Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) het pas hulle algemene jaarvergadering en prysuitdelingsfunksie gehou, waartydens die publikasie Bloemskryfsels 2017, geborg deur die Stichting tot Bevordering van Culturele Betrekkingen Nederland Zuid-Afrika bekendgestel en die nuwe bestuur vir 2018 verkies is.
Foto 1: ’n Groep van die BSV-lede wat die verrigtinge bygewoon het
Foto 2: Wenners van die wisseltrofeë. Voor, van links, Bennie Olivier (Trofee vir Niejoernalistieke werk vir sy debuutbundel en bydraes in Gaslamp); Corlietha Swart, (Beste Bloemskryfselbydrae-trofee met ’n draaiboek as huldeblyk aan PG du Plessis wat vanjaar oorlede is, getiteld: ’n Nuwe koöperasiestorie: Oor trouruikers, kisruikers en eensaamheid se tronk soos beoordeel deur ’n kundige buitebeoordelaar); Stoffel Cilliers (Trofee vir Naasbeste Produktiwiteit met vele koerantartikels); Elmarie Viljoen-Massyn (Vang-die-voël-in-sy-vlug-trofeë vir haar groot deurbraak om in Nuwe Stemme 2017 opgeneem te word).
Agter, van links: Amos van der Westhuizen (Veelsydigheidstrofeë vir koerantprofiele en -briewe en ’n boek); Karen Muller (Beste Produktiwiteitstrofee as joernalis van Kimberley); Johanna en Fanie van Jaarsveld (Navorsingstrofee vir hul omvangryke navorsing en sketse in verskeie publikasies, oa ’n publikasie van die ABO-konsentrasiekampe en een van Bloemfontein se historiese geboue met lynsketse deur die oudargitek).
Afwesig: Jan Venter (Beginnerstrofee as nuwe lid van die BSV en vanjaar een van die wenners van die landswye BSV-Skryfwedstryd wat reeds sedert 2010 deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat geborg word).
Die BSV-Bestuurstrofee, ’n prestige-toekenning, is ook vanjaar postuum toegeken aan PG du Plessis, wat in 2010 die BSV-Slypskoolaanbieder was en saam met sy vrou, Marie, die eregaste tydens die BSV se BSV-40-vieringe in 2010 was. Sertifikate is ook toegeken aan ander lede met skryfsuksesse deur die loop van die voorafgaande jaar.
Foto 3: Die nuwe BSV-Bestuur vir 2018. Voor, van links: Roline Brits (sekretaresse), Corlietha Swart (voorsitter), Joe Mynhardt (ondervoorsitter) en Bennie Olivier (addisionele lid). Agter, van links: Amos van der Westhuizen (gekoöpteerde lid), Riaan le Roux (addisionele lid) en Riaan van der Walt (tesourier).
Foto 4: Bloemskryfsels 2017 is ’n lekkerleespublikasie vir die Desembervakansie, met ’n treffende Fanie Viljoen-voorblad, wat teen R100 bestel kan word by Bloemsv@gmail.com.