
Agter: Luke Pillay (byklanke), Elzabe Zietsman, Francois Stemmet, Thato Maphoroma (opnameregisseur), Francois van Rensburg. Voor: Luan Jacobs, Mari Molefe van Heerden, Sulette Thompson en Hannes Brümmer
Die versamelde dagboeke van ene Professor Weidemann, geskryf deur Shawn Day, is die jongskrywerwenner in die RSG radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV vir 2024.
Die versamelde dagboeke van ene Professor Weidemann gaan oor ’n joernalis wat die verdwyning van ’n professor in kriptosoölogie ondersoek nadat die professor se dagboeke deur sy vrou gepubliseer is. Malan Basson, ’n joernalis wat nog nooit ’n storie kon klaarmaak nie, voel hoe hierdie een hom roep – ’n stem uit die niet wat sy voetstappe lei na die middel van niks… en miskien, na antwoorde wat nie vir almal bedoel is nie.
Die wind fluister oor die vlaktes van die Karoo… en tussen die sandkorrels lê ’n storie wat wag om vertel te word. Twee jaar gelede het Professor Weideman verdwyn – soos ’n skaduwee wat uit die werklikheid gegly het. Nou, in die bladsye van sy dagboeke, herleef ’n raaisel wat nie net gesoek wil word nie… maar gevind móét word.
Wat wag op hom daar – ’n verdwaalde gedagte, of ’n waarheid wat tussen tyd en ruimte weggesteek is?
En alhoewel die drama hoofsaaklik as ’n misterie gehoor word, is daar wel ’n bietjie komedie én ’n bietjie romanse wat verseker dat die luisteraar ’n opwindende reis saam met hierdie joernalis ondergaan.
Die versamelde dagboeke van ene Professor Weidemann is radioteater wat jou neem na die grens tussen werklikheid en droom… as jy dapper genoeg is om te luister.
Uit die mond die skrywer, Shawn Day
Die inspirasie vir Die versamelde dagboeke van ene Professor Weidemann het begin in 2022 toe ek tydens my studies die idee gekry het om ’n dokumentêre fiksie vir die verhoog te skryf. Ek het afgekom op ’n artikel wat gaan oor die onverklaarbare verdwyning van ’n Biologie-professor in Kanada wat gaan soek het vir ’n monster op die grens van Kanada en Noord-Amerika. Ek het dadelik my eie weergawe van die konsep begin ontwikkel: ’n potgooi-omroeper wat die verdwyning van ’n professor in kriptosoölogie ondersoek.
Helaas het dit geblyk dat die skaal van só ’n drama vir die verhoog op daardie stadium buite my bereik was. Maar ’n jaar later het een van my dosente by die Universiteit Stellenbosch my aangemoedig om ’n radiodrama te skryf. Ek het eers gewik en geweeg en getwyfel of die medium vir my aantreklik lyk en op oulaas het ek net besluit om hiérdie storie in die vorm van ’n radiodrama te vertel. En dit was maar net weer ’n bewys dat sommige stories net beter in die één vorm werk as in die ánder.
Luan Jacobs is die regisseur met Hannes Brümmer, Mari Molefe van Heerden, Sulette Thompson, Francois van Rensburg, Elzabe Zietsman en Francois Stemmet.
*
Skakel in op 3 April om 8 uur die aand op RSG of rsg.co.za, ook beskikbaar as potgooi en op Spotify.

