Persvrystelling: Radiodrama-kompetisie spog vanjaar met R100 000 se prysgeld

  • 0

Die RSG en Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie spog vanjaar met prysgeld ter waarde van R100 000. Die wendrama sal vanjaar R37 000 ontvang, terwyl die tweede en derde plek met prysgeld van onderskeidelik R30 000 en R18 000 bekroon sal word. Die Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) sal R15 000 ontvang. Buiten die prysgeld word die wendramas ook op RSG uitgesaai.

Die sluitingsdatum vir die 2018-kompetisie is Maandag 16 Julie 2018.

Daar is geen voorgeskrewe tema nie, solank dit net ’n nuwe en oorspronklike radiodrama is. Geen verwerkings van bestaande materiaal of verhoogdramas of stories wat al voorheen gepubliseer is, sal aanvaar word nie.

Die volle spektrum van Afrikaans kan gebruik word, maar die inskrywings word beperk tot slegs een radiodrama per persoon.

Die duur van die dramas moet tussen 40 en 55 minute wees – sowat 45 A4-bladsye wat volgens die wedstrydreëls getik is.

’n Volledige handleiding wat ook die reëls en inskryfvorm bevat, is gratis op RSG se webblad beskikbaar. Daar is ook ’n spesiale blad met skryfwenke vir nuweling-skrywers, asook diegene wat graag hul skryftalent wil skaaf.

In die eerste ronde van beoordeling word tussen tien en vyftien tekste gekies wat dan met die hulp van ’n mentor vir die eindronde geslyp word. Die finaliste kan dan hul tekste vir die eindronde van beoordeling voorlê.

Daar sal in Mei weer gratis radiodrama-skryfskole in samewerking met Sanlam in Kaapstad én Johannesburg aangebied word en meer besonderhede sal op RSG (100 tot 104 FM) aangekondig word.

Volgens Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, is dit vir RSG ’n eer om weer eens die kompetisie aan te bied in ’n jaar waarin Sanlam sy eeufees vier. “Die kompetisie het verlede jaar sy mondigwording gevier en dit wys watter tydlose rol hierdie radiodrama-projek nou na meer as twee dekades in die Afrikaanse skryfkuns speel.”

“Dit is merkbaar hoe die kompetisie en slypskole ’n verskeidenheid stemme na die radio lok. Verlede jaar was ’n derde van die finaliste almal jong skrywers. Dit wys hoe ’n nuwe geslag skrywers hierdie opwindende en kreatiewe genre én medium aangryp,” sê Burger.

Verlede jaar se wendramas word vanaf April op Donderdae om 20:00 in Radioteater op RSG uitgesaai. Die eerste Radioteater van die seisoen is Oorlewing – C-blok uit die pen van Erica Harris, wat op Donderdag 5 April gehoor kan word. Harris het verlede jaar die prys vir Jong Skrywer met haar teks gewen.

Besoek RSG se webblad by www.rsg.co.za om op hoogte te bly of om die kompetisie se handleiding af te laai.  Kyk onder die hofie “Wat gebeur” en lees ook ’n reeks skryfwenke vir voornemende radiodrama-skrywers.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top