“Ontruiming” of “verruiming” in Engelstalige Suid-Afrikaanse letterkunde?

  • 1

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan [email protected].

Nou die dag op Facebook stel die skrywer Fiona Snyckers die vraag, so half-insidenteel, of Suid-Afrikaanse fiksieskrywers hulle stories steeds in Suid-Afrika behoort te laat plaasvind. Snyckers se vraag volg op haar stuk in Mail & Guardian se “Thoughtleader”-reeks waarin sy die vraag stel as/synde ’n tergende dilemma. Dit is ’n vraag, skryf sy, wat weer eens sy verskyning gemaak tydens die bekendstelling van Richard de Nooy se nuwe roman, The Unsaid.

Fiona Snyckers

Koop The Unsaid by Kalahari.com

Koop Ek stamel ek sterwe by Kalahari.com

Koop Agaat by Kalahari.com

Koop 30 Nagte in Amsterdam by Kalahari.com

Koop Kennis van die aand by Kalahari.com

Koop Life & Times of Michael K by Kalahari.com

Ashraf Jamal

Koop Broken Monsters by Kalahari.com

Koop Portrait with keys by Kalahari.com

Koop Lost and found by Kalahari.com

Ek vra my toe onmiddellik af: Is dit ’n vraag wat ’n Afrikaanse skrywer ooit sou stel? My gevoel is dat Afrikaanse skrywers se hele raison d'être is om spesifiek Suid-Afrikaanse stories te vertel. Ja, dit is waar dat vooraanstaande skrywers wel hulle stories op transnasionale vlak ook laat afspeel. Mens dink onwillekeurig aan Eben Venter se Ek stamel, ek sterwe, Marlene van Niekerk se Agaat, Etienne van Heerden se 30 Nagte in Amsterdam, en dergelike gevalle; tog lê hierdie romans nadruk op die wisselwerking tussen “hier” en “daar”, met meer hier as daar. Maar in die algemeen is die vraag of hulle hulle stories hoegenaamd in Suid-Afrika behoort te laat afspeel tog ’n baie vreemde vraag, of hoe?

Dit is waar dat Engelstalige Suid-Afrikaanse skrywers ’n heel ander leserspubliek kan – en wil – bereik. Die wêreld word tegelyk groter en kleiner namate globalisering sterker aandik. So ook wil Afrikaanse skrywers wat genoeg sukses behaal, vertaal word, sodat hulle globale markte kan peil.

Maar streeksgebondenheid hier te lande, oftewel die begeerte om jou plek, of jou ervaring van plaaslikheid binne wêreldverband, te verken, is tog sekerlik een van die hoofredes waarom skrywers in die eerste plek stories vertel. Om beslag te gee aan andersheid, die unieke spel van taal, menslikheid en gevoel binne die noodlot van spesifiek-konkrete, vormgewende omstandighede – waarom anders sou ’n mens dan wou skryf?

Tog wil dit voorkom of Suid-Afrikaanse skrywers in Engels al weer die “plaaslike” dimensie wil ontruim. Hulle wil uit, soos Coetzee. Die “plaaslike” is ’n beklemming. Vroeër jare, in die koloniale dae, sou dit as “provinsiaal” ervaar gewees het.1 Nou, in hierdie moment van “planetary consciousness”, is dit maar bloot net afgeleë. Die groot aksie (as jy oor verkope en resepsie praat) lê in die globale Engelsmagtige metropole en Europese vertaalstreke. Die stand van die wêreldboekmark is nou maar eenmaal net so – as jy boeke wil verkoop, dan moet dit, in vandag se boekemark, óf genre wees (soos die geval Lauren Beukes bewys), óf dit moet op die “wêreldroman”-model geskoei wees, waarin gebeure kontrapuntaal hier en daar afspeel (Amitav Ghosh, David Mitchell, Zadie Smith, Chimamanda Adichie), maar eindelik meer daar as hier. Otherwise, darling, you’re down to a few hundred copies with a local publisher, writing pissy little local stories – which hardly anyone ever reads, even locally …

Wat hier aan die gang is, is die ontstaan van ’n groot vakuum waarin Engelstalige Suid-Afrikaanse skrywers gestrand is te midde van ’n reeks onvoorspelbare wendings tussen 1990 en nou. Ek stel hulle gerieflikheidshalwe in puntvorm hier onder:

1. Die grootskeepse insinking binne die entiteit “nasionaal”, en die koms van ’n energieke postnasionale terrein van skryf waarin Engelstalige Suid-Afrikaanse skrywers tot ’n groter of mindere mate skielik betreklik “bodemloos” is.

2. Die opkoms van belangstelling in die posthumanisme (diere, ekologie en die akademiese fetisjisme rondom “surface”), met inbegrip van ’n groot klemverskuiwing na objekte (“object relations”). (Ja, dit sluit Andries Bezuidenhout se “huishoudelike toestelle” in, maar in sy geval is dit ’n heel ander storie.)

3. Die onttrekking van wêreldbelangstelling in Suid-Afrika as ’n uitsonderlike geval van diep-menslike (polities-historiese) drama (die sogenaamde “myth of exceptionalism”).

4. Die voortsetting van, eerder as ’n einde aan, ekonomiese apartheid ten spyte van formele demokrasie.

5. Die groeiende krimping van boekverkope in Suid-Afrika, veral vir fiksie, en die feitlike verdwyning van poësie-publikasie in Engels namate lesers hul rûe op hierdie skryfvariant keer.

’n Groot faktor in die huidige opset is die feit dat akademici in Engelse letterkundedepartemente op universiteite tot ’n groot mate belangstelling verloor het in Suid-Afrikaanse letterkunde. Tot sowat ’n dekade gelede het plaaslike konferensies, en akademiese tydskrifte, oorgeloop van referate en artikels oor die stand van “South African literature” – ’n kategorie wat oor ’n tydperk van sowat dertig jaar verhef is tot primêre belang in die nadraai van die neokoloniale “Chaucer, Wordsworth and Shakespeare über alles”-era, of die FR Leavis “Great Tradition”-kanon (Jane Austen, George Eliot, Henry James, Joseph Conrad en DH Lawrence). Die erg provinsiaal-neokoloniale Suid-Afrikaanse professore in hierdie trant (selfs op Stellenbosch) het tot die vroeë sewentigerjare op tipies eenogige manier minagting uitgespreek vir “local yokel” Engelse Suid-Afrikaanse letterkunde (insluitende Gordimer, Paton, Jacobson en dies meer), en hulle het ook baie min agting vir Afrikaanse skrywers getoon. Maar in die drie dekades wat hierop gevolg het (van die vroeë sewentigerjare tot die vroeë 2000’s) het verskeie nuwe strominge, soos Marxisme, postkolonialisme, teoriegedrewe benaderings tot die letterkunde, en antikoloniale Afrika-bewustheid sterk posgevat. Die vergrote resepsieruimte wat hierdeur moontlik gemaak is, het gelei tot ’n opbloei in nasionaal-gebonde, spesifiek Suid-Afrikaanse letterkunde, met dien verstande dat “nasionaal” hier verstaan is as ’n liberale of radikale visie van ’n nierassige, apartheidlose politieke ruimte – ’n “nuwe” Suid-Afrika, oftewel ’n revolusionêre Azania.2

Baie LitNet-lesers sal onthou hoe “progressiewe” instansies soos Taurus-uitgewers (John Miles, Ampie Coetzee, Ernst Lindenberg en Gerrit Olivier) in die vroeër jare van hierdie “anti-apartheid” letterkundige era ontpop het saam met ’n opwindende kulturele vlaag van opstand: André Brink se skokkend-briljante Kennis van die Aand (1973) en die werk van ander Suid-Afrikaanse skrywers wat ook op asembenemende manier deur die apartheidstaat verban sou word: Welma Odendaal (saam met al haar Donga-skrywers), John Miles, Breyten Breytenbach, Wopko Jensma, Etienne Leroux, Christopher Hope, Nadine Gordimer, Es’kia Mphahlele, en nog baie meer.Op wyer kultuurvlak sien mens in hierdie era die ontstaan van die Voëlvry-musiekbeweging en opstandige instansies soos Max du Preez se Vrye Weekblad, terwyl Rodriguez se Cold Fact in die agtergrond ’n straight-talking, no-bullshit leitmotif uitgebasuin het en Dan Roodt nog as revolusionêr aangesien is met sy opwindende Frans-gebonde poststrukturele teoretiese aanslag. Trouens, die poststrukturalisme het die deure oopgemaak vir die bevraagtekening van alle “transcendental signifiers” (Derrida), diskursiewe magsregimes (Foucault), en “foundational” fiksasies – in hulle plek het die opwindende gees van “deterritorialization” (Deleuze en Guattari) sterk posgevat, soos in verskeie van JM Coetzee se vroeë romans uitdrukking gevind het (Dusklands,1974, In the Heart of the Country,1977, Life & Times of Michael K,1983, Foe,1986).

Mens voel amper nostalgies vir hierdie era van nasionale opstand (nostalgie is gevaarlik!), want wie sou ooit kon voorspel het dat die revolusie eerder op banale manier sou wegsink te midde van die Mandela-Mbeki-era se kniebuig voor die neoliberale globale kapitalistiese opset (sien Patrick Bond, Adam Habib, Achille Mbembe, en ander in hierdie verband).In die opwindende dae in die aanloop tot FW de Klerk se swig voor die onafwendbare (saam met sy erg-gerieflike “sunset clauses”), het baie van ons regmatig verwag dat die revolusie op een of ander manier ’n tyd van “anderkant” of “after” die apartheidsera sou meebring; dat ons land se ná-apartheidsletterkunde, in die trant van Njabulo Ndebele en Albie Sachs, sy struggle-klere sou wegpak en ’n splinternuwe pak van “gewoonheid” sowel as “intiemheid” sou aantrek (Ndebele). Ons was besig om voor te berei vir vryheid, soos Albie Sachs se ANC-standpuntreferaat, “Preparing Ourselves for Freedom”, eksplisiet gesê het. Baie van ons het die aanname gemaak dat die nasionale letterkundige omgewing, wat tot ’n groot mate steun en “beskermheerskap” in die Engelstalige sowel as Afrikaanse letterkundige akademie gevind het, sou sterker word, met minder hitte en meer lig, dalk, maar tog. Baie min mense sou toe kon voorspel het dat die massiewe golwe van transnasionalisme en globalisering die opset van wêreldletterkunde grootliks sou transformeer: skielik (in relatiewe terme) het die belangrikheid van nasionale letterkundige entiteite drasties vernou, met die (hernude) opkoms van die gedagte van die “wêreldroman” en die “World Republic of Letters” (Casanova) met substreek-voorbeelde soos Chimamanda Adichie, Teju Cole, Chris Abani en ander op Afrika-vlak. Hierdie verskynsel staan bekend as die transnasionale wending, oftewel postnasionalisme. Nancy Fraser se belangrike artikel “Transnationalizing the Public Sphere” (2002, waarin sy Habermas se konsep van ’n nasionale openbare sfeer bevraagteken), Franco Moretti se sleutelstuk “Conjectures on World Literature” (2000, met sy “distant reading”-aanslag) en Isabel Hofmeyr se werk oor die transnasionalisering van letterkundige sirkulasie, om net enkele voorbeelde te noem, het gelei tot wat ek in ’n artikel in 20093 beskryf het as ’n “transnational rupture in both literary-critical and imaginative writing coming out of South Africa from the early 1990s onwards”, wat ek toe verder beskryf het as “both centrifugal and centripetal, both a category implosion as well as an outwardly liberating thrust” (28).

Deesdae in die akademie sien ’n mens duidelik wat gekom het in die nadraai van bogenoemde kategorie-inploffing: nóg ’n gekonsolideerde, bemagtigde nuwe (postrevolusionêre) Suid-Afrikaanse letterkunde, gestoot en gesteun (met “simboliese beskermheerskap”) deur die akademie, nóg selfs genoegsame akademiese belangstelling in die letterkunde self (dws genoeg om skrywers hier ter plaatse beduidend te versterk). En nou sien ons ook die globale opkoms van die posthumanisme. Dit gaan deesdae in die literêr-kulturele wêreldakademie, soos dit in Suid-Afrika op nogal enge manier herlei word, oor die ekologie, diere, stede, kosmopolitanisme, objekte (nav die “object relations theory”, oftewel die “new materialism”), kultuurstudie in ’n baie wye sin, die “archival turn”, “oceanic studies”, transnasionalisme, die globale roman, die materialiteit van boekmarkte (“History of the Book”), “surface”, “affect”, trauma, fotografie, diskoersgebonde wendings op allerlei vlakke soos die politiek en kultuur in die algemeen, you name it. Ek kry soms die gevoel dat dit ’n minderheidsaktiwiteit, ’n marginale, antieke spel geword het om suiwer letterkunde in Suid-Afrikaanse departemente van Engels te wil studeer en doseer. (Al oorblywende plek waar mens dit kan doen, is in kreatiewe skryfprogramme, waarheen ek self nou besig is om te verhuis.) Dalk oordryf ek, maar my eie departement Engels (op Stellenbosch) het onlangs iemand aangestel wat in geeneen van haar verklaarde navorsingsvelde letterkunde hoegenaamd noem nie. (Moenie my verkeerd lees nie – ek het groot agting vir hierdie briljante jong akademikus – feit is tog dat haar geval ’n groter dissiplinêre toestand klinkhelder uitstippel.)

Namate simboliese kapitaal vir “Suid-Afrikaanse letterkunde” (hier te lande, hier verbonde, primêr hier gesetel) via akademiese beskermheerskap stelselmatig verdwyn, en namate die opwindendste letterkundige aksie na die postnasionale terrein verskuif, word dit al hoe moeiliker vir Engelse Suid-Afrikaanse skrywers om rede – en steun – te vind vir die skryf van “lokale” romans. Op die ergste graad sien ’n mens hoe ’n middelmatige skrikmaakroman oor ’n reeksmoordenaar in Chicago onlangs met die UJ-prys vir Suid-Afrikaanse letterkunde in Engels bekroon is. Dit is immers ’n skandalige toestand van sake, of hoe? Tog moet mens ook konstateer dat Sally-Ann Murray se hiperlokale magnum opus oor Durban, Small Moving Parts, in 2010 die M-Net-prys verower het (hoewel ek een van die beoordelaars was!), en dat Imraan Coovadia se High Low In-between (hoofsaaklik Durban, maar transnasionaal in strekking) ook in 2010 die UJ-prys ontvang het. Die geval Mike Nicol is tog veelseggend. Tussen 1998 en 2008 verskuif sy fokus toetentaal van Coetzee-agtige metafiksie (This Day and Age, 1992; Horseman, 1994; The Ibis Tapestry, 1998) na misdaadsfiksie (die “wraaktrilogie”: Payback, 2008; Killer Country, 2010; Black Heart, 2011). Ten spyte van Nicol se eie uitlatings dat hierdie tipe skryf meer pret inhou, bly die besigheid van markte vir boeke vind ’n baie ernstige saak. Nicol kry deesdae baie meer aandag, in verkope, resensies, vertalings en dies meer, as wat hy ooit in die 1990’s gekry het, toe hy ’n (groterige) randfiguur in die Suid-Afrikaanse Letterkunde (met ’n groot L) was. Lauren Beukes het ook gou besef dat die kalklig verskuif het van die nasionale terrein (Moxyland, 2008; Zoo City, 2010) na transnasionale genre-romans. En nie net die kalklig nie, maar ook die kapitaal, simbolies sowel as materiaal. Wie sou haar kon kwalik neem? Sy is tog die darlingtjie van die land (en veral die Kaap) se boekewêreld!

Vir Afrikaanse skrywers is die storie heelwat anders. Die nasionale mark vir Afrikaans bly sterk en invloedryk binne eie kring. Tog, soos breedvoerig uiteengesit in Willie Burger se Poolshoogte-stuk, raak hierdie verwikkelings (en nog ander wat Burger breedvoerig bespreek), ook Afrikaanse skrywers. Pleks daarvan om Burger se insigte te herhaal, wil ek eerder afsluit deur die stel van ’n alternatiewe standpunt. Dit is die standpunt van die skrywer en kritikus Ashraf Jamal, met wie ek onlangs ’n lang gesprek oor die geval Beukes gevoer het. Jamal is bekend vir sy sterk gevoelens oor die patologiese ingehoktheid wat volgens hom steeds sterk in die gemoedere van Suid-Afrikaanse Engelstalige skrywers gesetel is. Hy span graag Samuel Beckett se vergelyking in as hy prontuit verklaar dat hierdie ’n letterkunde is waarin ons soos “dogs chained to our vomit” optree. Soos Kavish Chetty op ’n keer geskryf het: “Jamal once comically referred to South African literature as ‘a dog chained to its own vomit’. He alludes by this to a banality of our literature: it ‘unfolds its narrative pathologically,’ he says. ‘It has a retrograde, depressive, regressive need to hold onto something wrong in order to create a correction.’” Vir Jamal is Beukes se nuwe roman, Broken Monsters, ’n diepgaande besinning oor die paradoksale “toestand” van digitale bestaan wat mense orals in die globale, laatkapitalistiese opset ten diepste raak. Dit is vir hom ’n stuk letterkunde wat almal betrek, en wat die kwessie van landsgebondenheid so te sê irrelevant maak.

Jamal se siening is vir my nogal aanloklik. Ek het Broken Monsters nog nie gelees nie. Dit staan hoog op my leeslys. Ek stem nie altyd saam met Jamal oor die gedagte dat Suid-Afrika-beheptheid merendeels of onvermydelik “patalogiese” uitdrukking vind nie, en ek hou ook nie van die gevolge van grootskeepse ontruiming (van die nasionale, die plaaslike, die verbonde-hier-ter-plaatse) nie. Tog vind ’n mens in die romans van Marlene van Niekerk, Etienne van Heerden, Eben Venter, Mark Behr en ander met ’n transnasionale aanslag ’n welkome verbreding, maar op die keper beskou is selfs hierdie romans allermins gevalle van grootskeepse “ontruiming” soos wat so sterk in die geval Beukes na vore kom. Die blote feit dat Fiona Snyckers die vraag op Faceboek en Mail & Guardian se “Thoughtleader”-blogreeks stel of Suid-Afrikaanse (Engelstalige) skrywers hoegenaamd hulle stories hier behoort te setel, en dat haar vraag baie ernstig deur ander skrywers opgeneem is, is bewys dat hierdie proses van ontruiming onteenseglik aan die gang is. (Is dit toevallig dat Short Story Day Africa – met die heel beste bedoelinge – sy huidige kompetisie oor die boeg van die tema “Terra Incognita” span?) Daar word in verdere sosiale-media-bespreking oor Snyckers se vraag daarop gewys dat etlike ander skrywers hulle stories nou buite Suid-Afrika setel: Boykie Sidley, Sarah Lotz, Michiel Heyns, Damon Galgut se name word onder andere genoem.4 Vir mense soos Jamal, en bogenoemde skrywers, is dit eerder ’n geval van verruiming. Maar ek bly twyfel. Solank ons ’n goeie kombinasie het van albei tipe stories, van hier en daar, soos in Michiel Heyns se imposante oeuvre, dan is dit min of meer reg met my. Maar ek bly geheg aan werke soos Vladisavic se Portrait with Keys (2006) en Mark Gevisser se Lost and Found in Johannesburg (2014), werke wat die mite van ’n globale bestaan herinterpreteer uit ’n vasbeslotenheid om lokale tekstuur voorop te stel, soos wat ook in Etienne van Heerden se In stede van die liefde (2005) (In Love’s Place, 2013) deftig gedoen word. Wat my bekommer, is die samekoms van ’n binnelandse drang na die buitewêreld (alweer, dis tog ’n ou storie vir die Suid-Afrikaanse Engelssprekendes), tesame met ’n vernouende wêreldboekmark (insluitende die Suid-Afrikaanse mark) waarin daar al hoe minder geduld is met (1) boeke self (die magtige visuele dimensie, met inbegrip van glas-“tablet”-oppervlakke, laat deesdae baie min ruimte oor vir boeke lees, selfs vir die intelligentsia); en (2) stories wat nóg die genre-ding wil doen nóg die groot koppeling met globale strominge wil maak, want dit doen onvermydelik afbreuk aan diep-lokale tekstuur (vide Ivan Vladisavic se lang gesukkel om oorsese uitgewers te vind, ten spyte van sy onlangse marginale sukses in hierdie verband). As Suid-Afrikaanse skrywers in Engels al hoe meer die lokale ruimte ontruim (in die naam van verruiming), hoe sal ons hulle op die ou einde van nie-Suid-Afrikaanse skrywers onderskei? Of is dít ’n irrelevante vraag?

Eindnotas

1 Dit is juis ook Coetzee se houding, alhoewel ek baie meer simpatie met sý sak-en-pak-vertrek uit Suid-Afrika het as met plaaslike skrywers se minder briljante Ohio-uit-Joburg-stories, soos die geval Boykie Sidley.

2 Ek brei verder uit op hierdie temas in verskeie akademiese artikels, waarvan ek net twee hier wil noem: “The Confessio of an Academic Ahab: Or, How I Sank My Own Disciplinary Ship”, English in Africa 40(1), 2013; en “Judging ’new’ South African Fiction in the Transnational Moment”, Current Writing: Text and Reception in Southern Africa 21(1/2), 2009 (Special issue on South African literature beyond 2000). Lg verskyn ook in Michael Chapman en Margaret Lenta (reds) se SA Lit Beyond 2000, University of KwaZulu-Natal Press, 2011, onder die titel “The End of ‘South African’ Literary History? Judging ’national’ Fiction in a Transnational Era.”

3 In “Judging ’new’ South African Fiction”, supra.

4 Sien http://bookslive.co.za/blog/2014/07/08/falling-into-place-why-local-authors-are-setting-their-novels-overseas.

<< Gaan terug na Poolshoogte

Uit die LitNet-argief
Briewe deur die lug
Language and the shaping of “otherness” — a personal testimony
– Achmat Dangor
2000
Young Voices
The accident of home
– Lauren Beukes
2004-10-19
Books and Writers
Big Book Chain Chat
Review
Toward an inclusive literary history: Three scholars review The Cambridge History of South African Literature
– Helize van Vuuren, Andries Oliphant, Linda Kwatsha
2012-09-26
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die familiesage as volksverhaal: Afrikanernasionalisme en die politiek van reproduksie in Marlene van Niekerk se Agaat
– Irma du Plessis
2010-09-28
Webseminaar
Die boek in krisis: Die onsigbare voet van marksensuur
– Francis Galloway, Laurens van Krevelen
2011-01-18
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Liefde, politieke broederskap en die verbintenisse van verwerking: Alan Paton se Cry, the beloved country
– Etienne Viviers
2014-01-31
Resensie
Broken Monsters deur Lauren Beukes 
– Alettie van den Heever
2000

Akademies
In stede van 'n psigoanalise: Narkotiese ritmes van 'n onophoudelike trom
– Joan Hambidge
2007

Photos
Writing South Africa Now 2014 – photos from York
– Imke van Heerden
2014-07-04

 

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Jans de Jager

    'n Jong skrywer soos James Whyle kan ook in hierdie segment oorweeg word. Sy werk weerklink 'n tendens in populêre skrewe in Afrikaans om die denkbeeldige skeidslyn tussen geskiedenis en periodiese fiksie te verskuil (bv Die Uurwerk Kantel - Marie Heese). Sekere meer gevestige skrywers maak hulle ook hiervan skuldig - partykeer as revisie (Wêreld sonder Grense - Alexander Strachan) of bloot om 'n tekort aan vaardigheid gulsig met skoktaktiek en vrees te vergoed (Ons Wag op die Kaptein - Elsa Joubert van Poppie Nongena faam). Onlangs was ons ook op die Grahamstad fees vergenot deur die toneelspel "Hinterland" (gepen deur Duncan Buwalda en uitgerig deur Caroline Smart) wat 'n denkbeeldige ontmoeting van CJ Rhodes en Sol Plaatjes voorstel tydens die omsingeling van Kimberley in die 19de eeu.

    Sulke opnames weerklink ons plek in geskiedenis en onontkenbare bande met kulture en plekke wat nie noodwendig ons huidige tuisplek is nie. Persoonlik vind ek dit meer verrykend om my woordeskat te beproef en uit te brei deur De Spiegel of soortegelyke publikasie van my voorland te bestudeer. Mens kan dus nie sê ons is van die wêreld geskei nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top