Persvrystelling: Bloemfonteinse Skrywersvereniging se Nasionale BSV-Skryfwedstryd 2018

  • 0

Skrywers en digters, R18 000 en ’n slypskool op die spel in die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se Nasionale BSV-Skryfwedstryd 2018!

Die tradisieryke nasionale BSV-Skryfwedstryd, wat reeds in 1979 ontstaan het, is tans weer in volle swang. Volwassenes (ongepubliseerdes en reeds-gepubliseerdes) sowel as studente en hoërskoolleerders, ook niemoedertaalsprekers van Afrikaans, kan hul prosa (kortverhale, kort-kortverhale, essays en sketse/vertellings, asook poësie voor die sluitingsdatum, 14 Mei 2018, instuur. Volgens Corlietha Swart, voorsitter van die BSV, is die goeie nuus dat die BSV-skryfwedstryd, die grootste van sy soort in die land, vir die 10de agtereenvolgende jaar geborg word deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat (UV), met ’n gedeelte van die borggeld vanjaar deur die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans van die UV.

Die eerste inskrywings begin reeds insypel na die possakke van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN), van waar dit anoniem oorhandig word aan ons vier deurwinterde beoordelaars wat oor jare heen belowende skrywers trefseker uit ongeveer ’n duisend jaarlikse inskrywings uitsnuffel.

Oud-BSV-wenners wat nou gevestigde skrywers is, het hulle skrywerstande gesny op hierdie einste skryfwedstryd – soos Fanie Viljoen, Jaco Jacobs, Carina Diedericks-Hugo, Carina Stander, Piet Steyn, Hannes Haasbroek, Dirk Winterbach, Sonja Loots, Japie Bogaards, Ode Krige, Hannes Visser, Elmarie Viljoen-Massyn en ook verlede jaar se Ingrid Jonker-pryswenner en gereelde BSV-wenner uit Amerika, Hilda A Smits, om maar enkele bekendes te noem!

Die pdf-weergawes van die wedstrydpamflet en inskrywingsvorms is hier onder beskikbaar, sowel as op ons BSV-webwerf, http://bloemsv.wordpress.com of (effens dowwer, want dis foto's) op ons BSV-Facebookblad by https://www.facebook.com/bloemsv . In geval van enige navrae, stuur gerus ’n e-pos na ons sekretaresse, Roline Brits, by bloemsv@gmail.com.

Buiten kontantpryse, sertifikate en wisseltrofeë verskyn wenbydraes in Inkvars 2018 (SUNMedia), ’n publikasie wat die afgelope aantal dekades geborg word deur die Stichting tot Bevordering van Culturele Betrekkingen, Nederland Zuid-Afrika, en woon die wenners ook ’n gratis BSV-slypskool as verdere deel van hul prys by ’n gerekende skrywer by.

Enkele slypskoolaanbieders uit die verlede was kundiges soos wyle PG du Plessis, Hans du Plessis, Leon van Nierop, Irma Joubert, Deon Meyer, Margaret Bakkes, Chanette Paul, Francois Bloemhof, Annalie Botes, Joan Hambidge en Etienne van Heerden, en vanjaar is ons baie bevoorreg om die uiters gewilde skrywer-joernalis en TV-persoonlikheid Dana Snyman op Saterdag 25 Augustus 2018 te beleef!

Intussen hou ons die NALN-possakke dop vir u inskrywings!

Klik op elkeen van die onderstaande skakels om die kompetisiedokumente te stoor:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top