In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Daar is opvallende ooreenkomste tussen die regstelsels van Suid-Afrika, Zimbabwe en Namibië. Daarom vind ons dat uitsprake van die hooggeregshowe van ons twee buurstate dikwels in die Suid-Afrikaanse hofverslae gerapporteer word – vroeër jare egter meer as wat tans die geval is. Vandeesweek twee interessante uitsprake uit Zimbabwe.
Die eerste is ’n uitspraak1 van regter Gordon van die destydse Rhodesiese hooggeregshof wat hy op 25 Junie 1970 gelewer het. Gedurende die Rhodesiese "bosoorlog" het ’n polisieman met die indrukwekkende van Castell-Castell met sy Land Rover in die Zambesi-vallei patrolliediens gedoen. Hy het oor ’n pofadder gery wat ongeveer 50 cm lank en 2,5 cm dik was. Soos enige nuuskierige mens sou maak, het hy stilgehou om te kyk wat van die pofadder geword het. Dit het bewegingloos agter in die pad gelê en hy het nader gestap om te kyk of dit dood is. Hy het sy geweerkolf teen die slang se kop gedruk, maar daar was geen teken van lewe nie. Hy het dit toe sy plig geag om die reptiel van die pad te verwyder, maar toe hy sy hand uitsteek om dit by die stert beet te kry, het die pofadder skielik lewe gekry, en voor hy sy hand kon wegruk, het dit hom in die vinger gepik. (Ek het iewers gelees dat ’n pofadder omtrent die vinnigste van alle inheemse slange kan pik – selfs blitsiger as ’n swart mamba.)
Die ongelukkige Castell-Castell se vinger wou nie genees nie, want dis ’n ander ding van die pofadder: sy gif is sitotoksies: dit vernietig met ander woorde weefsel. Oplaas moes die vinger geamputeer word. Die verlies van ’n vinger het Castell-Castell op ’n 9%-ongeskiktheidsvergoeding van die Rhodesiese polisiediens geregtig gemaak.
Die Raad wat oor sy beperkte ongeskiktheid moes beslis, het egter sy aansoek geweier, aangesien hulle van mening was dat dit eintlik sy eie ernstige nalatigheid was wat veroorsaak het dat hy sy vinger verloor het.
Teen dié beslissing het Castell-Castell na die Rhodesiese hooggeregshof geappelleer. Die regter het die feite noukeurig ondersoek en beslis dat hy nie nalatig was nie. Die hof het bevind dat hy op ’n redelike en sorgsame wyse te werk gegaan het om seker te maak dat dit veilig was om die slang op te tel. Hoogstens kon gesê word dat Castell-Castell ’n oordeelsfout begaan het, maar dit in sigself het nog nie beteken dat hy nalatig was nie. Die hof het gevolglik die polisiediens beveel om sy vergoeding aan hom uit te betaal.
Die tweede hofsaak uit ons noordelike buurstaat is die strafsaak teen ene mnr Mayer wat op 25 Junie 1985 voor die Zimbabwiese hooggeregshof gedien het. Mayer is daarvan aangekla dat hy sy vrou, Hertha, doodgeskiet het. Die voorval het ’n tragiese aanloop gehad. Mayer het vir die nasionale spoorweë van Zimbabwe gewerk en ’n paar dae voor die voorval is hy in kennis gestel dat, aangesien hy binnekort 60 sou word, hy hom moes klaarmaak om op pensioen te gaan. Daarbenewens is hy ook deur die eienaars van die woonhuis wat hy en sy vrou gehuur het, in kennis gestel dat hulle die huis moet ontruim, aangesien dit verkoop is. Mnr en mev Mayer het besef dat hulle met dié twee terugslae nie finansieel op hulle oudag sou oorleef nie. Die enigste uitweg waaraan hulle kon dink, was om selfmoord te pleeg. Terwyl sy vrou geslaap het, het mnr Mayer die plan begin uitvoer deur haar eerste dood te skiet. Daarna het hy homself om die lewe probeer bring, maar die kopskoot het hom slegs permanent blind gelaat. In daardie patetiese toestand het hy voor regter Mfalila op ’n aanklag van moord verskyn.
Die regter het beslis2 dat daar geen twyfel was dat Mayer die opset gehad het om sy vrou te vermoor nie. Hy is gevolglik aan moord skuldig bevind. ’n Lastige vraag vir die regter was watter vonnis mnr Mayer opgelê moes word. Hy het opgemerk dat Mayer nie ’n misdadiger in die gewone sin van die woord was nie. Daar was geen behoefte daaraan om die gemeenskap teen hom te beskerm nie, en daar het ook nie ’n gevaar bestaan dat hy ’n soortgelyke misdryf in die toekoms sou pleeg nie. Hy het die gevleuelde woorde van ’n Suid-Afrikaanse appèlregter, regter Holmes, aangehaal: "Punishment should fit the criminal as well as the crime, be fair to the accused and to society and be blended with a measure of mercy." Mayer, het die regter opgemerk, het ’n onherstelbare verlies gely toe hy as gevolg van sy selfmoordpoging blind geword het. Daarbenewens het hy sy geliefde vrou verloor. Onder die omstandighede was die regter van mening dat ’n gepaste straf sou wees dat Mayer in hegtenis gehou moet word totdat die hof verdaag.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

