Pink Floyd se The Great Gig in Böblingen

  • 0

Roofopnames bly een van die turksvye van die musiekwêreld. Mens is nie veronderstel om na die goed te luister nie, maar as jy 'n groot bewonderaar van 'n groep of kunstenaar is, dan doen jy soms moeite wanneer 'n sekere opname veronderstel is om iets besonders te wees.

Die groepe wat die ergste deurgeloop het, is Pink Floyd, Led Zeppelin en Grateful Dead. Laasgenoemde het vroeg al in hul loopbaan besef dat dit beter sal wees om met die bootleggers saam te werk, en die gevolg is 'n baie groot skatkis van nie-amptelike Grateful Dead-opnames wat van besonder hoë tegniese gehalte is.

Ek het al vantevore daaroor geskryf, en oor die mense wat sulke opnames maak. Maar intussen, twee weke gelede om presies te wees, het ek deur die reinste van toeval 'n eksemplaar van Pink Floyd se The Great Gig in Böblingen te luister gekry. Dit is die heel beste roofopname van 'n Floyd-konsert wat ek nog gehoor het.

Die konsert is gehou op 15 November 1972 (die binnegoed van die CD-boekie gee die datum verkeerdelik aan as 20 Mei 1972). In alle onderhoude met die lede van die groep verwys hulle na hul werksmetode – maak 'n nuwe komposisie eers sag in konserte, en gaan dan ateljee toe.

Die album wat hulle hier aan die sag maak was, is Dark Side of the Moon. Nie al die snitte was in daardie stadium volledig afgerond nie. "The Great Gig in the Sky" is byvoorbeeld die eerste weergawe daarvan, met ’n kerkorrel en die stem van Malcolm Muggeridge wat 'n lang preek afsteek. Die tweede snit was nog “Funky Dung”, ’n subtitel wat die eerste keer op Atom Heart Mother gebruik is, en wat later “The Travel Sequence” sou heet voordat dit ingerypend verander is en “On the Run” geword het.

“Funky Dung” is ’n heerlike voorbeeld van die Floyd besig met improvisasie – meer as sewe minute daarvan. Die snit tussen “Us and Them” en “Brain Damaga” heet in hierdie stadium nog “Improvisation”, al is baie van die elemente van “Any Colour You Like”, soos dit later sou heet, reeds teenwoordig. En dit strek ook by sewe minute verby.

Die ontwikkelende “Dark Side of the Moon” is eerste gespeel, en daarna het “Careful With That Axe, Eugene”, “Echoes”, “One of these Days” en “Set the Controls for the Heart of the Sun” gevolg.

Nou, hierdie is die groot moere. Mens moet speling laat vir die klankgehalte wat mens gewoonlik met roofopnames assosieer, maar hier is die gehalte baie hoog, en die konsert klink asof iemand die Floyd met terpentyn in hulle se jiste gesmeer het. Die weergawe van “Careful With That Axe, Eugene” word beskou as die beste konsert-uitvoering wat die groep ooit daarvan gelewer het. Dit bevat ook die enigste konsertvoordrag (voorskrou, eerder!) van “Several Species of Small Furry Animals Gathered Together in a Cave and Grooving with a Pict”, die pseudo-Skotse gedig wat Roger Waters op Ummagumma (1969) voorgedra het.

Dit is skrikwekkend, om die minste te sê, en laat die liedjie groei tot iets wat mens aanhoudend en kliphard wil luister. Net vir die pret, hier is die lirieke:

Aye an' a bit of Mackeral settler rack and ruin
ran it doon by the haim, 'ma place
well I slapped me and I slapped it doon in the side
and I cried, cried, cried.

The fear a fallen down taken never back the raize and then Craig Marion,
get out wi' ye Claymore out mi pocket a' ran doon, doon the middin stain
picking the fiery horde that was fallen around ma feet.
Never he cried, never shall it ye get me alive
ye rotten hound of the burnie crew. Well I snatched fer the blade O my
Claymore cut and thrust and I fell doon before him round his feet.

Aye! A roar he cried frae the bottom of his heart that I would nay fall
but as dead, dead as 'a can be by his feet; de ya ken?

Daarna is daar ’n aangepaste weergawe van “Echoes”. Die hele konsert het skynbaar gespog met ’n avant garde-balletgeselskap wat hul ding doen, en die liedjie is daarvoor effe getoor. (As mens jou ore spits, hoor jy hoe Roger Waters met die gehoor skerts deur dit aan te kondig as “Looking for the Knotholes in Granny’s Wooden Leg” – die titel waaronder “Echoes” in 1970 “saggemaak” is in konserte.)

“One of These Days” is absoluut oorweldigend. Meer as nege minute lank en as mens mooi luister, kan jy hoor hoe David Gilmour se kitaarklanke deur die klankingenieur rondom die gehoor hardloop, met Rick Wright se orrel wat ook in die saal beweeg, van kant tot kant, soos die liedjie se klimakse vereis.

Die konsert sluit met dertien minute van “Set the Controls for the Heart of the Sun”, wat nes “Careful with that Axe Eugene” ’n skouspelagtige vertolking kry.

Nou, ek sou nie hieroor geskryf het as dit nie daarvoor was dat mens op YouTube van die opnames te hore kan kry nie. Geniet dit. (As jy die regte apps tot jou beskikking het, laai dit af en speel hulle teen top-volume deur jou televisiestel.)

Nota: Daar is ook ’n variasie van The Great Gig in Böblingen beskikbaar – The Return of the Sons of Nothing. Die gehalte daarvan laat heelwat te wense oor.

Videogrepe:

(Careful with that Axe, Eugene, Echoes, One of these Days)

(One of these Days)

(Careful with that Axe, Eugene)

(Echoes – Looking through the Knotholes of Granny’s Wooden Leg)

(Hele konsert)

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top