Die tasbaarheid en die on(aan)tasbaarheid van literatuurteorie: ekokritiek en die nuwe materialisme

  • 3

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan poolshoogte@litnet.co.za.

1.

In die postmoderne tyd waarin ons leef, is literatuurstudie voortdurend aan die verander en fluktueer. Om in die jaar 2014 poolshoogte van die stand van Afrikaanse letterkunde te neem, beteken uiteraard dat hierdie soort besinning binne ’n globale konteks moet plaasvind en dat daar ook na die stand van literatuurteorie gekyk moet word. Literatuurteorie kan gesien word as ’n heersende stel konsepte en intellektuele aannames wat die verhouding tussen die kunswerk en die samelewing op ’n gegewe tyd in die geskiedenis formuleer en reflekteer en wat inherent ’n kultuurproduk is wat die wyse waarop tekste kultuur skep, ondersoek.

Almal is dit eens dat daar nie ’n eenvoudige korrelasie is in die verhouding tussen teks en teorie nie. Die literêre sisteem is kompleks en interaktief en laat hom nie in netjiese boksies verpak nie. Meer nog, direkte ooreenstemming tussen lewens- en ideologieveranderende tendense en gebeure in die wêreld manifesteer nie noodwendig in ’n afgebakende, gedefinieerde literêre stroming nie.

Waaruit spruit literêre teorieë dan? Wanneer begin die pendulum swaai van een siening na ’n ander? En hoe onaantasbaar is die sentrale teorieë?

Jacques Derrida

Julia Kristeva

Luce Irigaray

Michel Foucault

Hoewel die uitsonderlike literêre teks die grense van vooropgestelde idees en teorieë oorskry en grense verskuif, en hoewel sommige tendense uit die niet hul opwagting op ’n gegewe tyd maak, kan die verwantskap tussen breë literêre strominge en oorkoepelende globale persepsies ook nie geïgnoreer word nie. Dikwels is die literêre teorie ’n refleksie van of reaksie op een of meer van die dringendste vraagstukke wat die wêreld op ’n gegewe tyd in die gesig staar. So was ras, klas en geslag die gewilde onderwerpe wat tot aan die einde van die vorige eeu en begin van hierdie eeu aandag ontvang en die teorieë van hierdie tyd oorheers het. Die voortspruitende teorieë was dan ook dikwels polities en ideologies gedrewe.

Gedurende die afgelope aantal dekades was dit egter die postmoderne teorieë van poststrukturalisme en dekonstruksie – deur sommige kritici die “linguistic turn” (Barad 2003:801) genoem – wat die literêre toneel oorheers en bykans onaantasbaar geword het, waarin ’n abstrakte tekstuele siening van die werklikheid voorop gestel is. Die gevolge van die sentrale posisie van hierdie teorieë is dat teorie en die tasbare werklikheid van mekaar geskei en linguistiese fundamentalisme op die voorgrond gestel is. Die linguistiese draai sluit onder andere die teorieë in van mense soos Jacques Derrida, Julia Kristeva, Luce Irigaray en Michel Foucault wat gefokus het op die krag van taal om die realiteit te skep – dus, dat taal verantwoordelik is vir die realiteit en nie ’n refleksie daarvan is nie.

Soos die wêreld om ons verander, ondergaan teorieë egter ook verandering en dit is in die aard van teoretisering om voortdurend na nuwe metodologieë te kyk wat herbesinning tot gevolg het. Ons verneem voortdurend van nuwe insigte wat poog om die grense te verskuif, die herlees van tekste moontlik te maak en ’n herkartering van die landskap tot stand te probeer bring. Literêre betrokkenheid by hierdie teorieë het tot gevolg dat daar met nuwe begrip na nuwe merkers gekyk kan word en dat nuwe leesstrategieë die leser lei tot groter insig in homself en die wêreld wat hom omring.

Vanaf 2010 gaan daar dus internasionaal al meer stemme op wat pleit vir ’n materiële draaipunt – literêre teoretici praat van “the material turn” (Iovino 2012:3). Die materiële draai word beskou as ’n teenreaksie teen sommige van die radikale tendense in postmoderne en poststrukturele denke wat dit ten doel gehad het om die wêreld te dematerialiseer tot linguistiese en sosiale konstruksies. Die belangrikheid van die materieel tasbare werklikheid wat interaktief inwerk op beide die menslike en die niemenslike wêreld is hierdeur grootliks geïgnoreer of ontken. Ten grondslag van die nuwe materialisme as uitgangspunt lê die ekokritiek, wat breedweg gesien kan word as die studie van kultuurprodukte soos kunswerke, skryfwerk en wetenskaplike teorieë wat sigself bemoei met die menslike verhouding tot die natuurlike wêreld.

Cheryll Glotfelty en Harold Fromm, pioniers van die ekokritiese literatuurteorie, definieer ekokritiek in die seminale publikasie The ecocriticism reader (1996:xviii) as “the study of the relationship between literature and the physical environment”, terwyl die term in The Routledge dictionary of literary terms (Childs en Roger 2009:65) aangedui word as “[t]he study of literary texts with reference to the interaction between human activity and the vast range of ‘natural’ or non-human phenomena which bears upon human experience – encompassing (amongst many things) issues concerning fauna, flora, landscape, environment and weather”.

Scott Knickerbocker (2012:3) wys daarop dat ekokritiek sterk op die voorafgaande teorieë reageer en dat enige nuwe denkskool of denkrigting gedefinieer word in opposisie met die gevestigde praktyke. Hy sien ekokritiek en die nuwe bewussyn van materialiteit wat inherent daaraan is, as ’n teenvoeter vir postmoderne teorieë waardeur die oormatighede van poststrukturele taalteorie ingekort word (Knickerbocker 2012:3). Dit is egter ook juis kritici soos Knickerbocker (2012:3) en Neil Evernden (1996:103) wat daarop wys dat die oorreaksie op tekstualiteit deur die ekokritiek politiese omgewingsaksie beklemtoon terwyl dit tred verloor met die estetiese (en by implikasie tekstuele en taalgerigte) ervaring wat juis so ’n aksie inspireer en deel daarvan uitmaak. Hul bepleit ’n gebalanseerde siening wat voorsiening maak vir beide materiële en linguistiese inhoud. Ten spyte van belangrike tekortkominge bied ’n fokus op materialiteit en die objek ’n verruimende blik wat ’n belangrike bydrae tot ekosentriese teorie lewer.

Teen die agtergrond van heersende tendense en oorkoepelende globale gebeure is daar internasionaal ’n steeds groeiende getal vooraanstaande literatuurkritici wat hulle uitspreek oor die vreemde verskynsel dat dreigende globale ekologiese vraagstukke steeds so ’n geringe impak op die literatuursisteme het, iets wat veral ook in die Afrikaanse konteks merkbaar is. In haar inleiding tot The Ecocriticism Reader sê Glotfelty dat dit, ten spyte van voortdurende vernuwing, wil voorkom of vakkundigheid steeds akademies en teoreties ingestel bly “in the sense of scholarly to the point of being unaware of the outside world” (Glotfelty en Fromm 1996:xv). Mens sou bykans nie weet dat daar ’n aarde is, of dat die aarde se lewensonderhoudende sisteme onder druk is nie. Hoewel literêre tekste, beide plaaslik en internasionaal, ’n toenemende belangstelling in omgewingskwessies toon, is ekokritiek steeds, veral plaaslik, nie een van die groot rigtingwysers in literatuurstudie nie.

Koop The ecocriticism reader by Kalahari.com.

Koop Can Poetry Save the Earth? by Kalahari.com.

Koop Ecopoetics. The language of nature, the nature of language by Kalahari.com.

Christopher Arigo

Koop The Routledge dictionary of literary terms by Kalahari.com.

Eugène Marais

Glotfelty se aantyging dat hoewel susterdissiplines in die geesteswetenskappe (soos filosofie, regte en sosiologie) al lankal met groen kwessies besig is, die literatuurstudie grootliks onbetrokke gebly het, is nie so vergesog nie. Ian McCallum (2005:67-69) wys op die skokkende en gevaarlike ooreenkomste tussen die onwilligheid of onvermoë van die hedendaagse mens om die wetenskaplike bewyse oor aardverwarming te aanvaar, en die reaksie van die Middeleeuse samelewing op Copernicus se teorieë oor die beweging en draai van die aarde om sy eie as. Copernicus is deur die mense van sy tyd as ketter uitgejou; hedendaagse aardgesentreerde argumente oor aardverwarming word eweneens deur ’n groot aantal mense afgemaak as onbelangrik, oordrewe of niebestaande. In beide gevalle word die stem van rede en verifieerbare wetenskaplike ondersoek misken en ondermyn.

2.

Inherent aan ekokritiek is die konsep van betrokkenheiden interaktiewe samehang van alle dinge, beide die teoretiese en die tasbare werklikheid, beide die kultuur en die natuur.

Betrokkenheid by wat ons as mense omring, sluit in die maatskaplike kwessies oor klas, ras en geslag; dit sluit in tendense en gevolge van globalisering en transnasionalisme; dit beteken dat die geheel waargeneem behoort te word in terme van die samehang van die dele. Ekokritiese ondersoek sluit vraagstukke in soos die betekenis van die begrip natuur; die wyse waarop plekop dieselfde wyse as klas, geslag en ras bestudeer behoort te word; die begrip wildernis (as chaos) en hoe persepsies daarvan met verloop van tyd verander het; kommentaar op die grond/aarde waarop ons leef en die wyse waarop ons daarop leef; kritiek op hoe en wie ons is, hoe ons geleef het en hoe ons ’n nuwe wyse van leef kan konstrueer; persoonlike konneksie en die sin van verantwoordelikheid teenoor die onderwerp; ’n belangstelling in hoe en in watter mate veranderde landskappe verken en gerepresenteer word deur skrywers; die onderskeid tussen landskap en omgewing; ondersoeke na landskap as emosionele ruimte, as geheue, melodrama en sentiment; hoe die morele geografie van ruimte daar uitsien; hoe omgewingsliteratuur en politiek aan mekaar verwant is; en die wyse waarop ekopoësie en ekokritiek ander strategieë van aksie uitlok as waartoe omgewingsbeleid in staat is. Voorts bied ekokritiek ook ’n verruimende perspektief op die wyse waarop daar na natuur en wildernis gekyk word as die nuwe Ander.

Ekokritiek is nie die nuwe ivoortoring nie: dit ondersoek byvoorbeeld die nadraai en impak wat ’n gewelddadige koloniale bestel gehad het op mense en die plek waar hierdie mense gewoon het. Betrokkenheid by die natuur, die planeet en die omgewing wat ons omring, is nie ’n elitistiese tydverdryf nie; dit is juis die niébetrokkenheid daarby wat ons nie kan bekostig nie. Om vir natuur te “lees” beteken om ook te lees met ’n bewussyn van die koloniale geskiedenis en hoe ekokritiek en postkoloniale kritiek meewerk daartoe om byvoorbeeld Afrikagerigte vrae te vra wat Afrikagerigte, plekspesifieke antwoorde tot gevolg kan hê. Deur ekokrities op plek te fokus beteken dat die blik gewerp word op beide die historiese invloed van plek en op hoe daar tans na plek gekyk word.

Ekokritiek en ’n bewussyn van die materiële, tasbare wêreld wat ons omring, veronderstel dat alles saam deel vorm van die groot ekologiese denke: ’n ineenvlegting en samehang van alle dinge. Menslike nood, uitbuiting, onderdrukking en magsmisbruik is nie los te maak van die groter plek waar ons ons op hierdie tyd in die geskiedenis en groter gang van tyd bevind nie.

Nog ’n wanpersepsie is dat ekogerigte tekste en skryfpraktyke ’n soort afgewaterde fokus op natuurtekste is, maar ekokritiese tekste moenie met natuurpoësie en -tekste verwar word nie. Om ekokrities te dink en te skryf beteken nie om soetlike verse oor die mooi natuur op te dis terwyl die wêreld om ons brand nie. Een van die belangrikste terreinafbakenings vir die ekopoësie is die stelling van Christopher Arigo (s.j.:2), wat onomwonde verklaar dat “ekopoësie” nie noodwendig “natuurpoësie” beteken nie. Hy sê dat tradisionele natuurpoësie, waarin die mens-onderwerp mediteer oor die landskap/dier-voorwerp as toegang tot dieper betekenis in die mens-onderwerp se lewe, problematies en simplisties is, veral gesien in die lig van die postmoderne wêreld waarin ons leef. Hy voer aan (Arigo s.j.:2):

[M]uch of the ecopoetry being written seems to take place more in the realm of the innovative, as opposed to more mainstream poetries. Perhaps this is because innovative poetries are loci of resistance to mainstream poetic practices (and values) which presumably reflect larger social paradigms.

Uit die voorgaande bespreking kan die vraag ontstaan: As ekotekste nie natuurtekste is nie, wat is dit dan?

Arigo (s.j.:2) voer aan dat ekokritiese tekste nie gesien moet word as ’n terugkeer na die natuur nie, maar eerder as “a reminder that we never left, that the bulldozers and the birds are part of the ecology”. ’n Simplistiese reduksie tot slegs die natuurgegewe ontken die komplekse aard van die wêreld waarin ons leef. Die oënskynlike digotomie van natuurlik/natuur teenoor tegnologies/stad wat veronderstel dat die twee nie verwant is nie, dat die een nie rekening hou met die impak van die ander nie, en dat elk onafhanklik funksioneer, is in wese foutief en word as sodanig uitgewys. Só ’n veronderstelling sou impliseer dat die ekokritiek sigself besig hou met ’n nostalgiese en idealistiese verhouding met die wêreld waarin die stad, tegnologie en kultuur duidelik die teenpool is. Ook Harriet Tarlo (s.j.:8, 9) wys op wat sy noem “the artificial construction of the rural/urban divide”. En verder: “This is not a poetry which attempts to separate rural and urban, poetical and political.”

3.

Watter verskil kan ekokritiek maak? Watter verskil kan die groen gedig of roman maak? In die woorde van John Felstiner (2009): “[C]an poetry save the earth?” En waar pas die Afrikaanse literêre sisteme in die prentjie?

William Slaymaker gebruik die term ecohesitation (2007:684) – wat ons as ekohuiwering kan vertaal – waarmee hy verwys na die tot nog toe versigtige bydrae tot die ekokritiese gesprek deur gekleurde gemeenskappe. Volgens hom wil dit voorkom of ekokritiek en ekoliteratuur sigself posisioneer rondom Euro-Amerikaanse metropolitaanse sentra en in Japan, terwyl dit nog nie dieselfde mate van betrokkenheid by wat hy definieer as swart Atlantiese gemeenskappe, ontvang het nie (1999:132). Slaymaker beweer dat swart kritici ekokritiek en -literatuur bloot sien as “another attempt to ‘white out’ black Africa by coloring it green" (132). Gesien teen die agtergrond van ekokritiek se inklusiewe aard, wil ekokritiek juis nie die rol wat postkoloniale kritiek behoort te speel, ondermyn nie, maar as mederolspeler in die ondersoek na en die verwoording van die menslike-niemenslike- en menslike-nielewende-verbintenis optree.

As bron van woorde het letterkunde die potensiaal om ’n kritiese bewussyn te kweek en te kan optree as ’n etiese en epistemologiese vrymaking. Net soos postkolonialisme en feminisme is ook ekokritiek ’n vorm van kulturele kritiek wat stem gee aan ’n stilgemaakte Ander. Anthony Vital beklemtoon in sy artikel “Towards an African Ecocriticism: Postcolonialism, Ecology and Life and Times of Michael K” (2008:1) die noodsaak van ’n Afrikagerigte benadering, “one which engages in debating what a society’s assigning of significance to nature (in varieties of cultural products) reveals about both its present and past”.

Daar behoort byvoorbeeld ondersoek ingestel te word na die wyse waarop moderniteit in die Afrika-konteks die mens se verhouding met die natuur beïnvloed, en as gevolg daarvan, die impak van gemeenskappe op natuurlike omgewings. Die soeke na ’n meer haalbare, meer volhoubare en gesonder wyse vir gemeenskappe om hul plek te bewoon en selfbegrip te bevorder, staan sentraal.

Herwaardering van plek en ekogerigte skryf- en leesaksies bring dus die ondersoek terug na die plaaslike, die streeks- en die nasionale omgewing. Dit veronderstel geen abstrakte ruimtelike ondersoeke nie, maar wil juis bemoeienis maak met die geheel en die wisselwerking tussen verskillende dissiplines en kritieke. Plek en die omringende werklikheid is in essensie onlosmaaklik verbind met klas en ras en gender. Dit behoort te lei tot historiese selfbegrip – hoe daar in die verlede met plek omgegaan is, hoe gewelddadige strukture van mag en onderdrukking en verskuiwing plek en sy menslike en niemenslike bewoners beïnvloed het en hoe daar in die hede met plek omgegaan behoort te word. Die geskiedenis van die lewende en nielewende inhoud van plek is ook die geskiedenis van sy mense. Die geskiedenis van ’n plek praat dikwels waar die mense van ’n plek stilgemaak was. Om vir plek te lees, is ook om vir stilte te lees.

Op die keper beskou wil dit voorkom of ekokritiek steeds ’n randposisie beklee binne die konteks van die Afrikaanse literatuurkritiek, hoewel natuursentriese tekste reeds van die vroegste tyd af deel vorm van die literêre korpus. Eugène Marais was sekerlik een van die eerste sterk natuursensitiewe stemme wat opgeklink het, terwyl die plaasroman, wat so onlosmaaklik deel van die Afrikaanse literêre landskap is, van die vroegste tye reeds aandag aan kwessies oor grond, identiteit en ideologie gee. Die Afrikaanse letterkunde toon ’n betrokkenheid by die omgewing en die verwantskap daaraan wat oor dekades strek. Dit is egter steeds die bewustelike ontginning en aanwending van ekokritiese wetenskapsbeginsels in literatuurbeskouing en teksanalise wat grootliks ontbreek, wat verruimend kan inwerk op die huidige (stagnante?) literatuurteoretiese klimaat in die Afrikaanse letterkunde.

Wat kom ná die postmodernisme? Het dit nie tyd geword dat die bykans onaantasbare sentrale posisie wat die postmodernisme inneem, verruil, of ten minste aangevul word deur ’n siening wat meer inklusief is nie? Het dit nie tyd geword dat ons literatuurteoretiese uitgangspunte in voeling kom met die tasbare werklikheid wat ons as mense omring nie? Het dit nie tyd geword om die onaantasbare uit te daag deur die tasbare nie, om nie net die teks te destabiliseer nie, maar ook die sentrale posisie van die mens te bevraagteken. Omgekeerd word die mens luisteraar, aan die rand, wat die stem van die natuurlike wêreld raak hoor:

You own nothing
We never belonged to you.
You never found us.
It was the other way round. (Atwood 1995:109)

Bibliografie

Arigo, C. s.j. Notes toward an ecopoetics: Revising the postmodern sublime and Juliana Spahr’s This connection of everyone with lungs. how2, 3(2). http://www.asu.edu/pipercwcenter/how2journal/vol_3_no_2/ecopoetics/essays/arigo.html (10 Augustus 2014 geraadpleeg).

Atwood, M. 1995. Morning in the burned house. Londen: Virago Press.

Barad, K. 2003. Posthumanist performativity: Toward an understanding of how matter comes to matter. Signs. Journal of Women in Culture and Society, 28(3):801–31.

Childs, P. en F. Roger. 2009. The Routledge dictionary of literary terms. Londen en New York: Routledge.

Evernden, N. 1996. Beyond ecology: Self, place, and the pathetic fallacy. In Glotfelty en Fromm (reds.). 1996.

Felstiner, J. 2009. Can Poetry Save the Earth? Londen: Yale University Press.

Glotfelty, C. en H. Fromm (reds.). 1996. The Ecocriticism Reader. Athene en Londen: The University of Georgia Press.

Iovino, S. 2012. Material ecocriticism. Matter, text, and posthuman ethics. In Müller en Sauter (reds.) 2012.

Knickerbocker, S. 2012. Ecopoetics. The language of nature, the nature of language. Amherst en Boston: University of Massachusetts Press.

McCallum, I. 2005. Ecological Intelligence. Kaapstad: Africa Geographic.

Müller, T. en M. Sauter (reds.). 2012. Literature, ecology, ethics. Heidelberg: Winter Verlag.

Olaniyan T. en A. Quayson (reds.). African literature: An anthology of criticism and theory. Oxford: Blackwell Publishing.

Slaymaker, W. 2007. Ecoing the other(s): The call of global green and black African responses. In Olaniyan en Quayson (reds.) 2007.

—. 1999. Forum on Literatures of the Environment. Letter. PMLA, 114(5):1100–1.

Tarlo, H. s.j. Women and ecopoetics: An introduction in context. how2, 3(2). http://www.asu.edu/pipercwcenter/how2journal/vol_3_no_2/ecopoetics/introstatements/tarlo_intro.html (15 Augustus 2014 geraadpleeg).

Vital, A. 2008. Towards an African Ecocriticism: Postcolonialism, Ecology and Life and Times of Michael K. Research in African Literatures, 39(1):87–121.

 

<< Gaan terug na Poolshoogte

Uit die LitNet-argief
Review
For the Mercy of Water
– Elzette Steenkamp
2013-11-04
Briewe deur die lug
Wat wild is, en wat mak
– Petra Müller
2000
Poolshoogte
Is daar 'n alien op jou stoep?
– Koos Kombuis
2014-07-14
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
“’n Almanak van klippe”: Laatwerk en Breyten Breytenbach se Die beginsel van stof (laat-verse, sprinkaanskaduwees, aandtekeninge)
– Helize van Vuuren
2011-11-30
Fiction
Poison Karoo
– Etienne van Heerden
2012-08-23
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die aard van ekopoësie teen die agtergrond van die ekokritiese teorie met verwysing na enkele gedigte van Martjie Bosman
– Susan Smith
2012-06-12
Onderhoud
The Historical Karoo deur Chris Schoeman – 'n Onderhoud
– Chris Schoeman, Naomi Meyer
2013-10-22
Poësie
MIERLEEU. Myrmeleotidae
– Johann Lodewyk Marais
2013-05-07

Young Voices Conference 2004
The accident of home
– Lauren Beukes
2004-10-19

Poolshoogte
Skryf 'it soes jy praat
– Nathan Trantraal
2014-06-26

 

  • 3

Kommentaar

  • Een van die mees verhelderende artikels wat ek nog teëgekom het oor die aktualiteit en tydsrelevansie van ekokritiek. Met hierdie artikel, Susan, wys jy hoe ver jou denke verby jou tydsgenote is. Ek wil dit graag bewaar en gereeld gebruik as kompas oor die onderwerp. Baie dankie vir die skitterende wyse waarop jy nuwe denkrigtings definieer en toeganklik maak.

  • Marlene van Niekerk

    Dubbelportret: mens/duif

    Om so op riwwe van sink af te wiek uit die takke
    van wilde-amandel, om kloek en versigtig,
    soos betaamlik vir een met bloedweinig kans
    in die groter verband, eers net te kýk wat aangaan,
    lugtig na links en regs –  want weerskant sit
    nou eenmaal die oë – besorg hoofbrekens.
    Want deursigtig geraam in ’n oorkantste nis blyk
    ’n ander opeens die blik te ontmoet. Eenmalig
    in beider heugenis droog verjaging of skrik
    die oognat nie uit nie. Pupille ondergaan momenteel
    ’n stil, gespieëlde gradasie van aftas, takseer
    en herkenning, daarna, onverbloembaar
    ’n verwyding tot reslose adorasie. Veral betref
    dit die swart, vorentoe lekkende traan, die git
    op die nek –  houtskool geduim op gebleikte
    maroen – wat die voël vir sigself uit die kaatsing
    verhaal. Knipvliese open en sluit simultaan
    oor die rondings weerskant die vlak indentasie
    in die front. Kontoer word dubbel bewonder,
    lyn, dressuur, balans van stertpunt, pote.
    Vliegwerk, russtand dring aan op  begrip
    deur ’n vogtige transsubstansie –  één lyding,
    één lyf, kwalik verskil hierdie mensdier
    van duif. Skigtig volg dan ’n eerste notasie, ferm
    geskrap, voorts ’n getortel wat die indamp
    van lig op mat pluimasie uit die vingers wil speel,
    en terselfdertyd bind.  Maagkiesel, grit, slegs
    ’n vlugtige por vir die uitgee van kropmelk,
    is dit nie die kuns van ’n skets nie? Bly sit lank genoeg,
    word gevra, bly sit, want die kleur is onsegbaar,
    die subtielste vilet van die skemer, rooidag
    gegrys tot kripsis onder skaduweeblare.
    En dan die verplompte knikkoppende tred,
    uit onder takke van wilde-amandel,
    reg in die val van die hoognoenson op die dak,
    die trant van ontwapening, wedersyds, 
    en, voorlopig,  die onderling uitgestelde afskeid.

    Marlene van Niekerk

  • Jans de Jager

    Ek rig my visier op die slotsomvraag: "wat kom na die post-modernisme?". Post-modernisme is tog net 'n antwoord of progressie van modernisme (dalk om modernisme met die werklikheid te vereenselwig?). Dus verkeer ons sedert post-modernisme in 'n veel oper terrein waar taal en kuns slegs as gereedskap bestaan, in plaas van die medium van dialoog. In die eko kritiek veld word die volgende vraag aan ons gestel: is ons antwoord op die natuurlike orde om dit kwansuis teen te werk, soos 'n buik wat die golf sluk en slegs ewewig nalaat? Of erken ons dat die probleem nie ver verwyder is van die stille gedruis van die pastoraal waar ons verkeer nie. Die vrede wat ons soek en afbakening van probleme wat sekerlik afgesper is van ons nietige bestaan, dra dalk by tot die dialoog, sover as om dit te oorheers. In hiertoe trant is die post-modernisme slegs 'n antwoord op 'n onvolhoubare modernisme waaraan ons vaskleef. So gou ons van modernisme wegmaak, is ons ontslae van post-modernisme, en miskien verkeer ons in 'n nuwe modernisme wat sy eie antwoord lok. Natuurlik is daar dese voordeeltrekkers wat soortgelyk vaskleef aan hulle post-modernisme. 'n Luiperd verander nie so maklik sy vlekker nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top