Phil du Plessis (1944–2011)

  • 0

Gebore en getoë

Phil du Plessis is gebore as Johannes du Plessis op 22 Maart 1944 op Fouriesburg in die Vrystaat. Sy vader, Karel Erasmus du Plessis, was in daardie tyd onderwyser op die dorp en hulle het op die plaas Modderfontein net buite die dorp gewoon. Sy pa het elke oggend te perd dorp toe gery, het Phil in ’n biografiese skets aan NALN geskryf.

Phil se pa het op Petrusburg grootgeword waar sy oupa ’n messelaar was. Phil se moeder, Hester Petronella, was ’n nooi Janse van Rensburg, van Kestell, ook in die Vrystaat. Sy was ’n kleinniggie van kommandant Hansie van Rensburg van die Ossewa-Brandwag. Haar moeder was ’n dogter van Salmon Raath van Harrismith. Die huis op hierdie plaas Klerksvley is later verklaar tot ’n nasionale gedenkwaardigheid.

Hy het skoolgegaan op Viljoenskroon in die Vrystaat en op Shannon net buite Bloemfontein. Sy vader is later aangestel as skoolinspekteur in houtwerk en sy ouers het na Kroonstad in die Noord-Vrystaat verhuis. Phil het sy hoërskoolloopbaan aan Grey Sekondêre Kollege in Bloemfontein voortgesit, waar hy in 1961 gematrikuleer het. Hy het in die stad ingewoon by sy vioolonderwyser, Victor Pohl, wat ook bekend as skrywer was. Phil en die sangeres Martlé, Pohl se dogter, het baie goeie vriende geword en haar afsterwe in 1967 was vir hom baie swaar.

Sy belangstelling in die skryfkuns het gedurende sy standerd 9-jaar begin.

Verdere studie en werk

Na skool is Phil na die Universiteit van Pretoria, waar hy hom inskryf as mediese student. In 1968 kwalifiseer hy as dokter. Tydens sy universiteitsjare was hy aktief betrokke by musiek en het hy viool gespeel in die orkes van die Toonkunsakademie, sowel as in die orkes van die Collegium Musicum en in kamergroepe. Phil het ook verskeie musiekuitsendings oor Radio Suid-Afrika gemaak. Terwyl hy in Pretoria was, het hy vioolonderrig van Alan Solomon ontvang. Hy speel graag barokmusiek en het hom op musiek uit daardie tydperk toegespits, veral sedert sy viool, wat in 1693 in die Oostenrykse Tirool gemaak is, deur die Kaapse vakman Kotie van Soelen gerestoureer is.

Vanaf 1969 tot 1972 het Phil aan die Rand (in Stilfontein en by Crown Mines) as arts gepraktiseer en tussen 1972 en 1974 op Lüderitz in Namibië. Sy verblyf in Namibië was vir hom ’n mistiese ervaring. “Die mistiek van die landskap het ek probeer uitdruk in gedigte Te Deum Luderitzbucht. Dit was ’n eerste poging om die argaïese religieë in my poësie te beliggaam,” het hy aan Amanda Botha in Transvaler van 8 Mei 1981 vertel.

In Lüderitzbucht het Phil in een van die pragtige ou Duitse huise van weleer gaan woon. Daar betree hy ’n nuwe wêreld. Die eindelose landskappe, die mense en die atmosfeer het hom geïnspireer om liriese briewe te skryf en het ’n verandering in sy skryfwerk tot gevolg gehad. Marié Blomerus (Die Burger, 2 Desember 2011) skryf dat hy meer volwasse word, ryper, “maar steeds freneties op soek na die ontwykende vrede van die gemoed, na die middel wat die bitter pyn van menswees kan genees. Nogtans verleen die pynlike ’n beminlike dimensie aan die gedigte van daardie tydperk. Hy ontwikkel ’n diep liefde vir die nuwe landskap met die duine, see en stilte.”

Daarna het hy in Kalkbaai in Kaapstad in ’n Victoriaanse huis gaan woon wat gerestoureer is en as nasionale gedenkwaardigheid verklaar is. Hy het daar gebly tot sy afsterwe in 2011.

Martiens van Bart het in Die Burger (8 Augustus 1992) geskryf: “Phil is nie een van daardie sogenaamde bewaringsbewustes wat klokslag op elke bewaringsbyeenkoms opdaag, vir ’n paar uur met ’n glas in die hand oor die tragiese toestand van ons kultuurerfenis agsiestog, en dan weer verdwyn tot die volgende keer nie. Hy ruim tyd so tussen sy bedrywige doktersroetine (in 1992) en musieksessies in om in heelparty koerant- en tydskrifpublikasies, asook oor die radio, die bewaringsaak te sterk en ontoepaslike ontwikkeling te kritiseer.”

Sy huis in Kalkbaai, met die naam Liscard, is ’n huis met persoonlikheid wat oor Valsbaai uitkyk, en aan die ander kant van die stuk blou-groen see lê die Hottentots-Hollandberge. Dit is onseker wanneer die eerste paar vertrekke van die huidige spoggerige woning van twaalf vertrekke gebou is, maar dit moes omstreeks 1830 gewees het. Phil het die vervalle huis in die vroeë sewentigerjare gehuur toe hy uit die destydse Transvaal aangekom het om op Kalkbaai en in die Kaapse distrik te praktiseer. In 1978 het hy besluit om dit vir R30 000 te koop. In 1983 het hy drie voorste restourasie-argitekte, Revel Fox, John Rennie en Pat Riley, aangestel om Liscard onder hande te neem.

Pat Riley het die terreinwerk gelei en Phil het groot waardering vir die buitengewone ywer wat sy aan die dag gelê het om nie minder nie as 26 toepaslike deure en vensters uit die negentiende eeu op te spoor om die moderne onsierlikhede mee te vervang. Lucia Burger (De Kat, Maart 1992) skryf dat die huis met sy vele fasette sedertdien woonplek is vir ’n wye gees wat nie net die onmiddellike nie, maar ook die indirekte omgewing met oorgawe beleef.

As gevolg van sy belangstelling in die psigoanalise was Phil vir ’n ruk by Valkenberg Hospitaal in die Kaapse Skiereiland as kliniese assistent werksaam. Hy self het daarna vir ’n aantal jare psigoanalise ondergaan. Hy was in ’n algemene praktyk werksaam as ’n psigiatriese aanstelling. Volgens Wikipedia was hy die geneesheer van die Amerikaanse skrywer en antropoloog Robert Ardrey en sy vrou, die aktrise Berdine Grünewald, wat in St James in Kaapstad kom aftree het.

In 1964, nadat Phil vir die jong digter Wilhelm Knobel ontmoet het, het hy begin poësie skryf. In 1966, skryf Marié Blomerus, word Phil deel van ’n groep digters wat een keer per maand bymekaarkom om elk ’n gedig vir bespreking voor te lê – die meeste van hulle verlief op die woord.

Sy eerste gedigte het in Sestiger verskyn. Hy het kennis gemaak met De Waal Venter, Casper Schmidt en DPM Botes, sowel as die digters Peter Horn en Walter Saunders. Phil was ook van die begin af betrokke by die letterkundige tydskrifte Wurm en Ophir. Saam met Blomerus neem Phil Wurm by De Waal Venter oor en daarmee brei hy sy wye kring kennisse verder uit, en Nederlanders, Belge, Engelse, Tsjegge en selfs ’n Suid-Amerikaner, plus ’n groep Amerikaners uit Griekeland, se briewe, gedigte, tydskrifte, sienings en bespiegelings kom “maak nes in ons afgesonderde midde en in Wurm om ’n hele nuwe wêreld vir ons oop te maak,” onthou Blomerus.

Hy was redakteur van Wurm, Izwi en New Nation, asook van die Vlaamse blad Argo. Phil het in Holland en Vlaandere meegewerk aan Yang, Argo en Labris. Musiek- en literêre kritiek deur Phil verskyn in al die belangrike Afrikaanse koerante.

As gevolg van Phil se betrokkenheid by Wurm kom hy gereeld by Marié se huishouding, waar hy skynbaar tuis gevoel het en waarheen hy met “sy vreugdes en angste gekom het, oorgevoelig en saggeaard met ’n diepliggende donker pyn wat dikwels soos ’n springvloed teen die broos hawemuur van sy emosies geslaan het”. (Die Burger, 2 Desember 2011)

Dit was gedurende hierdie tydperk dat hy deur die destydse veiligheidspolisie aangekeer en vir ’n hele nag se ondervraging na John Vorster-plein gebring is. Dit was vir sy vriende baie traumaties, maar genadiglik het dit skynbaar geëindig met die woorde: “Jongman, jy moet liewer na Fouriesburg teruggaan.”

Phil se eerste bundel, Geskrifte om ’n houtgesig, 1965–70, word in 1971 by Tafelberg Uitgewers gepubliseer. Die gedigte in die bundel is in vier afdelings ingedeel. Die afdelings is “Totem”, “Sewe gedigte vir Martlé”, “Credo” en “Eskaton”.

Ronnie Belcher (RSG: Oor Skrywers & Boeke, 23 September 1971) skryf dat die gedigte in hierdie bundel verwysingsgedigte is. “Byna elke gedig verwys na, of is opgebou rondom ’n figuur, ’n ritueel, ’n beskouing uit die geskiedenis, die mitologie of die godsdiens. Verskeie kulture word betrek en die bundel toon ’n wye tematologiese register. Alhoewel daar bekende Bybelfigure soos Moses en Judas voorkom, is die houding van die spreker ook aards gerig.”

André P Brink (Huisgenoot, 10 September 1971) meen dat Phil du Plessis hom al meermale aangebied het as segsman van ’n “generasie” – die sogenaamde Wurm-groep wat ’n mens sou kon bestempel as die “ondergrondse beweging van Sestig”. “Deur volgehoue eksperimenteerlus en knaaglus het hy en sy groep dan ook ’n waardevolle funksie verrig om die poësie ‘oop’ te hou, selfs al wás baie daarvan dan net bewys van ’n nogal naarstige nood om ‘by te bly’ by die eksperimenteerders in Europa en die Amerikaanse ‘undergraduate reviews’.”

Brink voel dat die titel van die bundel veelseggend is en gelukkig gekies is: “[H]ierdie gedigte is ’n kabbeling van die taal sowel rondom as omrede (ter wille van) ’n ‘houtgesig’, ’n totem, ’n primitiewe nie-verbale beswerende ding. Dit is nie poësie wat wil ‘beredeneer’, ‘beskryf’, of ‘besing’ nie: dit wil teken wees wat heenwys tot dinge: dinge wat so volstrek en onontkenbaar in hul eie reg staan soos die duif in die uitmuntende slotvers ‘vlugspektrum’. (...) In sy geheel ’n bundel met enkele werklike eersterangse verse, aansienlike vakmanskap – maar min tekstuur, te veel uitgestalde erudisie, te veel maklike mooi woorde en verwysing, te veel wol. Die hoop op ’n Vlinder behoort nie te beskaam nie.”

Phil se tweede bundel, Die diep soet afgeronde stem van my dooies, verskyn in 1975 – weer by Tafelberg. Teen die einde van sy mediese studie in 1968 en die eerste jare van sy praktyk was hy veral swaar getref deur die dood van persoonlike vriende, onder andere dié van Martli, dogter van Victor Pohl, asook die dood van pasiënte, en het hy heelwat geskryf oor die dood en probeer delf in die hoekom daarvan. Dit het toe op sy tweede bundel uitgeloop.

Weer, sê André P Brink (Rapport, 13 Julie 1975), val ’n totemistiese instelling mens hier op, “‘n beswering van die dood, maar ook van die lewe; en waar die eerste bundel elegies in onderdele was, is hierdie nuwe bundel dit in sy geheel. Uiteindelik: ’n bundel wat mens tref deur die afronding van sy geheel, en die voortreflikheid van ’n hand vol individuele verse. Hiermee het Du Plessis hom nóg nie geskaar onder die paar belangrikste digters van Sewentig (Strydom, Stockenström en Olivier) nie. Maar dit is ’n keurige bundel tussen die sovele ander van jongeres wat die indruk van oorywerigheid wek. ’n Kil estetisme lyk my in dié stadium die digter se grootste bedreiging.”

Phil se nuwe bundel is opgedra aan sy vriend Wilhelm Knobel, wat voor die publikasie van hierdie bundel gesterf het. PD van der Walt (Transvaler, 30 Augustus 1975) skryf dat Phil met hierdie bundel ’n toevoeging tot die elegie of lyksang in die Afrikaanse poësie lewer, en een van die dooies van die titel is juis Wilhelm Knobel, wat self ook ’n digter van onder meer die dodesang was. “Die bundeltitel met sy gedagte van die afgerondheid, die voltooiing wat ’n mens in sy dood bereik, laat onwillekeurig dink aan hierdie tema wat in die poësie van die Nederlandse Negentiger JH Leopold voorkom. (...) En die idee van ’n beswering van lewe en dood in die woord, herinner aan die obsessionele gedigtevloed van Gerrit Achterberg. Maar dis toevallig ooreenkomste (...).

“In vergelyking met sy eerste bundel gedigte openbaar hierdie tweede ’n opvallende rypheid en ontwikkeling ten goede. Hierdie poësie het ’n groter diepgang, ’n vaster en oortuigender vormgewing as sy eerstes. Die poëtiese kwaliteit is in alle opsigte beter – waarmee ek darem nie impliseer dat hierdie verse deurgaans van dieselfde gehalte of foutloos is nie. Phil du Plessis se bundel het uiteraard ’n sekere eenselwigheid van tema en stemming, maar die onderwerpe wissel en so ook die versaard van die verskillende gedigte. Die stem van die digter word ook vaster, sekerder, sterker soos die gedigte op mekaar volg, en bereik myns insiens ’n hoogtepunt in die gedig ‘Afskeid aan Wilhelm 2’.”

Volgens Wium van Zyl (Beeld, 25 Augustus 1975) is hierdie bundel van Du Plessis uitsluitend rondom die lyksang opgebou, maar dat ’n mens nooit die konvensionele betreuring van die geliefde hier aantref nie. “Die treursang, die fado, die elegie, die lyklied is belangrik, en dikwels getuig die gedigte van ’n musiese inslag wat tot uiting kom in herhaling (soms met variasie) of omskrywing. Verskeie faktore maak dus van die bundel ’n eenheid en die ‘afgeronde’ in die titel kan selfs hier ter sprake gebuig word. Dieselfde geld egter geensins vir die verskillende gedigte nie. Du Plessis maak besonder dikwels van ’n reeks of siklus verse gebruik om verskillende aspekte tematies beter te belig. Dikwels steun hy in so ’n mate daarop dat die gedigte geensins selfgenoegsaam is as dit afsonderlik gelees word nie. (…) Daar is ’n opsetlike gekunsteldheid en ’n hinderlike ongedefinieerdheid wat veroorsaak dat die bundel as geheel nie ’n duidelike merk by die leser laat nie.”

Joan Hambidge (Beeld, 25 Augustus 1986) voel dat Phil se eerste twee digbundels gekenmerk is deur ’n gewigtige, geswolle segging. “Dié retoriek word ook dikwels verbind aan duister, esoteriese verwysings wat die lomp versifikasie moet verdoesel. ’n Hele geslag digters het Breytenbach in die jare sewentig probeer na-aap; en helaas vergeet dat die vrye versvorm by uitstek sy eie bindingselemente het, soos klankskakels, assosiasie-patrone, semantiese eilande, ensovoorts. Juis omdat Du Plessis se vorige bundels die indruk van woordrykheid gemaak het, is sy jongste bundel, Ek sing waar ek staan, se soberheid én ekonomiese segging ’n aangename verrassing. (...) Dit is ’n pluimpie vir die digter dat sy liriek in hierdie bundel (met ’n houtsnee van Cecil Skotnes op die voorblad) ‘in beheer bly’. ’n Mens word deurgaans bewus van ’n soort elegiese toon, soos knap ververs in die ‘Proloog’, opgedra aan die digtersvriend Wilhelm Knobel.”

Tot 1989 word Phil se digbundels by Perskor en Tafelberg uitgegee – Lyksang (Perskor, 1980), Ek sing waar ek staan (Tafelberg, 1986), Dae voor winter (Tafelberg, 1989), saam met sy eerste twee bundels. Phil vertel aan Amanda Botha (Transvaler, 8 Mei 1981)dat die poësie in Lyksang ’n samevloeiing is van drie temas: “die landskap, die argaïese religieë en nou ook die hoekom én oorwinning van die dood. Lyksang word ook die afronding van ’n tema – die tema van sy beheptheid met die dood. Hierdie bundel het enorme leeswerk geverg. Veral Frazer se Golden bough en Jung se werke oor die alchemie. Om die kennis te gebruik sonder om die materiaal uit eie onderbewuste heeltemal te smoor, was ’n moeilike taak.”

Dit was ’n stryd vir Phil om sy eerste twee bundels gepubliseer te kry, maar gelukkig het Berta Smit, keurder, ’n “intense persoonlike belangstelling daarin getoon”. Voordat Perskor Lyksang gepubliseer het, het hy dit eers self vir vriende gepubliseer as afgerolde bundel waar hy ook met illustrasies uit die Tibettaanse boek van die dooies en Frazer se ondersoeke na die betekenis van die boom as deurlopende tema van die mitologie visueel geëksperimenteer het, het hy aan Botha vertel.

Die subtitel van Phil du Plessis se derde manuskrip, Lyksang: gedigte 1974-80, was “okkulte poësie” en hoewel dit nie op die gepubliseerde bundel se titelblad verskyn het nie, was dit nog van toepassing, het DJ Hugo in Volksblad van 10 Junie 1981 geskryf.

Hugo het voortgegaan: “Die private en intens persoonlike aard van hierdie gedigte word reeds met die buiteblad van die boek gesuggereer. Dáár word die leser naamlik gekonfronteer met die digter self in lyksgewaad. Die ‘wesenlik vroulike simbole’ in die bundel kry hier gestalte in die vrouebors as attribuut van die manlike liggaam.”

Hugo stem egter nie saam met die beskrywing van die persstuk dat Lyksang se gedigte toeganklik is nie: “Die verse maak oor die algemeen ’n vae, abstrakte indruk. Daar is weinig beelde wat die leser boei en verlok om dringender te lees. (…) In Du Plessis se guns kan wel gesê word dat hy ’n unieke soort poësie in Afrikaans skryf. Of sy poësie gewild gaan wees onder die klein (en krimpende?) groepie Afrikaanse poësielesers val nog te besien.”

Johan van Wyk was die resensent van Lyksang in Vaderland (25 Februarie 1982) en hy het sy bespreking as volg afgesluit: “Lyksangis ’n bundel waarvan die eerste afdeling ‘L’Amoureux’ besonder swak is, maar waarvan die res daarvoor vergoed. Dit is poësie wat met aandag gelees moet word, alhoewel dit baie eenvoudiger is as wat dit wil wees.

“In baie opsigte is die bundel eerder ’n interpretasie van verskynsels in die Alchemie as wat dit ’n manifes van ’n ware Alchemis is.”

Met die verskyning van Ek sing waar ek staan in 1986 is hierdie bundel se “soberheid én ekonomiese segging” vir Joan Hambidge (Beeld, 25 Augustus 1986) ’n aangename verrassing.

Hambidge het voortgegaan: “Dit is ’n pluimpie vir die digter dat sy liriek in hierdie bundel (met ’n houtsnee van Cecil Skotnes op die voorblad) ‘in beheer bly’. ’n Mens word deurgaans bewus van ’n soort elegiese toon, soos knap verwerk in die ‘Proloog’, opgedra aan die digtersvriend Wilhelm Knobel.”

Lucas Malan (De Kat, November 1986) was die volgende mening toegedaan: “Ek sing waar ek staan is redelik skraal in terme van substansie en beeldgebruik. ’n Hele paar gedigte beslaan net enkele reëls op ’n bladsy en steun dus op die swygende wit van die onbeskrewe papier, soos die neerslagtige reeks ‘Valkenberg’, wat plek-plek aan die haikoe herinner. Die bundel is keurig uitgegee met ’n houtsnee van Cecil Skotnes op die voorblad.”

Phil du Plessis se vyfde bundel Dae voor winter is in 1990 deur Tafelberg uitgegee. En Fanie Olivier (Vrye Weekblad, 19 Oktober 1990) skryf dat die titel op beide die herfsgety in die natuur as die najaar van die lewe sinspeel: “Dit is ’n tyd van besinning, maar ook een waarin ’n mens met gelatenheid die verlede oor jou kan spoel.

“Net gelatenheid? Nee, ook verlange na iets wat onherroeplik verby is; geskiedenis dus, wat in die helder lig van ’n Kaapse herfs aan jou bly knaag.

“In hierdie lig dui hierdie bundel op vernuwing in die werk van Du Plessis, ’n man wie se vroeëre bundels moeisame lees beteken het: heelwat esoteriese verwysing aan die een kant en ’n taalvertonerigheid aan die ander. (…)

“Alhoewel ‘Dae voor winter’ ’n deurgewerkte bundel is, is dit waarskynlik ook juis hierdie bedagtheid wat hinder. In plaas daarvan dat die stemmings en gevoelens ‘vlekloos’ en ‘diep gevou in donker koue water’ lê, word hulle te nadruklik juis gesê.”

Vir Helize van Vuuren (Die Burger, 25 Januarie 1990) is Dae voor winter ’n “eerlike bundel, waarin Du Plessis laat blyk dat sy talent veral in die skryf van liriese bieg- en liefdespoësie lê – teen ’n afskrikwekkende sagtebandprys van R25 plus belasting!” (En sy was nie die enigste resensent wat oor hierdie prys gekla het nie – E Terblanche.)

In 1992 verskyn Openbaringe en Johannes by Carrefour Press in Kaapstad. Phil het aan Theunis Engelbrecht vertel (Beeld, 26 Mei 1994): “Toe Tafelberg Openbaringe en Johannes in 1989 vir publikasie aanvaar het, maar gesê het hulle sal dit eers oor drie jaar kan uitgee, het ek besluit om ’n ander uitgewer te soek. Ek het die boek self ontwerp en kon die papier kies. Die resultaat was ’n taamlike duur, maar baie mooi boek, wat ’n bevrediging was.”

Op Koueberg (Snailpress, 1993) en Engel uit die paradys (Hond, 1994) is ook by “alternatiewe uitgewers” uitgegee en hieroor het Phil gesê: “Dit is omdat ek daarvan hou om kontak te behou met my teks in die proses van die maak van die boek. By ’n groot uitgewery gee jy vir hulle jou manuskrip, daar word geredigeer daaraan, meestal stem jy nie saam met die redigering nie en jy het ook nie ’n sê wat die omslag en tipografie betref nie.”

Phil het verder aan Theunis Engelbrecht vertel dat hy soms neig om doelbewus ’n tema vir ’n boek te neem. “Ek sing waar ek staan is letterlik ’n eksistensiële ontginning van waar ek my in die wêreld bevind. Openbaringe en Johannes was ’n doelbewuste poging om my eie gevoelens oor die geweld in die land en die politieke situasie uit te druk in terme van die laaste Bybelboek.

“En wat Engel uit die paradys betref: omdat ek vyftig is, wil ek soort van terugkeer na die begin. Ek het Paradise lostbegin lees en gou opgehou, want dis te lank en te droog. Die afskoppunt van die bundel was dat ek wou skryf oor wat in myself aangaan eerder as die buitewêreld. Ek wou wys dat daar in die gemoed net soveel gewelddadige goed gebeur as buite.”

In hierdie bibliofiele uitgawes word sy poësie gekombineer met werke van visuele kunstenaars. Openbaringe en Johannes het tekeninge deur Braam Kruger, Engel uit die paradys illustrasies van Hugo Slabber, Nagjoernaaltekeninge en skilderye van Judith Mason, en Herakles by Valsbaai pentekeninge deur Jan Visser. Phil se vrye verwerkings van Han-Sjan se Chinese verse, wat een van Phil se gewildste werke is, is aangevul met sketse van Gus Ferguson.

In sy resensie van Openbaringe en Johannes (1992) in Insig van Augustus 1992 was TT Cloete baie afwysend oor die bundel en het gemeen dat dit ’n teruggang op Du Plessis se voorlaaste bundel is. “Daar is ’n aantal redelik aanvaarbare gedigte, maar dit is die minderheid. Daar is hinderlikhede in die taalversorging, met allerlei sintakties vreemde wendinge, die onnodige weglaat van die lidwoord, ens. Dit is ook nie altyd duidelik waarom sekere verse met hoofletters begin en ander nie.”

Hierop het Barend Toerien (Insig, September 1992) gereageer deur te sê dat Cloete se resensie slordig en irrelevant is. Die titel word, volgens Toerien, twee keer verkeerd aangehaal as Openbaringe van Johannes en Toerien meen dat die bundel bokant Cloete se vuurmaakplek is.

JC Kannemeyer (Beeld, 6 Julie 1992) voel dat Phil du Plessis nie maklik toeganklike poësie skryf nie. “Sy verse verg veel van die leser wat hom naas die mitologiese basis in uiteenlopende wêrelde van die gees moet verdiep ten einde die kern van hierdie poësie te benader. Wie egter bereid is om dit te doen, sal ryklik beloon word deur die ervaring van hierdie bundel, wat ek sonder meer as ’n belangrike publikasie en ’n groot vooruitgang op die digter se vroeëre werk wil bestempel.”

Judith Mason was die resensent in Vrye Weekblad (19–25 Junie 1992) en sy betreur die feit dat Du Plessis self die bundel moes uitgee, en sy sluit haar resensie as volg af: “Trendies may bemoan the poet’s elitism. He is an unashamedly well-educated writer. Wordlings may deplore his refusal to accept only the secular as real. God is his legitimate prey. Chauvinists of all persuasions may be affronted by the way in which he embraces male and female within himself and emerges whole. Everybody else, for the price of a good cabernet, will hold in their hands a book which is brutal and charming, outrageous and compassionate, sensual and sore, angry and immeasurably humane. Like the man himself.”

Op Koueberg bevat veertig verse van Han-Sjan, wat mitologiese status verwerf het in die poësie van Breyten Breytenbach en Petra Müller.

Joan Hambidge (Die Burger, 7 September 1993) het geskryf: “Du Plessis se inleiding tot Op Koueberg volstaan met net die essensiële feite: Koue Berg (Han-Sjan) se byna 300 gedigte is bykans al wat ons van hom weet en oor het. Ons kan uit die tekste aflei dat hy aan die einde van die agtste eeu, die begin van die negende eeu geleef het. Han-Sjan het ’n vriend Sji Te, ’n kok, gehad en hierdie twee se onhebbelike gelag en gejil was aan almal bekend. Gedigte is sommer op bome, kranse of selfs die mure van huisies in die berge geskryf. Du Plessis verwys na Han-Sjan se viering van die natuur en die sterk mistieke toon. Ons verneem verder dat die digter by verskeie Engelse digters gaan kers opsteek het, en veral die meer direkte verse, wat nie op te veel verwysings staatmaak nie, is vir dié versameling uitgekies.”

Volgens Hambidge is Du Plessis nie ’n dawerende digter nie, maar wanneer hy die eenvoudige, liriese gedig skryf – soos Ek sing waar ek staan, 1986 – oortuig die versifikasie. “Die meer arkane, disparate gedig wat steier onder die vreemde of slim verwysing het nog altyd ’n groot klomp lesers van sy poësie vervreem. Maar wanneer ’n mens hierdie keuse direk bely, is die digter dikwels erg verontwaardig.

“Die jongste versameling bewys opnuut dat Du Plessis se sintuig vir die direkte, liriese verse vertrou kan word. ’n Hele handvol van dié verse is geslaagd in hul eenvoud van segging. Tog had dié leser die gevoel dat die meerderheid gedigte sou baat vind by ’n tweede, selfs derde ómdigting. Vir my gevoel is die towermag van die poëtiese segging plek-plek afwesig: Amper asof ’n mens die gedig in die water sien kabbel òf teen die huisie se muur sien staan. Maar daar is pragtige goed. (…) En dit is ’n bundel wat veral onthou sal word om die lewenswyshede hierin en die soms slim, oortuigende beelde wat die digter Phil du Plessis aanwend. Gus Ferguson se sketse is prettig.”

In Sash (September 1993) skryf Antjie Krog: “Poetry and visual art in the same volume often create negative tension, the one detracting interest from the other, or they sometimes portray conflicting individualities. Phil du Plessis has consistently used art works in his later volumes with varying success. In Op Koueberg he has found the magical balance. The drawings by Gus Ferguson form a perfect unity with the clear, vivid and playful poetry without detracting from the profundity of a poet living in a cave filled with light, sometimes drinking, sometimes dancing in a coat without lining, sometimes sitting regop like a stick, sometimes dreaming that he sees his wife again sitting at her weaver’s frame. From these short verses a charming personality and world come into focus. (...)

“The poetry as translated by Du Plessis keeps the profundity of wise Chinese sayings as well as the sharp picturesque lines as seen on Chinese prints. (...) In times of transition, to those still living in the wake of the strenuous sounds of political and self-conscious a-political poetry, this volume brings the sound of simple beauty, clarity and fun. In an unpretentious way it combines the excellent drawings (thick lines, delicate lines, humorous lines, a wrung moon) with charming and timeless poetry.”

In 1994, met die digter se vyftigste verjaardag, word Engel uit die Paradys gesamentlik by Hond en Snailpress uitgegee. In Die Burger (3 Mei 1994) skryf Riëtte Botma dat die leser met die oopslaan van die bundel ’n eksklusiewe domein met eie grense en reëls betree. “Du Plessis dig soos ’n komponis, en hierdie fyn georkestreerde bundel kom die beste tot sy reg as ’n mens die gedigte in die vier afdelings agtereenvolgens lees, eerder as om rond te blaai en hier en daar een uit te kies.

“Van die verse is afsonderlik niksseggend, of niks meer as net ’n blote aantekening nie. Veral die stemmingswisselinge van die geheel gaan sodoende verlore, en die belewenis van so ’n bundel lê juis daarin om jou van begin tot end te laat meesleur.

“Die eerste deel moet volgens die opdrag ‘nadenkend, stemmig’ gelees word. Sommer dadelik kom die oeroue opposisie tussen goed en kwaad aan die bod. (...) Die tweede afdeling is ‘ligvoets en landelik’, verslae van ’n pure sintuiglike belewing van die platteland. Dit is ’n aardse reis deur ’n landskap met lekkersêname: Sederberg, Knersvlakte, Lekkersing, Bitterfontein, Stinkfontein. Maar soos uit die name afgelei kan word, het selfs hierdie prysliedere op die weelde van die aarde ’n mineurklank wat knaend herinner aan begrippe soos sterflikheid en verganklikheid.”

In die derde afdeling vier die lyflike liefde hoogty, maar “onder draai die duiwel van onvervuldheid rond. (...) In die roerende slotafdeling (‘romanties en verlangend, maar met wisselende pas’) word voortgebou aan die mosaïek van skadu en lig.”

George Weideman (Afrikaans Stereo: Versalbum, 14 Augustus 1994) meen dat die bundel ’n gepaste viering vir die digter se vyftigste verjaardag is, al is die bundel minder omvangryk en sekerlik minder kompleks as Openbaringe en Johannes. “Die bundel is nie sonder gebrek nie. Hier en daar pla geforseerde woorde en beelde wat dalk nie meer so vars klink nie. Maar vir die poësieliefhebber is hier tog veel pitkos en plesier.”

Nagjoernaal, wat in 1996 deur die private stigting Lindlife gepubliseer is, is pragtig gedruk op “sensuele riffelpapier” en is voorsien van tekeninge en buiteblad deur Judith Mason, aan wie die bundel opgedra is. Volgens Petra Müller (Die Burger, 16 April 1997) is Nagjoernaal ’n “stel gedigte en digreekse met ’n uitgespelde metafisiese bedoeling: ’n soektog na die Boeddha-pêrel (van verhelderde insig) wat op die buiteblad en deur die teks figureer. In hierdie deursigtige pêrel word, deur ’n draad van erotiese ekstase, die sigbare wêreld gebore, gevier, en getransendeer. Die digter as Magus, en hoofsaaklik as Prospero, bring hierdie seminale skeppende arbeid te weeg. Beroemde digters, van Han Sjan tot Eliot, word opgeroep as geestesmetgeselle.”

Petra Müller het ook gevoel dat die gedigte van verskillende slag en gehalte is. “Daar is pragtig volvoerde liriese gedigte, in passie ontvang en gebore, dikwels gestol om ’n flitsende natuur-evokasie. En hier is Du Plessis op sy bekende beste (...) Die bundel toon ’n radikale gebrek aan selfkritiek, ook in die geval van Judith Mason. Hierdie kunstenares, wat, net soos Du Plessis, volledig in staat is tot die lieflik liriese lyn, het in baie van die illustrasies in die slagyster van verletterliking getrap. Party illustrasies hier is hemels tekenend, ander is kitsch en party is doodgewoon laf. (...)

“Die bundel as geheel is egter meer bedoeling as prestasie. Die oomblikke dat ’n digter uit die persoonlike in die mitiese oortree is ’n gevaarlike, wankel moment. Du Plessis het dit tevore reggekry toe hy die Namibiese woestyn as sy ruimte kon kies. Maar hier, op die eiland van Ariël en Caliban, is dit nog musiek vir die toekoms.”

Op RSG was Ria Smuts (RSG, Skrywers & Boeke, 2 Maart 1997) van mening dat hoewel enkele van die gedigte in Nagjoernaal nie vry te spreek is van ’n mate van sentimentaliteit nie, en party ’n bietjie los van struktuur is, “die onderdele ’n merkwaardige peil van samespel bereik. Die bundel as geheel getuig van ’n beskaafdheid van die gees en opgeskerptheid van die sintuie. Dit is net jammer dat die uitgewer soveel foute laat deurglip het.”

Joan Hambidge (Insig, Maart 1997) het geskryf dat Nagjoernaal kolonialisme wil aanspreek en die lot van die verstandelik gestremde in die inrigting. “Inperking of kolonialisering in al sy vorme word in hierdie bundel wat R195 kos, ondersoek en wat ek meen bittermin mense sal kan bekostig. (...) Die reeks gedigte oor die toestand van die sielsiekes is vanuit ’n sosiale perspektief interessant, maar as gedigte oortuig dit hierdie leser nie. Dit is blote indruk op indruk op indruk wat nog nie tot poësie omgetower is nie. Dit is ’n moeisame, moeisame bundel, omdat ’n mens selde ’n oortuigende beeld kry. Waarskynlik is die grootste probleem van hierdie bundel dat die digter dit sélf gepubliseer het. Dit is nou maar eenmaal so – ’n literêre redakteur by een van ons uitgewershuise sou die digter van raad kon bedien het. Dan kan die bundel soveel anders gelyk/geklink het.”

In 2004, net na Du Plessis sestigste verjaardag, word Woordweer: gedigte uit die twintigste eeu by Protea Boekhuis gepubliseer. Oor sy besluit om hom vir hierdie bundel weer na ’n kommersiële uitgewer te wend, het Phil aan Theunis Engelbrecht vertel (Rapport, 18 April 2004): “Protea Boekhuis omdat hulle na my mening die redders van Afrikaanse poësie in boekvorm is ná die kommersiële verraad van die gevestigde Afrikaanse uitgewersmonopolie – wat gegrond was op die drukkery wat Die Patriot tydens die Tweede Taalbeweging uitgegee het. Die resultaat van my samewerking met Protea Boekhuis getuig van die vreugde wat ’n skrywer kan ervaar met ’n redaksie wat intens omgee vir ’n teks waarmee hulle werk en vir wie goeie Afrikaanse digkuns ’n brandende fokuspunt is.”

Phil het nie Woordweer geskryf met ’n agenda nie, het hy verder aan Engelbrecht vertel: “Ek het besluit om my tyd te neem en ’n bundel te skryf waarin my verbeelding vry vloei. Ek het gevorm rondom ’n -subtitel, Gedigte uit die twintigste eeu, want met my sestigste verjaardag op pad was dit vir my belangrik om my kreatiwiteit te plaas in die tydperk waaruit dit gevorm is. Ek wou nié ’n kunstenaar gebruik nie en het besluit om te sorg dat die materiaal sélf ’n grafiese kwaliteit sou hê.

“My eerste idee was om van die avant-gardistiese werk wat in die jare sestig in die literêre tydskrif Wurm verskyn het, te gebruik, naamlik die ‘Kwadrantiese aleatoriek’ – ’n hoogs esoteriese paar bladsye.

“Die eerste (ongetitelde) gedig vir die bundel was oorspronklik deel van die voorbladillustrasie van Extraterritorial, ’n versameling opstelle deur oom George Steiner. Dit bestaan uit twee strokies ponskaarte waarmee rekenaars aanvanklik inligting gevoer is. Ek het dit gefotokopieer en in vier patrone gepas om by die Wurmgedig te pas.

“Wat daarop moes volg, was ’n maklike keuse: brabbeltaal in Frans en Latyn uit Molière se La malade imaginaire, waarin ek heerlik gespeel het met wat die Frans en Afro-Latyns daarvan gemaak het. Daarop volg my vertaling van Lewis Carroll se ’The Jabberwocky’ in Through the looking-glass met die titel ‘Die Kekkelbek’.

“Ek het verder Gilgamesj se ‘Klaaglied vir ’n soldaat aan die oewer van die Eufraat’ uit Engels vertaal en die bulle en duiwels uit die hemel in sy klaaglied vervang deur Amerikaners en Britte. Die Babiloniese weergawe van die gedig is ook in die bundel opgeneem.

“Van die eerste gedigte wat ek vir die bundel geskryf het, was vrye verwerkings van gedigte uit ’n siklus van Bertolt Brecht wat oor graffiti en oorlog handel. Ek het gedeeltes uit ’n ander gedig van Brecht, met die Afrikaanse titel ‘Slegte tye vir liriek’, doodgekrap en net so in die bundel geplaas omdat ek kopieregprobleme sou ondervind en omdat dit reeds in Afrikaans vertaal was. Dit word gevolg deur ’n doodgekrapte laaste strofe van my vertaling van Brecht se ‘En wat kry die Duitse soldatevrou?’ met die nuwe weergawe daarby.

“Al dié idees het uiteindelik vorm gegee aan die bundel in die sin dat ek met my eie Dadaïsme kon begin, onwaarskynlike skrywers daarby kon betrek en die bundel eindig met die uitwissing van skryf. (Bertolt Brecht het die Nazi’s uitgedaag om sy werk te verbrand, wat aansluit by die uitwissing van die outeur in postmodernistiese literêre teorie.)

“Een van die laaste gedigte in Woordweer bestaan net uit krapmerke op die papier soos vloerplanke – die idee is regstreeks gesteel uit die einde van JM Coetzee se Elizabeth Costello, waar gekla word dat woorde soos vrot vloerplanke geword het. Al wat verder nodig was vir my bundel, was ’n leë bladsy waarop ’n bladsynommer uitgekrap was.”

Benewens die eksperimentele werk bevat Woordweer blues, ’n urban legend (“Die fabel van die visserman en die klipvis”), protes, ’n hermetiese vers (“Onbekende meisie in die Koesj – Arthur in die dodehuis”), praatstories, haikoes en gewone liriese verse.

Die produksie van Woordweer was egter nie sonder probleme nie. Aangesien die laaste bladsye uit doodgekrapte teks bestaan, het die drukker besluit om dit uit te laat toe die boek gedruk is. Daardie deel moes ná die tyd herdruk word en by die res ingebind word.

Volgens Fanie Olivier (Beeld, 1 November 2004) is Woordweer in baie opsigte ’n huldeblyk aan ’n era en ’n eeu met die laaste stuiptrekkings die postmodernisme as ’n dominerende inslag. “In hierdie verband verwys ek na sowel die voor- as die agterblad (waarin die digter homself en sy bundel relativeer),en na die laaste ses ongetitelde bladsye, versstukke en krapsels. Dit is, om eweneens post-modernisties na ’n vertroude bron te verwys, vir dié wat blind is en oë het om te sien, soos die ‘braille’-gedig waarmee die bundel open. Die spel is trouens ook in die titel opgesluit: weer ’n slag woorde; woorde om jou mee te verweer; weer, die klimaat of omstandighede, vir woorde. Hierdie bundel is soos Phil du Plessis nog altyd was: kompromisloos (ook vir die uitgewer, ’n dapper Protea) self.”

Bernard Odendaal skryf in Die Volksblad (5 Julie 2004) dat uitstaande kenmerke van Du Plessis se digwerk in Woordweerteruggevind word, soos die twee Dadaïstiese werke wat reeds in die sestigerjare gepubliseer is. “’n Volgende terugkerende tematiese gegewe in Du Plessis se verskuns is die kwesbaarheid van die mens en sy vreugdes. Dié motiewe kom in die derde bundelafdeling aan bod in gedigte wat dikwels, gepas, haikoe-agtig voorkom en flitsmomente vasvang. Ongelukkig ontkom sulke gedigte nie altyd aan die gevaar van oppervlakkige waarneming nie.” Vir Odendaal lewer Woordweer ironieserwys ’n boeiende leeservaring en ’n hoogtepunt van Du Plessis se digterskap op. “Dit plaas hom as ’n opmerklike avant-gardedigter voor ons oë.”

Charl-Pierre Naudé (Die Burger, 24 Mei 2004) skryf dat Woordweer amper uitsluitlik net as ’n lesing op die intertekstuele vlak beloon. “Die gedigte meestal nie op sigself nie. Maar as metaforiese gesprek tussen die gedigte onderling en met die historiese tekste wat opgeroep word, laat die bundel ’n helder – en soms tergende – nabeeld. (...) Woordweer het te veel gebreke. Met hierdie bundel (...) flikker daar gevaarligte vir daardie baie ondernemende uitgewer, Protea Boekhuis. (...) Die sterk punte van die bundel kan steeds nie vergoed vir die tekortkominge nie.”

Op hierdie resensie reageer Wessel Pretorius (Die Burger, 21 Junie 2004) as volg: “Phil du Plessis se tiende digbundel, Woordweer, verdien ’n meer ervare resensent, of dan ’n geesgenoot, of iemand soos ek om iets te sê oor Phil se werk. Terloops, wie is Charl-Pierre Naudé? Met elke nuwe bundel versit Du Plessis grense in ons verskuns met die behendige aanwending van ’n magdom verwysingsvelde. Phil se verse delf in die mistiek en het ’n unieke aanslag. Woordweer lewer weer eens aan die leser ’n leeservaring: fabels van weleer word opgetower, opdragverse, milieu-agtige verse en vrye versvertalings doen mee om ’n landskap te skilder waar Wilhelm Knobel, Casper Schmidt en andere was. Protea Boekhuis is bevoorreg om Phil se werk uit te gee.”

Phil het in 1981 aan Amanda Botha vertel dat van die begin af was sy belangstelling in die woord en struktuur van taal en poësie. Sy eerste skryfsels wat uit 1960 dateer, was veral onder die invloed van Gertrude Stein. Haar “unieke benadering tot betekenis”, erken hy, het hy “onweerstaanbaar” gevind. Sy vervoering oor haar kort poësieagtige geskriffies en die betekenisvlakke wat sy aan ’n woord en ’n sin kon gee, is nog daar.

“My eerste werk was meestal eksperimenteel en ek het Afrikaans eers indringend begin lees ná my ontmoeting met Wilhelm Knobel. Afrikaanse digters as sodanig het nooit eintlik regstreeks ’n invloed op my uitgeoefen nie. Ek het wel bewondering vir die werk van Sheila Cussons.

“My belangstelling het gelê in die struktuur en die verskillende betekenisvlakke wat aan ’n gedig gegee kon word. Deur eksperimentering en eerste verkenning van die mitologie, veral die Bybelverhale, het my eerste digbundel verskyn.”

Phil was getroud met Catherine Lauga, ’n lektor in Frans aan die Universiteit van Kaapstad. Sy was ’n Franse vertaler wat onder andere Disgrace van JM Coetzee in Frans vertaal het. Daarvoor het sy die Prix Baudelaire de Traduction onder beskerming van die Societé des Gens de Lettres ontvang, asook die Prix Amphi deur Lille University. Sy is op 5 Junie 2016 oorlede. (False Bay Echo, 16 Junie 2016)

Op 28 November 2011 is Phil in die Constantiaberg-Mediclinic oorlede nadat hy sedert Mei 2011 in en uit die hospitaal was.

Sy stiefdogter, Elsa, het hom beskryf as iemand wat baie sensitief is “en ’n diep geestelike mens”. Hy het ’n ongelooflike waardering vir die mooi goed in die lewe gehad, het sy gesê. Hy is ook beskou as ’n ware Renaissance-man, iemand met ’n passie vir die mooi goed in die lewe.

Johann de Lange het onthou dat Phil in ’n stadium aan die digter Sheila Cussons onderdak gegee het. “Dit was heerlik om saam met haar op die veranda te sit en uitkyk oor die treinspoor reg voor die huis, die rotse waaroor die golwe breek, en te luister na Phil wat toe-oog speel met die viool teen sy ken gedruk.”

Vir Marié Blomerus (Die Burger, 2 Desember 2011) sal Phil altyd ’n gewaardeerde enigma bly: “’n besonderse mens met ’n besondere verstand en ’n buitengewone siening van taal; ook maklik die persoon met die donkerste psige wat ek ooit geken het. Sy benadering van die skryfkuns was so anders as dié van die gewone digter en het bepaald met die onbegryplike duisternis waarmee hy geworstel het, te doen gehad, hoewel dit soms na maklike woordspelings gelyk het.

“Ellen Terry (’n beroemde Engelse aktrise wat van 1847 tot 1928 geleef het) se gesig sal steeds op die bord bo sy kaggelrak pryk, maar sy sal hom nie weer haastig sien verbyloop nie, nie weer die bekoorlike klanke van die viool op ’n Sondagmiddag hoor nie.

“Phil, nou is die pyn en die vreugdes verby; ons groet jou met dank vir die manier waarop jy die lewe omarm het en die woorde wat jy nagelaat het. Nou kan ons van jou sê soos Dylan Thomas: ‘I am going into the darkness of the darkness for ever. I have forgotten that I was ever born.’”

Amanda Botha onthou Phil op LitNet (30 November 2011): “Met die nuus dat Phil nie meer met ons is nie, skryf ek oor die onthou-dinge wat by my opkom. Ek onthou Phil se opgewondenheid as dit tyd geword het vir die jaarlikse Afrikaanse Skrywersberaad. Dit was vir hom ’n joltyd en tyd om weer in verbinding te wees, veral met sy eertydse Wurm-kring. Soms het hy aan die debatte deelgeneem, maar meestal het hy met aandag geluister en later oor vele glasies wyn net gekuier. In die laat sewentigerjare het Phil die idee gehad dat hy – soos met Wurm – weer ’n tydskrif wou begin om veral die Afrikaanse boek te bevorder. Hy was so daarmee meegevoer dat hy ’n tweedehandse drukker aangekoop het om self drukwerk te doen. Hy het probeer befondsing reël, maar het toe nie dieselfde aftrek gehad as met sy vroeëre poging nie.

“Wat Phil by uitstek gekenmerk het, was sy vermoë tot vriendskap. Hy het mense vanoor die hele spektrum bevriend. Sy sagte hart het Klaas Steytler met geleentheid laat opmerk dat Phil soos Sint Francis van Assissi was – mense het altyd by Phil deernis gevind. Almal was altyd welkom aan sy huis en Sondae was sy middagetes, wat hy self voorberei het, gesog onder vriende en kennisse.

“Om oor Phil se besorgdheid oor sy medemens te praat, verdien ’n relaas van liefde. Hy het soms dinge gedoen wat sy vriende oor sy veiligheid laat vrees het. Verwondes het dikwels sy oor en sy hart gehad. Om enkele voorbeelde van sy ruimhartigheid te noem. Toe Phil verneem dat Wopko Jensma in Valkenburg-hospitaal opgeneem is, het hy onmiddellik, as geneesheer, gebel en aangebied dat Wopko onder sy sorg in sy huis kon bly. Hy het Sheila Cussons genooi om onder sy sorg by sy Kalkbaaise huis aan te sterk na ’n ineenstorting. Vele meer kan by die lys gevoeg word.

“Ek onthou veral twee spesiale geleenthede saam met Phil. Hy was die geneesheer van die Amerikaanse skrywer en antropoloog Robert Ardrey en sy vrou, die aktrise Berdine Grunewald. Hulle het in St James kom aftree. Met Phil het ek menige wonderlike aande saam deurgebring in hierdie twee se geselskap en het ons met verwondering geluister na die skrywer wie se boeke African Genesis en The Territorial Imperative kultusstatus geniet het. Een van die onvergeetlike stories was toe Ardrey van sy vriendskap met die filmmeester Stanley Kubrick vertel het. Juis onder Ardrey se invloed het Kubrick later die film 2001: A Space Odyssey gemaak. Toe Ardrey in Januarie 1980 sterf, was Berdine ’n gereelde Sondag-gas by Phil. Oopmond kon ons luister na haar lewe as aktrise en haar verblyf met Adrey in Rome.

“Een aand, so in die middel van die week, nooi Phil my vir ete ‘met mense wat vir jou ’n verrassing sal wees’. Die afspraak is dat ons ons gaste inwag by die Brassbell-restaurant by St James-stasie. Byna ’n uur wag ons - ek in spanning - totdat ons gaste arriveer: die aktrise Janet Suzman en haar man, Trevor Nunn. Dit was ’n aand waar die hoofdis Britse teater op sy beste was, maar dit was ook ’n aand van hartseer vir ons gaste – hulle het toe pas besluit dat hul weë sou skei. Toe ons later op die kaai by Kalkbaai stap, begin Janet enkele strofes uit TS Eliot se ‘Little Gidding’ met ’n byna fluisterstem vir ons voordra.

“Verlede jaar was ek en Phil weer byeen om, soos in die vroeë tyd, van ons vriendskap oor die poësie en die kuns te gesels – dié keer oor Wopko Jensma. Phil het betekenisvolle werk van Jensma aan sy mure. Een enkele vlugtige keertjie het ek Wopko ontmoet – juis by Phil.

“Ek besef dat dit ’n persoonlike relaas is. Maar só was Phil. Jy het ’n persoonlike verhouding met hom gehad. Tog was daar ook met my laaste kontak vir my ’n hartseer – dit was nie meer die ou Phil nie. Iets van die lewe het hom ingehaal. Kort daarna vertel ek vir Riana Scheepers en Hennie Aucamp oor middagete van hierdie laaste ontmoeting met hom. Elkeen van ons kon iets besonders van ons ontmoetings met Phil oproep.

“Vandag dink ek dat die broosheid en verwondheid wat kennelik ook deel van hom was, hom tot voordeel kon strek. Dit was die rede waarom hy so volledig mens was. Jy onthou hom, want jy kán nie anders nie.”

Deon Knobel het as volg oor Phil geskryf (Beeld, 3 Desember 2011): “Phil was in wese ’n kwesbare en verwondbare persoon. Hy was ook ’n uiters private mens. Oor die laaste maande van verswakking het ek hom gereeld besoek. Hy het nooit enige vrese uitgespreek oor sy toekoms nie, al moes hy as medikus bewus gewees het van die swak prognose. (…)

“Ondanks die maande lange verswakking het die einde tog onverwags gekom – asof ‘deur die son in glimmende vuis gegryp’. Maar hopelik sal hy gelig word ‘aan stralervlerke … oor swaaiende reeks duine’, daar in die omgewing van Lüderitz, waar hy enkele jare tussen 1972 en 1974 gewoon en gepraktiseer het en gelukkig was.”

En Daniel Hugo het op LitNet (1 September 2016) die volgende gedig geplaas:

Phil du Plessis 1944-2011

laasnag droom ek van die digter-dokter

en sy huis langs die see met die spoorlyn
tussen die golwe en sy vermolmde voordeur

die jambiese geklop van die treinwiele
laat die huis ’n paar keer per dag bewe:
die digter moet herinner word aan sy plig

terwyl hy in die spreekkamer sy tyd verwyl
met siektesertifikate en Jungiaanse terapie
of deur die huis vol kunswerke dwaal

wanneer die gedigte en pasiënte wegbly
speel hy wankelrig viool, met die branders
se basso profundo op die agtergrond

en die siellose geklak van ’n metronoom –
op ’n dag spoel die woorde soos skulpe uit
en in ’n doktershandskrif krap hy dit byeen:

verse oor Valsbaai, sy gebreekte rug, valse vriende
en die altydteenwoordige eensaamheid
in daardie lendelam huis langs die onsterflike see

Publikasies:

Publikasie

Geskrifte om ’n houtgesig, 1965–70

Publikasiedatum

1971

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Afrikaans poems and lyrics. Pretoria News, 26 Augustus 1971
  • Belcher, RK: Geskrifte om ’n houtgesig. Oor Skrywers en Boeke, 23 September 1971
  • Brink, André P: ’n Boeiende bundel met te veel wol. Huisgenoot, 10 September 1971
  • Gedigte of ’n raaisel. Suidwester, 9 Augustus 1971
  • Marquard, Jean: Poetry of paradoxes. New Nation, Desember 1971
  • Pretorius, Wessel: Almal kyk die sleutel mis [brief]. Rapport, 21 November 1971
  • Van der Merwe, P: Digter se insig is te bolangs. Tydskrif-Rapport, 31 Oktober 1971

 

Publikasie

Die diep soet afgeronde stem van my dooies: gedigte 1970–1974

Publikasiedatum

1975

ISBN

0624006387 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Brink, André P: Phil keurig, maar nog nie by 70 se bestes. Rapport, 13 Julie 1975
  • De Vries, Abraham: Du Plessis se tweede bundel beter. Oggendblad, 28 Augustus 1975
  • Rabie, Jan: Personal poetic contrasts. Cape Times, 8 Oktober 1975
  • Van der Walt, PD: Lyksang oor die dood van ’n geliefde vriend. Transvaler, 30 Augustus 1975
  • Van Zyl, Wium: Eenheid wat haper in die onderdele. Beeld, 25 Augustus 1975

 

Publikasie

Lyksang: gedigte 1974–80

Publikasiedatum

1980

ISBN

0628019181 (hb)

Uitgewers

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Botha, Amanda: Du Plessis publiseer nuutste bundel self. Transvaler, 27 Oktober 1979
  • Hugo, DJ: Du Plessis se nuwe bundel vaag, abstrak. Oosterlig, 26 November 1981
  • Hugo, DJ: Lyksang – gedigte 1974-80. Volksblad, 10 Junie 1981
  • Le Roux, André: Derde bundel met goeie onderdele. Beeld, 29 Junie 1981
  • Pretorius, Wessel: Okkultiese besweringspoësie van Du Plessis. Transvaler, 6 April 1981
  • Schutte, HJ: Phil se 3e is weer so. Hoofstad, 6 Julie 1981
  • Swanepoel, Jan: Lyksang. Woord en Daad, Maart 1982
  • Van Wyk, Johan: Lyksang is alchemistiese post-mortem. Vaderland, 25 Februarie 1982

 

Publikasie

Gebed vir Wilhelm

Publikasiedatum

1984

ISBN

(sb)

Uitgewers

Kalkbaai: Phil du Plessis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

 

Publikasie

Ek sing waar ek staan = I sing where I stand: poësie 1982–1984 – versions from the Afrikaans

Publikasiedatum

1985

ISBN

0620082542 (sb)

Uitgewers

Kalkbaai: Vooraand Uitgewers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engelse vertalings deur Patrick Cullinan

Resensies en besprekings

 

 

Publikasie

Ek sing waar ek staan: gedigte 1982–1986

Publikasiedatum

1986

ISBN

0624023834 (sb)

Uitgewers

Kaapstad:Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Hambidge, Joan: Aangename verrassing. Beeld, 25 Augustus 1986
  • Hambidge, Joan: Du Plessis bring ’n aangename verrassing. Die Burger, 28 Augustus 1986
  • Letoit, André: Dun digbundel voel ook so. Volksblad, 9 Augustus 1986
  • Malan, Lucas: Ek sing waar ek staan. De Kat, November 1986
  • Spannenberg, DF: Poësie van mooi moontlikhede. Vaderland, 1 September 1986

 

Publikasie

Dae voor winter

Publikasiedatum

1989

ISBN

0624028496 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Cloete, TT: Sy verse praat in gedempte stem … Beeld, 2 Februarie 1990
  • Dae voor winter. Cape Times, 31 Maart 1990
  • Ester, H: Onstilbare verlangen van Phil du Plessis. Zuid-Afrika, Mei 1990
  • Hambidge, Joan: Du Plessis struikel in geswolle verse. Insig, Junie 1990
  • Hambidge, Joan: Fraai winste in klein momente. Beeld, 4 Junie 1990
  • Lemmer, Erika: Kersiebloeisel-poësie. Transvaler, 16 Julie 1990
  • Malan, Lucas: Sluimerende energie. De Kat, Julie 1990
  • Olivier, Fanie: Stukkies vers wat jy nie vergeet nie. Vrye Weekblad, 19 Oktober 1990
  • Pretorius, Wessel: Phil se blare nie reg gestroop [brief]. Insig, Augustus 1990
  • Van Vuuren, Helize: Eerlike bundel liriese liefdespoësie. Die Burger, 25 Januarie 1990
  • Van Zyl, Wium: Baie om te geniet in dié digbundel. Rapport, 26 Augustus 1990

 

Publikasie

Openbaringe en Johannes

Publikasiedatum

1992

ISBN

0958317860 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Carrefour Press

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Cloete, TT: Hierdie Openbaringe is bloot reportage. Insig, Augustus 1992
  • De Lange, Johann: Openbaringe en Johannes. Rapport, 2 Augustus 1992
  • Kannemeyer, JC: Bundel groot vooruitgang op digter se vroeëre werk. Beeld, 6 Julie 1992
  • Malan, Lucas: Twee openbarende digters. De Kat, Desember 1992
  • Mason, Judith: The whole embrace. Vrye Weekblad, 19–25 Junie 1992
  • Olivier, Fanie: Egtheid van emosies beïndruk. Die Burger, 28 Julie 1992
  • Toerien, Barend J: Resensie was slordig [brief]. Insig, September 1992
  • Weideman, George: Swaartillende elegiese verse. SA Literary Review, September 1992

 

Publikasie

Op Koueberg: vrye verwerking van 40 verse deur Han-Sjan (Koue Berg)

Publikasiedatum

1993

ISBN

1874923124 (sb)

Uitgewers

Plumstead: Snailpress

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Engelbrecht, Theunis: Du Plessis publiseer veertig Chinese gedigte in Afrikaans. Beeld, 11 Oktober 1993
  • Engelbrecht, Theunis: Goggas in ’n bak. Die Burger, 16 November 2002
  • Hambidge, Joan: Chinese poësie in Afrikaans. Die Burger, 7 September 1993
  • Krog, Antjie: Op Koueberg. SASH, September 1993
  • Malan, Lucas: Kis haal angel uit die dood. Beeld, 24 November 1993
  • Op Koueberg. Insig, Oktober 1993

 

Publikasie

Engel uit die Paradys

Publikasiedatum

1994

ISBN

1874969078 (sb)

Uitgewers

  • Groenkloof: Hond
  • Plumstead: Snailpress

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Botma, Riëtte: ’n Fyn georkestreerde bundel. Die Burger, 3 Mei 1994
  • Du Plessis, Phil: Kritikus verstaan nie my boek [brief]. Beeld, 15 Junie 1994
  • Grové, AP: Poësiekroniek. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, September 1994
  • Grové, AP: Tussen flou opmerkings tref natuurbeelding tog. Beeld, 9 Mei 1994
  • Ohlhoff, Heinrich: Meer “tug” was hier nodig. Insig, Julie 1994
  • Weideman, George: Engel uit die paradys. Afrikaans Stereo: Versalbum, 14 Augustus 1994

 

Publikasie

Nagjoernaal: gedigte 1994–1996

Publikasiedatum

1996

ISBN

1875027041 (sb)

Uitgewers

Muizenberg: Lindlife

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Hambidge, Joan: Die blaf is weg. Insig, Maart 1997
  • Müller, Petra: Digterlike soeke na pêrels is meer bedoeling as prestasie. Die Burger, 16 April 1997
  • Pretorius, Wessel: Wêreld van die nag. New Contrast, Maart 1997
  • Smuts, Ria: Nagjoernaal deur Phil du Plessis. Skrywers & Boeke, 2 Maart 1997
  • Van Bart, Martiens: Kunsstigting maak ook voorsiening vir Afrikaanse kultuur. Die Burger, 24 Junie 1996

 

Publikasie

Herakles by Valsbaai: gedigte 1996–1999

Publikasiedatum

1999

ISBN

0958416664 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Kalliope

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Pretorius, Wessel: Herakles by Valsbaai. New Contrast, Herfs 2000

 

Publikasie

Woordweer: gedigte uit die twintigste eeu

Publikasiedatum

2004

ISBN

186919070X (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Phil du Plessis as samesteller

  • Cloete, TT: Verse van verset en ontnugtering, en hoop. Beeld, 20 November 2000
  • Nuwe verset. Saamgestel deur Daniel Hugo, Leon Rousseau en Phil du Plessis. Protea Boekhuis, Pretoria, 2000. [ISBN 1919825282 (sb)
  • Odendaal, Bernard: Oor nuwe onregte en nuwe onheile. Volksblad, 29 Januarie 2001
  • Wasserman, Herman: Dié nuwe verset dalk eintlik lojaliteit aan ideale van vroeër. Die Burger, 19 Februarie 2001

Artikels oor Phil du Plessis

Artikels deur Phil du Plessis

  • Antjie Pohl, Somers en Krog. Die Burger, 26 Maart 1986
  • Baie koffie is al medisyne vir aansteeklike dekonstruksie. Die Burger, 12 Maart 1986
  • ’n Boekdroogte – en ’n laat oes. Die Burger, 21 Mei 1986
  • Casper Schmidt oorlede: Toekomstige geslag sal hom na waarde skat. Die Burger, 28 Julie 1994
  • Digter Knobel: chaos onder die skip. Beeld, 27 Oktober 1995
  • Gedigte kan gepluk word. Beeld, 13 Julie 1990
  • ’n Gekleurde grappie oor swart en wit. Die Burger, 7 Mei 1986
  • Haai, julle daar in die skrum, ons gaan huis toe met die bal. Die Burger, 6 Junie 1991
  • Kalkbaai: kan hierdie eeu se skade herstel word? Die Burger, 10 November 1990
  • Klein Zoar van verval gered: pad-plan herroep. Die Burger, 18 Mei 1991
  • Kleinood in nood. Die Burger, 18 September 1990
  • Maak die ysterkoei skoon. Die Burger, 2 Julie 1986
  • Meraai stry in Ingels die “struggle”. Die Burger, 27 September 1990
  • Mite van ’n Europese park in Afrika. Die Burger, 25 Oktober 1990
  • Modes van die twaalfde eeu tot die moderne Rehoboth. Die Burger, 11 April 1986
  • Moet katte dan molle uitgrawe? Die Burger, 31 Augustus 1990
  • Op soek na kultuur en die eenhoring. Die Burger, 9 April 1986
  • Ope brief van Phil du Plessis aan die voorsitter van die Afrikaanse skrywers: ’n Broederoorlog dreig. Die Burger, 21 April 1990
  • Oupa had reg, die Engelse gaan staan en verdraai weer alles. Die Burger, 2 Maart 1991
  • Pluk poësie. Die Burger, 12 Julie 1990
  • To the printer [gedig]. Vertaal deur Tony Ullyatt. Versindaba, 19 Januarie 2010
  • ’n Wetenskap van simbole en verraad. Die Burger, 18 Junie 1986

Phil du Plessis se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2011-12-08 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top