Pitkos: Inspirasie, wyshede en antwoorde vir die lewe

  • 0

Titel: Pitkos – in samewerking met RSG
Skrywer: ST Potgieter
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781920654085

 

Koop Pitkos – in samewerking met RSG by Kalahari.com.

 

 

 

 

In RSG se gewilde radioprogram Pitkos gesels Dr ST Potgieter oor interessante en lewensverrykende aspekte vir een en almal. Die keur van sy inspirerende gesprekke is saamgevat in Pitkos: Inspirasie, wyshede en antwoorde vir die lewe, om vir die luisteraars ’n gedrukte proesel te bied van sy weeklikse wysheid. Op 4 Julie 2013 het Naledi in samewerking met RSG die boek by DelVera wynlandgoed bekendgestel. Martelize Brink, bekende omroeper van die program Oggend op RSG, het met ST gesels oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe – van uitdagings tot pienk baaikostuums. Daar was ook geleentheid vir vrae en ’n boektekensessie, wat die meer as 400 gaste gretig aangegryp het.  Na die formaliteite het gaste heerlik gesmul aan vier verskillende soppe, brood en wyn.

Melt Myburgh, redaksiehoof van Naledi, stel ST Potgieter, die outeur, en Martelize Brink van RSG aan die woord. (Foto: Brian Groenewald)

Naledi was trots om hierdie aand te gebruik om die ATKV en US Woordfees se WOW-projek te ondersteun, deur gaste aan te moedig om boeke teen spesiale pryse aan te skaf ter skenking aan skole wat dit nie kan bekostig om sélf boeke te koop nie.  WOW, akroniem vir woorde open wêrelde,  is ’n taalgerigte gemeenskapsinteraksie projek wat gerig is op woordvaardighede, lees, geletterdheid en die kunste, met Afrikaans as fokustaal. Sowat 15 000 leerders van 70 skole en hulle onderwysers in die Wes-Kaap word jaarliks bereik met programme wat ondermeer leesbevordering, skryfvaardighede en geletterdheid aanspreek met ’n verskeidenheid slypskole en werkswinkels. Vir meer inligting oor hierdie projek kan u gerus die WOW-projekbestuurder direk kontak deur ’n e-pos te stuur aan Fiona van Kerwel by wow@sun.ac.za.

Fiona van Kerwel, WOW-projekbestuurder, lede van haar span en Deon Felix Coetzee, hoofuitvoerende beampte van Naledi. (Foto: Brian Groenewald)

Oor die outeur

DR ST Potgieter is ’n geregistreerde sielkundige wat daagliks in sy privaat praktyk in Bellville, Kaapstad in konsultasie staan.  Hy was vir ’n aantal jare in Windhoek, Namibië, asook in die Limpopo Provinsie werksaam.  Benewens sy werk as sielkundige tree hy gereeld op in radioprogramme en het hy ook bekendheid verwerf as skrywer.  Van sy bydraes en insette verskyn gereeld in koerante en tydskrifte.  Hy is ’n gewilde spreker by verskeie geleenthede, van die korporatiewe mark tot by skole, manne en vroue-byeenkomste.

Die enigste leë stoel in die saal was dié van die fotograaf ...(Foto: Brian Groenewald)
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top