Oor puisies, pitswere en die gevreesde nege-oog

  • 0

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan [email protected].

Iewers in my jongdae het die wêreld van my pa, wat baie swart en wit was in meer as een opsig, nie meer vir my sin gemaak nie. Gelukkig was daar skrywers wie se boeke ek kon verslind: Etienne Leroux, André Brink, Abraham de Vries, Jan Rabie, Etienne van Heerden, Alexander Strachan, Elsa Joubert en John Miles het my gehelp verstaan ek is nie al een wat dink PW & kie is verkeerd nie.

Ek het verwoed gelees, en talle van my vriende het ook. Klandestien het ons verbode boeke soos Magersfontein, o Magersfontein, Kennis van die aand, Donderdag of Woensdag en ’n Droë wit seisoen gelees.

Breyten Breytenbach
David Kramer

Breyten Breytenbach was ’n held, nie net in sy skryfwerk nie, maar ook in sy optrede.

Talle van die Afrikaanse skrywers na wie ek opgesien het, is in 1989 na die Victoria-waterval, waar hulle die ANC gaan ontmoet het. Breytenbach het vanuit Berlyn ingevlieg om die beraad by te woon.

Die skrywers het saamgestaan; hulle het iets gedoen. Hulle het die hand van die ANC geskud.


1. Probleemstelling

1.1 Met puisies na die townships

David Kramer, een van Suid-Afrika se groot woordkunstenaars, vertel van ’n groep trompoppies wat deur ’n sigaretmaatskappy geborg word. Dan volg hierdie onvergeetlike reëls:

they were smiling
and they were marching
to the beat of the school cadets
old enough to know better,
but too young to have regrets1

Dit is ook van toepassing op die verteller, wat die hele prosessie gelei het met sy trom. Oomblikke later sê hy:

my life is just a compromise
when the helicopter hovers
above a cloud of smoke
i must have heard just about
every van der merwe joke

Ek assosieer sterk hiermee. Die skoolkadette en die brandende townships, met ’n gelaaide outomatiese geweer in my hande, is deel van my komvandaan.

Ek het ook deelgeneem. I was old enough to know better, but too young to have regrets.

Die End-Conscription Campaign was bekend aan my, maar uiteindelik was daar drie opsies: voetestamp, tronk toe gaan of die land verlaat ... My life is just a compromise.

Ek is army toe. Gelukkig was ek omring van letterkunde deur ander wat dieselfde vrae gevra het.

Hoe ook al. Ek was een van die heel laaste mense wat vir twee jaar opgeroep is. Die oorlog in Angola is beëindig, want die Kubaanse MIGs het dit onmoontlik gemaak het om dieper in Angola te probeer veg. Van waar ek in die hartjie van 5 Seinregiment se opskamer gesit het, was die range dit eens dat groot lewensverliese op pad was. Selfs die politici moes luister.

Dekades vroeër het ’n digter ons situasie al verwoord:

Here war is simple like a monument:
A telephone is speaking to a man;
Flags on a map assert that troops were sent;
A boy brings milk in bowls. There is a plan.2

Interessant genoeg het ek die ware wreedheid van ’n oorlog aktief gevoel eers in daardie dae ná Mandela uit die tronk gestap het – en toe ek vry was van die weermag. Lighoofdig van vreugde het ek aangesluit by ’n NRO wat in en om die townships van Pietermaritzburg gewerk het. Nou kon ek ongewapen die townships ingaan; ek kon die sagtheid van meisielywe en die wittandlag van vriendskap eerstehands ervaar – maar daar was ’n donker kant ook: ek moes voel hoe dit is om aan die ontvangkant van outomatiese gewere te wees.

My vriendskappe was grootliks aan die ANC se kant en dit het gemaak dat ek soms (op ’n baie beperkte skaal) Inkatha se geweld beleef het.

Die verlies aan lewens, die vrees, die dood het werklik geword. Daar was dae wat ek bang was. Daar was dae wat ek nie seker was of ek my vriende weer sou sien nie.

For living men in terror of their lives,
Who thirst at nine who were to thirst at noon,
And can be lost and are, and miss their wives,
And, unlike an idea, can die too soon.3

Die probleem was dat die vyand nie meer so duidelik was nie. De Klerk het Mandela vrygelaat. Dit was maklik om Inkatha te haat, maar van die comrades het hulle ook vergryp tydens wraakaanvalle. Die polisie was beslis nie geliefd nie (van die eenhede is openlik verafsku), maar op ’n manier moes hulle – hoe gebrekkig ook al – hulle lywe op die spel plaas om verdere geweld te probeer voorkom.

Apartheid was dood. Die konskripsie van wit dienspligtiges is gestop.

Die probleme was egter nie weg nie.

Inteendeel.

Daar was op daardie stadium min antwoorde vanuit die Afrikaanse letterkunde, maar later sou dit tog kom.

’n polisieman bieg

die hand wat ek vergruis het
het brood en liefde na ’n huis gebring

die tong wat ek uitgesny het
het die name van geliefdes laat sing

die knieë wat ek verbrysel het
was die sitplek van ’n opgewonde kind4

Die letterkunde wat vir mý op skool iets beteken het, was egter nie meer interessant vir die jonger generasie nie. Teen 1993, toe ek as tutor die eerstejaars by Rhodes-universiteit gehelp het, was daar hoegenaamd geen belangstelling meer in die grensverhale nie. Nie een van daardie jong gesiggies het meer oproeppapiere ontvang, of kon onthou hoe dit voel om ’n broer of seunsvriend te groet op pad na die onbekende nie. Apartheid was dood en iets wat tot ’n vorige generasie behoort het.

Demokrasie is ons beloof en, só het baie gehoop, ’n beter lewe vir almal.

But ideas can be true although men die,
And we can watch a thousand faces
Made active by one lie:5

1.2 Die pitsweer van armoede

’n Beter lewe vir almal?

Wel. Dit is nou 20 jaar later en die President se paleis het amper ’n kwartmiljard rand gekos, maar plakkers se hutte word steeds afgebreek sonder dat hulle ’n heenkome het teen die snerpende koue.

Die elite ry die soustrein soos nog nooit tevore nie, maar 26% van Suid-Afrikaners ervaar gereeld hongerte. Dit beteken een uit elke vier huishoudings het nie genoeg om te eet nie.6

Hier is ’n mooi storie uit Noordwes:

  • In Desember 2010 is daar ’n kabinetskommeling. Die LUR van gesondheid, Rebecca Kasienyane, verloor haar pos in die Departement Gesondheid.
  • Haar amptelike motor, ’n BMW X5, was maar net ses maande oud.
  • Die nuwe LUR vir gesondheid, Magome Masike, weier toe om in die BWM te ry, en koop ’n Mercedes GL500.
  • Teen 2014, selfs vóór die verkiesing, is hierdie speelding ook nie meer goed genoeg nie en Masike koop ’n nuwe een, dié keer ’n Mercedes-Benz ML500 van veel meer as R900 000. Andrew Kyereh, die waarnemende hoof van gesondheid in die provinsie stel dit so mooi: “The honourable MEC prefers an obsidian-black Mercedes-Benz ML500.”
  • Dit beteken daar is in minder as vyf jaar drie luukse motors gekoop: ’n BMW X5, toe ’n Mercedes GL500 en toe hierdie Mercedes ML500.
  • Die probleem is: daar is nie genoeg ambulanse in Noordwes nie. En waar het die geld vandaan gekom om hierdie voertuie te koop? Ons weet watter begrotings geplunder is om die nuutste Mercedes te koop. Mail & Guardian het bewyse gekry dat R200 000 wat vir mobiele klinieke geoormerk was, en R738 828 wat vir pasiëntvervoer gebruik moes word, die aankoop befonds het. By navraag het Tebogo Lekgethwane, ’n woordvoerder vir die departement, gesê: “It is normal practice in government to shift funds across various cost centres.”
  • Magome Masike, die man van vele Mercedesse, is ook die LUR vir die einste departement wat R7 miljoen se babamelkpoeier gekoop het, dit oor ’n periode van drie jaar nooit versprei het aan behoeftige kinders nie, en toe R2 miljoen betaal het om die melkpoeier te vernietig.
  • Masike volg egter maar net die voorbeeld van sý baas. Drie maande voor Masike se ML500 afgelewer is, het die premier van Noordwes R1,3 miljoen uit die belastingbetaler se sakke gehaal vir ’n BMW750i.

Hoe hanteer ons as skrywers dit? Dink daaraan dat ’n ambulans R250 000 kos.

A better life for all?

ek stuur vir jou in ander taal
as opperman
die bom
in fyn papier gedraai7

Sou ek as skrywer hierdie storie opmaak, sou g’n redakteur dit toelaat nie. Dit is te vergesog. Al hierdie feite is egter verifieerbaar.8

And maps can really point to places
Where life is evil now:
Nanking. Dachau.9

Sou ons byvoeg: Mafikeng, Marikana?

Net die ander dag is ’n ander naam by hier lys gevoeg: Lwandle. Hier is honderde gesinne in snerpende koue weer uit hulle plakkerhuise geskop sonder dat ander blyplek aan hulle verskaf is. Dit wil voorkom asof die DA se opposisie teen tolpaaie die rede is waarom hierdie mense uiteindelik sonder huise sit. Weer eens klink dit belaglik, maar volg gerus die skakel.10

weerloos en koud
bewe hulle agter sinkplaat en hout

elke huis ’n gesig, biddend en grou
met oë op knip en die deur wat asem inhou11

Hoe reageer ons as skrywers hierop? Ná 20 jaar van demokrasie is die Nasionale Party se vergrype vervang met die ANC se vergrype.

Twintig jaar gelede kon ek opsien na skrywers wat aktief teen die stelsel geskryf het. Wie is daar vandag wat dit doen?

1.3 Die nege-oog: ’n pitsweer met baie koppe

Bijzondere steenpuisten: De situatie waarin een aantal steenpuisten naast elkaar in hetzelfde gebied bestaan, soms onderling vervloeiend, heet karbonkel of negenoog.12

Ons samelewing is anders as 20 jaar gelede. Apartheid was ’n kanker. Die uitsaaiing het swart, bruin en Indiërmense, vroue, gays en enigeen wat nie aan een van die drie susterkerke behoort het nie, eenvoudig onderdruk.

Ons het nie meer só ’n tirannie nie. Ons het ’n grondwet en ’n hofstelsel wat menseregte waarborg. Die kanker is oorwin, maar die lyf is siek en vol karbonkels.

  • Hoe kan ’n provinsiale departement toegelaat word om drie luukse voertuie aan te skaf as daar nie genoeg ambulanse is nie?
  • Hoe kan hoofregter Mogoeng Mogoeg in die openbaar verklaar dat ons wette meer godsdiens nodig het?13
  • Wat doen ons aan die volgehoue rassisme van wit mense teenoor ons landgenote, en anders om?
  • En wat doen ons aan die ekologie? Daar is mynsuur in Gauteng, Eskom se steenkoolstasies in die noorde van ons land, skaliegas in die Karoo en duinplundering aan ons kuslyn. Laat ons nuwe vakansieoorde toe in ekologiese gebiede en wie besluit of renosters nog gejag mag word, al dan nie?
  • Wat van Afrikaans?
  • Hoe hanteer ons vlugtelinge? Met minagting of met menslikheid? En wat doen ons as xenofobie kop uitsteek?
  • Moet ons as skrywers betrokke raak by die staking in die platinumbedryf? Kies ons vir of teen die werkers, of dôner ons die vakbonde wat nie wil of kan leierskap gee nie?
  • Wat doen ons aan die onderwysstelsel wat jaarliks agteruitgaan?
  • Wat van die volgehoue teistering van, selfs moorde op, mense in die LBGTI-gemeenskap?
  • Hoekom is Kaapstad se strate 20 jaar ná demokrasie steeds so moeilik om te navigeer as jy in ’n rolstoel is?
  • Hoekom kon ek nêrens ’n vullisdrom opspoor in Pietermaritzburg se vuil strate by die beginpunt van die Comrades nie?

Die lys is langer. Dié goed is egter net simptome, gruwels wat opswel, dan onooglik en pynlik op die oppervlak van ons samelewing rondhang. Ons moet dieper grawe om by die oorsaak van die infeksie uit te kom.

  • Armoede en honger is een van die grootste probleme.
  • Oningeligte kiesers is ’n ander oorsaak. Die ANC sal weer die verkiesing wen. En weer. Die LUR, die premier, die president, niemand gee ’n duit om vir die armes nie, want die armes sal weer vir hulle stem.
  • Nóg een is kerke en madari’s wat steeds fundamentalistiese godsdiens verkoop en die hel beloof aan dié wat dit durf waag om af te wyk van hulle sienings, maar dan nie aan hulle volgelinge vaardighede leer om die stelsel te bevraagteken nie.

Nou is die vraag: Hoe kan ek as Afrikaanse skrywer iets hieraan doen?

maar ons sal die sendelinge van die Boek
wat ons tot hout- en waterdra vervloek,
besweer met houe van voorvaderlike trom.14

1.4 Die (Afrikaanse) skrywer en protes in die Nuwe Suid-Afrika

André P Brink
Jan Rabie en Marjorie Wallace
Etienne le Roux
Adam Small
Steve Hofmeyr
Dan Roodt

Daar was ’n rede waarom Afrikaanse skrywers se stryd teen apartheid die NP-regering so gegrief het: apartheid het dit immers ten doel gehad om Afrikaans en die wit Afrikaner teen elke prys te beskerm teen enigeen wat nie wit en Afrikaanssprekend was nie.

Brink, Rabie, Leroux en vele ander het in dieselfde taal protes aangeteken. Hulle was boonop wit. Adam Small het ook protes aangeteken, maar hy het nie getel nie, want apartheid kon hom verdiskonteer.

Dit was dus noodsaaklik om as wit, Afrikaanssprekende skrywers die wit, Afrikaanse meesternarratief uit te daag.

Vandag is die meersternarratief anders. Veelrassigheid en veeltaligheid maak van ons almal gelykes.

Die vraag is dus of ek as skrywer, of as ’n Afrikaanse skrywer, moet opstaan teen die onreg.

Dit is nie ’n eksistensiële vraag nie. Ek is Afrikaans en die Grondwet sê ek is so welkom soos enige Zoeloe, Venda of Engelse Suid-Afrikaner.

Die vraag is ’n strategiese een. Onder die vorige bedeling moes die Afrikaanse skrywer opsetlik die klippie in die Afrikaans skoen wees. Hoe kan ons vandag, strategies, ten beste die klippie in die skoen wees?

Ek vermoed die ATKV het ’n model wat ons, skrywers, kan oordink.


2. Bestaande aksies

2.1 DIE ATKV en die breë gemeenskap

Op 22 Mei was ek by Spine Road High, diep in die hartjie van Mitchells Plain. Daar is bitter min Afrikaans gepraat. Die meeste mense was Moslems. Engels was die voertaal.

Die geleentheid? Die ATKV het Spine Road High as ’n Sterskool gehuldig. ’n Sterskool is een wat kop en skouers uitstaan bo ander in dieselfde gemeenskap.

Daar is Sterskole in ander provinsies ook en weinig van hulle het Afrikaans as voertaal.

’n Bietjie vroeër dié jaar was ek ook betrokke by die ’n ander geleentheid van die ATKV – dié keer was dit om die wenners van die Handevat-projek te huldig. Die geleentheid was diep in Khayelitsha, die skool waar dit gehou is, se kinders is swart, en daar is nie ’n woord Afrikaans gepraat nie.

Ek kan so aangaan, maar ’n laaste projek wat ek wil noem, is die groot aantal crèches wat deur die ATKV bestuur word. Bitter min van die kinders wat daarheen gaan, praat Afrikaans.

Tog doen die ATKV baie vir Afrikaans. Kyk maar na hulle betrokkenheid by feeste, by boekpryse, by die media en by die advertensiewese, onder meer deur die Pendorings.

Die punt is net dat die ATKV nié bloot omsien na die belange van wit Afrikaanse mense nie. Inteendeel. Juis omdat hulle so betrokke is, begin die boodskap van moedertaalonderrig, wat sterk deur die ATKV gesteun word, deur veel meer instansies opgeneem word.

Die bestuur van die ATKV het besef hulle kan nie elkeen van ons land se nege-oog-probleme aanspreek nie, maar hulle het gekies om ’n verskil te maak aan die onderwys van sommige skole. Daar is 24 000 skole in die land, waarvan net 3 000 goed bestuur word, sê Japie Gouws altyd op saamtrekke. Kom ons werk almal saam om dit 4 000 te maak. “Onderwys – My verantwoordelikheid” is ’n motto wat die ATKV aan hulle lede voorhou. Leef dit uit, vra die ATKV.

Die ATKV se betrokkenheid by die gemeenskap het my só beïndruk dat ek onlangs vorms ingevul het om ’n volwaardige lid van die organisasie te word.

2.2 Wat kan ’n skrywersgroep by die ATKV leer?

Die ATKV maak geen geheim daarvan dat hulle Afrikaans steun nie. Tog is dit bloot een van hulle vele bedrywighede.

Ons land bestaan uit baie mense. As skrywers moet ons ook bereid wees om betrokke te wees by ’n wye aantal kwessies – ook kwessies wat nie direk met ons taal of ons skryfwerk te doen het nie.

Voorts is die ATKV bewustelik veelrassig.

2.3 My onderrok hang uit

My ideologiese onderrok probeer ek nie juis wegsteek nie en dit beteken dat ek moeilik by organisasies aansluit.

Ek het ’n groot respek vir Steve Hofmeyr, as skrywer en as aktivis, maar ek is nie seker of ek hom as my woordvoerder sou wou hê nie. Hofmeyr is ’n baie goeie aktivis en hy gebruik sy werk om belangrike kwessies aan te spreek. My rooi sokkies maak egter dat ek moeilik agter hom sal aanstap.

Dan Roodt ken ek ook, en ek hou baie van hom as mens, maar ook hier is my ideologiese oortuigings te sterk om my by een van sy faksies te voeg.

Is ek dus bloot hardkoppig?

2.4 PEN Suid-Afrika en PEN Afrikaans

Hier stel ek my verder bloot, maar dit moet in Afrikaans gesê word. Ek is nog baie onseker oor die skeiding tussen PEN Suid-Afrika en PEN Afrikaans. Gelukkig het PEN Afrikaans die woedende brood uit die hande van PEN Pretoria gegryp, maar ek is steeds onseker. Daar is soveel wat ek nog kan leer by die ander skrywers in Suid-Afrika, daar is soveel raakpunte wat ek sou wou optel en ondersoek dat ek nou moeite het om te kies om by ’n taalspesifieke PEN aan te sluit. Ek mag dalk nog, maar ek is nog onseker.

Met die volgende mense op die hoofbestuur is dit moeilik om nie opgewonde te wees nie: Fanie Olivier, John Miles, Hermann Giliomee, Naas Steenkamp, Floris Brown, Heilna du Plooy, Abraham de Vries en Kerneels Breytenbach. Ek sien op na hierdie mense, as skrywers, akademici en as mense. Tog sukkel hierdie middeljarige Turk nog om homself te oortuig dat PEN Afrikaans is waar hy wil wees.

Ek lees hulle nuusbriewe en volg hulle hier op LitNet. Die grootse hoe-ha die afgelope paar maande was oor die holruggeryde debat oor boekbelasting.

Werklik? Was daar geen ander kwessies wat ons as skrywers moes ondersoek in dié tyd nie?

Nota Bene: Ek staan hier en nooi julle om die spreekwoordelike eiers te gooi. Dit is die rede hoekom ek dié goed sê. Reageer asseblief en bring my tot insig.

Wat PEN South Africa betref:

  • SA PEN het ’n protesverklaring uitgereik toe Alide Dasnois, die redakteur van die Cape Times, afgedank is.
  • 15 November 2013: SA PEN vier die internasionale dag vir skrywers in die gevangenis.
  • 15 April 2014: Die eerste van ’n reeks SA PEN-debatte – “Sexuality and the Law: A Debate on Cultural Politics in Africa”. Die gesprek het veral gegaan oor Afrika se onverdraagsaamheid rakende seksuele minderhede. Hulle het gekyk na die wetgewing – bestaande en hangende – in Uganda, Nigerië, die Kongo en Kenia. Ook is na onverdraagsaamheid in Suid-Afrika gekyk.
  • 19 Mei 2014: Die tweede in die reeks: "The Politics of Publishing and Bookselling". Margie Orford (outeur), Ingeborg Pelser (Jonathan Ball), Niq Mhlongo (outeur) en Mervyn Sloman (The Book Lounge) was op die verhoog.

Op hulle webruimte is ’n hele aantal skakels na kwessies soos die muilbandwet.

Dit is moeilik om nie opgewonde te raak oor sulke goed nie. Tog kon ek nog geen verklaring raakloop oor die uitsettings by Lwandle nie. Is dit nie iets wat ons as skrywers raak nie? Wat van Marikana? Dit is maklik om breedsprakig te wees en te filosofeer, maar wat doen ons as skrywers aan iets wat op ons voorstoep plaasvind?

Ek speel duiwelsadvokaat, want ek wil weer terugkeer na die vraag: Waar kan ek as Afrikaanse skrywer strategies die beste bydrae lewer?

Ons is binne
In ’n droom
Dis die ou droom
Wattie sterre saai
Konstellasies swerf hier bokant my werf
In die verte begin ’n ou haan kraai.15


3. Die skrywer en die skryfsels

3.1 Ons protesteer in ons werk

Andrew Brown

As daar een hedendaagse skrywer is na wie ek opsien weens sy kragdadige en onverbiddelike standpunte teen onreg, dan is dit Andrew Brown.16

  • Sy eerste roman, Inyenzi, handel oor die menseslagting in Rwanda.
  • Sy tweede, Coldsleep Lullaby, betrek die gekultiveerde rassis en die mag van patriargie.
  • Die derde, Refuge, handel oor die status van onwettige vlugtelinge in Suid-Afrika en ons hantering van dié met geld en dié daarsonder.
  • Sy vierde, Solace, handel oor Joods-Islamitiese konflik in Suid-Afrika.
  • En sy mees onlangse, Devil’s Harvest, is ’n internasionale riller wat grootliks teen die ernstige vergrype in Suid-Soedan afspeel.

Kompromieloos dôner Andrew voort – en bring spannende stories na die leser.

Natuurlik is daar skrywers in Afrikaans wat aktueel werk.

  • Dink aan die werk van Annelie Botes en Pat Stamatélos wat kru binnewêrelde oopskryf.
  • Karin Brynard spreek rassisme, grondverdeling en die sosiale onbetrokkenheid van die pa-figuur aan.
  • Moenie vergeet van Heila Theron wat breking in die Karoo by haar werk betrek nie; en natuurlik was Etienne van Heerden van die begin af ’n stem roepende in die Karoo teen hierdie ekologiese vergryp.
  • Ook moet Deon Meyer se bydrae tot die waardering van die werk wat die polisiediens deesdae doen, nooit onderskat word nie – ook nie sy opsetlike veelrassige (selfs veeltalige) karakters nie.
  • Skrywers soos Marita van der Vyver, Kristel Loots, Sophia Kapp en Chanette Paul sal lank nog gelees word vir die subtiele middelvingers wat hulle na die patriargie gooi.

al die noodlottige vroue
oor wie die geskiedenis praat17

Die lys hier bo is baie onvolledig. Dit toon egter die veelheid van protes wat wel in Afrikaans tekste bestaan. Afrikaanse skrywers, ook ’n aantal liedjieskrywers, soos David Kramer, ís sosiaal betrokke.

Hoekom issie mens
Hoekom issie mensdom so dom
Gee vir hom twee hanne
Dan bou hy hom ’n bom
Hoekom issie mensdom so dom dom dom18

3.2 Ontspanningsliteratuur is nie ’n vloek nie

Chris Barnard

Afrikaanse skrywers gebruik ook die vryheid ná apartheid om, soos in die res van die wêreld, stories te skryf wat lekker lees. Die Afrikaanse boek vaar goed, verkope bly uitstekend ten spyte van die resessie. Lekker stories loop. Ons, as skrywers en uitgewers, móét aan die leser die vermoë bied om weg te glip uit die werklikheid en te ontsnap van die gruwels om ons.

Doen ’n mens dit dan egter soos Chanette Paul, Sophia Kapp, Karin Brynard en Marita van Vyver, en vele ander, dan kry selfs die lekkerste teks iets om die lyf: lekker kan kompleks wees, kompleks kan lekker wees.

Groot skrywers skryf deesdae gewoon meer toeganklike werk. Chris Barnard se Boendoe was só spannend en só lekker, ’n mens kon dit nie neersit nie, maar die ekologiese en sosiale kommentaar daarin sou niemand kon miskyk nie.

Die grense tussen protesliteratuur en ontspanningsliteratuur is dus dun, soms niebestaande. Protes hoef nie die vorm van ontoeganklike werk aan te neem nie en dit sou onkunde toon om ons skrywers van totale apatie te beskuldig.


4. Ter afsluiting

Toe ek met my puisies op skool gesit het, kon ek opkyk na die generasie skrywers voor my. Hulle het iets gedóén. Hulle het die status quo uitgedaag. Ek wou soos hulle wees.

Wat bied ons, kollektief, as hedendaagse skrywers, aan die bewonderende puisiegesiggies wat vandag op die skoolbanke sit?

Is daar vandag ’n skrywersbeweging wat ’n gesamentlike stem kan bied teen die ANC se selfverryking, of los ons dit gerieflik vir die joernaliste?

Is daar ’n skrywersorganisasie wat aktief teen armoede werk? Trisa Hugo het ’n bundel verhale saamgestel waarin baie van ons, gratis, bydraes gelewer het. Die tantieme gaan vir sop aan die armes.19 Dis wonderlik, maar is daar ’n organisasie wat namens skrywers kan stem dik maak? As daar is, weet ek nie daarvan nie.

verskoon die digter
hy is brandsiek en op soek
na oulappe en aalmoese;
maar pasop
hy ruik na mens!20

Ditto met die prosaïs.

Eindnotas

1 Kramer, David. 2001 (oorspronklik 1981), “bokkie bokkie” van die album BAKGAT. Blik Music.

2 WH Auden se “Here War Is Simple”.

3 Ibid.

4 Oliphant, Vincent. 1998. “’n polisieman bieg” uit Die sagte vlees. Kaapstad: Tafelberg.

5 Weer Auden.

6 South African National Health And Nutrition Examination Survey (SANHANES-1), uitgevoer deur die Mediese Navorsingsraad en die RGN.

7 Olivier, Fanie. 1988. “bombouquet / [vir oom John]” uit verklarings 1967–1987. Kaapstad: Human & Rousseau.

9 Vir oulaas Auden.

11 Oliphant, Vincent. 1998. “The killing fields” uit Die sagte vlees. Kaapstad: Tafelberg.

14 Opperman, DJ. 1956. “Trom” uit Blom en baaierd. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

15 Kramer, David. 2007. “Die ou aarde” van die album hemel en aarde. Blik Music.

17 Vincent Oliphant. 1994. “Kantel”, uit Bloed vloei in stilte. Kaapstad: Tafelberg.

18 Kramer, David. 2007. “Hoekom” van die album hemel en aarde. Blik Music.

20 Olivier, Fanie. 1971. Ongetitelde gedig, bl 18, gom uit die sipres. Kaapstad: Human & Rousseau.

<< Gaan terug na Poolshoogte <<

Uit die LitNet-argief
Foto's: LitNet sien rooi by die Right2Know-optog.
2010-10-28
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
“Wie sal ons onthou?”: Die gehoorlid se ongemaklike posisie in Deon Opperman se “Tree aan!”
– Lida Krüger
2013-10-29
Izak de Vries plaas die AKTV se Handevat-projek in die kollig
2014-03-18
"Vrees het nie 'n kleur nie": Sophia Kapp se toespraak op die Kaapse Vlakte
2013-09-03

Young Voices Conference 2004
Danie Marais skryf vir niemand en nêrens
2004-10-19

Young Voices Conference 2004
Like Izak de Vries, it is through new eyes that Lebogang Mashile is now able to look back on the expanse of night sky that is her childhood
2004-10-09
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Kleurvol hibried: Kleur kom nooit alleen nie en die talige ruimte van saambestaan
– Marlies Taljard
2010-08-18
Briewe deur die lug
“Dat die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe bly”
– Ampie Coetzee
2000
Briewe deur die lug
Johan Degenaar skryf oor Afrikaanswees in Afrika, en oor wat dit beteken om mens te wees.
2000
Briewe deur die lug
Koos Kombuis skryf ’n ope brief aan Thabo Mbeki tydens ’n vorige skrywerskongres
2000

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top