
Die PUK-Kanselierstrust is in 1994 opgerig met fondse wat wyle FW de Klerk, destydse staatspresident asook die voormalige kanselier van die PU vir CHO, uit sy Nobelprysgeld as aanvangskapitaal geskenk het. Die oogmerk was van meet af aan om die fondse aan te wend vir die behoud en uitbou van Afrikaans se hoër funksies, veral sover dit Afrikaans as wetenskapstaal betref.
Personeel en studente van Suid-Afrikaanse universiteite, asook ander navorsers, word derhalwe uitgenooi om, by wyse van die hierby aangehegde vorm, aansoek te doen vir befondsing van projekte, binne enige wetenskaplike domein, wat tot vakkundige publikasies in Afrikaans sal lei of wat die gebruik van Afrikaans as wetenskapstaal op ander wyses kan bevorder.
In 2025 was dit 100 jaar sedert Afrikaans die status as een van die amptelike tale van Suid-Afrika verwerf het. Dié taal is een van net vier wat in die 20ste eeu kon ontwikkel tot volle funksionele taal, dit wil sê as taal wat alle omgangs- en hoë funksies bestryk. Vakkundiges op alle wetenskaplike terreine word derhalwe aangemoedig om nuwe navorsingspublikasies in Afrikaans te oorweeg wat sal bydra tot versterking van en voortbouing op dié prestasie. Die PUK-Kanselierstrust sal dit derhalwe waardeer as lesers hierdie uitnodiging om befondsing onder die aandag van soveel Afrikaanstalige navorsers as moontlik bring.
Toekennings deur die Trust sal normaalweg nie R25 000 per jaar oorskry nie.
Let wel: Aansoeke om beurse vir graadstudie word nie oorweeg nie.
Aansoeke moet vergesel wees van
- ’n volledige uiteensetting van die beplande projek,
- ’n projek-opsomming van enkelbladsylengte en
- ’n detailbegroting daarvoor (met ’n aanduiding ook van ander befondsers).
Sluitingsdatum: 28 Februarie 2026
Waar toekennings gemaak word, sal die fondse met ingang April 2026 beskikbaar gestel word.
Administratiewe navrae moet per e-pos gerig word aan pukkanselierstrust@gmail.com.

