Pierneef se agterkleinniggie hou ’n solo-uitstalling

  • 0

Die Kaapse kunstenaar Neeske Alexander se uitstalling One day at a time het pas geopen.

Neeske ... Jou naam is ongewoon – daar is ’n baie besondere band met een van Suid-Afrika se grootste kunstenaars. Vertel ons meer?

Dit was my ouma se naam en my ouma se ouma se naam. My grootoumagrootjie was Neeske Pierneef, die bekende skilder se ma.

Goed: Waar? Wanneer? Wat kan mense verwag?

 1–12 Junie
Spinstraat 6
Kaapstad

Opening: 3 Junie 17:00–21:00

Weeksdae 10:00–16:00
Saterdae 10:00–14:00

Klik hier vir die aanlynkatalogus.

Die hele versameling van 366 werke wat ek laasjaar gemaak het, kan gesien word. Elke maand het ’n unieke tema en ek het myself uitgedaag om spesifiek moeilike of onbekende mediums en temas aan te pak. Daar is ook ’n tekentafel waar mense gerus saam kan teken (ek hou ’n tekenuitdaging en teken elke dag van die uitstalling iets wat koppel met die temas van elke maand – 12 dae vir 12 maande). Die uitdaging kan op my Instagram gevolg word en by #ODAATchallenge.

Jy het eintlik op ’n vreemde manier kunstenaar geword. Vertel meer van jou reis en jou opleiding?

Ek wou nog altyd ’n kunstenaar wees (toe ek klein was, het ek vir mense gesê ek wil ’n skildenaar word wanneer ek groot is), maar ek het altyd gevoel ek kan myself nie ’n regte kunstenaar noem nie, want ek het nooit ’n BA-graad in visuele kunste gedoen nie.

Ek het wel vandat ek agt jaar oud is, by die kunstenaar Ian Tainton lesse gehad en hy is steeds my kunsmentor. Maar toe ek universiteit toe is, het ek opvoedkunde studeer en vir ’n hele paar jaar was ek ’n graad 2-onderwyseres. Gedurende hierdie tyd het ek nog steeds kuns gemaak en ingeskryf vir kunskompetisies. Op ’n stadium het ek dit selfs oorweeg om ’n BA-graad te doen in kuns, maar met ’n bietjie geluk het ek die geleentheid gekry om ’n meestersgraad in kunsonderrig te doen en na dit as navorser en akademiese skrywer te werk in die Kunsdepartement van Stellenbosch-universiteit. In 2018, toe ek 30 jaar oud was, het ek (die oudste student by ver) ’n honneursgraad in illustrasie voltooi. In 2019 het ek my eerste klein residensie in Frankryk gedoen, asook verskeie illustrasie-opdragte. So toe 2020 begin, het ek besluit dat die beste metode om nou uiteindelik ’n “regte kunstenaar” te word, is om elke dag iets te teken. En dit het ek ook gedoen.

Jou uitstalling heet One day at a time en jy stal 366 stukke uit, een vir elke dag van 2020, soos jy reeds verduidelik het. Anton Kannemeyer het glo iets hiermee te doen?

 Anton Kannemeyer was my dosent in 2018 en dit was hy wat voorgestel het dat ek elke liewe dag moet teken as ek regtig goed wil wees. Hy teken self omtrent elke dag en hy moedig my steeds aan om aan te hou skep.

Toe kom COVID-19. Hoe het dit jou beïnvloed?

Toe ek op 1 Januarie my eerste tekening van die versameling gemaak het, sou ek my nooit kon indink dat so ’n vreemde jaar sou voorlê nie. Ek wou aanvanklik heelwat mense teken, maar in Maart het my modelle opgedroog en het ek my kussing ’n paar keer geteken. Hierdie oefening was terneerdrukkend, so toe verander ek halfpad deur die maand na ’n lekker patroontema. Oor die algemeen het die pandemie in my guns getel – want wanneer sou ek ooit so baie tyd hê om elke dag te kan teken. Dit het my ook gehelp om die dae te sien verbygaan en nie te voel asof elke dag dieselfde dag is nie. Die aanlyn gemeenskap wat my daaglikse tekeninge gevolg het, was ook ’n groot ondersteuning vir my in hierdie tyd.

Een van my gunstelingstukke se titel is 6 to 9. Daar is ongelooflike humor in hierdie stuk. Vertel ons iets van die konteks, en die manier waarop jy drukwerk gebruik – soos Pierneef destyds?

6 tot 9 is van ’n man (gebaseer op ’n foto van my pa) wat sy vis vir ’n stappie neem. Hierdie stuk is ’n linosnee wat ek gekerf het en toe met ’n lepel moes druk (want ek het nie ’n press by my huis nie). Ek hou van hoe linosneewerk mens forseer om eenvoudige lyne effektief te gebruik. Daar is ook net swart en wit, so daar’s ’n sterk grafiese element. Die eerste linomens van die maand was ’n vrou met ’n handsak, maar toe voel ek dat dit te vervelig is, en dus het ek ’n kat in haar handsak gesit. Die tweede linomens het ’n seekat in sy tas en die derde een ’n krokodil in haar teepot. So het elke dag ’n nuwe uitdaging geword om ’n dier te pas by die mens. Miskien is dit iets soos ’n “inner animal” of net die geselskap wat diere vir ons bring. Miskien kon ek net nie myself so ver kry om ’n enkelmens alleen te teken in daardie eensame tydperk nie.

Visse speel wel rol in jou werk ... Hoe so?

Ek is mal oor visse. My heel eerste solo laasjaar in Februarie by Youngblood Gallery was selfs genoem “How to be a fish”. My ouers het baie geduik en ek het die name van verskillende tropiese visse geken voordat ek diere se name geken het. Die oseaan is ’n groot bron van energie en vrede vir my en daar is niks so lekker soos om in die branders te swem of in rotspoele te snorkel nie.

Een van die stukke uit jou eerste maand heet My kind of drug. Dis wonderlik. Wat het eerste gekom – skets, titel of idee en dan ...?

Meestal het die titel na die kunswerk gekom. Dit was soms ’n groot uitdaging om ’n unieke titel vir elke kunswerk uit te dink. Omdat laasjaar eintlik so eentonig was, het my brein hierdie daaglikse kans om kreatief te wees met al twee kante aangegryp.

Jy het so ongeveer een kunstema per maand gedoen. Was dit lukraak, of beplan?

 Die tema het gekom soos die vorige maand tot ’n einde gekom het. Somtyds was ek bekommerd dat ek nie ’n tema vir die maand betyds sou uitdink nie. Maar vir elke maand het ek iets gedoen waaroor ek regtig opgewonde was. Buitendien moes dit my motiveer om aan te hou vir +- 30 dae!

Hoeveel verskillende mediums het jy uiteindelik gebruik?

Daar is alles – van kleurpotlood, potlood, waterverf, ink en olieverf tot digitale kuns en selfs linosneedrukwerk.

Jou miniatuursketse van plekke in Kaapstad is besonders. Het jy van foto’s af gewerk?

Nee, ek het na elke plek gegaan en daar gestaan of gesit terwyl ek dit geteken het. Daar is iets in tekeninge wat “from life” gedoen is wat ’n mens nooit kan kry as mens van foto’s af werk nie. Plus, dis baie meer pret en ek wou nie meer in my woonstel sit nie.

Op ’n kol moes jy met jou linkerhand teken?

Ja, teen die einde van Mei het my gewrig “gevries” van al die teken (maar die gedurige gebak van suurdeegbrood het seker ook nie gehelp nie), so toe moes ek met my linkerhand teken of die projek staak. Ek het baie geleer oor abstrakte kuns in die maand toe ek met my linkerhand moes werk.

Jy skets of verf of druk fisiese objekte, terwyl sommige kunstenaars al hoe meer elektronies begin werk. Tog het Instagram ’n belangrike rol gespeel in jou werk. Wil jy verduidelik?

Ek het elke dag van laasjaar my daaglikse kunswerk op my Instagram, @neeskealexander, geplaas. Daar het ek die storie agter elke kunswerk vertel. Mense het baie positiewe kommentaar gelewer en dit het my aangemoedig om aan te hou teken, maar my ook gehelp om verbind te voel met ander mense terwyl ek eintlik in isolasie gewerk het. Party mense het ook vir my goeie idees gegee vir temas vir opkomende maande, so in daardie opsig was dit ook ’n gesamentlike poging. Gedurende hierdie uitstalling het ek mense genooi om saam met my te teken elke dag van die uitstalling en sover is ek baie beïndruk met hulle werk. (Ek deel dit in my Instagram-stories en gebruik die hutsmerk #ODAATchallenge.)

Vertel asseblief meer van die werkswinkels wat jy doen?

Ek bied vier werkswinkels aan gedurende One day at a time: twee oor botaniese illustrasie en twee oor linosneedrukwerk. In hierdie werkswinkels lei ek mense om self kunswerke te maak deur die stappe van die proses te verduidelik en te demonstreer en ook geheime wenke te verklap wat ek oor die jare ontdek het. Ek hou baie daarvan om werkswinkels aan te bied en hoop om nog vele meer hierdie jaar te doen.

Om 366 kunswerke te hang is nie grappies nie. Hoe het julle dit ingepas in die Spinstraat-galery?

Dit was omtrent ’n storie! Toe ek begin om die kunswerke te meet en die mure te meet, was daar vele paniekerige oomblikke waar ek gedink het dat daar definitief nie genoeg plek vir alles sou wees nie. ’n Mens onderskat maklik die skaal van 366 werke. Gelukkig het ek hulp gehad om ’n ingewikkelde spreadsheet te maak met baie wiskunde en uiteindelik het ons die formules so gewikkel dat alles perfek gepas het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top