pik pik pik

  • 0

[vir emma: sy word by ‘n inrigting vir blindes in umtata versorg]

met jou geboorte
het ek 'n vrolike geel emmer
by joe se spaza shop gekoop
want my hart was geel
emma sou jou naam wees
jou pa het gesê
as hy soggens sak om goud
in ander beursies in te delf praat hulle
die afrika-kak en name en culture
maak nie ’n leë maag vol nie
en god se reënboog sê hy sit in die wolke
die lig van ’n reënboognasie breek moeilik netso
deur die droogheid van mense se harte
dalk deur trane as ons oor mekaar kan huil

die mense van die united nations
se karre is binne 'n vreemde plek se koud
asof hulle van ons warm son nie wil weet
hulle ry nonchalant diep spore
deur werfpatrone wat ek moeisaam
met sand en besem weef
die tolk sê hulle het gehoor van emma
hulle sê ons is "rural" en ons is eintlik hulle "roots"
wat de fok weet hulle nou eintlik
van my en emma en dié siekte wat hulle
met rooi strikkies wil toebind
"rural" is ’n lewenslange vonnis 
van dood, honger, en dors wat demokraties regeer
in die beloftes van n kruisie by die anc-vlag
wat eens hoop en drome was
en die tamaties wat ons langs die pad smous
lyk almal dieselfde
nes die armoede waaruit ons ons wil verkoop
en ek dink meneer koop asseblief myne
dat ek vir my emma 'n stukkie son kan koop

ek moes gaan water haal my kind 
vir jou het ek soos elke dag
in die skuilte en onderstebo koelte
van die kremetart maak lê
die note van die swartkraaie se roep het
borrelende bloed geword, die spruit ’n vloed
toe jou stem skor deur die voetpaadjie breek
maria se mal hoenders
sou op die dag in jou skuilte skrop
jou oë sou vir hulle pik pik pik
net nog 'n paar mieliepitte word

ek het 'n swart emmer gekoop
want my hart is swart
soos die kleure waarmee jy
blind na lewe en reenboë gaan tas

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top