
Sonder om simpatie of bejammering na te jaag, vertel die skrywer die verhaal van ’n dowe gesin en hulle oorkoming van belemmeringe, dinge wat horendes as vanselfsprekend aanvaar.
Hierdie boek is ook daarop gemik om by horendes ’n beter begrip te skep vir die unieke lewes en strewes van die dowes in ons midde, doodnormale individue soos ek en jy in alle opsigte, behalwe dat hulle nie kan hoor nie. Dit maak hulle nie dom nie en sekerlik nie iemand op wie daar neergekyk behoort te word nie.
As horendes vanaf skooldae reeds Gebaretaal as vak gehad het, sou ons nie so ’n geweldige agterstand gehad het en so ernstig gekortwiek wees in ons pogings om met dowes te kommunikeer nie.
Omdat sy reeds vroeg in haar lewe met die onbegrip en selfs wreedheid van horendes gekonfronteer was, het die skrywer, Anette Humpries, ’n kampvegter vir die humanitêre regte van dowes geword.



