Wyle prof Bun Booyens, of oom Bun, soos ons hom almal geken het, het in 1995 met Pieter W Grobbelaar se aftrede vir hom ’n sprokie geskryf getitel “’n Sprokie vir Pieter”. Trou aan sy skerp humorsin het oom Bun dit begin met: “Goue lint, sy sprokie begint …” – ’n handskoen-pas aanhef vir ’n sprokie oor ’n legende. Booyens het die halfpadmerk aangedui met die toepaslike opmerking: “Goue kalf, sy sprokie is half …” en afgesluit met die ietwat onverwagte “Goue fluit, sy sprokie is nog nie uit …” Nou moet ons sê “… sy sprokie ís uit”, maar wat ’n boeiende verhaal was dit nie!
Pieter Grobbelaar was die man wat begrippe soos sprokie, legende, mite, sage, belewenis-vertelling en talle ander tipes volksverhale vir ons gedefinieer het, of herdefinieer het om dit toepaslik te maak op die Afrikaanse volksvertelling. Dit is seker dié deel van die vakgebied kultuurgeskiedenis waar sy grootste bydrae lê. Sy doktorale proefskrif, “Die volksvertelling as kultuuruiting met besondere verwysing na Afrikaans”, is ’n merkwaardige akademiese werk en verdien baie groter erkenning as wat dit die afgelope 30 jaar ontvang het. Dit is ’n lywige (1 000 bladsye), diepgaande ondersoekende werk wat die volksvertelling wêreldwyd analiseer, verskeie teorieë ontleed en dan die Afrikaanse volksverhaal daaraan meet.
As aanloop tot die doktorale studie het Grobbelaar sedert die vroeë 1960’s losstaande volksverhale en later bundels gepubliseer. Hy het volksvertellings uit die volksmond opgeteken en oorvertel, ander het hy geskep, gebaseer op volksverhaaltemas, en nog ander het hy verwerk uit die volksverhaalskatkiste van ander lande en tale (soos byvoorbeeld die Uilspieëlverhale en die Swaaplanders). Hierdie boeke, en dan veral die bundel Mooiste Afrikaanse sprokies, het hom ’n huishoudelike naam in die meeste Afrikaanse huishoudings gemaak.
Pieter Willem Grobbelaar is op 25 Desember 1930 in die Vrystaat gebore en het ook daar skoolgegaan, gematrikuleer en aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat studeer, waar hy die grade BA en MA in die wysbegeerte behaal het. Sy beroepsloopbaan het ’n breë spektrum gedek, vanaf onderwyser tot by koerantjoernalis, omroeper-regisseur in die uitsaaiwese, uitgewersredakteur, universiteitsdosent en skrywer.
Sedert sy afsterwe op 19 Januarie 2013 is daar baie gesê oor Grobbelaar se bydraes tot die Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur; oor die meer as 200 publikasies waarvan hy skrywer, medeskrywer, vertaler, verwerker, samesteller of redakteur was; asook oor sy werk as omroeper en uitgewer. Maar ek wil die fokus plaas op sy werk as kultuurhistorikus, en hier kan die woord “fenomenaal” met vrymoedigheid aangewend word.
As daar gekyk word na die bestudering van kultuurgeskiedenis in die twee hoofstrominge, naamlik die nietasbare en die materiële kultuur, dan is Grobbelaar se veelsydigheid in die vak duidelik waarneembaar, deurdat hy in albei hierdie rigtings sterk leiding gegee het. Afgesien van sy werk rondom die volksvertelling waarna reeds verwys is, het hy substansiële navorsing gedoen oor die volksgeloof, wat in Boerewysheid (1977) gepubliseer is. Maar dit is veral sy werk oor die volksliedjie wat vermelding verdien. Hy het nie alleen honderde Afrikaanse volksliedjies uit die volksmond opgeteken, laat transkribeer en sodoende bewaar nie, maar het ook navorsing daaroor gedoen en sy bevindinge gepubliseer. Vir eers was daar die reekse radioprogramme wat vir die SAUK saamgestel en uitgesaai is. Dit het ’n tweeledige doel gedien, naamlik om luisteraars aan te moedig om nog liedjies vir hom te stuur en om dit wat hy reeds versamel het, met luisteraars te deel. Vanaf 1978 tot 1995 het hy ses reekse van 13 programme elk, getiteld Die volk as digter, uitgesaai. Dit was keurige programme propvol interessanthede oor waar en by wie die liedjies opgeteken is, en inligting oor die herkoms daarvan, en die liedjies is deur een of meer sangers voorgedra. Sy publikasies oor die volksliedjie sluit onder meer ’n stewige lys vaktydskrifartikels in, sowel as die boeke Die rooilappieskombers. Volkskwatryne (1997); Kommandeer! Kommandeer! Volksang uit die Anglo-Boereoorlog (1999); Hessie Kwedet. Dagga-, dop-, dryf- en verwante ryme (2002); en Die kinders van konings. Volksballades – tekste en bladmusiek (2009). Die leiding wat hy gegee het ten opsigte van navorsing oor die volksliedjie in Suid-Afrika was baanbrekerswerk en van onskatbare waarde.
Wat die materiële kultuur betref, het Pieter Grobbelaar hom ingestudeer in die herkoms, stylgeskiedenis en terminologie van die Suid-Afrikaanse boukuns en meubelkunde. Benewens ’n hele aantal artikels wat hy hieroor geskryf het, het hy talle studente opgelei om hierdie spesialis-terreine binne die dissipline van kultuurgeskiedenis akademies te benader en te vertolk, en sodoende ’n reuse-bydrae as kultuurhistoriese konsultante te lewer.
Nog ’n aspek van die vak waarin hy baanbrekerswerk gedoen het, was die hantering van mondelinge oorlewering en onderhoudvoering. Hy en sy mededosente het jaarliks die nagraadse studente op veldwerktoere geneem en hulle deeglik opgelei in die metodiek van veldwerk, met die klem op die teoretiese vooraf-kennis wat nodig is om mondelinge oorlewering vas te lê. Toe die res van die land, en veral van die akademiese historiese gemeenskap, wakkerskrik en begin bewus word van sogenaamde “oral history” as ’n onontbeerlike bron vir historiografie, was Grobbelaar en sy departement al vir meer as 25 jaar daarmee besig. Hy was baie deeglik bewus van die verganklikheid van volkskunde wat saam met die draers daarvan uitsterf tensy dit op wetenskaplike wyse vasgelê en verwerk word. Daarom is die resultate van al die veldwerk in verskillende vorme bewaar in ’n departementele argief wat later bekend geword het as die Sentrum vir Kultuurhistoriese Navorsing – ’n nalatenskap waarvan die waarde nie berekenbaar is nie.
’n Huldeblyk moet sekerlik hulde bring aan die volle persoon, daarom moet daar ook verwys word na die “verskriklike” aspek van Pieter Grobbelaar – die verskrikking wat hy vir menige student was en wat tot sy bynaam “Hägar, die Verskriklike” gelei het. Dit was seker maar in die meeste gevalle meer blaf as byt en ’n gestanddoening van die bynaam, maar dat hy nie baie geduld gehad het met swakheid, luiheid en agtelosigheid nie, dit is wis en seker. Soms het die verskrikking tot uiting gekom in ’n onredelikheid wat almal rondom hom vir tyd en wyl laat wegkruip het! Maar as dit oorgewaai het, was Hägar weer rustig en kon almal uitkruip en kultuurgeskiedenis kon floreer …
Met sy reuse-intellek, ongelooflike algemene kennis, droë humorsin en bowenal sy diepgaande vakkennis het Pieter W Grobbelaar nie net boeke en artikels geskryf nie, maar ook jongmense help vorm wat op húlle beurt weer bydraes kon lewer, en sodoende ’n rimpeleffek uitgestuur wat nog lank sal bly uitkring.
Kommentaar
Ek waardeer PW Grobbelaar se werk verskriklik baie.