![]()
Die gewilde groep Die Tuindwergies reik op 2 Julie 2012 hul tweede vollengte-album, Terwyl die Donker Wolke Dans, uit. Die Tuindwergies het in 2011 die MK Toekenning vir Beste Nuweling gewen en hul veelsydige musikale aanslag het oor die afgelope paar jaar vir hulle vele aanhangers uit verskillende oorde ingewin. Jonk, oud, slinks, goed, kwaad, wild, ordentlik – almal hou van Die Tuindwergies.
Die Tuindwergies bestaan uit twee groepe broers wat uit talentvolle, musikale families kom. Hul eerste kortspeler, Tuis Gekweek, is in 2009 uitgereik. Die liedjie “Kopskudkinders” was dadelik `n treffer en het die nommer 1-posisie op Tuks FM se Top 30 en Jacaranda FM se Top 10 behaal. Hul gelyknamige eerste vollengte-album is in 2010 uitgereik en het Die Tuindwergies gevestig as een van SA se mees geliefde musiekgroepe.
Terwyl die Donker Wolke Dans weerspieël die groei wat hulle as lede én as band die afgelope twee jaar ondergaan het. Met `n kombinasie van country-, folk- en rock-invloede kondig die groep `n nuwe seisoen vir Afrikaanse musiek aan. Hoe meer 'n mens na die CD luister, hoe meer ontdek jy die waarde van dit wat musikaal-, liriek- en produksiegewys daarin opgesluit is. Dit is vloeiend en karaktervol, soos daardie ou jeans wat in jou kas lê, daardie paar waarin jy op jou gemaklikste voel. Die lirieke is geskryf deur Emile Swiegers en Pieter de Jager. Hul manier van skryf dui op `n skerp oplettendheid van die wêreld rondom hulle. “So onbewus, dog so aspris.”
https://www.facebook.com/dietuindwerge
https://twitter.com/DieTuindwergies

