Politieke verandering: Die wind waai wes! (28 Maart 2025)

  • 0

In die politieke dinamika is dit dikwels optrede wat amper ongesiens verby gaan wat aanduidings is van die trajek waarop die politieke proses is. Sedert Jacob Zuma die leisels van die ANC oorgeneem het in 2007, het die party stadig agteruit beweeg. Cyril Ramaphosa kon die agteruitgang in ’n mate gestuit het in 2019, maar in 2024 het die damwal gebreek toe die ANC ’n skrale 40% van die nasionale steun kon mobiliseer. Hierdie stadige agteruitgang het weer eens stukrag gekry toe die leier van die ANC se koukus in die Stad Kaapstad gister (27 Maart) oorgeloop het na die Demokratiese Alliansie. Banele Majingo het vir groot politieke ontwrigting gesorg met hierdie stap, en soos verwag, sou die ANC-leierskap baie verklarings vir die stap gee. Een waaraan hulle nie gedink het nie, is dat Ebrahim Rasool nou terug is in die Kaap en dat hy die chaotiese stand van die ANC se partyorganisasie dalk kan regruk!

Uit die optrede van Majingo is daar minstens drie belangrike sake met betrekking tot die politieke proses op pad na nasionale munisipale verkiesings in September 2026. Die ANC verloor nie steun omdat die opposisiepartye soveel beter vaar nie – miskien is die vertoning van die MK Party in KwaZulu-Natal in 2024 ’n uitsondering op dié stelling – maar die ANC verloor steun omdat lojale ondersteuners nie meer kans sien om vir die ANC te stem nie. Hulle sal eerder van die stembus wegbly as om vir ’n opposisieparty te gaan stem. Weer eens geld dit vir die res van Suid-Afrika, KZN uitgesluit. Dit lyk nie of die ANC se hernuwingsproses, na die 2024-fiasko, veel om die lyf het nie, en sover het hulle die sagte opsie gekies met betrekking tot die verandering van die provinsiale leierskap in Gauteng en KwaZulu-Natal.

Die tweede belangrike saak is dat dit baie moeilik is vir ’n party wat ’n afdraandetrajek ingegaan het om die gang van sake te verander en positiewe steun te demonstreer. Dit het ons baie duidelik met die ondergang van die Nasionale Party in die vorige bedeling gesien. Om ’n tussenverkiesing hier en daar te wen in tradisionele steunareas is nie ’n verandering van ’n tendens nie. Dit is waar die titel van hierdie stuk sy oorsprong het – toe daar ’n biddag vir reën was tydens ’n groot droogte en ’n siniese ou boer toe droogweg opgemerk het dat die mense maar kan bid, maar die wind waai wes.

Die derde saak wat uit die Wes-Kaapse politiek duidelik is, is dat waar ’n dominante party soos die ANC steun verloor, die party klaaglik misluk as ’n opposisieparty. Die ingesteldheid van partyleiers wat op groter geprojekteerde steun elders in Suid-Afrika steun, laat hulle misluk in provinsiale of stadspolitiek, en hierdie siklus word moeilik gebreek. Dit het tot gevolg dat die ANC in opposisie vetotegnieke, onderduimse politieke streke en politieke dwarsboming gebruik in die opposisierol. Dit verdiep die verswakking van die party op organisatoriese vlak. Majingo se oorloop na die DA het hierdie proses net weer onderstreep.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top