Pieter Pieterse (1936–2002)

  • 0
Foto: verskaf

Sêgoed van Pieter Pieterse

“Ja, hy lê wyd, hierdie Weskussee van ons. En net so wyd lê die stukke praat wat hierdie wêreld se mense aanmekaarhou.”

“Ek versamel nie antieke nie, was nog nooit oorsee of op universiteit nie en my huis is sommer ’n grasdakplekkie in die bos. Maar ek is lief vir die buitelewe en die eensaamheid van ’n skrywer se beroep ... en ek is lief vir my honde. Die liefste van alles het ek my medemens met al hul nimmereindigende snaaksighede waaroor ek kan skryf.” (Vaderland, 15 Januarie 1980)

Hoe ontstaan sy stories? “Terwyl ek werk, kry ek idees wat ek in ’n spesiale lêer aanteken. Die storie word verder bepaal deur dit wat die meeste in my gedagtes lê en die een wat die beste gaan verkoop. ’n Mens moet darem kan leef ook.” (Hoofstad, 21 Februarie 1981)

“In die veld word die storie gebore. Ek kan g’n soos ander mense agter ’n lessenaar sit en goeters uitdink nie – my kop steek vas.” (Rapport, 11 Julie 1982)

“Om te skryf was in ons huis amper soos asemhaal.” (Beeld, 16 April 1983)

Oor Torrabaai: “’n Wonderlike wêreld, die woestyn. ’n Tyd wat ons altyd sal onthou en nooit weer terug sal kry nie. Dis ’n plek wat jou gelyk maak, wat jou nooit weer laat los nie. ’n Plek waar jy die kans kry om die nederige dingetjies raak te sien, waar elke ou dingetjie ’n storie oplewer.” (Rapport, 15 Mei 1988)

“Die lekkerste lekker is om te skryf omdat dit jou gelukkig laat voel. Hoeveel mense is gelukkig? Geluk het ’n duur prys. Vir die een ou beteken dit om binne ’n maand ’n miljoen rand te maak. Vir my beteken daardie miljoen niks, wat sal ek daarmee maak as ek alles het wat ek wil hê. Gee my net iemand om lief te hê, wat op ’n stil, egalige manier ook vir my lief is.” (Rapport, 15 Mei 1988)

Wat is die lekkerste van dié soort vrye bestaan? Jenny: “Dat ons so na aan die natuur kan wees. Pieter gaan amper dood as hy nie weet of dit hoogwater of laagwater is nie, of dit volmaan of nuwemaan is nie.” Pieter: “Dat jy kan weghardloop as die moeilikheid kom! Die natuur gee ’n mens ’n goeie verklaring vir die bedonderdheid in jou kop. As jy beneuk voel, weet jy dit is oor dit volmaan is.” (Vlieënde Springbok, Mei 1993)

Wat is die slegste van die vrye bestaan? “’n Mens moet geen illusies hê dat so ’n oorgang sonder hartseer of trane is nie. Dis maar ’n lossnyery. Dis nie asof ’n mens dinge wat aan jou vasgegroei is, sommerso van jou kan afstroop nie.” (Vlieënde Springbok, Mei 1993)

Was Jenny een van die beste dinge wat met hom gebeur het? “Gewis. Maar dit bring juis ’n kwetsbaarheid, ’n weerloosheid. In so ’n mate dat ek partykeer bang word en dink ek moes haar liewer nooit gehad het nie.” (Sarie, 27 September 1995)

Waar lê sy godsdiensoortuiging? “Enigiemand wat in die natuur lewe, moet ten minste onder die oorweldigende indruk kom van ’n Godheid. ’n Verskriklik onbegryplike Godheid. Jy lewe met daardie besef saam. Al het Hy nie vir jou gestalte nie, sien jy Hom elke dag in so baie dinge.” (Sarie, 27 September 1995)

“Die skrywery was ’n obsessie. Want as ek nie skryf nie, dan loop alles vir my verkeerd. Ek raak sommer kwaai en ontevrede met myself.” (Sarie, 27 September 1995)

“Ek is nie bang vir die dood nie. Hoewel ek nie graag nou [1995] sou wil doodgaan nie. Maar ek is bang vir hulpeloosheid en siekte.” (Sarie, 27 September 1995)

Hoe sou hy homself beskryf? “Naïef en emosioneel. Ek kan my vreeslik inlewe in goed. Ag, ek kan my doodhuil oor enige ding. Ek vertrou mense maklik; ek hoop nie ek verloor dit nie.” (Sarie, 27 September 1995)

Uit “Vandisiedag”: “Elke mens behoort op ’n dag of ’n week of ’n maand – of twee jaar – te gaan sit om aan homself rekenskap te gee, om binne in te kyk en uit te vind wat dit is wat regtig saak maak. Elke mens behoort ’n Tietiesbaai te hê. Want ons lewe net een maal.”

Sy winter-ete: “Wintertyd ... wanneer ’n jong jagter vriesvroeg met sy oupa se Lee-Metford-geweer staan en luister na die pfê! pfê! van ’n rooibokram wat sy ooie vir die paartyd in die kalkrantjies bymekaar jaag. Dis ook die tyd van die ‘binnegoedjies’ met ’n dik sous – die lewer in blokkies gesny, die hart en niertjies in ringetjies, die milt in repe. Met repies varkspek op ’n koolstoof gebak, dan liefderik oordek met die sousie om nog ’n bietjie te prut. Eenkant op die stoof, ’n potjie slap pap wat af en toe ‘poef’ sê onder die deksel.”

“Om te skryf is nie vir my ’n stokperdjie of ’n manier van broodwinning nie – dit is vir my ’n noodsaaklike manier van lewe. Daarom wag ek nie op inspirasie om te skryf nie, ek is gedurig besig om te kommunikeer met die ‘groot goed’ wat binne in my om voorrang stoei.” (SA Publisher and Bookseller, September 1985)

“Ek erken dat ek met ’n probleem sit wat my lewenswyse betref, omdat dit soveel verskil van my lesers in die stedelike gebiede. Maar ek sien nie kans om my lewe te verander nie. Ek is nie geestelik toegerus om van nuuts af my spiere hard te maak vir die wêreld nie. Daarom poog ek eerder om die leser in my lewe as natuurmens in te bring. Want ophou skryf, wil ek nie.” (Oosterlig, 13 Junie 1988)

Gebore en getoë

Pieter Pieterse is op 9 Junie 1936 op Pietersburg in die destydse Noord-Transvaal gebore. Hy was die oudste van vier kinders van Ferdinand Petrus Arend en Johanna Amerentzia Page. Sy ma, Emily, was ook ’n bekende skrywer van veral Afrikaanse jeugverhale. Pieter se pa is in ongeveer 1994 oorlede en sy ma in 2004 op 87-jarige ouderdom. Sy broer en susters is Leah en Marietjie en Danie, ’n laatlammetjie.

Pieter het die Soekmekaar- en Daviesville-laerskole bygewoon, en in 1949 het die gesin na die plaas Oporto naby Messina verhuis. Hy is na die Hoërskool Pietersburg, waar hy in 1954 sy matriek gemaak het. Hy was ’n uitblinker op die gimnastiektoestelle en die rugbyveld en in sy matriekjaar het die skool die Administrateursbeker verower. In 2005 is hy postuum vereer as die skool se “Pietie van die jaar”.

Sy ma het oor hom as kind vertel dat hy “besonder ernstig en vol vrae [was]. Na elke vraag het hy my intens sit en aankyk terwyl hy vir die antwoord wag wat hy dan tydsaam en ernstig oordink het.” Sy vertel verder dat hy ’n alleenkind was wat in ’n ander wêreld geleef het – “’n veldkind wat meer aansluiting by die natuur en by sy honde gehad het as by mense. Gedurende sy hoërskooljare was hy so verknog aan die plaas, Oporto, naby Messina, dat hy net vir die vakansies geleef het. ’n Week voor die skole heropen, het hy al stil geraak en die meeste van die tyd, ook snags, in die veld deurgebring. Die dag voordat hy moes teruggaan koshuis toe, het hy donkerlaat by die huis gekom, nadat hy ’n bok geskiet het, met dié opdrag: ‘Hy lê daar, Pa, daar teen dáárdie rantjie, by dáárdie braksloot, naby dáárdie boom.’” (SA Publisher and Bookseller, September 1985)

Sy suster Marietjie het ook onthou dat hy altyd ’n hond gehad het. “Hy het selfs een skelm aangehou in die koshuis – in die koelkamer. As Pieter dan aankom met die kos wat hy van die tafel af gesmokkel het, staan die hond reeds met die kastrol waaruit hy gewoonlik eet, in sy bek en wag. Hy het dié hond, Kastrol, ongelooflike toertjies geleer. Hy kon selfs motorfiets ry tot groot vermaak van almal wat die twee teëgekom het. Maar een vakansie het Kastrol gif ingekry en na ’n vreeslike lyding is hy dood. Pieter het die kolossale ou hond op sy skouers getel en met hom die veld in gestap. Laat aand was hy eers terug – sonder ’n nael aan een van sy vingers. Hy het vir Kastrol ’n graf met sy hande teen die rant gaan grawe.” (SA Publisher and Bookseller, September 1985)

Dit is op Oporto waar sy liefde vir die natuur wat later in sy werke weerspieël word, ontwikkel het. As kind het hy ook dikwels saam met sy pa gaan jag – ervarings wat ook hul neerslag in sy werk gevind het.

Verdere studie en werk

Na matriek op Pietersburg het Pieter se lewe verskeie draaie geloop. Hy wou altyd in die bos agter die Soutpansberg gaan woon en is ná skool soontoe – oorspronklik net vir twee weke om te besluit watter soort werk hy wil doen. Hy het uiteindelik vir vier jaar daar gebly. Daarna het hy by die polisie aangesluit en toe ’n versekeringsagent geword wat van dorp tot dorp gelewe het. Hy het later bemarkingsbestuurder van Sanlam in Bellville geword.

Hy het in die vroeë sestigerjare met Annetjie, ’n onderwyseres, getrou en vier kinders, Madi, Emsie, Ferdie en Annetjie, is uit die huwelik gebore. Hy het ook ’n dogter, Shirley, uit ’n jeugverhouding. Pieter en Annetjie is in 1984 geskei en Ferdie het in 1996 in ’n motorongeluk omgekom.

Pieter se eerste tydskrifverhaal, “Jong speurders”, is in 1959 in die Jongspan gepubliseer. In 1964 word Smokkelaars in die nag by Nasionale Boekhandel Beperk uitgegee. Wraak van die dagbreek, Tussen twee vure, Berg van geheime en Onrus op Bergville word almal in die volgende vyf jaar gepubliseer.

In 1974 het hy by Sanlam bedank om hom voltyds op skryf toe te lê – dit wat hy die heel graagste wou doen. Hy het vir hom ’n plasie in die Soekmekaar-distrik in die Bosveld gekoop, en Kom-tot-rus was vir baie jare sy basis. Bosveldhotel en Bosveldwinkel het hier hulle beslag gekry. Pieter het honde op die plaas geteel: Rottweilers en Dobermanns. En dit was met hierdie honde dat hy daagliks kilometers gaan draf het om sy gedagtes en woorde agtermekaar te kry. Die mense van die distrik kon nooit heeltemal gewoond raak aan hierdie alleenmens wat sy rusteloosheid en ’n twintigtal honde vat en draf en draf asof hulle nooit gaan ophou nie. Pieter het aan Pierre van Wyk vertel (Rapport, 11 Julie 1982) dat dit net nie anders kon nie. “Dit móés gebeur. Ek kon nie langer op twee stoele sit nie. En ek het die rustigheid van die plaaslewe nodig om te skryf. Dis waarom ek die stad verlaat het.”

Nadat Pieter se eerste huwelik in 1984 ontbind is, het hy na Tietiesbaai aan die Kaapse Weskus getrek. Hier het die televisiereeks Suidpunthotel sy loop gekry, en ook ander seeverhale, soos Stormsee oor Skoonbergbaai, wat in 1980 as wenner aangewys is in Tafelberg en Jongspan se jeugverhaalwedstryd.

Vandat hy na Tietiesbaai verhuis het, het Pieter nie gou weer vir hom ’n tradisionele huis aangeskaf nie. Sy rooi Ford kon sy “Spookhuis”, soos hy sy woonwa genoem het, oral heen sleep waarheen Pieter wou gaan.

Dit was op Tietiesbaai waar Pieter sy “Ingelsman”, Jenny, ontmoet het. Hy het aan Marita van der Vyver vertel (Sarie Marais, 26 Maart 1986): “Die meisiekind met die swart kop het elke Donderdag so met die pad van Paternoster af aangekom. Sy het met ’n munisipale bakkie gery, ’n paar werkers afgelaai om die vullisdromme leeg te maak en die kampeerterrein skoon te maak, en dan hier agter oor die bult verdwyn.” Pieter was uit die aard van die saak nuuskierig oor hierdie gereelde besoeker en het op ’n dag besluit om te gaan kyk wat sy agter die bult maak. “Dis nou nadat ek my op ’n keer skoon nerf-af geval het soos ek haar van die rotse bekyk het.”

Jenny was op daardie stadium die tuinboukundige van die Vredenburgse munisipaliteit en het hierdie weeklikse toggie na Paternoster baie geniet. Terwyl sy vir die werkers gewag het, het sy gewoonlik die veld ingestap. Die dag toe Pieter haar gaan soek het, het sy toevallig in die bakkie bly sit om voëls deur die verkyker dop te hou.

Dit was nie vir die twee moeilik om te begin gesels nie. Wat Pieter van voëls geweet het, het hy deur die jare in die buitelug geleer – soos al die ander dinge waarvan hy baie geweet het: die veld, visvang, stap, die see, kreef duik, perlemoen uithaal. En dit was gou duidelik dat Jenny dieselfde soort mens is. Dinge het daarna vinnig gebeur. Pieter het egter gevoel dat hy te oud vir Jenny is – sy was meer as 20 jaar jonger as hy – maar hy wou meer en van haar sien, totdat hy op 10 Oktober 1985 besluit het: tot hiertoe en nie verder nie. Hy het na Vredenburg gery om haar te vertel hoe hy oor haar voel, maar sy was nie by die huis nie. Hy het toe maar ’n briefie gelos: "Wil jy jou nie by ’n moeilike ou man kom aansluit nie? Kom na Tietiesbaai. Ek verlang na jou."

Terug op Tietiesbaai het hy gewag, maar Jenny het nie opgedaag nie. Laatmiddag het hy besluit om na Vredenburg te ry. Jenny, wat die dag by familie deurgebring het, het by haar huis opgedaag, die briefie gelees en in haar kar gespring om Tietiesbaai toe te ry. “Net daar op die draai by die ligtoring het ons in twee stofstrepe by mekaar verbygejaag. Toe was dit soos ’n toneel uit ’n moewie. Ons trap wild rem, ons spring uit, en Jenny kom aangehardloop. Toe word ons verloof met die ringetjie van ’n koeldrankblik.”

Twee maande later is hulle op Tietiesbaai in die Spookhuis getroud, met net die predikant, Patrick Petersen (ook ’n skrywer), en twee vriende daar as getuies. Jenny se trouruiker was ’n pers veldblom wat Pieter vir haar agter die woonwa gepluk het. Die trouvoertuig was die skuit waarmee hulle ná die plegtigheid gaan kreef uithaal het vir hulle huweliksmaal.

Pieter was toe alreeds ’n huishoudelike naam in Suid-Afrika met sy Bosveldhotel en Bosveldwinkel wat as televisiereekse uitgesaai is. Sy tydskrif- en jeugverhale het sy reputasie as skrywer verstewig, soos met die publikasie van Anderkant die groot rivier (1973), Nag van die tarentale (1974), Ou Kanniedood kom huis toe (1979) en Stormsee oor Skoonbergbaai (1981) – almal jeugwerke met die natuur en diere as oorheersende tema, sowel as ’n geslaagde spanningselement. Nag van die tarentale is ook as radiovervolgverhaal uitgesaai. Ander radiovervolgverhale sluit in Kom tot rus (1975), Goggorop en Vlakpatrys (1979), As die gety draai (1981) en Die laaste geveg van Baasman Benade in 1987.

Nag van die tarentale vertel die verhaal van Kobus en Lindie wat in die hande van ’n misdadiger en sy dwelmverslaafde vriendin beland. Die twee kinders word gedwing om saam met die voortvlugtendes ’n tog van 400 kilometer na vryheid te onderneem. Hulle word agternagesit deur Kobus se pa en Ou-sersant Bernard van Graan. Elsa Nolte (Hoofstad, 18 Oktober 1974) skryf oor die boek: “Die karakters word binne die bestek van 83 bladsye gestroop van baie waan en selfs ydelheid tot die essensiële van menslike bestaan.” Volgens Anna van Zyl (Volksblad, 26 Februarie 1975) word die viertal se ontberings realisties uitgebeeld, maar sy het gevoel dat die tog te lank uitgerek word.

Ou Kanniedood kom huis toe is eervol vermeld in Sarie en Tafelberg se verhaalwedstryd in 1978 in die afdeling vir jong volwassenes. Dit is ’n avontuurverhaal met ’n byderwetse agtergrond: Baasman Benade, wat met sy ou groen vragmotor (“Kanniedood”) wapens vir Unita in Angola aanry, word voor die uitdaging gestel om vyf vlugtendes – ’n non en vier kinders – uit die gevaargebied en oor die grens te kry. ES skryf in Die Burger dat geweld, intrige, noue ontkomings en ’n goeie skoot toeval na die slot voer, wat baie goed, sonder melodrama, hanteer word. (Die Burger, 13 Desember 1979)

Die storie van Hendrik Johannes van Deventer, algemeen bekend as Kleinskip, word in Stormsee oor Skoonbergbaai vertel. Hy weet nie wie sy ouers is en waar hy gebore is nie. So lank as wat hy kan onthou, sorg Skipper vir hom en dit het hom nog nooit gepla nie – totdat die vakansie aanbreek wat vir Mart terugbring Skoonbergbaai toe saam met ’n vreemde seun, Roef.

Rita Gilfillan het die verhaal in Vaderland (26 November 1981) as spannend beskryf. Die skrywer het dit baie goed reggekry om die karakters te laat lewe – “nie deur beskrywings of deur wat hulle sê nie, maar deur wat hulle daadwerklik doen”.

Vir Elsabe Steenberg is die boek vir die ouer leser bedoel. Die leser kan ook sien dat die skrywer ’n intieme kennis van die see het. Hy het ook daarin geslaag om die atmosfeer van die see goed weer te gee. (Volksblad, 25 Junie 1981)

Pieter en sy honde draf op Soekmekaar (foto: verskaf)

Die televisiereeks Roep van die visarend is in 1982 in boekvorm deur Juventus uitgegee met ’n herdruk in 1986. Die uitgewers het die storie só beskryf: “Toe Kleinloek Bester van die Manyengeti gekom het om by sy pa, Viervoet Loek, te kom bly, het avontuur en spanning uit die staanspoor sy metgesel geword. In die bosse van die Oos-Transvaal ontmoet hy die legendariese jagter, Modzumi Albassini, en sy rabbedoedogter, Toeks. Die pragtige Estelle kom ontwrig egter Viervoet Loek en Modzumi se lewens en die boewe onder leiding van Boel Bredenkamp kom krap ook dinge verder om. Die skrywer slaag daarin om in boekvorm die spanning deurentyd hoog te laai en prikkelende kinkels aan die verhaal te gee wat nie altyd op televisie gesien en ervaar is nie.”

Met die verskyning van Geheim van die reënwoud in 1984 het Pieter hom gevestig as een van die voorste Afrikaanse jeugverhaalskrywers van sy tyd. Geheim het die eerste prys in die HAUM-groep se Prys vir Jeuglektuur in 1984 ontvang.

Twee verhale word langs mekaar vertel: dié van oupa Sagarias, ’n kluisenaar, en sy kleinseun Saag, en dan ook die verhaal van die bosvarkgesin. Kleinsaag se pa laai hom by sy oupa af na sy ma (Sagarias se dogter) se dood. Na sy vrou se dood en sy dogter se “verraad” deur te trou, het hy hom afgesonder, omdat hy geglo het dat as ’n mens niks het nie, jy ook nie iets kan verloor nie.

Sagarias is aanvanklik nie baie beïndruk met sy kleinseun se teenwoordigheid nie, maar raak later tog lief vir hom. Die storie handel wesenlik oor Kleinsagie se verhouding met die woud, met die diere, met Stientjie, met sy oupa, en lei uiteindelik tot die situasie waar hy voor die onvermydelike gegewens van lewe en dood te staan kom wanneer sy hond deur die bosvark doodgemaak word. Die boek is ook vir skole voorgeskryf.

In sy motivering vir die toekenning van die HAUM-prys het die direkteur van die Instituut vir Navorsing in Kinderlektuur, Carl Lohann, gesê dat Geheim van die reënwoud ’n besondere doel dien, naamlik om die leser en die natuur weer by mekaar uit te bring. Hy sê verder dat die skrywer op ’n besonderse wyse daarin slaag om die innerlike bloot te lê. “Nie net die karakters leef nie, maar ook die natuur word iets lewends, ’n lewende mag in die lewe van die mens. Die skrywer is ongetwyfeld ’n kenner van die natuur en ’n liefhebber van die Oos-Transvaalse bergwêreld. Die leser kom onder die indruk van die romantiese van bos en berg, van reën en mis. [...] In hierdie roman voeg die skrywer mens, dier en natuur saam en toon hy die uitwerking van die een op die ander. Sodoende belig hy nie net die mooi kant van die lewe – die vreugde, die opwinding, die liefde – nie, maar ook die negatiewe kant – die pyn, die teleurstelling, die wreedheid. Met hierdie werk het Pieter Pieterse bewys gelewer dat hy ’n woordkunstenaar is wat die lewe oortuigend kan daarstel, en dan doen hy dit so dat die lewe ook vir die tienerleser ware betekenis kry.” (Klasgids, Augustus 1986)

In 1977 is Kom tot rus deur Elmo de Witt-films verfilm, asook Mooimeisiesfontein in 1978. Zack du Plessis-films vervaardig Bosveldhotel: die moewie in 1985. Pieter was ook ’n gereelde draaiboekskrywer vir televisie, en lewer onder andere Bosveldhotel en Bosveldwinkel, Roep van die visarend, Momvula, kind van die reën en Suidpunthotel.

Met die verskyning van Tietiesbaaikos: ’n werfjoernaal in 1985 het Pieter ook as ’n storieverteller en kosmaker by uitnemendheid bekendheid verwerf. Die werfjoernale is vol storietjies en wenke vir kosmakers, kampeerders, hengelaars “en ander lawwe, hartseer of soekende mense”. Na drie jaar op Tietiesbaai en nog ’n werfjoernaal, Baai, baai Tietiesbaai, is Pieter en Jenny na Torrabaai by die mond van die Uniabrivier aan die Skedelkus, waar Pieter sy derde werfjoernaal, Skedelkuskos, geskryf het. Al drie joernale het hulle ontstaan gehad op die ”monster”, soos Pieter sy woordverwerker genoem het wat elke dag teen omtrent halfsewe aan die gang gesit word. Dit is deur ’n kragopwekkertjie aan die gang gehou. Teen laatmiddag was Pieter klaar geskryf vir die dag en het hy en Jenny ontspan.

Anna van Zyl het in Volksblad hierdie werfjoernale van Pieter só beskryf: “Dit is stukkies unieke kultuur wat vasgelê word en waarin die leser ’n beeld kry van ’n klein lewe in ’n groot lewe wat sinvol en vrolik vergestalt word met Pieterse se direkte verteltrant, sy plastiese beelding met telkens ’n skreeusnaakse insident om die vertellinge pure pit te maak. “

George Weideman was van mening dat dit geselsboeke is wat jou in die eerste instansie laat vergeet dat daar issues is om aan te spreek. “En dié soort verslae van ’n staning is nodig, omdat Pieterse tog daarin slaag om die leser se gewete oor ons lewende – en tog geleidelik sterwende – aarde wakker te maak. ’n Mens wens Pieter Pieterse nog baie stanings toe.” (Die Burger, 21 Desember 1989)

Volgens Anna van Zyl is die sketse in Baai baai, Tietiesbaai heerlik om te lees en “sielsverkwikkend – so fris en borrelend, so sag in die humor, so vol liefde. Nooit laf nie, wel vrolik, sprekend van menseliefde, sag in die tekening van tekortkominge en flaters, tesame met die wysheid van die natuur – dit alles maak die boekie ware leesplesier.” (Volksblad, 1 Februarie 1986)

Jenny is ook die vertaler van veral Pieter se jeugboeke, soos Geheim van die reënwoud (1984 en etlike herdrukke daarna) wat as The misty mountain (1989) vertaal is. Day of the giants (1986) is die vertaling van Dag van die reuse. Track of the dark dog, die Engelse vertaling van Die lang pad, verskyn in 1988.

In 1988 is Pieter se jeugverhaal Die pad na die see bekroon met die goue Sanlam-prys vir Jeuglektuur. Dit speel af teen die agtergrond van die Trichardt-trek van 1835–1837 en vertel die verhaal van Pieta Trichardt en Danster wat die vee moet oppas terwyl sy pa, Louis, se trek in die Soutpansberg oorstaan voordat hulle die pad see toe aandurf. Die wedywering tussen hom en Willem pla Pieta, en ook sy gevoelens teenoor Sarie en Hanna. Dan is daar ook nog die groot maanhaarleeu, Mohale, wat sy gedagtes oorheers. Toe Pieta se grootmaakhanskalf een nag doodgebyt word, vat hy en sy hond die spoor.

Marina le Roux het in Die Burger (21 Julie 1989) geskryf: “Soos in die beste legendes is die taal en styl van hierdie boek sober, sonder pretensie, maar gelaai met emosie en vitaliteit. Pieterse skryf met robuuste drif sonder enige toegewings, en dan weer, soos in die gesprekke tussen Pieta en sy moeder, Hanna of Sarie, gepas met deernis en simpatie.

Die pad na die see is ’n meervlakkige, boeiende historiese roman. Dit is as wenner uit 43 manuskripte aangewys en verdien ’n wye leserspubliek.”

Ook Hilda Grobler (Vaderland, 25 Julie 1988) was beïndruk met Die pad na die see. Sy sluit haar bespreking só af: “Pad na die see is uit ’n emosionele hoek gesien, ’n meerdimensionele boek aangesien aspekte van Pieta se emosionele rypwordingsproses op oortuigende wyse verken word. Dit is juis waarin die jeugverhaal se krag lê – en die rede waarom dit die wenverhaal was.”

Pieter se talente het verder gegaan as net skryf. Hy was ’n uitmuntende storieverteller en humoris. Dit het reeds duidelik gespreek uit sy twee Bosveld-draaiboeke. Hy het verder in die harte gekruip van die volk ná sy verskynings op die televisieprogram Spies en Plessie, waar hy met sy kenmerkende halfraambril en sweetband die kykers laat skater het met stories soos die een oor die dominee van Soekmekaar met sy oogprobleem, en knoppe in die keel laat kry het met stories soos die een oor die getroue os, Potberg.

Na anderhalf jaar se staan by Torrabaai het Pieter en Jenny weer opgepak en die pad gevat na Okavango, waar hulle tot vervelens toe hoender geëet het totdat hulle later ’n bootjie aangeskaf het sodat hulle in die Kavangorivier kon visvang. In hierdie ongerepte wêreld het hulle weer nóú met diere soos die olifante saamgeleef. En Jenny het ook talle sketse van die voëls en diere gemaak. In die ses maande waartydens hulle hier gewoon het, was hulle enigste kontak met die buitewêreld een maal per week wanneer hulle deur haas onbegaanbare 4 x 4 country 50 kilometer na die naaste Weermagpos gery het om hulle pos te kry wat die Weermag goedgunstiglik van Rundu af daarheen vervoer het. Telefoonoproepe kon hulle bespreek, maar dit het ure gevat om deur te kom.

Maar teen die einde van 1989 was dit terug Tietiesbaai toe met die twee. 1989 was ’n baie goeie jaar, publikasiegewys, vir Pieter. ’n Keur uit sy werfjoernale, Spookhuiskos, word uitgegee, asook Boude en blaaie en nóg ’n paar Bosveldstories.

Hulle het ’n rukkie op Dasseneiland vertoef, waarna nog ’n werfjoernaal, Dasseneiland: dagboek vir duikers, snoekvangers, seekosmakers en ander, verskyn het. Dit was ook tydens hulle verblyf op Dasseneiland dat Jenny gehoor het dat haar boek Flash flood tot die finale ronde van Sanlam en Tafelberg se Jeuglektuurwedstryd deurgedring het. Dit het uiteindelik die bronsmedalje in die Engelse afdeling ontvang. Die Namibiese Kinderboekforum het dit met goud bekroon. Pieter se inskrywing vir die Sanlam-prys vir Jeuglektuur, Silwer, jakkals van die Namib, is gediskwalifiseer as jeugverhaal omdat die karakters ouer as 12 tot 15 jaar is.

Oor Silwer, jakkals van die Namib het Ia van Zyl geskryf: “Met die gegewe van Silwer, die pragtige Namib-jakkals, se stryd teen die brandsiekte en die honger en haar verbete pogings om haar enigste oorblywende welpie aan die lewe te hou, is Pieter in sy element. Met sy kenmerkende kragtige prosa slaag hy daarin om die ongenaakbare hardheid van Afrika – en van die natuur in die algemeen – in hierdie spannende woestynverhaal uitstekend vas te vang. Die boek word ook die verhaal van die jong veldbeampte Soois Fenske en die Portugese meisie Dala, wie se gesinne slagoffers van die oorlog was. Pieter Pieterse het ’n werklike vermoë om spanning te skep.” (Republikein, 22 Maart 1991)

Vir Riana Scheepers was Silwer, jakkals van die Namib ’n roman met ’n stewige spanningslyn. “Pieterse het met die verhaal van Silwer, die jakkals, en Soois, die grensseun, vir Afrikaanse lesers ’n boeiende roman uit die woestynwêreld gebring. Met die woestynruimte wat hier ter sprake is, kan ’n mens beswaarlik sê dat dit ’n ‘groen’ boek is, maar dit is ’n boek wat sonder twyfel die ekologies-bewuste persoon sal aanspreek.” (Die Burger, 8 Januarie 1991)

Met hierdie verhaal het Pieter die Namibiese Kinderboekforum se goue medalje verower as die beste Afrikaanse prosawerk met ’n Namibiese agtergrond wat gedurende die voorafgaande vier jaar verskyn het.

In Januarie 1991 het Pieter op TV1 as aanbieder van Swerwerskos verskyn. Dit is gebou rondom Pieter se gewilde werfjoernale en is veel meer as net ’n kookprogram. Daar is vertellings, wenke, herinneringe en ook gaste wat saam met Pieter onbekende Weskuskosse en -gewoontes aan die kykers bekendstel. Pieter was maar half huiwerig om die program aan te pak, want vir die eerste keer sedert hulle getroud is, moes hy en Jenny tydens die verfilming van die program ’n ander leefwyse handhaaf. In 1992 is Pieter benoem vir ’n Artes-toekenning, sowel as ’n Star Tonight!-TV-toekenning as beste aanbieder vir Swerwerskos. Sy nuwe program, Boude en blaaie, was in 1992 op die kassie en die resepte is opgeneem in Boskos.

In 1991 het Pieter en Jenny besluit om Namibië hulle nuwe tuiste te maak en vir hulle ’n huis in Hentiesbaai gekoop, maar dit het nie gewerk nie. Pieter het vertel: “Ek kon glad nie aanpas nie. Ek het nooit meer geweet of dit nou hoog- of springgety is nie. Maar ek sê niks daaroor nie, want ek wil nou nie vir Jenny omkrap nie.” Maar Jenny het ook stiller geraak en kort-kort is hulle in die woonwa totdat hulle agterkom dat hulle meer in die woonwa as in die huis is. Net daar het hulle besluit: terug woonwa toe, en die huis op Hentiesbaai het leeg gestaan.

Hulle is terug Weskus toe en het hulle op Stompneusbaai in ’n splinternuwe woonwa gaan vestig.

Pieter se volgende televisiereeks, Van die Kaap tot die Kunene, is in 1993 in 26 episodes uitgesaai. Dit was ’n uit-en-uit reisreeks sonder kospotte en resepte. In elk van die episodes word die kyker bekendgestel aan ’n interessante plek of gebied iewers aan die Weskus, van Kaappunt tot so ver noord as die Kunenerivier tussen Namibië en Angola. Pieter het verduidelik dat elke program ’n tema het en dat die besienswaardighede en die mense by die tema ingevleg word. “Die omgewing en die menslike faktor kom sterk na vore in die reeks,” het hy gesê.

Pieter en Jenny is in 1994 terug na die binneland – na Vendaland, waar hulle op die wal van die Motalerivier ’n werfie oopgeskrop het. Pieter vertel aan Dana Snyman dat die naaste telefoon so ’n uur weg is. “Televisie is nie hier nie. Selfs kortgolf vang jy nie mooi op nie, selfs al stel jy hom hóé kort.” Maar daar het Pieter na die bos geluister. (Huisgenoot, 24 Maart 1994)

Toe, in 1995, na 21 jaar van rondswerf, het Pieter besluit om uit te span en huis op te sit. Hulle het die woonwa gehaak en noordwaarts getrek, na hul eie stukkie paradys aan die oewer van die Kwandorivier, 140 km noord van Katima Mulilo. Die lappie heet Kwandokamp en dit beteken “Daar by my huis”. Hulle het die woonwa staangemaak en met swaar mopaniepale, gestroopte riet en grasdak begin huis bou. As hulle weer sou wou trek, sou hulle die hele huis moes afbreek, want die woonwa was vasgebou – déél van die huis.

Na al die jare se rondtrekkery het Pieter begin dink dat hy nou gesien het wat hy wou sien en dat hy toe lus was vir ’n groentetuintjie, vertel hy aan Marina Möller. Hy en Jenny besluit om vir hulle ’n plekkie te soek, en hulle het rondgery – van Noord-Natal, dwarsdeur Mosambiek tot in Malawi, bakkie en boot agterna. Met die Malawi-meer op, deur Zambië van oos na wes tot op die grens van Angola. Tot by Katima Mulilo – amper in die “buidel van die Caprivi” en die Kwandorivier tussen die olifante. “Dis Afrika,” het Pieter gesê. “Die enigste regte stukkie Afrika wat oor is.” (Sarie, 27 September 1995)

Hulle het besluit dat hulle hier wil wortels skiet, maar daar was voorwaardes: Hulle moes lid word van die Mafwestam. “Sonder veel moeite het hulle die hoofindoena van die koningshuis gespreek, al die rituele is afgehandel, die raad het gesit, en hulle is aanvaar. Daarna was Mister Pieter – sy amptelike aanspreekvorm – baas van sy eie stukkie huurgrond. Want in die Caprivi mag niemand grond besit nie. Jy kry dit vir 99 jaar huurpagreg.”

Hier in die malariawêreld het Pieter ook deurgeloop. Sy eerste malaria-aanval het hy vroeg in 1994 gehad nog voordat hulle na ’n staning begin soek het; daarna weer in Oktober. Maar gelukkig het Pieter elke keer deurgekom. In Maart 1995, terwyl hy by sy suster Marietjie in Pretoria was, is hy die derde keer platgetrek en het hy dit amper nie gemaak nie. In die proses het hy 28 kg verloor en ook permanent doof geword – so erg dat hy in albei ore ’n gehoorapparaat moes begin dra.

Na die toer deur Mosambiek het Pieter Mosambiek, hier kom ons! (1995) die lig laat sien, waarin hy vertel van hulle indrukke van hierdie buurland van Suid-Afrika. Hy het vir Marina Möller vertel dat die blywendste indrukke van hierdie land vir hom die vernietigende effek van die oorlog was. “Ek het so dikwels gewens ek kon net die mense met hul oorlogpraatjies na Mosambiek bring en sê: Kyk! Veral mense wat ’n plek soos Maputo onthou het: ’n moderne stad wat nou ’n vullishoop is. [...] Die land lê braak, maar daar is g’n kommunikasie nie, g’n infrastruktuur nie.”

Gretel Wybenga skryf in Beeld (2 Oktober 1995): “Die pynlike besef wat die boek by die leser gebring het, is dat die aarde aan die vergaan is, dat die mens as oorsaak ’n leeue-aandeel daaraan het en dat die wraak in skrikwekkende armoede en die korrupsie wat daaruit vloei, lê.

In Vrouefokus se Boekerubriek het Riana Scheepers aan die luisteraars gesê: “Pieterse se reis van drie maande is ’n vrolike, droewige hutspot van stories, toeriste-inligting en persoonlike ervarings.”

Maureen Joubert meen in Insig (Februarie 1996) dat Pieterse nie ’n utopie in Mosambiek gevind het nie. “Maar sy beskrywing van hul ervarings maak heerlike en soms boeiende leesstof. Hy skryf soos ons hom hoor praat op TV en skroom nie om soms ’n sentimentaliteit te strooi nie. Mosambiek, hier kom ons is nie net ’n leesboek nie. Dis ’n noodsaaklike handleiding vir diegene wat die land wil besoek, kompleet met waarskuwings, inligting oor paaie en afstande, blyplekke, besprekings, tariewe, hengel en ander doenenswaardighede en dies meer. Ek droom nie meer van ’n besoek aan Mosambiek nie, maar as ek móét, moet dit met ’n verteller soos dié aan my sy wees.”

In 1996 word Hande klap vir Afrika uitgegee wat vertel van Pieter en Jenny se pynlik lang uitgerekte stryd om verblyfreg in die Caprivi te verkry en ’n huis staan te maak. Maureen Joubert sê dit is ook ’n boeiende en persoonlike beskrywing van ’n man se liefde vir Afrika, vir diere, die natuur en sy Ingelsman. “Min skrywers kan daarin slaag om ’n vrou en haar doen en late met soveel deernis te beskryf, sonder ’n sweempie soetsappigheid. [...] Dit is ’n boek uit die hart uit geskryf deur ’n man wat om die dood nie in ’n stad of dorp mak gemaak kan word nie. Uiteraard is dit dan ’n boek wat deur hartstog tot stand gekom het – deur ’n skrywer wat pront en vaardig met sy taal omgaan.” Jaybee Roux meen dat Human & Rousseau as uitgewers applous moet kry omdat hulle die boek weer in 2008 uitgegee het, aangesien dit ’n waardige huldeblyk is aan ’n unieke skrywer wat ons heeltemal te vroeg, op ’n sinnelose en gewetenlose wyse, ontneem is.

Na drie jaar se staning in die Caprivi en na nog malaria-aanvalle – ook Jenny het begin deurloop – het Pieter besef dat dit meer sin sou maak om nader aan ’n dokter te bly. Hulle het weer die tentpenne uitgetrek en is terug Weskus toe, waar hulle hulle by Stompneusbaai gaan vestig het. Hier het hy sy Spookhuis vir ’n geboude huis verruil.

In 1997 word Pieter se laaste jeugverhaal, Om ’n kierie te keer, gepubliseer. Dit is ’n verhaal oor Afrika en sy mense – die storie van Tuba Matibe, ’n jong seun van die Mafwestam in die Caprivi. Hy en sy ouma het alleen agtergebly nadat sy pa en oupa dood is en sy ma weggeloop het saam met die onderwyser uit die stad. Tuba en sy ouma kry maar swaar, en Tuba besluit om ’n plan te maak. As hy sy ouma se drie hoenders kan “leen” en by Meneer Joseph, die winkelier, kan ruil vir vislyn, kan hy die vislyn teen ’n wins verkoop. Maar Meneer Joseph vind uit die hoenders is eintlik Tuba se ouma s’n en hy trap Tuba uit omdat hy sy lyf “entrepreneur” hou sonder dat hy weet van "infrastruktuur”, “sekuriteite” of “kapitale uitleg”. Sy ouma se kieriehoue kan hy keer, maar hierdie is kieries wat Tuba sukkel om te keer.

Volgens Thomas van der Walt skryf Pieter oor die leefwyse en tradisies van die Mafwestam, wat in groot mate van die natuur afhanklik is vir hulle voortbestaan. “Wat egter so lekker van die boek is, is dat dit handel oor Afrika en die probleem en die swaarkry van die mense, maar dat dit geskryf is deur ’n Afrikaan wat werklik lief is vir die land en sy mense en nie skryf omdat hy die een of ander skuld wil vereffen nie.” (Beeld, 27 Julie 1998)

Net voor hulle weg is uit die Caprivi, het Pieter en Jenny beide tot bekering gekom. Pieter vertel aan Deonette de Kock van Finesse dat nadat hulle lede van die Mafwestam geword het, hulle nie besef het watter geestelike eise dit aan hulle sou stel nie. “Die Here het op traumatiese maniere daar met ons begin werk.” Toe hulle ontdek hoeveel kritiek siek malariapasiënte nie vervoer het om by hospitale te kom nie, het hulle spontaan begin betrokke raak by die nood van die mense van die Caprivi. Hulle het onder andere malariapille gekoop en uitgedeel, groente uit hulle groentetuin aan behoeftiges verskaf en mense wat dringend by die hospitaal moes kom, soontoe vervoer. Hulle het ook hier ’n sendingstasie begin. Pieter vertel in 2001 aan Lukas van Vuuren: “Ek en Jenny kan nie ’n spesifieke datum of geleentheid noem wanneer ons ons harte aan die Here gegee het nie. By ons was dit ’n geleidelike proses – beslis nie ’n Damaskus-ervaring nie. Maar wat ons vandag aan die hele wêreld met groot vreugde kan sê, is dat ons die Here met ons hele hart dien.”

Oor leeswerk wat sy lewe verander het, het Pieter aan Beeld (15 November 1999) vertel dat wat hy uit vergange se dae van Rooi Jan en Die Swart Luiperd onthou, is dat hulle hom geleer lees het. En dat hulle hom eindelik gelei het na oom Piet Schoeman se Ver paaie, sy Klein spoortjies, sy Groot spore, sy Veldskooldae, sy Jabulies en soveel meer. “Het PJ Schoeman se werk miskien in doerie jare reeds in my en baie van my tydgenote ver vonkies brand gemaak wat nou nog smeul? Of het hy maar net met sy verhale gestalte gegee aan ons soeke na ver plekke wat nooit nader wil kom nie, al reis jy ook tot wie weet waar. In 1974 gee hy vir my een van sy boeke en hy skryf daarin: ‘Aan my medeswerwer’. Later skryf hy vir my in ’n ander boek: ‘Jy soek nog.’ Asof om te sê hyself soek nie meer nie. Maar in sy laaste dae, daardie groothartseerdae van hom, in Stellenbosch, gee hy vir my ’n foto, op karton gemonteer, van sy maroelaboom met sy sitstomp daarby, iewers op ’n ver, eensame plek in die bos. En ek sien die traan in sy oog en ek weet: ook sý ver plekke het toe nooit nader gekom nie. Ek wens so daar was vandag ook nog Rooijans en Swartluiperds wat ’n kind kon lei om by ’n PJ Schoeman uit te kom – ás daar miskien nog iewers ’n PJ Schoeman is.”

Na die dood van Tolla van der Merwe, mede-aanbieder van die televisieprogram Maak ’n las, in 2000, is Pieter gevra om die leisels saam met Zack du Plessis oor te neem. Pieter publiseer in 2001 die eerste keer een van sy boeke self met die verskyning van Skater – die laggendste 80 stories van Pieter Pieterse. Dit is sy 35ste boek wat die lig gesien het. Hy vertel aan Charles Smith dat hy in 1997 nieamptelik die eerste skrywer was wat meer as ’n miljoen boeke in Afrikaans verkoop het.

Skater is ’n boek vol lewensaantekeninge waarin die storie-agter-die-storie vertel word, het Elize Parker haar bespreking van Skater in Sarie begin: “Dit is egte, humoristiese vertellings, wat ook so terloops besinnend oor die lewe is – droë en oorwoë humor van die swerwer-filosoof wat veel aanskou het, vas op die aarde en nugter. Dit is ’n boek wat mens vir vriende gee, want uiteindelik is dit waaroor Skater gaan: oor die gawe van vriendskap en die lekker van saamlag.”

In 2006 verskyn ’n herdruk van Skater en Susan Cilliers skryf dat hierdie nalatenskap van egte Suid-Afrikaanse stories van Pieter hul plek met trots onder die beste letterkunde kan inneem. (Huisgenoot, 13 Julie 2006)

Pieter het Sondagskool in Stompneusbaai gegee en hy en Jenny was ook betrokke by die Sendinggemeente in die Caprivi, en deur die verkope van ’n heruitgawe van Swerwerskos word geld ingesamel. Hy het natuurlesse vir die jonges van die omgewing gegee en Jenny skilderlesse. “Maar die wanderlust bly maar steeds hier in ons broei. Die afgelope vier jaar hier op Stompneus het ons ontdek ons kan iets vir die gemeente en die gemeenskap beteken. Dis waarom ons so lank al hier is. Ons geniet die meelewing, maar hier binne is ’n stemmetjie wat al harder roep ...”

In Oktober 2001 het Pieter en Jenny teruggetrek Bosveld toe en hulle in Marloth Park, digby Komatipoort in Mpumalanga, gevestig. Pieter het al in 1980 begin skryf aan wat hy beskryf het as sy groot roman oor Afrika. En baie mense wat hom goed geken het, het gemeen dat hierdie roman hom in die geselskap van ander groot Afrikaanse romanskrywers sou plaas.

Pieter was in Maart 2002 besig om aan hierdie roman – met die aanvanklike titel van Takgali – plek van blydskap – te werk. Sy suster Marietjie, wat ook sy uitgewer was, het hom uitstel gegee om die roman klaar te maak. Pieter het gesê hy skryf “so lekker aan die roman. Ek wil nooit daarmee klaarmaak nie.” Hy was baie opgewonde oor die boek. Die boek was egter nog te ver van klaar af om ná sy dood gepubliseer te word. Oor sy nuwe blyplek – en ook sy laaste – het Pieter gesê: “Nee, ek’s nie bang hier in die bosse nie. ’n Leeu sal my eerder vang.”

Op 21 Maart 2002 het Jenny teruggekeer uit Kaapstad, waar sy saam met haar suster van Australië gekuier het. Met haar aankoms by hulle huis het sy Pieter se erg ontbinde lyk gevind waar dit ongeveer vier meter van die swembad af gelê het. Hy was geklee soos duisende mense hom uit sy talle televisieprogramme sou onthou – net in ’n kortbroek. Hy is herhaaldelik met ’n skerp voorwerp in die hart, longe en kop gesteek. Sy hande was met nylontou agter sy rug vasgebind. Inwoners het hom die Sondag laas in die kerk gesien en Jenny kon hom ook nie op sy selfoon in die hande kry nie. ’n Vuurwapen, televisiestel, selfoon en videomasjien is uit die huis vermis. Op ’n papiertjie naby sy liggaam is die volgende gedig gevind:

Hierdie bloed wat in die aar
langs my elmboog klop
65 jaar, sal eendag gaan staan
Die aar sal nie weer klop
nie. Die dinge wat ek
dink, sal ophou,
soos die slang wat ek
geskiet het toe hy
in die voëltjiesaadbak gaan
lê en wag het.

In Augustus 2008 is drie van sy moordenaars skuldig bevind aan moord en het die regter gesê as hy kon, sou hy die doodstraf aan hulle oplê. ’n Paar drafskoene, ’n bottel Tassenbergwyn en ’n muurhorlosie is by die moordenaars se huise gekry.

Pieter word oorleef deur Jenny, sy dogters Shirley, Madi, Emsie en Annetjie, en nege kleinkinders.

Pieter en sy kleinseun Pieta pluk swartmossels (foto: verskaf)

Huldeblyke aan Pieter Pieterse

  • PG du Plessis: “Dit was die afgryslikste nuus wat ek kon ontvang. Hy het dit waaragtag nie verdien nie. Hy was ’n mens-mens en sou geen vlieg skade gedoen het nie. Hy was ’n tawwe ou. Die Vader weet hoe hulle hom ondergekry het nie.” (Beeld, 22 Maart 2002)
  • Karen Meiring: “Ek is sprakeloos. Dit is ’n geweldige verlies. Hy was ’n kleurvolle karakter met wonderlike verhale en ’n buitengewone gawe om stories te vertel.” (Beeld, 22 Maart 2002)
  • Ollie Viljoen: “Hy was ’n heeltemal aardse mens, trouens ek dink nie ek het hom persoonlik ooit sien skoene dra nie. Hy het soms ’n paar vellies aangetrek vir Maak ’n las, maar dan teensinnig. Dit was nooit maklik om Pieter voor die kameras te kry nie. Ek het hom aanvanklik as ’n skrywer leer ken, maar gou agtergekom dat hy ’n man is wat honderde stories het om te vertel. Maar hy het nie van die kalklig gehou nie; ek moes hom feitlik elke keer soebat om op te tree.” (Beeld, 22 Maart 2002 en Rapport, 24 Maart 2002)
  • Francois Fourie, sanger: “Hy het altyd gesê bid is nie vir sissies nie. Hy was nie ’n karikatuur nie. Ons sal hom só mis.” (Beeld, 22 Maart 2002)
  • Hennie Smit, akteur: “So kaalvoet soos hy was, het hy sy siel aan mense ontbloot. Dit is hoekom hy nie skoene gedra het nie – hy wou sy voete nie van die aarde haal nie.” (Beeld, 22 Maart 2002)
  • Herman Carelsen, predikant van die gedenkdiens: “Pieter Pieterse loop kaalvoet in die hemelstrate en êrens vandag eet engele Weskuskos met ’n resep wat Pieter vir hulle gegee het. Hier is nie vandag huldeblyke nie, want ons sal nie kan ophou met huldeblyke aan ’n groot man wat nederig geleef het nie.” (Volksblad, 26 Maart 2002)
  • Gert van der Walt, vervaardiger van Maak ’n las: “Hy was ’n goeie mens, ’n hond sonder tande. Hy het nooit in enige mens kwaad gesien nie. Die mense wat hom doodgemaak het, kon hom maar net sy woonwa gevra het, en hy sou dit gegee het.” (Volksblad, 22 Maart 2002)
  • Johan Vosloo onthou: “Die wit wyn is op die tafel onder die skerm voor die Spookhuis. Die vloer is ’n visnet oor die seesand. Kortbroek en frokkie, sonder skoene, vra hy eers vir kringetjie maak. Hy sê ons moet hande vat, hoofde buig, voordat ons die mossels en hardertjies en Jenny se harings en slaphakskeentjies eet. Hy sê hy wil net dankie sê vir alles.” (Rapport, 24 Maart 2002)
  • John Holmes van Stompneusbaai: “Pieter was ’n mens wat net so maklik gehuil het as wat hy gelag het. As die musiek baie mooi was in die kerk, kon ons nie vir mekaar kyk nie, want dan huil ons. Die volgende dag lag ons dan oor gister se huil. Pieter het geweet die Here wag vir hom.” (Huisgenoot, 4 April 2002)
  • Jenny, agtien maande na Pieter se dood, aan Hanlie Retief: “My Pieter was iemand wat bereid was om nie net te droom nie, maar regtig sy droom te gaan soek. En werklik moeite te doen om by die droom uit te kom. Die droom was ’n alternatiewe lewenstyl en om te kan skryf. Om ’n lewe te maak as Afrikaanse skrywer is glad nie maklik nie. Uiteindelik het hy dit reggekry, saam met televisiewerk en rolprentdraaiboeke. Maar skryf was sy passie, in sy bloed.” (Rapport, 31 Augustus 2003)
  • Arnold la Cock, van Malmesbury in ’n lesersbrief aan Die Burger: “Mens kan seker maar net huil, want daar is wragtig genoeg vir baie trane wanneer aan die sinlose moord op Pieter Pieterse gedink word. […] Hy was ’n vrygewige bosveldklong met stringe publikasies aan honger Afrikaanse lesers en ’n reuse-bydrae tot Afrikaans, wat aan die mense van sy wêreld maar net ’n storie wou vertel – en hoe volmaak kon hy dit nie doen nie. Tot siens, Pieter (as ek so voorbarig mag wees) – maar glo my, jy was kop en skouers bo baie van die manne en manninne wat ook soos jy probeer pen vashou het – jy met jou kreukel-glimlag en aweregse humor, jou eie opmaakliedjies en onopgesmukte leefmanier.” (Die Burger, 30 Maart 2002)
  • Zack du Plessis, akteur: “Ek sal Pieter onthou as ’n ou uit een stuk sonder pretensies. Hy was ’n op-die-grond-mens en as jy hom vir ’n pêl gekry het, was hy jou pêl vir ewig. Daar was baie onthou-dae saam met Pieter, maar daardie ystervarkvel wat hy vir hulle gaargemaak het, proe ek nog soos gister. Dit was lekkerder as lekker.” (Rapport, 24 Maart 2002)
  • Volksblad en Beeld se hoofartikels: “Pieter Pieterse het die laaste dekade of wat sy deel gedoen om van Suid-Afrika ’n beter plek te maak om in te leef. Daarom word te meer met diepe hartseer afskeid geneem. […] Van hom kan ’n mens met eerlikheid sê: Wat jy gesien het, is wat jy gekry het. Kaalvoetseun van die klipharde Bosveld, waar hy man geword het en tot aan sy einde gebly het. Sy swerwerslewe saam met sy Ingelsman, soos hy sy vrou, Jenny, genoem het, en hul woonwa, Die spookhuis, het vir baie genotvolle verhale in sy boeke en op televisie gesorg. […] Die land, en Volksblad, gaan hom mis.” (Volksblad en Beeld, 23 Maart 2002)

In 1989 skryf Carolyn McGibbon in Sunday Tribune dat Pieter nie alleen ’n boodskap van natuurbewaring in sy boeke bepleit nie, maar vir hom as ’n ware seun van Afrika, is sy visioen een van harmonie – nie net tussen mens en natuur nie, maar ook tussen mens en mens. Sy haal hom aan: “The thing I really want to say is about black people and white people in this country, because I love them both so much. I wish I could be used to bring them, black and white, together. People always say they do not understand each other. But I feel that I am both black and white. I have gone through the ceremonies of the black people, and the moment I start speaking Sotho, I get black. I scream and laugh. My whole personality changes. I laugh at things that, as white people, we never laugh at. For 10 minutes in the street, there can be a crowd, laughing, and it will be hilarious, a helluva big party, and then everyone will go their own way.” McGibbon skryf verder dat hy op ’n unieke manier hierdie verskillende kulture met mense kon deel en dat sy skerp waarneming van mense en die natuur in sy werk weerspieël word.

In 2005 word Pieter se Manaka – plek van die horings postuum deur Human & Rousseau uitgegee. Sy suster Marietjie vertel dat dit haar lank geneem het om die moed bymekaar te skraap om weer na die manuskrip te kyk waarmee Pieter besig was toe hy vermoor is. Die verhaal speel hom af in Barotseland in Zambië. Ten tye van sy dood was Manaka reeds voltooi en was dit al twee keer oorgeskryf. Marietjie moes net die finale redigering doen. “Ek het egter die manuskripte van Manaka gebêre. Pieter was weg. Sonder hom het ek nie kans gesien daarvoor nie ... Eers in die winter van verlede jaar (2004) het ek dit weer versigtig op die eetkamertafel uitgepak, maar ek het geweet Pieter wag vir my in Manaka. Hy sou wou hê dat ek oor hom rou,” het sy aan Anoeschka von Meck vertel. Toe sy uiteindelik die verhaal begin lees, het sy duidelik in die manuskrip die paaie herken wat Pieter se lewe ook geloop het: “Manaka het steeds Pieter se kenmerkende humor en hoewel dit oor onverwagte swaarder erns beskik, sal lesers aangenaam verras wees. Dit is ’n gepaste boek vir hom om mee tot siens te sê.” (Rapport, 31 Julie 2005)

Manaka vertel die verhaal van Dennis Chipman wat deur die Kanadese regering na Barotseland (nou Zambië) gestuur word om skoenlappers te vang. In 1871 stap hy in Algoabaai aan wal met sy geweer en sy Ierse terriër, Brindle. Twee jaar later vestig hy hom op die wal van die Zambezi tussen mense van die Lozistam in Barotseland. Skoenlappers vang hy nie, maar hy word ’n legendariese jagter, altyd met honde by hom. Chipman, bekend as Baas onder die Malozi, gaan nooit terug Kanada toe nie. Hy kap sy jagtrofeë vas aan die stamme van die reuse oewerbome wat sy kamp omring en noem sy blyplek Manaka, “Plek van die horings”. Malaria dryf hom egter weg en hy beland in Pietersburg met net sy geweer en ’n steekhaarbrak genaamd Chipman. In 1903 trou hy met ’n Afrikaanse weduwee, Johanna Smit, en in dieselfde jaar word die eerste van die Afrikaanse Chipmans gebore. Die roman is die verhaal van die vierdegeslag-Chipman, gedoop Dennis, noemnaam Baas: sy soeke na Manaka, sy droom om die eerste Baas se droom van vaartuie op die Zambezi te verwesenlik. In Barotseland ontmoet hy ander lede van die uitgebreide familie, worstel hy met sy geloof, sterf hy byna aan koors en ontstaan daar ’n mooi vriendskap met die mooie Grace, ’n verpleegster en lid van die Lozistam.

Volgens Madeleine van Biljon is die storie beleë Pieterse, deurdrenk met die gees van Afrika, “met so ’n innige waardering vir hierdie vasteland dat mens dit amper op die tong kan proe. Dit is veral opvallend in die geroep van die voëls wat noukeurig weergegee word, asook die gewoontes en rituele van die inheemse bevolking. [...] ’n Mens sou miskien kon dink dat daar geswig moet word voor die aanslag van ’n oormaat sentiment, indien nie soetsappige sentimentaliteit nie. Maar daarvoor was Pieterse ’n te ervare en bedrewe skrywer. Sy hand is ferm op die stuur van sy verhaal se kronkelgange, en hoewel daar soms minder voëlgeroep kon wees, dui laasgenoemde tog op die skrywer se intieme kennis van die omgewing.” (Die Burger, 29 Oktober 2005)

Philip John meen dat die merkwaardigste omtrent Manaka die verteltrant is wat ’n moderne indruk wek. “Die vertelstem is onbewoë, gestroop en afgetrokke op ’n byna brutale manier. Net die nodige word aan die leser meegedeel, soos uiters karige inligting oor die emosies van die hoofkarakter. [...] Die belangrikste kwessies wat – heel subtiel – aangespreek word, is die aard van ware Christenskap en die kompleksiteit van interkulturele of -rassige verhoudings, en dit is duidelik dat herlesing nog kwessies sal oplewer. Manaka – plek van die horings is ’n verrassend ryk teks wat menige leser tot ’n herlees daarvan sal dwing.” (Beeld, 14 November 2005)

Marietjie Coetzee, Pieter se suster, skryf in Insig van April 2005: “Pieter was ten diepste deel van Afrika, van verskillende taalgroepe en kulture. Dit het vir hom toenemend belangrik geword dat mense van uiteenlopende kulture mekaar aanvaar. Die laaste jare van sy lewe het hy hom die lot van uitgeworpenes, ook en veral mense met vigs, aangetrek, hulle gevoed en geklee, hulle hospitaal toe en terug vervoer, in hewige woordewisselings met Kubaanse dokters betrokke geraak omdat hulle dié mense aan wie hy hom al meer verwant gevoel het, nie met die nodige agting behandel het nie. Hy het swaar begin dra aan ’n maatskaplike verantwoordelikheid en aanspreeklikheid. Iets daarvan sien ’n mens in ’n brief wat hy in 1988 aan Rapport se brieweblad gestuur het om pres Mandela geluk te wens met sy 80ste verjaardag.” Hier is die teks daarvan:

Aan: Madiba. Op sy 80ste verjaarsdag.

In 1960, Madiba, het daar ’n teleks van Pretoria af deurgekom na ons kantoor in Middelburg, Tvl. Dit het gesê: “Nelson Mandela is in een van die busse op pad Swaziland toe.”

Dit was Oukersaand. Ek was die enigste lid van die Veiligheidspolisie beskikbaar – ’n jong konstabeltjie, uitgeplaas op my eerste stasie. Daardie nag het ek nogal grootmeneer gevoel agter die stuurwiel van die blou 1958 Chev terwyl ek deur die strate van my dorp en Ermelo jaag om die groot vis te gaan vang na wie die hele land soek.

Daardie tyd, soos jy sal onthou, Madiba, het dit nie juis saak gemaak of dit lewend of dood is nie.

By die grenspos het die drie passasiersbusse gestaan. Ek het die eerste twee deurgesoek. Ons het geweet dat jy jou goed kan vermom, maar ons het elke lyntjie op jou gesig geken. Ons het mos elkeen met ’n foto van jou in ons hempsakke geloop, net so langs die leersak waarin ons die .38 Specials gedra het.

Toe ek by die derde bus inklim, het die ander twee busse se mense buite saamgepak en my vasgekeer. Hulle het saggies ’n lied begin sing. Ek het met hulle in Sesotho gepraat, die taal van my kinderdae. Dit is die taal wat ek vandag nog praat as ek baie bang is. Hulle het my nie doodgemaak nie, Madiba. Hulle het my laat gaan.

Nou dat ek soveel meer weet van die méns Nelson Mandela, kan ek maklik glo dat jy tog in daardie bus was en dat dít die rede is hoekom hulle my nie doodgemaak het nie.

Vir baie jare het ek die Here gedank omdat Hy my daardie nag gespaar het. Vandag, op jou 80ste verjaarsdag, sê ek vir Hom dankie dat jy ook vir so ’n lang tyd gespaar gebly het – jy, die een wat dit in hom gehad het om ’n verskil te maak.

En ek sê in alle opregtheid: Ek is so jammer oor so baie dinge, en oor daardie 27 lange jare – in die geloof dat ek dit namens duisende mense sê wat nog net nie ’n geleentheid gemaak het om dit te sê nie.

(Wat beteken “Madiba” in jou taal? In Setlokwa beteken dit “waterkuile”. Mag daar vir jou nog baie waterkuile wees. En mag daar ook nou vir ons almal vrede wees.)

Publikasies:

Publikasie

Slagters van die Limpopo

Publikasiedatum

  • [19-]
  • 1987

ISBN

0795912153 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Van Zyl, Anna: Jeugverhale vol mankemente. Volksblad, 28 November 1987

 

Publikasie

Smokkelaars in die nag

Publikasiedatum

  • 1964
  • 1987

ISBN

  • (hb)
  • 0795911645 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Engels 1987

Resensies en besprekings

  • Van Zyl, Anna: Jeugverhale vol mankemente. Volksblad, 28 November 1987

 

Publikasie

Wraak van die dagbreek

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: President

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Tussen twee vure

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Berg van geheime

Publikasiedatum

  • 1966
  • 1984

ISBN

0628026803 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Engels 1985, 1991

Resensies en besprekings

  • Dié verhaal bied genotvolle leesure. Transvaler, 17 Januarie 1985

 

Publikasie

Onrus op Bergville

Publikasiedatum

1969

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: President

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Anderkant die groot rivier

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1989

ISBN

0624027325 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Boek weer gedruk. Transvaler, 4 Desember 1989
  • De Beer, Charlotte: Goue prys is hier beslis welverdiend. Volkskas, 24 Februarie 1990
  • PR: Vir die jonges. Vaderland, 6 Junie 1975
  • Steenberg, Elsabe: Vir seuns wat hou van avonture. Beeld, 22 Julie 1989
  • Van Zyl, Anna: Pakkende verhaal van jong jagter. Volksblad, 28 Maart 1974

 

Publikasie

Nag van die tarentale

Publikasiedatum

  • 1974
  • 1977
  • 1985

ISBN

  • 062400547X (hb)
  • 0624022374 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Engels 1991

Resensies en besprekings

  • Nolte, Elsa: Tarentale nou in boekvorm. Hoofstad, 18 Oktober 1974
  • Van Zyl, Anna: Spannend vir jeug. Volksblad, 26 Februarie 1975

 

Publikasie

Ou Kanniedood kom huis toe

Publikasiedatum

1979

ISBN

  • 0624012859 (hb)
  • 062402234X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Steenberg, Elsabe: Geweld, intrige en toeval. Oosterlig, 7 November 1979; Die Burger, 13 Desember 1979
  • Van Zyl, Anna: Ou Kanniedood. Volksblad, 17 Oktober 1979

 

Publikasie

Stormsee oor Skoonbergbaai

Publikasiedatum

  • 1981
  • 1989

ISBN

  • 0624015521 (hb)
  • 0624028216 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

1980 Wenner van Tafelberg en Jongspan se jeugverhaalwedstryd

Vertalings

Engelse vertaal deur Jenny Winter 1985

Resensies en besprekings

  • Cilliers, P: ’n Spanningsverhaal wat na soutwater proe. Transvaler, 21 Desember 1981
  • Gilfillan, Rita: Sterk jeugverhaalwenner het geen weekheid of sentiment. Vaderland, 26 November 1981
  • Kruger, Hester: Verhaal vir jonge is ’n wenner. Hoofstad, 29 Junie 1981
  • Steenberg, Elsabe: Ryper jeug sal lekker lees. Volksblad, 25 Junie 1981

 

Publikasie

Bosveldhotel

Publikasiedatum

1981

ISBN

097996469 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Folio

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Brits, Marietjie: Tussen 31 honde en baie rus kry Bosveldhotel sy storie. Vaderland, 12 Februarie 1982
  • De Bruin, Philip. TV se Bosveldhotel in boekvorm. Beeld, 10 Mei 1982
  • La Grange, Hetta: Storie verskil van TV, nét so goed. Hoofstad, 19 April 1982

 

Publikasie

Roep van die visarend

Publikasiedatum

  • 1982
  • 1986

ISBN

  • 0907996558 (hb)
  • 0868061152 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Juventus

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Engels 1991, 2005

Resensies en besprekings

  • Inligtingstuk van uitgewer
  • Laaste roep vir Visarend. Oggendblad, 13 Julie 1982
  • Van Burick, Nico: Visarend roep nou uit boek. Transvaler, 14 Julie 1982

 

Publikasie

Die lang pad

Publikasiedatum

  • 1983
  • 1989

ISBN

062402282X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Engels deur Jennifer Pieterse 1988

Resensies en besprekings

  • EV: Verkenningstog sweer kindersentimente af. Volksblad, 3 Maart 1984

 

Publikasie

Geheim van die reënwoud

Publikasiedatum

  • 1984
  • 1989
  • 1997

ISBN

  • 0798612711 (hb)
  • 0798627557 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: De Jager-HAUM
  • Pretoria: Kagiso

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

De Jager-HAUM-prys vir Jeuglektuur 1984

Vertalings

Engels 1989

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Ellis, ZJ: Geheim van die reënwoud. Kaapse Bibliotekaris, Februarie 1986
  • Lohann, Carl: Motivering vir toekenning van HAUM-groep se prys vir jeuglektuur, 1984. Klasgids, Augustus 1986
  • MGAD: Prize-winning tale to enthral young readers (The misty mountain). Pretoria News, 20 September 1985
  • Reënwoud ’n besondere werk. Tempo, 12 Desember 1986
  • Van Zyl, Anna: Uitbeelding bly sensitief en realisties. Volksblad, 21 September 1985

 

Publikasie

Dag van die reuse

Publikasiedatum

  • 1985
  • 1997
  • 2006

ISBN

  • 0798616601 (hb)
  • 079865063X (sb)
  • 177002039X (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: HAUM-Literêr
  • Pretoria: Kagiso
  • Pretoria: Best Books

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

  • Engels 1986, 2005
  • Frans 1991

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Tietiesbaaikos: ’n werfjoernaal

Publikasiedatum

  • 1985
  • 2001
  • 2008

ISBN

  • 0798613750 (hb)
  • 0798141328 (sb)
  • 9780798141321 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: HAUM-Literêr
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kontreikuns

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • De Lange, Fred: Lees- en kookboek. Tempo, 27 Desember 1985
  • Steenberg, Elsabe: Guitige taalgebruik. Beeld, 7 Oktober 1985
  • Van Zyl, Anna: Betowerende egtheid in dié joernaal. Volksblad, 1 Februarie 1986

 

Publikasie

Baai baai Tietiesbaai

Publikasiedatum

1987

ISBN

0798623128 (hb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Kontreikuns

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Van der Vyver, Marita: Die laaste stukkie kindertyd. De Kat, Junie 1988
  • Van Zyl, Anna: Sketse spreek van liefde vir mense. Volksblad, 27 Februarie 1988
  • Van Zyl, Ia: Baai. Die Suidwester, 19–25 Februarie 1988

 

Publikasie

Die pad na die see

Publikasiedatum

1988

ISBN

0624026450 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Sanlam-prys vir Jeuglektuur (goud) 1988

Vertalings

Engels 1991

Resensies en besprekings

  • Bekroonde jeugromans is nou te kry. Volksblad, 18 Junie 1988
  • Grobler, Hilda: See-verhaal meer as bloot geskiedenis. Vaderland, 25 Julie 1988
  • Le Roux, Marina: Pieterse se wenverhaal boeiend, vernuftig. Die Burger, 21 Julie 1988
  • Steenberg, Elsabe: Die pad na die see. Beeld, 4 Julie 1988

 

Publikasie

Skedelkuskos: vir kosmakers, kampeerders, hengelaars en ander lawwe mense

Publikasiedatum

1988

ISBN

0798127131 (hb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Burger, Gerhard: Nie vir fynproe nie, maar die lékker. Vaderland, 27 Junie 1988
  • Pretorius, Willem: Daarso annerkant by Torrabaai se kant. Die Burger, 23 Junie 1988
  • Pretorius, Willem: Leser sien én hoor Pieterse. Beeld, 20 Junie 1988
  • Van Zyl, Anna: Proe-proe aan sketse, wenke en resepte. Volksblad, 2 Julie 1988

 

Publikasie

Elkeen se paleis

Publikasiedatum

1989

ISBN

0624024628 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Jeugboek-tema ontgin met deernis. Transvaler, 28 Augustus 1989
  • Kühn, Willie: Baie sal wil deel in hoender-gesprek. Beeld, 24 Jnuie 1989

 

Publikasie

Boude en blaaie – en nog ’n paar Bosveldstories

Publikasiedatum

1989

ISBN

1868191826 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Unibook

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Burger, Gerhard: Stadsjapies verlang na die bosveld. Transvaler, 17 April 1990
  • Stoltz, Danie: Pieterse vat raak met woorde. Beeld, 23 April 1989

 

Publikasie

Spookhuiskos: versameling konkoksietjies en allerhande meghêftietjies vir kosmakers, kampeerders, hengelaars en ander lawwe mense

Publikasiedatum

1989

ISBN

0798629576 (hb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Winterwerf in die Kavango

Publikasiedatum

1989

ISBN

0624027805 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Werfjoernaal

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Stoltz, Danie: Ompaaie van pyn is tog ook nodig. Beeld, 23 November 1989
  • Weideman, George: Lekker werfstories. Die Burger, 21 Desember 1989

 

Publikasie

Silwer, jakkals van die Namib

Publikasiedatum

  • 1990
  • 1991
  • 2006

ISBN

  • 0624029557 (sb)
  • 1770020411 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Best Books

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

1994 Goue medalje van Namibiese Kinderboekforum

Vertalings

Engels 1991

Resensies en besprekings

  • De Coning, Nicky Louw: ’n Onvergeetlike verhaal. Transvaler, 19 November 1990
  • Nuut op die rak. Volksblad, 19 Junie 2006
  • Pieterse wen Namibiese boekprys. Die Burger, 1 Junie 1994
  • Scheepers, Riana: Pieter Pieterse praat hier boeiend uit woestynwêreld. Die Burger, 5 Januarie 1991
  • Steenberg, Elsabe: Pieter Pieterse ken jakkals én die Namib. Beeld, 28 November 1990; Oosterlig, 30 November 1990
  • Van Zyl, Ia: Pieterse stel nie tevrede. Die Republikein, 22 Maart 1991

 

Publikasie

Dasseneiland: dagboek vir duikers, snoekvangers, seekosmakers en ander strandlopers

Publikasiedatum

1990

ISBN

0798630914 (hb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Werfjoernaal

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • In en om die huis. Tempo, 26 April – 2 Mei 1991
  • Wijbenga, Gretel: Oor reise en kos. Tydskrif vir Letterkunde, Februarie 1993

 

Publikasie

Pieter Pieterse se swerwerskos soos gesien op TV

Publikasiedatum

1991

ISBN

0798631651 (hb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Kookboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Joubert, Emile: Pieter Pieterse laat sy resepte watertandlekker klink

 

Publikasie

Die vergete vallei

Publikasiedatum

  • 1992
  • 1997

ISBN

0798633026 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: HAUM-Literêr
  • Pretoria: Kagiso

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Engels 1994

Resensies en besprekings

  • Coetzee, Liezl: ’n Boek oor ’n kind se ervaring van lokasiegeweld. Beeld, 15 Maart 1993
  • Le Roux, Marina: Soms haper dit in jeugboeke. Die Burger, 20 April 1993

 

Publikasie

Boskos

Publikasiedatum

1992

ISBN

0798632799 (hb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Kookboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Pieter Pieterse se Boskos. Beeld, 30 Junie 1998

 

Publikasie

Bosberaad: ’n werfjoernaal met baie stories

Publikasiedatum

1994

ISBN

Kaapstad: Human & Rousseau

Uitgewer

Werfjoernaal

Literêre vorm

Geen

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Engels 1991, 2005

Resensies en besprekings

  • De Vries, Abraham H: Dít maak jou lus. Insig, Februarie 1995
  • Ester, Hans: De veelzijdige Pieter Pieterse. Zuid-Afrika, 1996
  • Wessels, Carlien: Bosberaad. Sarie, 1 Maart 1995
  • Wybenga, Gretel: Pieterse sprei die hael te wyd, praatstyl in skrif pla. 27 Februarie 1995

 

Publikasie

Mosambiek, hier kom ons!

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798134011 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Reisjoernaal

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Ester, Hans: De veelzijdige Pieter Pieterse. Zuid-Afrika, 1996
  • Joubert, Maureen: Lag – en trap in jou spoor. Insig, Februarie 1996
  • Scheepers, Riana: Mosambiek, hier kom ons! Afrikaans Stereo: Vrouefokus, 13 September 1995
  • Wijbenga, Gretel: Toergids opgekikker met Pieterse-vertelsels. Beeld, 2 Oktober 1995

 

Publikasie

Hande klap vir Afrika

Publikasiedatum

  • 1996
  • 2007

ISBN

  • 0798136359 (hb)
  • 9780798148375 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Botha, Willem M: Wording van ’n Afrika-ner. Die Burger, 26 Maart 1997
  • Crafford, Albert: Kom klap vir Pieterse se oulike blêr boek. Rapport, 16 Maart 1997
  • Joubert, Maureen: Die lewe in die bos. Insig, Maart 1997
  • Roux, Jaybee: Uitgewer verdien applous vir Pieterse-heruitgawe. Die Burger, 3 Maart 2008
  • Skrywer (Hande klap vir Afrika). Beeld, 10 Oktober 2007

 

Publikasie

Om ’n kierie te keer: ’n jeugroman

Publikasiedatum

1997

ISBN

0798137649 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Engels 1997, 2005

Resensies en besprekings

  • Crafford, Albert: Sprokie in die gees van Afrika. Rapport, 19 April 1998
  • Dempers, Adèle: Pieterse stel weer eens nie teleur. Volksblad, 16 Februarie 1998
  • Van der Walt, Thomas: Pieterse in sy element in jeugverhaal. Beeld, 27 Julie 1998

 

Publikasie

Skater: die laggendste 80 stories van Pieter Pieterse

Publikasiedatum

  • 2001
  • 2006

ISBN

0620272732 (sb)

Uitgewer

  • P Pieterse
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Boeke. Huisgenoot, 13 Julie 2006
  • Boeknotas. Sarie, 3 Oktober 2001
  • Boekrak. Die Burger, 13 November 2006

 

Publikasie

Manaka: plek van die horings

Publikasiedatum

  • 2005
  • 2008

ISBN

  • 0798145641 (sb)
  • 9780798149433 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Cilliers, Cecile: Onthou Pieterse vir vroeë werk. Volksblad, 13 Februarie 2006
  • John, Philip: Nagelate “Manaka” ’n verrassend ryk teks. Beeld, 14 November 2005
  • Van Biljon, Madeleine: Pieterse se hand bly ferm op storie. Die Burger, 29 Oktober 2005
  • Von Meck, Anoeschka: Pieter Pieterse sê gepas tot siens met sy laaste boek. Rapport, 31 Julie 2005

 

Artikels oor Pieter Pieterse

  • Blaise, Anneke: Tietiesbaai se baas word ’n TV-aanbieder. Beeld, 6 Augustus 1990; Die Burger, 11 Augustus 1990
  • Botha, Marzahn: Net 8 weke, dan moet jy pak, ry. Rapport, 28 Maart 2021
  • De Kock, Deonette: Pieter Pieterse en sy Ingelsman kom tuis. Finesse, Julie 1998
  • De Swart, CJ: Pieter Pieterse vat die pad op TV1. Keur, 5 November 1993
  • Diedericks-Hugo, Carina: Pieter Pieterse 1936–2002
  • Duvenhage, Ina: Pieter Pieterse, sy Ingelsman en hul drie “spookhuise”. Die Burger, 17 November 1989
  • Fourie, Retha: Pieterse-storiebydrae op fees bekyk. Beeld, 14 Mei 2002
  • Franse geniet Pieter Pieterse se boek. Beeld, 21 Augustus 1991
  • Hoogtepunte van sy lewe langs die see. Rapport, 15 Mei 1988
  • Ingelsman leer Pieter skryfles. Die Burger, 7 Augustus 1990
  • Jou Afrikaans: Legendes. Jou Afrikaans, 20 Januarie 2026
  • Jeugverhale uit ’n woonwa. Oosterlig, 13 Junie 1988
  • Kleintyd wis Pieter se ma hy sou skryf. Hoofstad, 21 Februarie 1981
  • Kruger, Joan: Om te skryf is soos asemhaal … Beeld, 16 April 1983
  • Lake, Arthur: Pieter: Eintlik ma se prys. Rapport, 22 Mei 1988
  • Le Roux, André:
      • Allemanskrywer weg van woelige wêreld. Die Burger, 26 Mei 1988
      • Jeugverhale uit n woonwa. Beeld, 6 Junie 1988
      • Wanneer die monster lewe kry, loop die stories. Volksblad, 4 Junie 1988
  • Louw, Elretha en Marie Opperman: Ware lewensdramas: Die hartseer einde van swerwer Pieter Pieterse. Huisgenoot, 25 November 2019
  • Louw, Liesel: Pieter en Jenny het ’n nuwe “de luxe” woonwa. Beeld, 25 November 1991
  • ’n Man en ’n droom …. Vlieënde Springbok, Mei 1993
  • McGibbon, Carolyn:
      • Wild king of the coast. Sunday Tribune, 3 Desember 1989
      • Writer in the wilds. Weekend Argus, 17 Februarie 1990
  • Möller, Marina: Huis is waar hart is. Sarie, 27 September 1995
  • Olivier, Nita:
      • Mens en omgewing vervleg in nuwe reeks. Die Burger, 29 Januarie 1993
      • Pieterse wys sy slag met boskos. Die Burger, 29 Mei 1992
  • Om dit te vertel soos dit is. Die Burger, 10 Desember 2006
  • Opperman, AJ:
  • Pienaar, Bessie: Skedelkus lewer nog ’n kosboek. Rapport, 15 Mei 1988
  • Pieter Pieterse. Wikipedia
  • Pieter Pieterse: veld- en seekennerskrywer van Afrika. SA Publisher and Bookseller, September 1985
  • Pieterse genomineer vir Artes en Star Tonight, HAUM Publicare, Augustus 1992
  • Pieter Pieterse neem “Maak ’n las” se leisels. Die Burger, 25 Augustus 2000
  • Pieter Pieterse se eie skuld. Die Republikein, 22 Julie 1991
  • Pieter Pieterse trek noord. Die Burger, 29 Januarie 1993
  • Pieter Pieterse vermoor. News 24, 22 Maart 2002
  • Rademeyer, Ronelle: So sê hulle. Sarie, 1 Julie 1998
  • Retief, Hanlie: Die Ingelsman. Rapport, 31 Augustus 2003
  • Roos, Martjie:
      • Boude en blaaie vir Pieter se pot. Die Burger, 12 Oktober 1991
      • Pieter en Jenny vat die pad. Beeld, 30 Oktober 1993
      • Pieterse se Boude en blaaie word TV-kosreeks. Beeld, 4 Oktober 1991
  • Rossouw, Mandy: Sarie-foto-album. Sarie, 13 Junie 2001
  • Skrywer van die Bosveld skryf vyande los. Vaderland, 15 Januarie 1980
  • Smith, Charles: Pieter trek in by fees met se kêrewêntjie. Volksblad, 15 Julie 2001
  • Snyman, Dana: Salige lewe van “drop-out” Pieter. Huisgenoot, 24 Maart 1994
  • Só is hy met die Ingelsman getroud. Rapport, 24 Maart 2002
  • Steyn, Suzaan: Nege swerwersjare saam. Saffier, Junie 1994
  • Swerwerskos vol praktiese wenke. Transvaler, 2 Januarie 1991
  • “Sy’t nou ’n wil van haar eie”. Sarie, 5 Augustus 1992
  • Twee koulike fisante wat warmte soek …. Rapport, 15 Mei 1988
  • Van der Vyver, Marita: Toe trou hulle op Tietiesbaai. Sarie Marais, 26 Maart 1986
  • Van Vuuren, Lukas: Skater saam met Pieter. Vrouekeur, 6 April 2001
  • Van Wyk, Carina: Vermoorde skrywer se ma (87) oorlede. Volksblad, 27 September 2004; Beeld, 27 September 2004
  • Van Wyk, Marguerite: Kampeerdery waai spinnekoppe uit kop. Beeld, 30 September 1997
  • Van Wyk, Pierre: Waar kom Pieter aan sý mense? Rapport, 11 Julie 1982
  • Van Zyl, Pieter: Vermoorde Pieter Pieterse se weduwee: Nuwe liefde ná die hartseer van die verlede. Huisgenoot, 29 Desember 2023
  • Volschenk, Dineke: Pieter Pieterse. HAUM-Literêr, November 1985
  • Vosloo, Johan:
      • Geen rus vir swerwer-skrywer Pieterse. Rapport, 10 Augustus 1997
      • Pieter Pieterse moet sy Weskus-erfie nou verlaat. Rapport, 15 Augustus 1997
  • Vriende van NALN: Pieter Pieterse. Facebook, 9 Junie 2018

Rubrieke en artikels deur Pieter Pieterse

  • ’n Boek wat my lewe verander het. Beeld, 15 November 1999
  • Boom van samekoms. Leeftyd, Augustus/September 1997
  • Caprivi-bagasie. Rapport-Tydskrif, 21 Maart 1999
  • ’n Dag vir goeie bedoelings. Leeftyd, Desember 1997 – Januarie 1998
  • Dankie vir steun in tyd van nood. Rapport, 24 Augustus 1997
  • Die dominee van Soekmekaar: storie
  • Die karavaan: storie
  • Die waarheidsoekers. Rapport-Tydskrif, 30 Augustus 1998
  • ’n Ding wat in die bloed loop. Rapport-Tydskrif, 28 Junie 1998
  • Nege skrywers deel Kersgeskenke uit. Sarie, 11 Desember 1991
  • Ons ploeg mos en ons saai. Rapport-Tydskrif, 19 April 1998
  • Oupa Skwani. Leeftyd, Oktober–November 1997
  • Potberg was ’n goeie os: storie
  • Shortie en die whiepôn. Rapport-Tydskrif, 25 April 1999
  • Só is hy met die Ingelsman getroud. Rapport, 24 Maart 2002
  • Ysters breek ook. Rapport-Tydskrif, 8 Augustus 1999

Artikels rondom Pieter Pieterse se afsterwe

  • † Pieter Pieterse. Volksblad, 23 Maart 2002
  • † Pieter Pieterse. Beeld, 23 Maart 2002
  • Barron, Chris: Pieter Pieterse – serious at heart, yet humour ran through his work. Sunday Times, 31 Maart 2002
  • Coetzee, Marietjie: Pieter se laaste present. Insig, April 2005
  • Conyngham, John: Death of a character. Natal Witness, 29 Maart 2002
  • De Kock, Gielie: Met die dood van dié talent is Afrikaanse humor veel armer. Rapport, 24 Maart 2002
  • De Nysschen, Linda:
      • Drie skuldig aan moord op Pieterse; skrywer se goed na Polisiemuseum. Beeld, 20 Augustus 2003
      • “Ingelsman” te geskok om met media te praat. Die Burger, 23 Maart 2002
      • Lewenslank vir moord. Die Burger, 21 Augustus 2003
      • Nagmerries teister Pieterse se weduwee. Volksblad, 23 Maart 2002
      • Pieterse se moordenaars skuldig bevind. Volksblad, 20 Augustus 2003
      • Pieterse-moordenaars sou doodstraf kry as regter kon. Beeld, 21 Augustus 2003
      • Skrywer: Familie het vrede gekry. Die Burger, 21 Augustus 2003
      • Storieverteller se Ingelsman getuig hoe sy op lyk afkom. Die Burger, 19 Augustus 2003
  • Diedericks-Hugo, Carina: Pieterse vir oud en jonk. Die Burger, 30 Maart 2002
  • Eybers, Johan:
      • Hy was ’n wydgelese en veelsydige skrywer. Rapport, 24 Maart 2002
      • “Mag sy kreefpot vol bly”. Rapport, 24 Maart 2002
  • Ferreira, Thinus:
      • “Ek wéét hy is by die Here,” sê Pieter se dogter. Beeld, 22 Maart 2002
      • Stompneusbaai tot stilstand geruk. Die Burger, 22 Maart 2002
  • Ferreira, Thinus en Marietie Louw: Vermoor: Ingelsman erg geskok oor Pieterse. Die Burger, 22 Maart 2002
  • Hambidge, Joan: Om dit te vertel soos dit is. Die Burger, 9 Desember 2006
  • Joubert, Jan-Jan:
      • Bekendes loof baasstorieverteller oor sy aardsheid. Die Burger, 22 Maart 2002
      • Pieter Pieterse 1963–2002. Die Burger, 30 Maart 2002
      • “So kaalvoet het hy sy siel aan mense ontbloot”. Beeld, 22 Maart 2002
  • La Cock, Arnold: Trane vir Pieter Pieterse [brief]. Die Burger, 30 Maart 2002
  • Laubscher, Louise:
      • Maak ’n las staan talle aan die dood af. Die Burger, 22 Maart 2002
      • Pieter, Jenny soos vinkel en koljander. Volksblad, 22 Maart 2002
  • Laubscher, Louise en Marietie Louw: “Tragies hoe baie sterf van Maak ’n las”. Beeld, 22 Maart 2002
  • Louw, Elretha en Marie Opperman: Laaste aardse paradys van Pieter Pieterse. Huisgenoot, 4 April 2002
  • Louw, Marietie:
      • Al skrywend vermoor. Beeld, 22 Maart 2003
      • Baasverteller se dood ruk SA. Volksblad, 22 Maart 2002
  • Louw, Marietie en Linda de Nysschen:
      • Pieter Pieterse “loop kaalvoet in die hemelstrate”. Die Burger, 26 Maart 2002
      • Pieterse se weduwee wil nou alleen wees om te kan rou. Volksblad, 25 Maart 2002
      • Sowat 250 groet hom by kerkdiens. Die Burger, 26 Maart 2002
      • Storieman roerend gegroet ná wrede moord. Volksblad, 26 Maart 2002
  • Magnus, Liela: Pieter Pieterse se vrou onseker oor haar toekoms. Beeld, 1 April 2002
  • Meyer, Lukas en Willem Pelser:
      • “Doodsgedig by lyk”. Rapport, 24 Maart 2002
      • Pieterse se voorbode van moord. Rapport, 24 Maart 2002
  • Pieter Pieterse: Obit. News24, 21 Maart 2002
  • Pieterse murderers receive life sentences. IOL, 2004
  • Prins, Jo: Kortbroek-muse nou stil. Beeld, 23 Maart 2002
  • Smith, Charles:
      • ’n Man se man was hy, dié storieman uit Afrika-bodem. Beeld, 22 Maart 2002
      • Man van Afrika was kind se droom. Die Burger, 22 Maart 2002
      • Pieter Pieterse was held van vorige geslag se laaities. Die Burger, 22 Maart 2002
  • Storieverteller sterf tragies. Kaapse Bibliotekaris, Mei/Junie 2002
  • Swart, Corlietha: Pen magtiger as die swaard. Volksblad, 28 Maart 2002
  • Three arrested for Pieter Pieterse murder. Mail & Guardian, 8 April 2002
  • Van Eeden, Johanna: Kleinsus en uitgewer sê skryf was vir ouboet deel van lewe, soos asemhaal. Rapport, 23 Maart 2002
  • Vosloo, Johan:
      • “Ek’s g’n bang hier nie; ’n leeu sal my eerder vang”. Rapport, 24 Maart 2002
      • “My pa? Hy was my pêl,” sê Madi Pieterse. Rapport, 24 Maart 2002

Bron:

  • ISKEMUS (Inligtingsentrum vir Kinderlektuur en -media): Pieter Pieterse: Bibliografie. Stellenbosch, [198–]
  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
  • Volschenk, Dineke: Pieter Pieterse (biografiese skets). Pretoria, 1985

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top