Persverklaring: RSG Radioteater, SD Fourie se Rooi papawer op Donderdagaand 29 Mei om 20:00

  • 2

Charlie Bouguenon, Stephanie Baartman, Louise Eksteen, Anton Dekker en Elma Potgieter (foto: verskaf)

Anna en Thea, twee susters het na ’n tragiese gebeurtenis op Ciprus kom vakansie hou. Petros, ’n Afrikaanssprekende gids vergesel hulle. Thea is nog onstabiel en haar suster, Anna, oorheers haar. Petros lees meer in die verhouding.

Anna het Thea van kleintyd grootgemaak met stories uit die mitologie. Pygmalion en Galathea het later deel van Thea se lewe geword en toe ’n werklike tragedie haar tref, teister Galathea haar in haar drome.

Petros ontknoop die verhaal nadat hulle een aand in ’n taverne gaan eet en dan. Met die polsende musiek, Thea se ontbloting van ou gevoelens in die dans en Anna se heftige reaksie, speel die verhaal uit. Tragedie, liefde en ’n nuwe begin met ’n enkele rooi papawer op ’n skilderdoek.

Rooi papawer deur SD Fourie met Elma Potgieter, Anton Dekker, Charlie Bouguenon, Louise Eksteen en, vir haar eerste radiorol, die bekende aktrise Stephanie Baartman. Die drama is opgevoer deur Mari Snyman.

Donderdagaand 29 Mei om 20:00 op RSG of rsg.co.za asook op potgooi na afloop van die uitsending en op Spotify.

SD Fourie, die skrywer, vertel:

Ek het in Ciprus vakansie gehou en by vriende oorgebly.

Die huisbaas, Adreas, het soos alle Grieke met die Griekse mitologie grootgeword en ek het geweet op die eiland met sy wit lig, blou see en byna duiselingwekkende kleure van rooi papawers, geel magrietjie en die magiese windblomme teen die wit kalksteenmure, is daar meer as net Pafos se ou stadsmure, Pygmalion, Galatea en Afrodite. Andreas was ’n goeie bron, ek het die eiland en sy mense geniet en drie denkbeeldige karakters is gebore.

Die spreekwoord, “Dis Grieks vir my”, het werklik betekenis na my  besoek aan Ciprus, een van die eilande in die Middellandse See. Het altyd gewonder. Hoekom nie “dis Frans, Xhosa of enige ander vreemde taal” nie?

In Ciprus verdwaal jy hopeloos – padkaart ten spyt, want vir ’n leek soos ek was die straatname onleesbaar. Het soms tot vas teen die rigtingwyser geloop, maar kon nog steeds nie die naam ontsyfer nie. Dit was letterlik Grieks vir my!

Ek kan darem een ding van die Griekse mans sê: Hulle is baie galant en laat enige vrou  weer mooi en jonk voel.  In die begin van die kort vakansie het ek my gruwelik vervies vir die voorbarige jong mannetjies wat met ’n lang wolwefluit jou aandag probeer trek om net later te besef dat hulle jou eintlik net komplimenteer en jou welkom heet op hul eiland. Dit was die enigste manier om te kommunikeer, want Grieks bly Grieks vir die meeste toeriste.

Ciprus is ’n pragtige eiland met plate goudgeel magrietjies tot teenaan die   see.  Teen die ou stadsmure van Pafos blom die papawers in oordadige bloedrooi oorvloed en op die uitgestrekte groen grasvlaktes gloei die bloupers anemone of windblomme. Die klein plasies teen die hange van die berge herinner nogal sterk aan die ou Strandveld van weleer. Granaatheinings, peerbome en selfs ons eie waaisandbome vol in die blom. Die kersiebome was vol bloeisels, want die eiland lê in die noordelike halfrond en ons het hul lente beleef. 

Vanjaar is ’n besondere geil seisoen, want hulle het die beste reënval in sewe jaar beleef.

Daar het ek weer besef dat ons eintlik laf is met ons uitheemse name vir besighede onder die dekmantel dat die buitelandse toeris dit beter verstaan. Ons het verskeie klein dorpies besoek met ou kalksteengeboue, straatkafeetjies en gryskop tantes wat op hul voorstoepe sit en hekel. Ek het nêrens vertaalde aanwysings gelees nie en op die dorpsplein het  die toerbusse soos sardiens ingeryg gestaan om juis die ouwêreldse Griekse sjarme te besigtig. Selfs die museumkaartjies was in Grieks gedruk – met net ’n enkele aanwysing in Engels.

Plaaslik is ons brosjure in Engels en dit hoort seker so, maar waarom een enkele paragraaf in Afrikaans vertaal as die skrywer nie die vaagste benul het hoe om dit te doen nie? Ek en Jan het ons destyds verkneukel in die stelling dat hy en sy konsertina “wild bekend is”. Kan my voorstel hoe hy, gryskop knikkende op die maat van een of ander byderwetse deuntjie, wilde swaaie met sy konsertina bokant sy kop maak. Maar die kersie op die koek is die feit dat die plaaslike museum op die “hoofland” geleë is.  Ook Grieks vir my en baie ander.

Ons het een Sondagmiddag ’n klein dorpie in die berge besoek, en daar op die skoolstoep was die hele dorp bymekaar besig om dorpsake te bespreek. Die vorige en die huidige burgemeester was besig om koppe bymekaar te sit oor een of ander dorpsprobleem. Net daar word die wildvreemdes vir koffie genooi terwyl die dorpsbewoners uit alle oorde nader stroom en ons in duidelike terme laat verstaan dat die twee manne beslis die gewildste en belangrikste manne in hul dorp is.

Die Griekse Cipriote het ’n tragiese geskiedenis. Die Turkse inval van Julie 1974 het die eiland en selfs die hoofstad, Nicosia, in twee geskeur. ’n  Griekse gids het ons eendag op ’n toer deur die stad geneem en ’n passievolle toespraak gelewer. Sy  neem nie die Turke kwalik dat hulle haar en haar familie uit hul huis verjaag het nie. Dat hulle die stad afgebaken het  en dat sy selfs daardie nag moes vlug vir haar lewe, kan sy ook aanvaar, maar dat hul haar van haar verlede beroof het, sal sy hulle nooit vergewe nie.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top