Die Innibos-fees se opdragproduksie, Die Van Aardes Van Grootoor, het onlangs in die ouditorium van Hoërskool Durbanville gespeel, met Anna-Mart van der Merwe, Marion Holm, Esther von Waltsleben, Pierre van Heerden, De Klerk Oelofse en Noxolo Bodlani in die rolverdeling en met Albert Maritz as regisseur. Dié stuk deur Pieter-Dirk Uys is aanvanklik in 1978 opgevoer en het onder sensuur van die publikasieraad deurgeloop.
Uys gesels oor dié stuk.

Goeiedag, Pieter-Dirk, hoe gaan dit? Wat hou jou besig deesdae?
Gaan goed. Ek speel tans in die Baxter met my show "An Audience with Pieter-Dirk EISH!", dan Duitsland toe vir ’n toekenning van die Duitse regering en dan ons Desember-seisoen by die Perron van 25 shows elke lunchtyd. www.evita.co.za
Die regisseur Albert Maritz se interpretering van Die Van Aardes van Grootoor het onlangs in Hoërskool Durbanville se ouditorium gedraai en gaan na verneem word by die KKNK te sien wees. Wat het daartoe gelei dat dié stuk afgestof en weer uitgevoer is?
Pieter Toerien het dit in die vroeë 1990's opgevoer. En dis lekker om te sien die stuk het nog iets het om oor te vertel en mee te vermaak.
Hoe voel jy oor die nuwe weergawe van die stuk en hoe dit uitgevoer is? In hoe ’n mate weerspieël dit jou aanvanklike mikpunte met die skep van die teks in 1978?
In 1978 was daar skaars TV-sepies. Dit was toe ’n radio-verhaal van 780 episodes. Soos “Die Du Plooys van Soetmelksvlei”. En natuurlik was die finale bedryf fantasie met ’n swart eienaar van die plaas. Maar vandag …?
Weens verskeie faktore is die opvoering van die stuk destyds verbied. Buiten die kwalik subtiele seksuele verwysings en dies meer, watter elemente dink jy het die publikasieraad genoop om die opvoerings te verbied?
Hulle was tipies verkramp en wonderlike materiaal vir satire. Natuurlik het ons reaksies verwag met vloekwoorde; dus is daar geen vloekwoorde in die stuk nie, net woorde wat ons geskep het om vieslik to klink soos "genotsknots". Dis toe verbied! En die verwysings na die NP-leiers in die verloop van die stuk is ook verbied.
Die stuk vertel die verhaal van die plaas, Grootoor, se geskiedenis en dien in dié opsig ook as ’n voorstelling van Afrikanergeskiedenis oor die jare heen. Met alles wat tussen 1978 en nou gebeur het, in hoe ’n mate dink jy die teks is steeds akkuraat en snydend in hierdie opsig?
Dit gaan eers oor mense en dan oor politiek. Die passie en drama van vandag se lewens is miskien anders maar nogsteeds vermaaklik. Korrupsie, lieg en bedrieg en slegte politiek is nog steeds met ons.

In dieselfde asem – as jy nog ’n bedryf sou byskryf wat handel oor die meer onlangse geskiedenis, wat sou die aard daarvan wees?
Ek het nog nie daaroor gedink nie. Miskien word Grootoor Nkandla ’n President met vier vroue en ’n operahuis waar hulle almal die rol van Aida kan sing!!
Heelwat van die skerp satire sal moontlik verlore wees op jonger teatergangers of lesers wat nie die verwysings na ’n vervloë tyd en tydsgees sal snap nie. Wat is jou oordeel hiervan in terme van hoe die gees en politieke rolspelers van daardie tyd se greep op die land verswyg word of, as teenpool, verheerlik word deur ouers en onderwysers?
As jy nie weet wat aangaan nie, google! Daar is genoeg agtergrond in die stuk om mense ’n beeld te gee. En dit het nie in die 14de eeu gebeur nie, maar minder as 100 jaar gelede.
Die teks bevat heelwat verwysings (soms subtiel, soms nie) na maghebbers van die tyd en mense op grondvlak se belewing daarvan. In hoe ’n mate dink jy is van die temas wat aangespreek word ook van toepassing op vandag se maghebbers?
Ek dink ’n korrupte politikus is orals in die wêreld te vinde. Nou is dit meer subtiel. Nou is dit beleid genoem. Nou is dit finansieel gedrewe, nie ideologies nie.
Is daar jong satirici, of dit nou in teater, kuns, musiek of film is, wat jou opgewonde maak met hulle interpretasies van die hede en die toekoms? Waarop dink jy moet dié soort kunstenaars fokus om ’n impak te hê?
Ja daar is. Maar dinge gebeur nie oornag nie. Daar is lang ure van werk wat sukses beloon. Al wat ek kan sê is: word kwaad, word woedend, skryf en speel met gevaar met die balans van 49% woede en 51% vermaak. Humor is die enigste wapen.


