Pioneers of the Dorsland deur PJ van der Merwe: ’n resensie

  • 0

Pioneers of the Dorsland
PJ van der Merwe

Uitgewer: African Sun Media
ISBN: 9781928314387

Die bekende historikus, wyle Piet van der Merwe (1912–1979), se werke het danksy sy dogter, Margaretha Schäfer, en African Sun Media (onder die druknaam Rapid Access Publishers) ’n tweede asem gekry.

Gedurende die tagtigerjare toe ek as student aan die Geskiedenisdepartement van Stellenbosch verbonde was, het ek staaltjies oor hom gehoor – die professor was ’n goeie voorbeeld van die soort lektor wat voorheen soos ’n ware diktator opgetree het, maar mense het nie gehuiwer om by te voeg dat hy dieselfde hoë standaarde wat hy van ander verwag het, self gehandhaaf het nie.

Iemand het ook gesê dat hy veel meer kon gepubliseer het indien hy nie so puntenerig or sy werk was nie. In die Leopold von Ranke-tradisie moes elke stelling onomstootlik bewysbaar wees en elke bron, indien moontlik, teenoor ander getoets word. Primêre bronne was inderdaad prima, en dié tipe deeglikheid is uiteraard uiters tydrowend.

Nou sorg Schäfer egter dat sy noukeurige navorsingswerk steeds beskikbaar is. Sy het etlike boeke by Sun Media laat heruitgee, soos Pioniers van die Dorsland in 2016 (dit het oorspronklik in 1941 by Nasionale Boekhandel verskyn). Ander titels is die tweeluik Berigte uit die Dorsland en Meer oor PJ van der Merwe (albei in 2017). Van sy werke is ook in Engels vertaal, soos Pioneers of the Dorsland (2017), en nog is op pad. In 2015 het Trek: Studies oor die mobiliteit van die pioniersbevolking aan die Kaap (1770–1842) in druk- of PDF-formaat verskyn, individueel of as ’n stel van drie. Laasgenoemde het oorspronklik in 1945 verskyn.

Van der Merwe het sedert 1937 (Die Noordwaartse beweging van die Boere voor die Groot Trek) tot 1972 met Die bronnelys en voetnote (ook in Engels vertaal) ses werke gepubliseer, terwyl Die Matabeles en die Voortrekkers ook in 1986 in beide tale verskyn het.

Schäfer belê werklik baie tyd, energie en geld in hierdie projek en verdien erkenning juis vir die manier waarop sy erkenning aan haar vader gee. Sodoende doen sy egter meer – sy sorg dat die geskiedenis van die mense waaroor haar vader navorsing gedoen het, onthou word. Die relase van dosyne deelnemers aan die professor se projekte word nou weer in een gesamentlike projek saamgevoeg en in ’n reeks Africana-werke aangebied.

Vir my persoonlik het die bewaring van elke stukkie van ons landgenote se stories besondere betekenis, want ek is bekommerd dat ons hulle gaan vergeet. Toe ek in 1999 van Geskiedenis na Kultuurgeskiedenis oorgegaan het (ek het in 1992 ’n meestersgraad in Geskiedenis en in 2003 in DPhil in Kultuurgeskiedenis verwerf), was ek verbyster oor hoe min ek van my eie kultuur weet – iemand wat altyd in Geskiedenis belanggestel en wyd daarin gelees het, was eintlik onbewus van soveel geestelike én stoflike kultuurgoedere wat reeds aan die moderne Afrikaner onbekend is.

Daarom is dit vir my ’n hartseer saak dat die vak Kultuurgeskiedenis intussen as’t ware self in die vergetelheid verdwyn het, en sommer vinnig ook. Vandag word gevra: Wie was die Feniciërs?

Ons weet hulle was groot seevaarders, maar wie was hulle Langehovens, MER’s en Van Wyk Louws en wie was hulle Smutse en De Wets? Wie was hulle Jan Spiese en Tolla van der Merwes selfs? En hulle Renier de Winnaars? Presies – hoeveel mense weet vandag nog dat hy ’n beroemde grootliegverteller in die klas van Baron von Münchhausen was? Gaan ons kultuur dieselfde pad as dié van die Feniciërs volg? Of van die talle vergete volke, die inwoners van stede wat in die Midde-Ooste opgegrawe word?

Volgens die demograwe kwyn die Afrikaner se getalle steeds en teen 2050 sal ons ’n digitale komma van die landsbevolking verteenwoordig. My vraag is wie gaan dan nog Afrikaans lees, of sal mense Afrikaans later soos Latyn of Sanskrit in ’n laboratorium in die VSA, of dalk Zuid-Afrikahuis in Amsterdam, gaan bestudeer?

Miskien wel, niks is vir ewig nie, nie eens ons planeet nie. Maar dit bly hartseer as die bewaarders van ons kultuurgoedere, insluitend taal, hulle voorgeslagte verloën en in die proses hulself kultuurloos verklaar, die verteenwoordigers van geen bydrae tot die globale menslike kreatiwiteitsproduk nie.

Pioneers of the Dorsland

Ja, dis ’n bekvol, en hoe meer jy sê hoe meer kos dit om te verteer, sodat die gemiddelde leser eerder sal sê: “Laat ek verbyhou.” Ons word immers so gebombardeer met inligting vanaf soveel toestelle en platforms dat ons sat en lui word om self nog te dink en te verbeel. Dis makliker om liewer agteroor te sit met eetgoed vir die lyf pleks van vir die verstand, en onbetrokke na ’n rekenaar of televisieskerm te staar.

Dit is die werklikheid, uit en gedaan. Kultureel gesproke is ons van moedermelk gespeen en suip ons snoep saam aan formulemelk, voorberei vir die gemene deler.

Daarom skryf ek hier oor die Van der Merwe erfgoed, wat ook ons s’n is. Ek verwag nie dat honderde mense die moeite gaan doen om die vermelde boeke te bekom nie, maar ek hoop wel dat daar altyd ’n kerngroep van intellektueel soepeles en kultureel verantwoordbares sal wees wat sal belangstel. Ter wille van hulle dan beveel ek die lees van ook Pioneers of the Dorsland aan, die nuutste produk van Schäfer.

Hierdie boek handel oor inligting wat Van der Merwe tydens sy reise deur die Noordweste versamel het. Die Noordweste sluit in Boesmanland, Namakwaland en die Kalahari, asook ’n minder bekende deel soos die Mierland, met beskrywings van die grense daarvan, wat op sigself interessant is, al die omstredenheid daaroor in ag genome.

Wat my egter die meeste getref het, is die beskrywings van die mense. Dit is met soveel respek en deernis beskryf, maar nooit sentimenteel nie. PJ van der Merwe was immers altyd ’n nugtere akademikus, maar ook ’n geesteswetenskaplike wat onderhoudend kon skryf in sy talle artikels vir Huisgenoot en Landbouweekblad.

Die teks is toeganklik en die navorser of aspirantnavorser word ook meegedeel hoe die professor te werk gegaan het, al is hierdie boek, soos die ander, vir die gewone publiek bedoel. Van der Merwe het duidelik destyds reeds geweet dat Geskiedenis gehumaniseer (nie noodwendig gepopulariseer nie) moet word en dat akademiaanse taal of aanbiedingswyses nie sou werk nie: Dit deug nie om vir die gemeente alleen te preek nie.

Die hele oeuvre

Schäfer sit haar vader se werk dus voort, ek glo soos hy dit sou wou hê, en bowenal moet hierdie versameling boeke as ’n geheel beskou word om die werklike waarde daarvan na behore te delg.

Van der Merwe se boeke ontsluit sekere kulturele landskappe en is daarom sterk emotief. Dit ontlaai op ’n manier emosies wat op die huidige Suid-Afrikaanse landskap, geografies en kultureel, reflekteer. Hierdie boeke stimuleer bowenal ’n reiservaring wat beide na binne (emosioneel) en in tyd (histories) beweeg, sodat dit waarlik kultuurhistories van aard is. Hoe meer ek oor Van der Merwe se werk dink, hoe meer voel dit vir my dat hy nie bloot ’n nasionalis was nie, maar ’n patriot, aangesien nasionalisme uiters eenogig is, terwyl patriotisme ware vaderlandsliefde behels – moesies, plooie en al, en van politiek gestroop.

Pioneers of the Dorsland (papieruitgawe: ISBN 9781928314387) beslaan 168 bladsye, net twee minder as die Afrikaanse weergawe, en albei bevat kaarte en foto’s wat die professor, ’n bedrewe fotograaf, self geneem het. Die boek is ook as e-boek verkrygbaar, of by die uitgewers se kantore – Kantoor 12 van The Woodmill op die Vredenburg-pad in Devonvallei aan die westekant van Stellenbosch, of dit kan via die e-posadres orders@africansunmedia.co.za bestel word. Sien ook www.sun-e-shop.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top