
Piet de Jager, SC (Foto: Groenkloofkamers)
Advokaat Piet de Jager is die ou met wie ek graag die sirtaki sou wou dans, soos in daardie onsterflike toneel in Zorba the Greek met Anthony Quinn in die hoofrol.
Piet is nie iemand wat jy in ’n enkele sin sou kon vaspen nie.
Piet was waarskynlik, ten spyte van sy veelvuldige talente, die nederigste en mees pretensielose persoon wat ek in my lewe ontmoet het.
Ons paadjies het so amper 20 jaar gelede gekruis toe adv Krisjan Korf so ’n stapeltjie LitNet-gedigte na my gebring het met die kommentaar dat dit dalk as ’n selfstandige Afrikaanse digbundel gepubliseer kan word. Met die lieflike illustrasies van Zerk de Villiers het dit uiteindelik in 2006 die lig gesien as Ouhout, sekerlik een van die mooiste Afrikaanse digbundels ooit. Die bundel is verwerk as ’n musikale produksie wat tydens Versindaba in Stellenbosch en in die Centurion-teater in Pretoria aangebied is.
Daarna het Albert Camus se klassieke werk La peste Piet se verbeelding aangegryp, en hy het besluit om dit in Afrikaans te vertaal. Vir dié doel het hy spesiaal Frans aangeleer. La peste het in 2012 by Protea Boekhuis verskyn as Die pes. Die belangrikste temas daarin het daarna vir die res van sy lewe Piet se denke in beslag geneem. Tydens Covid het Piet besluit dat ’n oudioboek en ’n e-boek van Die pes die lig moet sien en het ons die regte hiervoor by Gallimard bekom. Die oudioboek en die e-boek behoort binnekort uitgereik te word.
Tydens ons laaste gesprek ’n maand gelede het Piet genoem dat hy nou gereed is om ’n boek waarin verskeie kwessies rondom Die pes ter sprake kom, aan te pak. Dis iets waaroor ons al bykans twee dekades gepraat het. Onder die belangrikste temas was die Franse dorpie Le Chambon wat tydens die Tweede Wêreldoorlog duisende Joodse vlugtelinge teen die tirannie van die Nazi-staat verberg het. André P Brink se beskouings hieroor het Piet se gedagtes aan die loop gesit. Die belangrike tema van die pes wat in onsself teenwoordig is, is iets wat Piet spesifiek gefassineer het. Piet se beskouings hieroor het met die koms van Covid selfs meer relevant en indringend geword. Ongelukkig is sy diepgaande filosofiese insigte daaromtrent uiteindelik nooit opgeteken nie.
Piet was oor dekades heen, en veral tydens Covid, ’n groot ondersteuner van uitstaande (maar finansieel sukkelende) kunstenaars in die musiek- en filmbedryf. Sy rol in dié verband sal seker nooit behoorlik opgeteken word nie, aangesien hy self dit nooit aan die groot klok gehang het nie.
As jy by Piet was, is daar baie gelag. Hy het so baie genot uit die lewe geput en was altyd gereed met ’n grappie.
Piet was ’n lewensgenieter by uitstek, en elkeen wat dit beleef het, sal sy skaterlag nooit vergeet nie. Die heerlike kuiers by Boergeoisie in Hatfield en later die “Veldkantoor” (die Dros in Springbokpark, ook in Hatfield) het my bestaan opgevrolik. Piet was lief vir sy dubbel-Bell’s en ys in ’n lang glas.
As jy in sy geselskap was, wat jy die middelpunt van sy belangstelling en die interaksie met Piet was ongelooflik inspirerend. Geen enkele oomblik was ooit vervelig nie, en die laaste ABF (“absolutely bloody final”-loopdop) is dikwels oor ’n paar uur versprei.
Bo en behalwe Piet se nederigheid staan sy menslikheid en humor vir my uit. Daar was byna net mooi niks wat op Piet se opgewekte geaardheid inbreuk sou maak nie. Soms het die Swart Hond sy tande in Piet se enkels ingeslaan, maar daarvan was ek nooit bewus nie.
Ek is nie bekwaam om oor Piet eienskappe as bekwame en vlymskerp juris kommentaar te lewer nie, maar moet dit noem dat hy van die beroemdste sake in die Suid-Afrikaanse regsgeskiedenis hanteer het. Hy het my Protea Boekhuis wel in ’n outeursregaangeleentheid in die briewe tussen NP Van Wyk Louw en WEG Louw met groot onderskeiding verteenwoordig.
Buite sy beroep het Piet vele belangstellings gehad – hy was pa van ’n groot gesin, duiweboer, orgideekweker, rolprentvervaardiger, musiekliefhebber, filosoof, filantroop, mensch – kortom die spreekwoordelike Renaissance-mens.
Hy was as een man verantwoordelik vir die huidige oplewing in die vervaardiging van Afrikaanse rolprente teen die tweede dekade van die 21ste eeu met rolprente soos Roepman, Verraaiers en baie ander.

Elke persoon wat Piet ooit ontmoet het, se lewe is voortaan diepgaande deur Piet verander. Ek is dankbaar dat ek een van hulle is en ek oor die verloop van bykans twee dekades deur Piet se diep menslikheid beïnvloed is.
Ek en Piet sou vroeg in Desember verlede jaar iets gaan eet het by die Stoep op Bronkhorstspruit, maar die afspraak het platgeval. Uiteindelik het die maaltyd by die Stoep wel gerealiseer, want met sy roudiens by die Nooitgedacht NG-kerk op 15 Januarie 2023 het hulle die spyseniering verskaf.
Ek sluit af met twee van Piet de gedigte uit Ouhout (Protea Boekhuis, 2006).
Uit die hoëveld
begrawe my
ook in die hoëveld
ook in april
wanneer kleurblare
soos konfetti jolig
op die dakke van die karre
om die kerk heen kapok
soos vir ’n bruilof
as dooie mielies wit staan
met geboë koppe in gelid –
oop orde om die grafte –
naamlose engele in die wind
wat koeltes meegevoelig waai
deur die stug oorlewendes se hare
die stof wat rou kom lê
in warm aarde
onder die son wat vol respek
sy ligte ook op dim sit
in die hoëveld
ook in april
sluk die hele wêreld
die ding van die dood net béter
ja selfs die kosmos langs die pad
skiet saad
om vars gekleurde blomme
vir ’n ander jaar se dood
te laat
Eendag
Hier is die dood die enigste feit
en lewe
swewende onsekerheid.
Maar eendag
sal dood ’n herinnering wees
en lewe
sewevoudige sekerheid


Kommentaar
Baie mooi.
Wat 'n ongelooflike mens en vriend!! So 'n voorreg om saam met Pieta sy passie te deel vir films en woorde!! Ek gaan jou baie mis, my vriend. Groete aan Eil.
Hoe goed en hoe mooi.