Persvrystelling: Studentesimposium vir die Sosiale en Geesteswetenskappe

  • 1

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) bied op Vrydag 16 Oktober 2020 met trots die derde Studentesimposium vir die Sosiale en Geesteswetenskappe aan. Nagraadse studente van regoor Suid-Afrika word genooi om hul navorsingswerk in Afrikaans in die vorm van ’n referaat of plakkaat by die simposium aan te bied.

Die Akademie bring vanjaar Jakarandastad-gasvryheid na die huis van elke simposiumganger. Die 2020-simposium sal aanlyn aangebied word. Zoom, ’n aanlyn videotoepassing, sal ingespan word om virtuele simposiumlokale te skep en deelnemers sal hul referaat per video vir die gehoor lewer. Die gehoor kan ná afloop van die referaat vrae stel deur hul virtuele hand op te steek of die vrae in die gesprekshoekie op skrif te stel.

Die simposium onderskraag die oogmerke van die SAAWK deur denkleiers aan te moedig om hul bevindinge in die sosiale en geesteswetenskappe in Afrikaans met ’n breër gehoor te deel.

Die SAAWK moedig studente wat hul navorsing in Afrikaans doen aan om voorleggings te doen. Studente wat hul navorsing in ander tale onderneem, word ook aangemoedig om hul bevindinge te vertaal vir ’n referaat aangebied in Afrikaans. Op hierdie manier groei Afrikaans as vaktaal ook deur menige nuutskepping in die veld van sosiale en geesteswetenskappe.

Tydens die tweede Studentesimposium vir Sosiale en Geesteswetenskappe in 2019 het 46 nagraadse studente van ses Suid-Afrikaanse universiteite, referate gelewer. Die referaat-vakgebiede het ingesluit antieke tale en kulture, drama, filosofie, geskiedenis, kuns, linguistiek en letterkunde, musiek, maatskaplike werk, opvoedkunde, regsgeleerdheid, sosiologie, spraakterapie en teologie.

Besoek die webtuiste om aansoek te doen om navorsing aan te bied, die simposium by te woon of te borg.

Tree per e-pos met die organiseerders in verbinding by: kontak@studentesimposium.co.za.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top