Die plaaswerkerstakings in die Boland was die afgelope week weer in volle swang. Porchia Adams, woordvoerder van Agri Wes-Kaap, beantwoord enkele vrae oor hoe dit die landboubedryf raak.
Die plaaswerkerstaking wat verlede jaar opgeskort is, is onlangs hervat. Het u verwag dat daar weer geweld sou voorkom en dat die staking so wydverspreid sou wees? Waaraan dink u is die gewelddadige aard van die stakings te wyte?
Hierdie was ’n onbeskermde staking en ons het gehoop dat dit nié gewelddadig sou wees nie, omdat dit onverantwoordelik en onwettig is. Geen mens het die reg om ander se eiendom te beskadig of te vernietig nie. Ons verstaan dat mense gefrustreerd en ongelukkig is oor hulle omstandighede, maar die hoë vlakke van geweld, intimidasie en viktimisasie is glad nie ’n oplossing vir hul probleme nie.
Tydens 2012 se stakings is telkens genoem dat die lone wat deur die werkers vereis word, bloot te hoog is. Watter impak glo u sal die loonverhoging (luidens berigte is boere bereid om te onderhandel oor ’n loonverhoging tot R110 per dag) op die bedryf hê indien só ’n ooreenkoms wel bereik word?
Baie produsente, veral kleiner en opkomende produsente, sal heel waarskynlik moet ophou boer. Die winsmarges van produsente het oor die jare aansienlik kleiner geword terwyl insetkoste skerp gestyg het, en baie kan eenvoudig nie drastiese salarisverhogings bekostig nie.
Wat sou volgens u ’n ideale oplossing wees vir die geskille, of ten minste ’n aanvaarbare oplossing vir die betrokke partye?
Realistiese verwagtinge ten opsigte van loonverhogings en ook die tydperk van die verhogings – ’n onmiddellike, drastiese verhoging is nie haalbaar nie. Daar moet ook ’n teenprestasie wees, byvoorbeeld hoër produktiwiteit van werkers. Die winsgewendheid van plase sal ernstig aandag moet kry om groter salarisse te kan bekostig.

