Die nuwe Perspektief en profiel. 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis as kanoniseringsinstrument

  • 0

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan poolshoogte@litnet.co.za.

In 2015 verskyn ’n nuwe bygewerkte en uitgebreide uitgawe van Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Omdat Perspektief en profiel by verskyning die omvangrykste en mees onlangse literatuurgeskiedenis in Afrikaans sal wees, spreek dit bykans vanself dat dit krities bekyk sal word deur literêre kritici en literatuurhistorici. Aspekte wat waarskynlik onder meer die aandag sal ontvang, is: die onderliggende metodologie, die wyse waarop gebruik gemaak word van (onlangse) teorieë by beskrywing van werke en oeuvres, die wyse waarop literêre evolusie en periodisering (of opeenvolgende poëtikas) neerslag vind in die strukturering,2 die manier waarop erkenning verleen word aan voorgangers (dus die hantering van veral die wetenskaplike resepsie) én hoe hierdie driedelige werk funksioneer of sou kon funksioneer as kanoniseringsinstrument. Veral die laasgenoemde sou die aandag ontvang van diegene wat ’n belangstelling het in die posisies binne die literêre veld of literêre sisteem, literêre evaluering én die rol van ideologiese aspekte binne die literêre veld.

John Kannemeyer

Na die verskyning van die eerste band van Kannemeyer se Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur (1978) ontstaan daar ’n hewige polemiek. Cloete (1980) se bespreking van Kannemeyer se werk is negatief en hy beskuldig laasgenoemde van letterlike oornames van ander kritici sonder genoegsame erkenning – “beamings" en naprateryvan so ’n omvang, aldus Cloete, dat plagiaat in wese geïmpliseer word. Kannemeyer (1980:49) reageer skerp op Cloete se beskuldigings en beweer dat "die gekanoniseerde uitspraak oor skrywers, veral oor ouer skrywers" voorkom in byna elke literatuurgeskiedenis en selfs algemene praktyk is.

In die verdediging van Kannemeyer deur veral oudstudente soos Jansen (1981) en Olivier (1981) – wat aanleiding gee tot ’n verder reaksie van Cloete (1982) én ’n antwoord deur Olivier (1982) – onderskryf hulle Kannemeyer se standpunt. Olivier lê ook klem op die feit dat Kannemeyer in baie opsigte ’n eie aksent lê, al stem hy saam met voorgangers (hoewel hy ietwat traag toegee dat Kannemeyer voorgangers weliswaar dikwels letterlik aanhaal). Veral Jansen (1981:17) beklemtoon die feit dat in die geval van ’n literatuurgeskiedenis dit noodsaaklik is(haar kursivering) om van ander kritici se werk gebruik te maak. Sy laat haar egter nie uit oor die vraag of erkenning "ter plaatse" behoort te geskied en of die gebruikmaking van ander kritici se menings ook impliseer dat letterlike oornames sonder erkenning gewettig is nie. Marcel Janssens (1985:141) lê dit ook nie Kannemeyer ten laste dat hy so dikwels gebruik maak van ander kritici se insigte nie: "Je kunt geen 40 jaar literatuurgeschiedenis adekwaat en deskundig beschrijven [...] zonder 'skatpligtigheid'." Hy (bl 143) vergeef Kannemeyer sy oornames veral weens die feit dat hy deurgaans voorgangers noulettend erken: "Kannemeyers boek is niet alleen een encyclopedische geschiedenis van 40 jaar Afrikaanse letterkunde, maar een encyclopedie van de Afrikaanse literatuurstudie. De tekst in de noten is even belangwekkend en kostbaar als het corpus!" Kannemeyer se laaste uitgawe van sy literatuurgeskiedenis het in 2005 verskyn en dit is ’n bygewerkte, maar ook sterk ingekorte, weergawe van sy vorige tweedelige literatuurgeskiedenis van 1978 en 1982. Dit is ’n omvattende narratief en verteenwoordig die blik van ’n kundige literatuurkritikus en -historikus. Sonder gebreke is dit helaas egter nie: hierdie 2005-uitgawe verskyn sonder volledige (trouens enige) bibliografiese data wat die status daarvan as literatuurgeskiedenis ondermyn. Dit is nou kwalik meer as ’n (weliswaar dikwels indringende en onderhoudende) persoonlike narratief oor die Afrikaanse letterkunde. Daarin is dit verwant aan literêre biografieë (soos dié van MCE van Schoor oor generaal Christiaan de Wet) wat ten spyte van hulle gesaghebbende oordele nie aanspraak kan maak op wetenskaplikheid nie. Vanselfsprekend sal sy oornames – binne hierdie nuwe verband waarin geen bronvermeldings voorkom nie – ook kon lei tot ’n totaal ander gevolgtrekking as in die oorspronklike polemiek.

’n Literatuurgeskiedenis is altyd soos die bou van ’n gebou: al probeer dit soos die bouers van die Toring van Babel dalk om by wyse van spreke die hemel te bereik, kan dit nie sonder ’n stewige fondament en telkens nuwe rye stene wat op mekaar volg nie. Die fondament is nie net ’n deeglike teoretiese onderbou nie, maar in die wetenskap ook gebruikmaking van die werk van voorgangers aan wie volledige erkenning gegee moet word. Maar as iemand wat tans besig is met my eie literatuurgeskiedenis, moet ek beklemtoon dat die volgende literatuurgeskiedenis en ‘n ander kyk nie noodwendig oorspronklike insigte en nuwe kanoniserende waardebepalings (selfs indelings) hoef te impliseer nie. Van den Akker (1988/1989:331) skryf tereg dat letterkundige kennis en literatuurgeskiedenis "voor een groot deel niet bestaat uit feiten, maar uit meningen, vooronderstellingen en opvattingen die zich als feiten voordoen, of beter uitgedrukt, die als feiten worden gepresenteerd". Literatuurgeskiedenisse het die neiging om hierdie geykte "feite" te bestendig (dikwels voorstellings van sake deur skrywers self) en met Perspektief en profiel vrees ek sal dit nie altyd anders wees nie. Waar voorgangers egter by Kannemeyer totaal ontbreek, word daar in die verskene dele van die nuwe Nederlandse literatuurgeskiedenis (in die omgang soms bekend as die NTU-literatuurgeskiedenis na aanleiding van die borg en opdraggewer, die Nederlandse Taalunie) noulettend erkenning gegee aan ’n veelheid van wetenskaplikes.

Dit was ook die praktyk in die geval van alle bydraes tot Perspektief en profiel,en waar dit nie altyd nagekom is nie, is medewerkers versoek om dit reg te stel. My standpunt is dat wetenskap ’n proses is van voortbou ("accretie" of aanslibbing is dalk ’n beter metafoor) en dat hoewel ’n volstrek oorspronklike weergawe van die (literatuur)geskiedenis nie die ideaal hoef te wees nie (en kwalik haalbaar is), ’n volledige weerspieëling van die wetenskaplike resepsie belangrik is as vorm van erkenning én onontbeerlik is vir verdere selfstandige navorsing. ’n Literatuurgeskiedenis kan ook in beginsel geen eenpersoonsonderneming (meer) wees nie. En die omvang van stof én die gevaar verbonde aan ’n persoonlike, subjektiewe perspektief is hier ter sake. Dit word teengewerk deur die veelheid van perspektiewe in Perspektief en profiel en die feit dat perspektiewe die profiele as 't ware balanseer. Dit is uiters belangrik vir die wyse waarop kanonisering derhalwe selde deur een persoon geskied. Ek is byvoorbeeld in bepaalde kringe, ná die vorige uitgawe van Perspektief en profiel, dit baie verkwalik dat ek toegelaat het dat daar in ’n perspektief uiters krities gekyk is na die digter TT Cloete. My verweer was dat ek as redakteur kwalik kon inmeng met ’n legitieme wetenskaplik-verantwoorde oordeel van ’n medewerker én dat hierdie negatiewe oordeel boonop gerelativeer word deur ’n uiters positiewe profiel oor dieselfde digter.

Voorgaande is inleidende opmerkings ter sake by ’n beskrywing van die aard van Perspektief en profiel. Van die oorspronklike uitgawe (in 1951) onder redakteurskap van PJ Nienaber tot die huidige met my as redakteur was dit nog nooit ’n eenpersoonsonderneming nie. Boonop is dit ’n betreklik unieke kombinasie van ’n diachroniese benadering, waar in die verskeie perpektiewe gefokus word op die ontwikkelende aard van enige (literatuur)geskiedenis, en in die profiele eerder poolshoogte geneem word van die huidige stand van sake betreffende ’n bepaalde skrywer; kortom: die wyse waarop op die huidige tydstip die plek en statuur van ’n bepaalde skrywer ingeskat word. Die laasgenoemde benadering sou dus synde ’n "kontemporêre dwarssnit" as sinchronies beskryf kon word. Dat dit egter ook ’n histori(sti)ese en perspektivistiese kyk impliseer, spreek haas van self.

’n Belangrike vraag is of die profiele ooreenstem met "biografieë" in die sin dat psigologisering of demitologisering voorop staan (Laan 2002:170). Die meerderheid profiele is bestekopnames: van die wyse waarop ’n bepaalde skrywer se werk gelees is en kan word én van die waardering daarvan. Die poliperspektivistiese aard van Perspektief en profiel gaan egter hoegenaamd nie so ver as wat John (1994:110) byvoorbeeld bepleit nie. Hoewel aandag gegee word aan Nederlandse literatuur in Suid-Afrika, word die begin van die Afrikaanse letterkunde nie in so ’n mate geproblematiseer dat selfs verskillende "beginne" gekonstrueer word, soos John bepleit nie. Indien wel, sou ons dalk eers later met dié literatuurgeskiedenis kon begin. Die literatuurhistorikus vertel ’n storie met ’n begin, lê verbande, selekteer en interpreteer. "Maar het verleden zelf is geen verhaal en kent geen samenhangen. Die samenhangen ontstaan op het vlak van de historische beschrijving. [...] Men gaat ervan uit [...] dat een volledige reconstructie van het verleden onmogelijk is: daarvoor is de realiteit te complex. Daarom word elke literatuurgeschiedenis beschouwd als een constructie" (Bel 2004:197).

Die literêre kanon word dikwels na anologie van die bybelse begrip "kanon" beskou as ’n klomp "heilige tekste" (oordragtelik "heilige skrywers") wat vir ewig hierdie bevoorregte posisie sal behou en wat – hoewel daar soms oor hulle gekibbel mag word – deur die pontifikaat (hier die toonaangewende kanoniseerders binne ’n spesifieke literêre veld) as onaantasbaar beskou word. Die bybelse kanonieke werke het hulle posisie boonop te danke aan veral eksterne omstandighede, soos kerklike besluitneming, en nie in die eerste plek oor hulle voortreflike interne eienskappe nie. Insluiting van die "buitekanonieke" tekste in moderne bybelvertalings word daarom gesien as ’n uitsonderlike vergunning in pas met meer inklusiewe en demokratiese eietydse benaderings. Dit is daarom duidelik dat die parallel in meer as een opsig mankemente vertoon. Daar is dalk sprake van ’n klassieke kanon van Westerse literatuur, maar kwalik van één literêre kanon vir alle plekke en tye. Baie kritici (oa Fowler 1979:98) wys daarop dat daar op dieselfde tydstip verskillende kanons bestaan en deur ’n persoon "hanteer" word, in die geval van byvoorbeeld ’n dosent in die letterkunde onder andere ’n didaktiese, persoonlike en sinchrone kanon (waar eersgenoemde dit is wat hy of sy onderrig, die volgende die tekste is wat sy of haar gunstelingtekste is en laasgenoemde die eietydse tekste is wat volgens hom of haar later dalk aanspraak sou kon maak op klassieke status).

Harold Bloom

Werke of skrywers in die (klassieke) literêre kanon kan kwalik aanspraak maak op ’n bevoorregte permanente plek. Dit blyk reeds uit die wyse waarop literêre kritici bykans angsvallig pogings aanwend om werke/skrywers in die kanon te hou deur kritiese én kreatiewe herskrywings. Harold Bloom (1994) se The Western Canon is ’n sprekende voorbeeld van kritiese herskrywing, en bykans al die poëtiese tekste van Joan Hambidge en, onlangs, Marlene van Niekerk se Kaar, is deur die veelvoud van intertekstuele verwysings (of aanhalings) goeie voorbeelde van kreatiewe herskrywings met kanoniserende implikasies. In hierdie verband moet onthou word dat selfs parodieë of literêre pastiche altyd ’n vorm van intertekstualiteit is waarby die bronteks ’n bevoorregte posisie inneem en wat daarom altyd ’n (implisiete) eerbetoning aan die bronteks is: niemendalletjies is selde die bron van parodie, bloot vanweë die feit dat hulle nie herkenbare brontekste is nie.

’n Mens sou in hierdie verband ook tersyde kon opmerk dat so ’n herskrywing, krities of kreatief, selde belangeloos geskied: dit is immers tot voordeel van ’n kritikus wat sy/haar geld én reputasie verdien het deur oor bepaalde skrywers of tekste te skryf dat daardie betreffende skrywers hul kanonieke status behou, anders loop jy die gevaar dat jou lewenswerk saam met die skrywer (teks) in die vergeethoek beland en jou uitnodigings na literêre gespreksgroepe opdroog. Dit is nogal opmerklik (en vermaaklik) hoe kritici in die Afrikaanse literêre veld probeer om hulle gunstelingskrywer telkens te bewierook deur vleiende resensies van selfs werk wat ondermaats is. Dit neem selfs groter proporsies aan as die destydse kultus rondom Etienne Leroux, waaraan ek waarskynlik ook aandadig was. Net so is kreatiewe herskrywing eintlik ’n suggestie van kameraadskap – saampraat met die grotes – en, soms, afpraat na hulle.

Deesdae word telkens gewag gemaak van die feit dat die kanon ’n "magsinstrument" sou wees en dat dit bloot berus op kriteria van die heersende groep. Van Peer (1994) probeer hierdie argument weerlê deur die vergelyking van die literêre lotgevalle van Shakespeare se Romeo and Juliet (1593/1594)met Arthur Brooke se "rymed novella The Tragicall Historye of Romeus and Juliet (1562). Sy slotsom is dat Shakespeare se drama nie net die tyd oorleef het nie, maar in bykans alle tydperke hoë literêre waardering geniet het ten spyte daarvan dat dit nie by verskyning (of daarna) ooit die heersende opvattinge ten aansien van die moraal óf ideologie van die heersende klasse onderskryf het nie; dit het dit trouens grondig ondermyn. Op grond van hierdie gevallestudie bevraagteken Van Peer (1996:108) ook die geldigheid van Barbara Hernnstein Smith en Foucault se magsbegrippe.

Die magsuitgangspunt het ook raakpunte wat betref opvattinge rakende die standaardtaalvariëteit in ’n bepaalde land: ook hierdie variëteit sou bloot berus op die selektiewe voorkeur van ’n invloedryke groep mense. In die geval van die huidige standaardvariëteit van Afrikaans word dikwels gehoor dat dit berus op Oranjerivierafrikaans, die variëteit wat veral deur die Afrikaners (Trekkers) gebruik is. Dit is dan duidelik dat ons huidige standaardvariëteit ’n "witmanstaal" sou wees. Oproepe om vervanging, of ten minste grondige uitbreiding, van dié variëteit (deur byvoorbeeld woorde of uitdrukkinge van Kaapse Afrikaans) klink sporadies op. Selde word taalkundige argumente aangevoer of ’n vergelyking tusen variëteite getref. Vrae wat hulle opdring is: Beskik Kaaps oor dieselfde (Germaanse) woordeskat as ander variëteite? Met ander woorde: is dit nie so deurspek met Engels dat dit die taaleie van Afrikaans aantas en selfs taalverandering in die hand kan werk nie?

Corlia Fourie
Dolf van Niekerk

Op dieselfde wyse word selde die redes bespreek waarom bepaalde literêre werke hulle in die kanon bevind. Is hulle bloot daar as uitdrukking van die waardes van die politieke en sosiale elite soos dikwels aangevoer word? Ontbreek vroulike skrywers – veral uit die Middeleeue, 17de tot 20ste eeue – omdat die literêre kanon ’n manlike konstruksie sou wees? Is laasgenoemde ook verantwoordelik daarvoor dat Sophie Roux, Meg Ross, Eleanor Baker, Corlia Fourie en Trienke Laurie, om maar met hulle te volstaan, ten spyte van verwoede pogings (en gedeeltelike kanonisering in resensies, bloemlesings) tog steeds nie heeltemal deel vorm van die klassieke Afrikaanse kanon nie? Daarmee bedoel ek dat min van hulle byvoorbeeld ’n profiel kry in Perspektief en profiel. En is die opname daarteenoor van Elisabeth Eybers, Elsa Joubert, Anna M Louw, Henriette Grové, Wilma Stockenström, Ingrid Winterbach en Marlene van Niekerk (om maar met hulle te volstaan) daaraan toe te skryf dat hulle "manlike" skrywers sou wees? Daarmee word dikwels bedoel dat hulle op dieselfde wyse sou skryf as manlike skrywers: intellektueel, vol verwysings, progressief eerder as asosiatief (kyk ook Van der Merwe en Viljoen 1998:156), direk eerder as beeldend en sogenaamde "vroulike temas" (soos liefdesverhoudings, egtelike probleme, gesinsverhoudings) sou sku? Dergelike kensketsings is dikwels uiters vaag en mis meestal ook ’n empiriese onderbou (kyk ook Nochlin 1994).

Alistair Fowler (1979) gee in ’n indringende oorsig ’n historiese beeld van die ontwikkeling van literêre genres en die wisselende wyse waarop hulle deur die loop van eeue gewaardeer is. Uit sy oorsig blyk dit dat bepaalde genres op bepaalde tye hoog waardeer was. So is die epos hoër deur die neoklassici aangeslaan as die pastorale letterkunde. Om erkenning te kry (gekanoniseer te word!) het baie skrywers strategieë aangewend om hoogwaardeerde genres in laergewaardeerde genres te inkorporeer (Fowler 1979:110). Nochlin (1994:112) weer wys daarop dat baie vroueskrywers of -kunstenaars deur sosiale hindernisse (byvoorbeeld die verbod om naakfigure te teken) ontneem is van die moontlikhede om as volwaardige kunstenaars te ontwikkel en dikwels tot mindere genres beperk is. Die vraag is of sodanige genre-hiërargie ook vandag nog in die Afrikaanse letterkunde bestaan én of ’n literatuurgeskiedenis soos Perspektief en profiel dit ondersteun. Dit is tog opvallend dat kortverhaalskrywers moeiliker die Hertzogprys verower as romanskrywers (die geval Abraham H de Vries) omdat die roman skynbaar hiërargies hoër staan as die kortverhaal. Berus die weglating van E Kotzé (en Jeanette Ferreira, Corlia Fourie, Dolf van Niekerk en baie ander) uit die lys profiele werklik op estetiese gronde, normdeurbreking, of geskied dit dalk op genologiese gronde, naamlik vanweë die soort (toeganklike en "gemoedeliker") letterkundige tekste wat hulle skrywe? Sulke vrae dwing ’n mens tot nadenke.

In polemieke word voortdurend gehoor dat weglating uit die kanon verreikende implikasies het. Veral vrouebewings in die VSA het daarop aangedring dat "vrouetekste" gekanoniseer behoort te word, eintlik opgeneem moet word in die letterkundekurrikulum,k om sodoende ontslae te raak van hul marginale status. Hierdie regstellende aksie is vergelykbaar met baie pogings om "Shakespeare se suster" (of Vondel se dogter) te ontdek en dan die kanon binne te haal. Pogings om Afrikaanse vroueskrywers te "herkanoniseer" (of dit nou gaan om Eleanor Baker of Meg Ross) is hiermee vergelykbaar. Op sig lyk dit lofwaardig en demokraties. In feite is dit egter nog ’n variant van die "maxim of representation" (wat dalk ook die "fallacy of representation" mag heet). Om ’n kurrikulum (of bloemlesing) saam te stel op basis van die feit dat tekste/skrywers "verteenwoordigend" moet wees (kyk die inleiding van Poskaarte, waar dit duidelik gestel word dat dit nie bloot staan in die tradisie van die "estetiese bloemlesing" nie, maar juis die verskeidenheid wil weergee – bl xxiv), lyk demokraties en regstellend. Tog is daar ’n skadukant deurdat die redes waarom tekste/skrywers ontbreek, of volgens estetiese redes sou ontbreek, nou genegeer of verswyg word – kyk Guillory (1993:80 ev). Hy verwoord sy beswaar soos volg: "Clearly a representative canon does not redress the effects of social exclusion, or lack of representation [...] The strategy of opening of the canon aims to reconstruct it as a true image (a true representation) of social diversity." Nochlin (1994: 108) stel dit so: "[N]o amount of manipulating the historical or critical evidence will alter the situation; nor will accusations of male-chauvinist distortian of history." Sodoende word historiese of heersende estetiese paradigmas nie aan kritiese herevaluering onderwerp nie, word die historiese miskenning van marginaliseerde groepe negeer of selfs ontken en baie tekste ook van hul skerp kante ontneem: kanonisering maak tekste (en skrywers) dikwels "deel van", en hul antihegenomiese aard word dikwels daardeur verberg. Janssens sê spottend dat Kannemeyer se literatuurgeskiedenis (en ons sou kon sê Opperman of Brink se Groot verseboek, en dalk ook die jongste Perspektief en profiel?) magtige kanoniseringsinstrumente is: "Ik kan me voorstellen dat volgend gezegde in de Afrikaanse literaire wereld de ronde doet: 'Ik sta in Kannemeyer (Opperman, Brink, Van Coller?), dus ik besta.'" Marginalisering is helaas ’n moontlike gevolg van enige vorm van kanonisering. Maar gelukkig lui die subtitel van Perspektief en profiel: ’n literatuurgeskiedenis. Mag elke gebruiker op soek gaan na ander.

Bibliografie

Bel, Jacqueline. 2004. De houdbaarheidsdatum van literatuur of uitdagingen voor de literatuurgeschiedschrijver. Tijdschrift voor Nederlandse Taal- en Letterkunde, 120(3):193–210.

Bloom, Harold. 1994. The Western Canon. The books and school of the ages. New York: Harcourt Brace and Company.

Cloete, TT. 1980. ’n Bespreking van JC Kannemeyer se Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur I. Tydskrif vir Letterkunde, XVIII

Foster, Ronel en Louise Viljoen (samestellers). 1997. Poskaart. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960. Kaapstad: Tafelberg & Human & Rousseau.

Fowler, Alistair. 1979. Genre and literary canon. New Literary History, XI(1):97–119.

Guillory, John. 1993. Cultural Capital. The Problem of Literary Canon Formation. Chicago & London: The University of Chicago Press.

Hermann, Anne C en Abigail J Stewartil J (reds). 1994. Theorizing Feminism. Parallel trends in the Humanities and Social Sciences. Boulder, San Francisco, Oxford: Westview Press.

Jansen, Ena. 1981. Oor norme in die literatuurgeskiedenis. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 21(1):16–25.

Janssens, Marcel. 1985. Kannemeyer op een afstand. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 25(2):138–45.

John, Phiip. 1994. Literatuurgeskiedskrywing en diskoers: die “begin” van die Afrikaanse letterkunde. Literator, 15(1):97–112.

Kannemeyer, JC. 1980. ’n Konfrontasie met TT Cloete. Standpunte. Derde Reeks, 33(3):45–56.

Korthals Altes, Liesbeth en Dick Schram. 2000. Literatuurwetenschap tussen betrokkenheid en distantie. Assen: Van Gorkum.

Laan, Nico. 2002. De literatuurgeschiedschrijver als medicus. De Neerlandistiek rond 1900. Spieghel der letteren,44(2):169–94.

Nochlin, Linda. 1994. Why have there been no great women artists? In Hermann en Stewart (1994:93–115).

Olivier, Gerrit. 1981. Oor literatuurgeskiedenis: Cloete en Kannemeyer. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 21(1):26–41.

—. 1982. Literatuurgeskiedenis: Ideaal of werklikheid? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 22(3):193–99.

Van den Akker, WJ. 1988–1989. Literatuurgeschiedenis of literatuurvervalsing. Spektator, 18(5):331–2.

Van den Akker, Wiljan en Gillis Dorleijn. 2000. Hoe lang duurt tachtig? Reproductie van normen en literatuurgeschiedschrijving. In Korthals Altes en Schram (2000).

Van der Merwe, Chris N en Hein Viljoen. 1998. Alkant Olifant. ‘n Inleiding tot die literatuurwetenschap. Pretoria: JL van Schaik Akademies.

Van Peer, Willie. 1996. Canon Formation: Ideology or Aesthetic Quality? The British Journal of Aesthetics, 36(2):97–108.

1 Ek dink byvoorbeeld dat die poëtikale opvattings van die Dertigers ’n veel langer lewe gehad het as wat (tradisionele) literatuurgeskiedenisse ons sou laat glo (kyk ook Van den Akker en Dorleijn 2000).

2 Tog blyk iets van die totaliserende aard van metaforiek hieruit: ’n (literatuur)geskiedenis is vanselfsprekend nie net ’n gestadige toename of aangroeiing van feite nie; dit is weglating, wegvaging, herskikking en heryking van die voorafgaande.

<< Gaan terug na Poolshoogte

Uit die LitNet-argief
Young Voices Conference 2004
Waarnatoe met die Afrikaanse fiksieboek?
– Rudi MR Venter
2004-11-25
Briewe deur die lug
Klein vingeroefening rondom die nosie van hibriditeit
– Marlene van Niekerk
2000
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
André Groenewald, populêre letterkunde en die Afrikaanse literatuurgeskiedenis
– Philip John
2010-08-13
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
“Dit kom daarop neer dat ek nie vergete was nie”: Die vroulike liggaam, gender en geweld in Suid-Afrikaanse slawenarratiewe
– Jessica Murray
2010-11-11
Akademies
Was daar ’n Tagtigerbeweging?
– Elize Botha
2007-06-13
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
“Spanner in die wat?” – Wopko Jensma en die mineurletterkunde van Deleuze en Guattari
– Willem Anker
2011-10-19
Akademies
LitNet Akademies: Maritha Snyman gesels oor die plek van middelmoot-literatuur in die literêre sisteem
– Maritha Snyman
2011-08-10
Webseminaar
Afrikaans se taalvariasiespore
– Christo van Rensburg
2014-05-08

LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Kwessies van mite en moraliteit by G.R. von Wielligh se Boesman-optekeninge
– Jean Lombard
2014-02-11

Akademies
Waar is die nuwe generasie swart Afrikaanse skrywers?
– Nèlleke de Jager
2005

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top