Persverklaring: Van Japan tot by die Taalmonument, Miku Suzuki se Afrikaanse reis

  • 2

Stefanie Rasztabiga (ATM-personeellid), Miku Suzuki en Gershwyn Fredericks (ATM-personeellid)

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl het op 28 Desember ’n baie besondere gas met ’n selfs meer besondere geskenk verras toe Miku Suzuki, ’n Japannese vrou wat ’n unieke taalpad met Afrikaans bewandel, hulle kom besoek het.

Nadat die instelling verneem het dat sy sukkel om ’n kopie van die Afrikaans-Japannese woordeboek met Engelse vertalings (2001) deur Ernst F Kotzé en Takashi Sakurai in die hande te kry, het hulle een van hul eie eksemplare aan haar geskenk as ’n laat Kersgeskenk. En net betyds vir die nuwe jaar!

Miku is in Japan gebore en het daar grootgeword, maar het ’n deel van haar tienerjare tussen die ouderdomme van 12 en 14 in Suid-Korea deurgebring – ’n vroeë ervaring wat haar kulturele horisonne verbreed en ’n blywende belangstelling in die wêreld buite haar landsgrense aangewakker het.

Haar verbintenis met Suid-Afrika het professioneel begin. Terwyl sy vir ’n reisagentskap in Japan gewerk het, het Miku oor talle Suid-Afrikaanse toerismebestemmings geleer en ’n sterk begeerte ontwikkel om Kaapstad te besoek. Daardie wens het op ’n onverwagte manier bewaarheid geword toe haar man vir werk na Durban verplaas is. Sedert 2022 is Suid-Afrika hul tuiste.

Aanvanklik was Miku se motivering om Afrikaans te leer prakties van aard; sy wou byvoorbeeld fassinerende plekname rondom Kaapstad, soos Kommetjie, korrek uitspreek. Mettertyd het dié praktiese doel ontwikkel in ’n opregte genot om met Afrikaanses te kommunikeer. Vandag geniet sy mense se verbaasde reaksies wanneer sy hulle in Afrikaans groet.

Om die taal te leer is egter nie sonder uitdagings nie. Die Afrikaanse “g”-klank is veral moeilik vir haar, en om nuwe woordeskat te memoriseer kan soms ’n stryd wees. Haar vorige blootstelling aan Duits op universiteit het egter gehelp, aangesien sy die grammatika tot ’n mate bekend gevind het. Sy sê dikwels “Ek praat Afrikaans,” veral wanneer mense verward lyk nadat hulle haar entoesiastiese “Goeiemôre” of “Goeiemiddag” gehoor het.

Een van haar gunstelingaspekte van die taal is die verkleinwoorde soos potjie en braaibroodjie, wat sy onweerstaanbaar oulik vind. Om haar studies verder te verdiep, volg Miku ’n Afrikaanse kursus by die Tokyo University of Foreign Studies, waar sy studeer onder professor Akira Sando, tans die enigste professor in Japan wat in Afrikaans spesialiseer.

Danksy haar nuuskierigheid, volharding en vreugde bou Miku ’n onverwagse brug tussen Japan en Afrikaanssprekendes in Suider-Afrika. Die ATM hoop dit gaan van krag tot krag... en van lekker tot lekkerder!

  • 2

Kommentaar

  • Wonderlik! Ek salueer haar. Sy kry reg wat vele Engelssprekendes in Suid-Afrika moeilik vind.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top