Die ander 85%

  • 5

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan poolshoogte@litnet.co.za.

Die koms van die internet en sosiale media het ’n verbysterende demokratiserende effek op die stemme, opinies en uitinge van die breë samelewing tot gevolg wat interessante gevolge vir die formele letterkunde kan inhou. Voorheen het die gedrukte media, binne die beperkte spasie van papier en ink, ’n monopolie op die verspreiding van menings gehad en die eksklusiewe reg voorbehou om te besluit wie vir daardie opinies genader sou word. Die internet het daardie monopolie oornag ondermyn met die vestiging van ’n swetterjoel nuwe forums waar Jan Rap en sy maat se opinies oor allerlei sake onmiddellik in die openbare domein naas dié van “kenners” met gevestigde reputasies gepubliseer word.

Die impak wat dié interessante ontwikkeling vir die literêre bedryf inhou, is nog besig om uit te speel. Hoe die literêre landskap uiteindelik sal verander (ten goede of ten kwade), moet nog gesien word. Wat ons wel weet, is dat daar alreeds ’n uitgesproke spanning heers tussen die gepubliseerde eksponente van die gevestigde, “ernstige” literatuur en die ongepubliseerde eksponente van die informele skryfbedryf. Die verskil tussen dié produkte is dat die gevestigde of hogere literatuur in wese elitisties is, met produkte wat die ideaal van ewigheidswaarde en universaliteit in gedronge woordkonstruksies nastreef, teenoor die tuisliteratuurprodukte, waar literêre diepgang nie ’n vereiste is nie.

Dana Snyman

Marlene Malan

Louis Esterhuizen

Breyten Breytenbach

Vir die doel van hierdie opiniestuk verwys ek na die beoefenaars van die gevestigde, hogere letterkunde as die ivoortoringbewoners – hul posisie word immers in stand gehou deur, en is onderhewig aan, die offisiële rubberstempel van gevestigde akademiese, staats- en kultuurinstellings. Hierteenoor verwys ek na die beoefenaars van die informele literatuur as die vasale – die griffelaars en literêre kleinboere vir wie die valbrug na die ivoorkasteel teësinnig laat sak word.

Waarom is die opinies so plofbaar wanneer die spanning tussen die twee kante op die spits gedryf word? Kyk gerus na die reaksies en kommentaar aan weerskante op Dana Snyman se Beeld-rubriek, Marlene Malan se Rapport-artikel en Louis Esterhuizen se stuk op Versindaba.

Die wortel van die kwaad wat sweer tussen die ivoortoring-okkupeerders en die vasale is aan verskeie faktore toe te skryf.

Dit gaan eerstens om gebiedsafbakening. Ivoortoringbewoners wil hul eksklusiewe posisie, ondersteun deur gevestigde instellings (uitgewershuise, die media, onderwys en die akademie) ten alle koste behou, terwyl die vasale die geïnstitusionaliseerde marmersale van bevoorregting en formele erkenning wil binnedring en oorneem. Tienie die Facebook-digter (om by Dana Snyman te leen) kan dit ook glad nie kleinkry hoekom hy nie vir die Hertzogprys in aanmerking kom nie.

Enorme gehalteverskille heers tussen die produkte wat binne die ivoortoring gekonstrueer word en dit wat die vasale se worsmasjien op massaskaal uitryg. Ivoortoringbewoners is deeglik bewus van dié onderskeid, terwyl die vasale voorgee dit bestaan nie. Tienie kan glad nie insien hoekom sy skryfsels nie beskou word as van dieselfde gehalte as Breyten Breytenbach se werk nie.

Om sake verder te kompliseer is daar verskeie faktore wat ’n bobbejaan-spanner in die werke gooi.

Met die skielike, euforiese demokratisering van opinies deur ’n magdom kuberkamers het verwarring by die vasale ingetree: hulle stel die feit dat hulle stem onmiddellik en in die openbaar gelees kan word, gelyk aan die gewig wat hul opinies dra. Omdat hulle nou op dieselfde internetforum kommentaar kan lewer as ’n bekende meningsvormer, beteken dit vir hulle hul menings dra dieselfde gewig.

Politieke korrektheid is ’n lastige wit leuen wat ingegee is deur die kalm revolusie wat die Nuwe Suid-Afrika tot stand gebring het: ivoortoringbewoners en -bewakers mag binne die nuwe demokrasie nooit elitisties voorkom nie. Hulle word deur die nuwe orde gedwing om die asems van die vasale om dieselfde digitale ronde tafel te verduur. En die vasale eis hulle plek aan dié tafel luidrugtig op terwyl die ivoortoringbewoners entoesiasme moet veins vir die afgewaterde otterwange en pekelrape wat in die silwer literêre skottels opgedis word. Meteens moet die gestopte speenvark met die intellektuele wortel in die fondament met die nuwe aansitters gedeel word.

’n Omvattende (ou) probleem lê in die aard van die ekonomiese orde wat alles rig. In die kapitalistiese opset kry ivoortoringbewoners swaar, want hul goue pennevrugte verkoop met moeite. Boonop swaai die getalle-onewewig in die guns van die vasale: ivoortoringokkupante maak sowat 15% van die totale Afrikaanse lesersbevolking uit; vasale die oorblywende 85%. Om ’n bestaan te kan maak in die vryemark-orde is die elite afhanklik van die gepeupel se koopkrag. Intussen word die sukkelende elite gefinansier deur industriekapteins wat optredes by volksfeeste, oorsese reise en partytjiewyn subsidieer. As bonus skiet akademiese en kultuurinstansies prysgeld voor.

Om legitimiteit aan hul bestaan te gee, is die vasale verbete in hul stryd om die aktiwiteite van die elite, soos deur die heersende orde ondersteun, na te boots: wedersydse-skouerklop-geleenthede, Facebook-blaaie en -groepe, selfpublikasies en vinnig-gereëlde prysoorhandigingseremonies.

’n Mens hoef nie te diep te kyk na vasale se bedrywighede en interaksies op Facebook om te sien hoe die banale patrone wat die geslote, eksklusiewe tuistes van die elite kenmerk, herhaal word nie. Dieselfde frekwensie van wedersydse masturbasie, rugstekery, dreigemente van aanskrywing vir laster en kopieregskendings wat jy in die elite se midde kry, word voltrek in die kuberruimtes waar die vasale ’n bymekaarkomplek vind.

En moenie dink die ivoortoringbewoners maak hulle nooit skuldig aan die indiskresies wat as oersondes aan die vasale toegeskryf word nie! Dikwels omarm die elite ’n uittand-gaffeldraer in die binnekring om ’n ou rekening te vereffen of ’n versuikerde sentiment te eerbiedig. En meer dikwels word ’n ivoorikoon deur die elite beskerm bloot omdat die ikoon lank reeds ikoon is, al getuig die gehalte van sy/haar jongste publikasie van vasaliese finesse. Aan beide kante is die prentjie wat ontvou, opwindend, maar nie altyd fraai nie. Soms lê reputasies verstrooi soos lyke in ’n Oekraïnse sonneblomland.

Gaan die 85% die marmersale wat so lank vir slegs die 15% beskore was, betrek en vir ’n millennium heers?

Nie sommer nie. Daarvoor is die fondamente van institusies te diep ingegrawe. En die termyn van ’n revolusie, het die geskiedenis mos geleer, is korter as die lont van ’n dinamietkers.

 

<< Gaan terug na Poolshoogte

Uit die LitNet-argief
SeminaarKamer
Die belang van literêre toekennings binne die Afrikaanse literêre sisteem
– Francis Galloway
2014-02-19
Essay
Het die Afrikaanse kortverhaal Apartheid oorleef?
– Kerneels Breytenbach
2014-04-29
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die intellektuele struktuur van die Afrikaanse letterkunde: ’n Verwysingsontleding van artikels in die Afrikaanse letterkunde met behulp van netwerkanalise
– Burgert Senekal
2014-06-03
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
'n Ander bestekopname van die Afrikaanse poësie, 2004–2007
– Leti Kleyn
2008-08-05
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die woordrivier: ’n Model ter bevordering van gemeenskapseie woordkuns
– Anneretha Combrink
2012-10-11
Poolshoogte
Die bedryf van ’n aanlyn digkunsakademie
– Nini Bennett
2014-08-05
Akademies
Die nuwe oppervlakkigheid en trourokke: 'n requiem
– Andries Bezuidenhout
2006
Briewe deur die lug
Die bobbejaan agter die bult
– Breyten Breytenbach
2000

Young Voices Conference 2004
What's in a name? The author as brand
– Sarah Britten
2004-11-19

LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Selfuitbeelding en Facebook: ’n estetika van verdwyning?
– Amanda du Preez
2013-01-21
  • 5

Kommentaar

  • helize van vuuren

    Beste Melt

     
    En waar staan jy self in hierdie  stryd - sien jy jouself as "vasal"? Of as synde nou by 'n uitgelese uitgewer werksaam, bevind jy jou ook in 'n "marmersaal"? (Ek lei af jy dink nie dat jy  'n "intellektuele wortel in die fondament" het nie). 
     
    Dié vraag bly geheel en al onbeantwoord, asof gevra deur 'n vryblywende besoeker van Mars ...
     
    En nog 'n vraag: hoe sou 'n uitdagende letterkunde en sy skrywers daaruit sien, sonder enige intellektuele input van literêre kritici? Moet hul nou almal in 'n koor van handeklappers vir als wat verskyn verander? Lyk my asof jy die toneel van enige letterkunde rondom sentrale toonaangewende, eksperimentele en vernuwende skrywers, met mindere figure daaromheen wat wedywer om aandag, baie akkuraat beskryf, maar geen suggestie wil maak van hoe nou vorentoe vir die ideale posisies vir al diegene om in te neem nie. Om die stand van die kragte werksaam in 'n nou erg marginale Afrikaanse letterkunde in onse land te tipeer, is een ding, maar waar is die suggesties vir beter toekomstige verhoudinge? Waarheen moet gemik word? Onder watter sterre moet die wankele boot gestuur word? Die plakkers van "elitisties", "marmersale" en "ivoortorings" klink bietjie na iemand wat die guillotine in Parys hanteer in die Franse Revolusie - kyk watter kele is die lelieblankste, kap die koppe af, en bly sit dan met die steenkoolgroues agterna. La luta continua, vryheid, gelykheid en broederskap. Die Verligting het gekom en gegaan, en hier is ek weer met my rooirok voor jou deur.
     
    Groete van Ivoortoring tot Ivoortoring
    Helize
     
     
  • Johannes Comestor

    Melt, dit is die eerste keer dat dit vir my voel asof ek deel van die meerderheid is.

    Helize, is dit "daaruit sien" of "daar uitsien"?

  • Martienz Labuschagne
    Vir my is die vraag eenvoudig: Wie is hierdie self-aangestelde priesters van literatuur wie bepaal wat kwansuis literatuur is en wat sommer net gemors? Waar kom hulle goddelike gesag vandaan?
  • Jans de Jager

    Die eintlike debat wat hier ontlok is wat eintlik as kuns beskou word. Van die hooftrekke is dat kuns nie 'n doel kan dien of doelbewuste vrugte afwerp nie. "Art for Art's sake" soos die gesegde lui. 'n Interessante vertakking van hierdie gesprek wat dit mooi opsom is die vraag of rekenaarspeletjies of elektoniese toestelle as kuns kan dien. Apple, byvoorbeeld, spandeer 'n klein fortuin om hulle produkte as uniek en kunstig te laat voorkom deur kunstenaars aan te hits om hulle foontjies en tablette te gebruik as skilderkwas. Die huidige ontploffing in rand produseerders van rekenaarspeletjies alte "indie" het debat ontlok oor speletjies soos "Braid" en "Fez" wat tradisionele modes van spel bevraagteken en in gedrang laat. As ons absolutisties wil verkeer en 'n deurpad bou tussen wat as Rolls Royce en help-my-trap beskou kan word dan kan ons die ou Engelse adage raadpleeg wat luid trompetter dat "State of the Art" vir ons spesifiseer dat daar steeds 'n onontdekte horison vir ons nader roep.

  • Mike Labuschagne

    Jans, ek gaan akkoord. Kuns is besig om te transformeer soos wat die tegnologie transformeer. Verder nog, nie net videospeletjies, maar ook grafitti kan as kuns gesien word. Wat van advertensies - veral met catchy dialoog? Sekerlik is dit ook 'n kunsvorm.

     
     
     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top