Persverklaring: Vakante pos – hoof- operasionele beampte

  • 0

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) nooi aansoeke in vir die pos hoof- operasionele beampte. Aansoeke word tot 28 Februarie 2025 ingewag. Dit is ’n nuwe pos wat op grond van aftredes en herstrukturering geskep is. Die posbekleër rapporteer ten opsigte van alle aktiwiteite en verantwoordelikhede aan die hoof- uitvoerende beampte. Die hoof- uitvoerende beampte kan ook te enige tyd verdere verantwoordelikhede aan die posbekleër delegeer of andersins aanpas.

Die hoof- operasionele beampte is verantwoordelik vir die beplanning, koördinering en uitvoering van die kernaktiwiteite van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Om die voorgeskrewe pligte doeltreffend te vervul, sal die posbekleër kundiges betrek soos nodig en kan staatmaak op ondersteuning vanuit die Kantoor.

Onderhoude met geskikte kandidate word so gou moontlik gevoer en daar word verwag dat ’n aanstelling teen 31 Maart 2025 of so gou doenlik daarna gemaak sal word.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns speel ’n leidende rol in ’n inklusiewe omgewing waar kennis, kreatiwiteit en innovasie in Afrikaans gedy.

Pligte en verantwoordelikhede 
  1. Organisering en dokumentering:
  • Beplanning, koördinering en dokumentering van amptelike byeenkomste soos die Algemene Jaarvergadering, Akademieraadvergaderings, komitees van die Raad (Oudit- en Risikobestuurkomitee en Menslikehulpbronnekomitee) se vergaderings en kommissievergaderings.
  1. Verslae:
  • Help met die skryf van die algemene jaarverslae van die SAAWK en die Engelenburghuismuseum;
  • Help met die skryf van kwartaalverslae aan die Raad.
  1. Koördinering en ledesake:
  • Koördinering en bestuur van simposia, lesings en ander geleenthede.
  • Hantering en administrasie van Akademietoekennings (pryse en erepennings) en -bekronings.
  • Bestuur van ledesake.
  1. Projekbestuur:
  • Bestuur bestaande en nuwe projekte van die Akademie om ooreengekome doelwitte betyds en binne die begroting te bereik.
  • Gereelde verslagdoening oor projekte aan die hoof- uitvoerende beampte.
  1. Vaktydskrifte:
  • Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT)
    • Die posbekleër sal, in oorleg met die hoofredakteur en tydskrifbestuurder, verantwoordelik wees vir die volgende:
      • Taalversorging van goedgekeurde manuskripte.
      • Koördinering van die vertaling van Engelse manuskripte.
      • Bestuur van vaktaalterme vanuit die natuurwetenskappe en tegnologie.
      • Voorbereiding van die finale elektroniese en gedrukte kopie van die tydskrif.
    • Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW)
      • Die posbekleër sal, in oorleg met die hoofredakteur en tydskrifbestuurder, verantwoordelik wees vir die volgende:
        • Taalversorging van goedgekeurde manuskripte.
        • Bestuur van vaktaalterme vanuit die geesteswetenskappe.
        • Voorbereiding van die finale elektroniese en gedrukte kopie van die tydskrif.
  1. Algemene pligte:
  • Proeflees en korrigering van alle amptelike kommunikasie en dokumentasie.
  • Doeltreffende dokumentbestuur.
  • Behulpsaam met die skryf van mediaverklarings oor projekte.
  • Oorhoofs verantwoordelik vir die instandhouding van die SAAWK se fisiese bates in oorleg met die hoof- uitvoerende beampte.
Minimum vereistes
  • ’n Meesters- of doktorsgraad in enige vakgebied.
  • Die suksesvolle kandidaat moet oor die volgende eienskappe en vaardighede beskik:
    • Positiewe visie ten opsigte van Afrikaans as wetenskaps- en onderrigtaal.
    • Grondige kennis en ondervinding van die akademiese en algemene wetenskapstoneel in Suid-Afrika en die onderwys in die algemeen.
    • Uitstekende organisatoriese en administratiewe vaardighede.
    • Goeie kommunikasievaardighede teenoor Akademielede, bestaande en potensiële borge, werkgemeenskappe en lede van die publiek.
    • Uitnemende skryfvaardighede met betrekking tot die SAAWK se kommunikasie na buite.
    • Ervaring in akademiese publikasie- en manuskripbestuur.
    • Kennis van die funksionering van akademiese tydskrifte en die ewekniebeoordelingsproses.
Aanbevelings
  • Kennis en ervaring van die SAAWK.
  • Gevestigde kulturele en akademiese netwerke.
  • ’n Graad of kwalifikasie in tale/linguistiek/taalpraktyk.
  • SAVI-akkreditasie met minstens drie jaar voltydse ervaring in vertaling en redigering.
  • Vorige ervaring in operasionele en projekbestuur, veral binne ’n akademiese of kunsverwante omgewing.
Aansoeke 

Aansoeke met volledige besonderhede, wat ’n curriculum vitae en die name van twee referente insluit, word van nou tot 28 Februarie 2025 ingewag. Geen aansoeke sal oorweeg word ná die sluitingsdatum nie.

Indien kandidate teen 31 Maart 2025 nog geen terugvoer ontvang het nie, kan aanvaar word dat die aansoek onsuksesvol was.

Die SAAWK behou die reg voor om sonder verstrekking van redes geen aanstelling te maak nie.

Navrae en aansoeke: Dr Annelise de Vries
E-pos: annelise.devries@akademie.co.za

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top