waarskynlik is die postmodernisme nie ’n bepaalde veranderende situasie nie, maar ’n legio situasies wat ewe geldig is. Daar bestaan byvoorbeeld ’n hele strewe in verskillende gedaantes – van “automatic writing” tot die “language poets” – na die verwoording van onbemiddelde, “eerste” waarnemings. Vir sulkes verword taal hoe verder dit van sy uitingsoorsprong beweeg en moet ons, in die woorde van Charles Olson, een van die eerste gebruikers van die term postmodern, die “oggend” van die woordpsige weer en weer ontdek. In teenstelling is daar ander wat glo dat die mens nooit onbemiddeld kan skep nie, maar onontkomelik binne ’n narratief staan wat mededelings definieer.

En so kan mens aangaan. Skaars het jy gesê “post-” of ’n verbyvlieënde spreeu tjorts op jou lapel. Ek kan die skrywer Kurt Vonnegut (wat dit gehad het oor “truth”) bietjie herskryf: “Don’t postmodern me, because I’ll postmodern you.”

Uit my bostaande bespreking kom ’n prentjie uit die verf van hoe die Afrikaanse beskouingskritiek spesifiek betreffende die poësie langsamerhand ’n bepaalde atrofie ondergaan het onder die dekmantel van verintellektualisering en kulturele sofistikasie. Etlike politieke en maatskaplike gebeurlikheidsfaktore het aktief saamgespeel om die proses oor ’n lang tydperk deels onsigbaar te maak.

5. Van “close reading” na “closed reading”

Een van die leesprosesse wat nie sonder die aannames van die postmodernisme as breë tydsgewrig sou kon gebeur het nie, is die sogenaamde vergelykende letterkunde.

Die vergelykende letterkunde is postmodern omdat dit bepaalde modernistiese opvattinge aanvegbaar vind. Hieronder tel die idee dat letterkunde kwansuis teleologies sou ontwikkel het en dat alle letterkundes hierdie ontwikkeling deel. Ook die opvatting dat “goeie letterkunde” endemies is aan die mens se “genialiteit” en min of meer oral “só” sal ontwikkel, word daardeur in twyfel getrek.

Franco Moretti

Die literatuurteoretikus Franco Moretti beskryf hoe magtige letterkundes relatief magtelose domeine koloniseer en hul idees daarop afdruk. Maar die idees word nie klakkeloos ingevoer nie. Hulle word ingevoer deur plaaslike skrywers in ’n proses van oordrag waarin ’n verinheemsde vorm van die magtige kultuurinhoude met vooraf bestaande idees in die heimat vermeng.

Een van die heersende opvattinge onderliggend aan die vergelykende letterkunde is sogenaamde “distant reading” soos uiteengesit deur Moretti. In “distant reading” pas die leser as’t ware ’n teleskoperende blik toe op die teks, en omdat dit ’n wyelensblik is, kan hy of sy dit terselfdertyd ook toepas op ander letterkundes, en vergelykend te werk gaan. Op dié manier kom ’n nuwe ondersoekveld tot stand wat mens “wêreldletterkunde” kan noem. Sodoende kan aannames wat van letterkunde tot letterkunde verskil, en aannames wat dalk mag ooreenkom, raakgelees word. So kan die wyd uiteenlopende vorme van verinheemsing van dieselfde oorgelewerde “magtige beginsels” ook met mekaar vergelyk word.

In “close reading”, daarenteen, word die teks “van naby” ontleed op grond van aannames wat bekend is aan die heimat wat die teks opgelewer het, en wat gewoonlik nie as sodanig bevraagteken word nie. Dit is die tradisie van lees wat die letterkunde in beide Afrikaans en Engels te lande al vir dekades lank tipeer. “Kontestasie” (bestryding), die magsproses waarin leesbeginsels histories gevestig geraak het of ingevoer is, word nie eintlik in oënskou geneem nie, beslis nie vergelykend nie. Die bekende leesbeginsels van die heimat word gewoon toegepas. Dit is ’n wyse van lees wat eintlik modernisties indien nie premodernisties nie van aard is.

Beskou nou ’n situasie waarin die anachronisme van “close reading” (wat die outomatiese refleks by ons is) en wat ’n onbevraagtekende plaaslike persepsiekarakter gaan ondersteun, ’n raster bied vir die twyfelagtige verinheemsing van opvattinge uit die akademiese magsentrums. En dit terwyl die betrokke literatore voorgee daar word omgegaan met “universele” beginsels.

Voeg daarby die dood van beskouingsintuïsie waarna ek hier bo verwys wat normaalweg ’n rookalarm sou kon wees as dinge verkeerd loop, maar by ons ondervoets beland het en nie meer genoegsaam lewend is nie.

Voeg by dít alles my bewering dat die proses van verinheemsing ’n atrofie toon wat weens tydsgebonde omstandighede nie gesien kon word vir wat dit is nie.

Voeg nogmaals hierby die bykomstige faktore wat meedoen, die dayglo-rekwisiete van die omringende politieke en maatskaplike nagmerrie op geestesvlak.

Die volgende stap in hierdie proses is die gee van ’n baie klein treetjie na, kom ons sê (ter wille van verhoogaanwysings), regs. En dít is die tersluikse treetjie van “close reading” na “closed reading”.

6. Bykans mimeties

Een van die nadeligste gevolge van wat ek “closed reading” noem, is dat nuwe literêre ontwikkelinge nie aangemoedig word en ook dikwels nie na wense gevolg kan word nie. Daar word gekonsentreer op letterkunde wat reeds bekend en aanvaard is omdat dit waarskynlik nie die broosheid van die geslote teorieë in gedrang sal bring nie, veral omdat die teorieë ’n verstandhouding van swyende eksklusiewe aanvaarding met daardie oeuvres aangegaan het (of die betrokke outeurs daarvan hou of nie).

Die nodige vertroue (ten einde raakgesien te word) wat deur verskuiwings in poëtikale of literêre spelreëls gevra word wat buite die geslote baan van aanvaarde teorie plaasvind en nie geredelik daardeur verklaar kan word nie, word onder lesers ontmoedig, en sulke ontwikkelinge sal hoogstens sylangs na verwys word.

Dit terwyl “groot vernuwings” telkens met groot trompetgeskal vanuit die binnekring aangekondig word deur diegene wat “toegerus” is “om te sien”, die kenners van die geslote teorieë, natuurlik – en bespeur in die werk van ander binnekringlede.

En waar die genoemde teorieë nie oorheersend genoeg is nie, word die binnekring gewoon al hoe kleiner gemaak totdat gesê kan word dat die gekose teorieë wél oorheersend is. Die omgewing van politieke beleëring wat aan die orde van die dag in Suid-Afrika is, maak hierdie proses bykans mimeties.

Al hoe meer luike word toegemaak terwyl ’n selfbeskermingsrefleks oorneem – noem dit die “familiesaak-refleks”. Die letterkunde word gereduseer tot ’n “familiesaak”: óf jy is deel daarvan óf jy is nié. Binne die “familie” is dit allereers subjektiewe “familiewaardes” wat tel, nié maatskaplike waardes soos meriete of oop gesprek nie.

Maar die negatiefste gevolg van ’n literêre omgewing waarin geslote teorieë dominant geraak het, is dat eietydse keuses wat skrywers maak, maklik gesien word as te afwykend vir die taalgebied en dat dit ’n bedreiging inhou vir die keuses wat skrywers in die verlede gemaak het.

Die vernaamste rede vir hierdie “putsch”, wat tans aan die gebeur is, is dat die Afrikaanse domein in so ’n mate gekwyn het dat die nodige wigte en teenwigte nie meer behoorlik funksioneer nie. (Ek twyfel werklik of wat nou gebeur, moontlik sou gewees het as ’n wakker agent soos die dikwels vermaledyde John Kannemeyer nog in die lewe en op sy hoogtepunt was.)

Nóg die “afwykende” outeurs nóg die aanvaarde oeuvres, groots én andersins, wat soms baie hiperbolies of onpeilend aangeprys word (of sulke skrywers daarvan hou of nie), word deur ’n geslotebaanteorie gedien. Belangstelling in die hoogs aanvaarde outeurs sal langsamerhand versand en vervlak (en dit blyk reeds die geval te wees), want wat éintlik belangrik is, is nie die werk van enige briljante outeur nie, maar die “briljantheid” van die geslote teorie – én die honger drywers daarvan.

’n Paar onlangse resensies met betrekking tot die poësie toon baie goed wat ek bedoel en waar die Afrikaanse literatuurbeskouing sigself tans as familiesaak bevind. Ek het hier bo na vermeende sistemiese gebreke verwys. Die uiteindelike gemis wat ter sprake kom by intellektuele atrofie, is die klaaglike gebrek aan egtheid en eerlikheid.

Breyten Breytenbach

Koop Vyf-en-veertig skemeraandsange by Kalahari.com

Ter sprake is ’n paar resensies wat handel oor Breyten Breytenbach se jongste bundel, Vyf-en-veertig skemeraandsange. Minstens twee van die vier resensies het die resensieruimte van ’n groot digter se bundel gebruik om die literêre luike dig te maak: Wie binne is, bly binne; wie buite is, buite.

Só staan dit in Rapport: “Maar in vergelyking met hom (Breytenbach) is die eintlike gestremdes sy tydgenootlike vakbroers en -susters wat, op enkele uitsonderings na, onbeholpe stotter en stamel.” Hier verwys Daniel Hugo na die “eenbeendanser” in die subtitel van Breytenbach se bundel wat die outeur se beskrywing van homself is. Dat die resensente almal na dié beeld verwys sonder om blyke te gee dat dit die Rimbaud-motief in die Breytenbach-oeuvre oproep, kom neer op ’n halwe lesing.

Hugo se bevloë opmerking van ’n “gestotter en stamel” kan gerus teen die agtergrond van sy bekende misnoeë met “moeilike” gedigte gesien word, en die leser kan miskien ook sy langdurige irritasie met andersoortige poëtiese keuses byreken (soos dit onder meer in onderonsies in die pers tussen my en hom gemanifesteer het).

Drie van die vier resensente (buiten Louise Viljoen) het werklik baie min gedoen om die bundel vir die leser te peil. Daar is skynbaar nie tyd daarvoor nie. Daar is belangriker dinge wat wag. Soos om die kanon te laat klop voor die rekenmeester kom. Want wat vir geruime tyd al opval, is die vreemde kombinasie van ’n verbete strewe om die “regte poësie” te bevorder met ’n toemaakstrewe wat op selfmoord lyk.

Ek wil ’n oomblik lank stilstaan by spesifiek die resensie wat op Versindaba verskyn het, geskryf deur ’n gesiene literator, omdat dit die uiteinde van die negatiewe progressie toon wat ek in hierdie opstel geskets het.

Die resensie lyk met eerste oogopslag of dit groot ontsag vir die bundel onder bespreking het. As die gedigte punt vir punt met die bespreking daarvan in verband gebring word, blyk dit egter dat die resensent nie besig is om die bundel te bespreek nie, maar om bepaalde idees omtrent die digkuns daarop af te druk wat glad nie, of slegs baie effentjies, deur die gedigte ondersteun kan word.

As voorbeeld kan dien die resensent se kommentaar op “1. ek het gedroom”. Daar is niks in die betrokke gedig wat haar idee uitdruk dat gedigte “nie uitgedink of gemaak (mag) word nie”. Dit blyk ’n opvatting van die resensent oor gedigte te wees en herinner sterk aan eensydige en verslete opvattings oor die liriese-gedig-aard. Daaronder tel dat gedigte “nie “dink nie maar voel” (’n vergane onderskeid wat ek elders in hierdie artikel bespreek), dat die gedig nie die domein van argumentering of nadenke behoort te wees nie, want nadenke is kwansuis nie na genoeg aan die “onbemiddelde waarnemingsimpulse van die liriese digkuns” nie, en dat die gedig so na as moontlik moet lyk daarop dat dit “nooit gekonstrueer” is nie, ten einde meer “liries” of “eg” te wees.

Sulke opvattings, wat uiters twyfelagtig is as algemene rigtingwysers, word dan sommer summier aan die digter – omdat hy alom bejeën word as groots in statuur? – via sy gedigte toegedig!

Wat is die versweë effek van hierdie resensie? Op baie tersluikse wyse en met ’n sekere omhaal word verdagmakend omgegaan met digterlike keuses wat vandag deur sommige Afrikaanse digters, en digters wêreldwyd, gemaak word omdat dit waarskynlik nie voldoen aan die geslote teorieë wat hier buikspreek nie. En die resensieruimte van ’n bundel wat glad nie verband hou nie, word hiervoor misbruik. In die naam van groot literêre liefde (vir Breytenbach) nogal!

Dis ’n gees wat al ’n hele rukkie die Afrikaanse kommentaarruimte vaardig is, hetsy sluimerend of meer eksplisiet, en dit word skynbaar al hoe sterker namate die een na die ander onafhanklike beskouer van die Afrikaanse toneel verdwyn, en die omringende maatskaplike beleg op ’n spits gedryf word.

7. Wat om te doen?

Ek wil graag voorstelle maak in die rigting van ’n kuur vir die situasie:

Literêre werke moenie goed bevind word net om goed bevind te word nie, op die basis van ’n kweekhuisagtige beskermingsdrang of net omdat dit Afrikaans is nie. Dit sal die einde beteken vir werk van gehalte.

Aanvaar eerder dat die Afrikaanse letterkunde nié aan die uitsterf is nie, en neem die teenoorgestelde posisie hiervan in binne ’n ingeligte vergelykende literêre konteks. (Die landspolitiek gaan nie oornag verander nie.)

Raak opnuut ingelig oor wat in ander letterkundes as die beste gereken word en waarom, en watter teoretiese maatstawwe vir sulke gevolgtrekkings aangelê is.

Kyk konstruktief-krities na wat by ons geproduseer word, sodat interpretasie op grond van deurdagte en gemotiveerde vertrekpunte kan plaasvind, so helder as moontlik uitgespel met verwysing na die aard van die werk en die maatstawwe waarmee dit gemeet word.

’n Ernstige heroorweging van teoretiese benaderings tot die poësie is nodig. Teorieë waarvan die kritiese benaderings totaal agterhaald geraak het, moet gesien word vir wat dit is. Veral moet daar met oop oë omgegaan word met die slaggate inherent aan die toepassing van teorieë, asook met die slaggate inherent aan interpretasie as sodanig. Onder laasgenoemde tel een van die punte wat in hierdie artikel gestel word: die interpreterende agent en haar bepaalde kulturele geaardheid gaan net so bepalend vir die interpretasie wees as die stof onder beskouing.

Daar moet meer van ’n besef kom van hoe steiler wordend die kurwe van beide literêre uitdrukkingsmanifestasies en literêre teorieë aan die verander bly, en hoe interpretasie hierdeur geraak word.

Tot sover die milieu vir ’n beter toneel. Moet egter nie die hoofakteur vergeet nie. Vergun my ’n “kitsreël” vir die herstelde staanruimte vir die allerbelangrike funksie van beskouingsintuïsie. ’n Gedig is nie gelyk aan ’n som van sy elemente nie, maar is meer as dit. Dís wat dit ’n gedig maak. Juis daarom word die betekenis van bekende elemente wat daarin in die spel is, opnuut deur elke gedig bepaal – en nie andersom nie.

8. Samevattend

Ek het ’n progressie geskets van wat ek sien as ’n atrofie van ’n vrye en priemende beskouingskultuur in die Afrikaanse lettere en van die bedekte wyses waarop die atrofie plaasvind.

Ek het sekere aspekte van die Afrikaanse literêre erfenis uitgelig wat as “vervoermiddelle” opgetree het in hierdie atrofie.

My beskrywing is uiteraard vereenvoudigend – nie alle deelnemers aan die Afrikaanse literatuurlewe is deel van die atrofie nie, goddank, en tog is die atrofie waarskynlik deel van ons almal.

Ek skryf hierdie stuk op die slegste denkbare tyd vir myself, ’n paar maande voordat ’n nuwe bundel van my in die Afrikaanse ruimte gaan verskyn. Maar langer kan ek ook nie stilbly nie.

Ek weet dat ek myself hier in Berlyn en in ander forums van die internasionale digkuns bevind danksy die vry skeppende keuses wat ek in my werk gemaak het, keuses wat my in staat stel om in aktiewe gesprek te wees met my tydgenote buite die Afrikaanse domein en in die “wêrelddomein”. Die ergste nasleep van ’n poësiekritiek waarin die deskundiges ingeligte en vry skeppende keuses ontmoedig – soos tans op die steelse moontlike wyses in Afrikaans gebeur – is dat dit toekomstige Afrikaanse digters sal weerhou daarvan om aan ’n groter, wêreldgehoor blootgestel te word.

Sulke “deskundiges” is besig om ingevolge “teorie” ’n geslote baan van interpretasie in die plaaslike domein te bevorder wat baie lyk op ideologie, met al die tekens van uitsluitlikheid en letterlikheid wat ’n ideologie kenmerk.

Ons woon in ’n tyd waarin alles gekrimp het behalwe skryfskole. Om uitgediende opvattinge as “hoër insig” te verkoop, dikwels wel wetend dat dit so is, is selfsugtig in die oortreffende trap. Dit sal toekomstige talent, én die Afrikaanse digkuns, tot ’n locked-in-sindroom verdoem.

<< Gaan terug na Poolshoogte

Uit die LitNet-argief
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die beeld is duursamer as die begrip
– Heilna du Plooy
2014-06-17
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
D.J. Opperman se laatwerk
– Helize van Vuuren
2014-04-15
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die denker as digter, die digter as denker: D.J. Opperman, N.P. Van Wyk Louw en die digkuns/filosofie-debat in die Afrikaanse letterkunde
– Jaco Barnard-Naudé
2012-02-27
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Kleurvol hibried: Kleur kom nooit alleen nie en die talige ruimte van saambestaan
– Marlies Taljard
2010-08-18
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Ekokritiek en die nuwe materialisme: ’n Ondersoek na die nuwe materialisme in enkele gedigte van Johann Lodewyk Marais uit die bundel In die bloute (2012)
2014-04-02
LitNet Akademies-resensie-essay
Kaar 'n klein ensiklopedie van woord en digkuns
– Henning Snyman
2013-12-04
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Afrikaanse digters in gesprek met Breyten Breytenbach as digter
2009-11-26
Briewe deur die lug
Een lied van schijn en wezen
– Alfred Schaffer
2000

Young Voices Conference 2004
Vir Niemand en Nêrens
– Danie Marais
2004-10-19

Briewe deur die lug
Interessantheidshalwe
– Antjie Krog
2000

 

  • 7

Kommentaar

  • Charl-Pierre, ek hoor graag meer oor die "Rimbaud-motief in die Breytenbach-oeuvre" nav Breyten se tipering van homself as 'n "eenbeendanser". Ek sal dit baie waardeer as jy die luike vir my en ander Breyten-lesers sal oopgooi en lig werp op hierdie saak. As internasionaal gesitueerde digter wat bevry is van die bedompige Afrikaanse literatuursisteem is jy ongetwyfeld in 'n bevoorregte posisie om ons horisonne te verbreed. 

    Terloops, die "huidige gonsbegrip ikonisiteit" is so oud soos die semiotiek, wat ek skaars as "huidig" sal tipeer. Of het ek al weer iets misgeloop?

  • Avatar
    Charl-Pierre Naudé

    Beste Daniel,   

     
    Ek hoop jy het jou kommentaar uit irritasie geskryf. Want andersins illustreer dit presies die soort atrofie waaroor ek skryf.   
     
    Ek sou reken dat elke leser, veral ? sogenaamde deskundige soos jyself, in die eerste plek sy eie leesdeure oopmaak. Niemand anders kan dit vir jou doen nie. Waarvoor wag jy, ? nuwe teorie oor Breytenbach vanuit Berlyn? Daar is na my wete wel al geskryf oor die Rimbaud-motief in die Afrikaanse beskoulike ruimte.  Maar ek dink die insiggewendste kommentaar op die motief kom uit die Breytenbach-oeuvre self. Hoe goed ken jy dit, as jy goedsmoeds kan vra dat ek jou dit moet help raaksien?   
     
    Terloops, vermeende sistemiese atrofie word nie in die eerste plek van buite gemeet nie. Die woord impliseer juis dat daar punte binne die stelsel is wat mens as maatstaf sou kon gebruik om die atrofie te meet. Miskien kan jy Viljoen of Van Vuuren of Galloway se navorsing op Breytenbach raadpleeg as ? beginpunt? Dis nou as jy teorie nodig het ... 🙂 
     
    Jou kommentaar op my sin oor ikonisiteit toon eweneens ? halwe lesing. Natuurlik is dit ? ou begrip, maar dis nuut as gonsbegrip binne Afrikaans.        
     
    Mooi loop, 
    Charl-Pierre.
  • Beste Charles-Pierre

    Ek het beslis uit irritasie gereageer. Oor jou meerderwaardige houding ten opsigte van die Afrikaanse letterkundige bedryf en jou ingenomendheid met jou "internasionale" posisie daarbuite.

    Ek is heeltemal bewus van die Rimbaud-motief in Breytenbach se werk - veral in "'n Seisoen in die Paradys". Die vraag bly egter hoe Rimbaud - benewens die verwysing na die Franse digter se geamputeerde been met Breyten se selfironiserende term "eenbeendanser" - verder in sy jongste bundel  figureer. Myns insiens glad nie so prominent dat dit in 'n resensie van 800 woorde genoem hoef te word nie. Om my en ander resensente se besprekings weens hierdie verswyging 'n "halwe lesing" van die bundel te noem, is mos pure moedswilligheid. Die "eenbeendanser" verwys wel opsigtelik na "die ongedanste dans" - die oorkoepelende titel van sy tronkbundels - wat sinspeel op die Nederlandse idioom "de dans ontspringen", dws om aan die dood te ontkom. En dit is wel deeglik relevant vir "vyf-en-veertig skemeraandsange".

    Vriendelik
    Daniel

  • Avatar
    Marlene van Niekerk
  • Avatar
    Charl-Pierre Naudé

    Baie dankie vir die skakels in die vorige kommentaar. Dit is inderdaad baie nuttig vir die leser van Poolshoogte wat die punt ter betrekking (Breytenbach se "Rimbaud-motief" in my artikel), waaroor Daniel Hugo skynbaar hierbo navraag doen, sou wou naspeur. Ek sou verder byvoeg dat so 'n leser ook die tema van skending/verlies, wat eweneens uit Rimbaud spreek, regstreeks betrek.        

  • Avatar
    Charl-Pierre Naudé

    Beste Daniel,   

     
    Weereens ontgaan dit my nie dat jou opmerkings presies die kommerpunte bevestig wat my artikel aanraak.    
    Klaarblyklik sien jy jouself as sinoniem met die Afrikaanse bedryf. Is dit ook jou houding teenoor die munisipale swembad, omdat jy op Maandae en Woensdae daar swem? Hoe selfingenome is dít nie?   
     
    Ons dwaal af, Daniel.      
     
    Vir die rekord: Oral waar ek aankom lees ek gedigte in Afrikaans. Oral en in watter hoedanigheid my beperkte self beskore is, argumenteer ek vir nog ruimte vir Afrikaans en sy spelers – en nie sonder onbegrip of teenkanting wat my begroet nie. Nié daarsonder nié.   
     
    Is dit neerbuigend van my? Is dit selfingenome? Myns insiens veel minder as jy in jou posisie “daarbinne”, Daniel.   
     
    En, seblief, ek het my eerste digbundel in 1995 gepubliseer. Dis sowat twintig jaar gelede. Kry gerus die spelling van my naam nou onder die knie.   
     
    Voorts sal ek slegs beskikbaar wees om inhoudelike aspekte van my artikel te bespreek.   
     
    poskaarte!, 
    Japie.
  • Avatar
    Waldemar Gouws

    Charl-Pierre Naudé se bevinding dat die verbeelding van sommige skrywers “al hoe meer dimensioneel te werk gaan” en dat die “nadenkende reaksie wat sommige goeie po?sie vra” al hoe intenser word, is vir my ’n baie raak diagnose van eienskappe wat by Breytenbach en Van Niekerk se werk te sien is. Maar nou noem Naudé die aanwesigheid van ’n weerstandigheid teen die (meer-)dimensionele aard van sekere tekste sowel as teen sy voorgestelde paslike reaksie daarop. Hy herken selfs die tekens van ’n putsch (wat plaaslik maklik vir ’n poets aangesien kan word, soos wat die ouma en die eendvo?l met mekaar verwar kan word). Die here alleen weet wat in die Afrikaanse letterkunde ernstig opgeneem word. Sou mens, nav die gemete grootte van ons verinheemsde letterkunde, van ’n "statsgreep" kon praat?

    Dat Breytenbach vrot van Rimbaud is (die hele komplekse Rimbaud-metafoor)  – vir meer as veertig jaar al – is ’n onbedekte se?n. Breytenbach se 1970-verwysing na Rimbaud in Lotus: "'Je suis vécu,' s? Arthur l’Hottentot," (moedswilliges moet maar die woord "Khoi" soos ’n groen doek soek) is nog net so geldig vir die digter van vanjaar se vyf-en-veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte. (Daardie werkruimte wat dinamies vol saampraat is met Breytenbach se stem so tussen die lewens en maaksels van tydgenootlike en voorgangerdigters.) Dank aan prof Van Niekerk vir haar webleidrade na die BB-AR liggaam, ten spyte van ’n bietjie hugomeurigheid in Naudé se stof. (Van Niekerk stel nie net eise nie, sy gee ook.)

    Dat daar twee huidige opponerende leesstrategie? deur Naudé beskryf word, is ook nie te vreemd vir woorde nie. Enersyds noem hy diegene wat ter wille van die familiesaak se instandhouding doenig is, teenoor die Naudélikes wat hul oog rig op maatskaplike waardes. Ek wonder of ’n leesbeskouing so direk aan ’n bepaalde waardestelsel te koppel is. Alhoewel, as mens aan Bob Dylan se woorde dink: “Some of us scare ourselves to death in the dark, to be where the angels fly,” gestel teenoor Ted Hughes se benoude wakkerl? snags uit vrees vir ’n (dié) hartaanval, is daar ’n waardestelsel agter elke gedagte, selfs die losses.

    Ons letterkunde kan baat vind by Charl-Pierre Naudé se siening van nadenkende leesreaksie.        

    Groete

    Waldemar Gouws

     

            

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top