Pixie is net ’n pop

  • 0

Vrydagaand laat stop Allan voor die deur in Steynsburg, al die pad vanaf Plettenbergbaai. Met ’n groot glimlag maak hy die agterdeur oop en jou wrintiewaar, op die agtersitplek sit Pixie penorent vasgegordel, serp om die nek en sonbril op die neus. Sy is tuis.

Hier iewers in die laat sestigs, vroeë sewentigs, was Pixie-poppe die in-ding. Ronde gesiggie, groot ogies, ’n hoë spitspunt-koppie, ’n opgestopte lyfie in geblomde koordferweel en omtrent so groot soos ’n tweejarige kind. En ’n wulpse krul op die voorkop. Maar Pixie is salig onbewus van al die ongedurighede wat sy veroorsaak het. Glimlaggend sit sy daar, ogies na regs, armpies so kwart voor drie uitgestrek.

Kleinsus Sandra, vandag ook al diep in die veertigs, was as kind nogal verknog aan dié speelding wat Ma en Pa vir haar gekoop het toe ons nog destyds op George gewoon het. Sy beweer sy onthou die dag, al was sy waarskynlik net drie of vier jaar oud.

Toe ons Ma se huis opgepak het, moes al die kinders hulle goed wat Ma getrou vir almal gestoor het, gaan haal en die res moes gaan na watter kind ookal. Sandra het Pixie uit ’n kas gehaal, die geskeurde materiaallyfie gesien en besluit sy wil dit tog nie meer hê nie. Òf die pop was oppad na die welsyn, òf sy gaan saam na my huis in Steynsburg. Ek en Lydia stuur Pixie Steynsburg toe, waar sy twee jaar lank in vrede op ’n stoel in die sitkamer gesit het. Sonder die sonbril. Intussen het ek die lyfie toegestik, en haar bietjie skoongemaak waarna sy heel respektabel gelyk het vir ’n 40-jaar-oue pop.

Monica is die eerste om te vra – weet ek dalk waar Pixie is, want Sandra wil haar terughê. Sandra wou Pixie in die eerste plek nie gehad het nie, en bowendien is ek en sy nie op speaking terms nie. Soos dit ’n moeilike broer betaam, weier ek halstarrig om Pixie terug te stuur. Bowendien dreig ek om Pixie te verkoop, net om moeilik te wees. Dalk haar ook op e-Bay sit en kyk wat haar waarde is.

Toe Sandra haar moes vat, was die stukkende vuil pop nie goed genoeg nie. Noudat sy skoongemaak en heelgemaak is, nou wil sy haar terughê. Dit gaan meer oor die idee van die pop as die pop self. Wetend dat dit net ’n gier is en dat die arme pop flenters in die garage of tussen die rommel of die honde in die agterplaas gaan eindig, sê ek dus, NEE.

’n Maand later – Monica sê Sandra is histeries oor haar pop. Sy kan nie meer slaap nie, sy huil nagte om oor die pop wat ek nou weier om terug te gee. Monica kry ’n magdom SMS’e van Sandra wat verpletterd is oor die verlies van die pop, en sy sien nie kans vir lewe sonder die pop nie. Sowat van emosionele manipulasie het ek lanklaas gesien. Ek ken my jonger suster, die kop raas en dit gaan nie eintlik oor die pop nie, bloot omdat dit ék is en omdat ek NEE gese het. Ek sê nog steeds NEE.

Nog ’n maand later – Monica sê Sandra dreig nou met selfmoord indien ek nie die pop terugstuur Vereeniging toe nie. Monica voel sy is onstabiel genoeg en smeek vir die terugkeer van die verlore dingetjie. Ons familie het ook nie nou die kapitaal vir rondrits agter begrafnisse aan nie. Ek sê ja, maar ek woon in Plettenbergbaai op daardie stadium, en ek gaan definitief nie spesiaal ry om die pop te gaan haal nie – nie 1 200 km heen en weer nie. Eers wanneer ek weer die slag Steynsburg toe gaan vir ’n paar dae sal ek haar gaan haal. 

Intussen trek ek terug Steynsburg toe. Broer Steven en sy gesin kom kuier vir ’n dag of twee oppad na Port Elizabeth, en ons geniet die manewales van Pixie. Dit is egter snerpend koud, dus drapeer ons Pixie in winterklere, serpie, handskoene, de lot. Pixie op die toilet. Pixie loerend agter die kasdeur uit. Pixie geparkeer met ’n sigaret en bottel in die hand. Pixie bankvas agter die kar se stuurwiel. En nog baie meer, en ons neem foto’s vir ’n vale en giggel deurentyd semi-histeries.

So vergeet ons om Pixie saam te stuur toe hulle ry, maar ek stuur haar ’n maand of drie later saam met Allan. Vandaar sal hy haar vir Lydia of Monica gee, en hulle sal op hulle beurt sorg dat Pixie in Vereeniging uitkom, per pos of geleentheid of watter wyse ookal moontlik. Brom-brom laai hy Pixie in, en daar bly sy by hom in die woonstel vir ’n paar maande waarin niemand vir Pixie meer terugeis of blykbaar wil hê nie. Lydia wil haar nie in haar huis hê nie, en beweer Pixie se groot ogies volg haar die hele tyd. Monica sien nog minder kans. Sandra is tjoepstil. Hopelik slaap sy weer beter.

Intussentyd kom Pixie weer terug Steynsburg toe, want Allan trek en al sy losgoed kom terug na my huis. Daar bly sit sy vir maande onversteurd.

Vroeg in Januarie is dit weer sulke tyd. Lydia laat weet, Sandra huil haar oë uit oor Pixie, sy stuur verdrietige SMS’ies oor hoe sy Pixie mis en hoe dit die laaste ding is wat Ma en Pa haar op George gegee het, Pixie is die laaste ding wat in haar gedagtes is voor sy van hartseer aan die slaap raak, ensovoorts, ensovoorts. Teen dié tyd is ek nie meer lus om dwars te wees of te redekawel nie. My hart vermurwe, Pixie kan weer gaan.

Toe Allan weer kom kuier, pak ons Pixie weer eens in die kar, dié keer op die voorste sitplek. Met veiligheidsgordel en sonbril. Daar gaan die twee, en hopelik is dit nou die einde van die snot en trane oor die pop.

Dis toe nie heeltemal so nie. Allan bel my die ander aand en sê, helaas, Pixie kom terug. Lydia het vir Sandra laat weet, Pixie is op pad na haar. Sandra laat weet toe per SMS dat sy die pop nie wil hê nie, sy is klaar met aardse goed. Dus, noudat niemand haar meer wil hê nie, kan sy maar terugkom. Pixie was dus darem al twee maal in Plet met vakansie.

Gisteraand sien ek Pixie se glimlaggende gevreetjie waar sy in oorle ouma Marie se stoel sit – haar ogies blink en sy kyk na my. Sy lyk eintlik heel tevrede.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top