Pienk is nie vir sissies nie deur Christien Neser: ’n resensie

  • 0

Pienk is nie vir sissies nie
Christien Neser

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624085409

Die ligte en kontemporêre titel en omslag van Christien Neser se boek is beslis lekker aas vir lesers op soek na iets lig vir ’n vakansie wat voorlê. Of is dit ’n lokbokkom? Pienk is nie vir sissies nie kan wel bolangs vinnig deurgelees en neergesit word, maar dit sal hopelik gesprekke oor belangrike kwessies stimuleer.

Met bestanddele soos bergfietse, ’n manlike balletdanser, ’n flambojante skoolsielkundige, gewapende roof en ’n hele paar aanhalings uit alombekende boeke is dit duidelik dat hierdie storie oor meer gaan as wat in die titel voorspel word.

Neser begin elke hoofstuk met ’n aanhaling. Sommige lesers gaan nie hierin geïnteresseerd wees nie, maar dit is belangrik om te noem dat die aanhalings nie lukraak is nie. Op bladsy 9 word die leser ingelig: “Sy eet die sêgoed van haar fietsryhelde vir brekfis.” Hiermee gee Neser ’n duidelike leidraad dat dit funksioneel is om met elke hoofstuk die aanhaling met die daaropvolgende narratief te vergelyk. Binne die narratief gebruik sy ook aanhalings van onder andere Victor Frankl en Albert Einstein om onderliggende boodskappe te versterk.

Aan die einde van die eerste hoofstuk is die storietafel gedek. Nicci is, teen haar ma se sin, een van die “ouens” en een van die bestes van ’n bergfietsklub waaraan haar pa, haar broer en sy vriende ook behoort. Haar ma sou haar veel eerder met ’n balletbolla op haar kop, in ’n pienk tutu op ’n verhoog wou sien.

Hierdie “stryd” tussen tipiese manlike en vroulike rolle word dwarsdeur hierdie grootwordverhaal, soms lighartig en soms meer ernstig, deur middel van beskrywings, dialoog en gebeure uitgebeeld. Dis verder duidelik dat Nicci gedeeltes uit haar fietsrybybel van John Olsen kan aanhaal terwyl sy nie veel respek vir Die pienk boekie vir meisies, deur haar ma op haar bedkassie gelos, openbaar nie. Sy noem dat sy, soos met haar vlegsel, alles wat pienk is van haar afgesny het.

Nicci is vol selfvertroue, kom gelukkig met haarself voor en gemotiveerd om die hoogste sport as bergfietsryer te bereik. Dis verfrissend dat sy nie as ’n stereotiepe tienerheldin gekarakteriseer word nie. Die fietsryergilde word verder baie geloofwaardig deur Neser geskets met gedetailleerde beskrywings van uit- en toerusting. Nicci se fiets het byvoorbeeld ’n “sportiewe 27-en-’n-halfduimraam”, sy dra ’n “Rudy Project-bril”, en Ben se ou fiets het “Shimano shocks” voor.  

Wanneer sy in hoofstuk drie, na Armstrong se aanhaling wat na die eindstreep as motivering verwys, aangeval en van haar fiets beroof word en dus nié hierdie eindstreep bereik nie, word sy van meer as pienk en hare gestroop. Hierdie stroping is traumaties en nie vrywillig nie. Haar verlies gaan verder as  haar fiets, toerusting en nommer 7-fietsryskoene. Sy is skielik minder selfversekerd ten opsigte van haar antipienk-rebellie en -veldtog. Die pad terug na pienk lyk onmoontlik; haar aanvallers het haar vir ’n seun aangesien. ’n Aanhaling uit The Quotable Cyclist van Carol Waters waarsku aan die begin van hoofstuk vier, waar die kapingtoneel steeds aan die gang is: “With all the mud and dirt, mountain biking helps break down the stereotypes of what women should look like.” Hiermee behoort lesers wat wel die aanhalings lees, te besef dat Christien Neser benewens ander boodskappe teen stereotipering wil waarsku. Ander, wat nie die aanhalings lees nie, mag Nicci se interpretasie van haar ervaring as persoonlik eerder as universeel interpreteer.

Nicci se ontnugtering en onsekerheid na die aanval oor hoe sy haar onmiddellike toekoms sonder fietsry moet herontwerp, word ernstig oorgedra, maar sonder om ooit morbied te raak. Haar ontsteltenis oor die feit dat sy as ’n seun aangesien is, lei na ’n soeke na haar eie identiteit, maar ernstiger oomblikke word altyd deur ligter tonele afgewissel. Wanneer sy haar hart teenoor haar vriendin uitpraat, is Felicity se reaksie: “Daai diewe het ’n baie vuil Marsmannetjie op ’n baie duur fiets by die berg sien afjaag. Logiese afleiding: Net ’n seun kan soos ’n mal duiwel ry. So vee af jou trane. Case closed. Lang hare maak mens nie noodwendig vroulik nie.”

Die seun op wie Nicci heimlik verlief was, stel haar teleur, maar haar broer se vriend, Godfrey, stel haar in die hospitaal aan Ben Irvine se Einstein and the art of mindful cycling voor en sy begin ’n groter prentjie raaksien. Hierna verloop die storie vinniger. Moet sy haar aanvaller vergewe? Waarvoor moet sy hom vergewe? Oor die aanval of die feit dat hy haar as ’n seun aangesien het? Is Godfrey net haar broer se goeie vriend wat hom oor haar ontferm, of voel sy meer vir hom? Sy verstaan nou wat haar tannie Adéle se gunsteling-sêding, “Jy kan nie keer dat die kraaie oor jou kom sirkel nie, maar jy kan keer dat hulle ’n nes in jou hare maak”, beteken. Saam met Godfrey vind sy wel haar pad terug na ballet … in haar klubfietsryhemp en pienk pointes … en op ’n fiets.

Binne hierdie realistiese en moderne raamwerk waar nie van hedendaagse kwessies soos misdaad en geweld weggeskram word nie, sou meer van ’n gewroeg in die verhaal verwag kon gewees het. Ten spyte van alles wat met Nicci gebeur het, is daar nooit ’n gevoel van hopeloosheid nie. Nicci se verwerking van gebeure kom byna te maklik en onrealisties voor. Die skrywer slaag egter daarin om, ten spyte hiervan, en sonder om te oormoraliseer, baie sterk oorlewingsboodskappe oor te dra en die positiewe einde mag wel stof tot nadenke bied.

Ten slotte stel Neser se goeie aanvoeling vir die teikengroep haar in staat om belangrike boodskappe oor bewustheid, stereotipering, verdraagsaamheid en vergifnis verteerbaar in ’n onderhoudende grootwordverhaal oor te dra. Sy bly verder altyd getrou aan goeie taalgebruik, karakterbou en intrige om te verseker dat hierdie boek meer as ’n pienk boekie is. Die titel is inderdaad ’n lokbokkom.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top