
Andre Terblanche, Pedro Camara, Carel Nel, Joanie Combrink, Tanja Franzen, Viljee Maritz, Wessel Pretorius en Pieter van Zyl
Die drama speel af in ’n psigiatriese saal van ’n hospitaal, waar ’n klompie dienspligtiges tydens die apartheidsjare hulle bevind. Die jong mans se ervaring van die grensoorlog en die post-traumatiese stres wat dit tot gevolg gehad het, word belig. Sommiges was recces, ander van 32 bataljon, geharde soldate. Ander wou graag grens toe gaan, maar is medies ongeskik verklaar.
Van Albert Maritz, die skrywer
By enige oorlog is mense betrokke. Elke mens is anders. Min is bekend van wie en hoe enige persoon hulle op die slagveld gedra. ’n Paar helde word uitgesonder, soms onverdiend.
In ’n oorlogshospitaal word iets van alles in ’n kookpot gegooi. En binne die vier mure is min wegsteekplek. Verbeel jou jy is ’n waarnemer, jy is soos ’n voël wat van bo af almal se beste pogings op oorlewing waarneem.
Daar is die reus van ’n man wat sy heldhaftigheid alreeds bewys het, en nou hier is om te herstel van knieë wat skade gekry het. Hy speel kitaar en sing op een noot.
Nog ’n karakter is ’n lojale burger, sout van die aarde, so uit die goeie grond van hierdie land uit as kan kom. Hy wil sy plig vir sy land doen, maar dis einste sy opleiding by die weermag wat te straf vir sy epilepsie is, en hy vang die ondenkbare, iets allerverskrikliks, aan. Hy praat sag en het empatie met ander.
Uit die burgerlike samelewing werf die weermag opgeleide mediese personeel. Sommige se toewyding is onbesproke. Ander ontdek die lewendige ou plesiertjies en voorregte van die samesyn met weermagpersoneel. En hulle ontdek mag. Mag kom in klein pakkies, maar kan in koningsgesag omskep word as die troontjie klein en pateties genoeg is.
En as jy die uiterstes teenoor mekaar opstel – die kansvatter wat sy broodjie aan beide kante gebotter wil hê, ook die onskuldigste van onskuldiges, plus die effe vertraagde Hansie wat hier so uit sy diepte is... Sien hom teenoor die ewe onskuldige, eenkant verfynde vent, daar in wat sy nurse beskryf as sy “duiwelshoek”. Hulle is die tragiese figure tussen ’n handvol soldate met elke skeet onder die son. Dis wanneer die kwik tot kookpunt toe opgestoot word.
Weermagpligtige jong mans is tot die laat 80’s, selfs vroeë 90’s, nog opgeroep om diensplig te doen. Maar hulle was nog nie mans nie. Hulle was seuns van 17 en 18 jaar oud. Die effek hiervan word weerspieël in talle verskeurde huishoudings, soos die jongmense wat nie eens besef wat verkeerd geloop het in hulle lewens nie en rigting probeer vind in ’n doolhof sonder mentors. Ironieë loop dik.
Nes daar veel te leer is uit die verhale van legendariese helde soos Kolonel Breytenbach, broer van Breyten Breytenbach, is daar ook lesse in die skeefdraai, ontspoor, en soms, net soms, in die regdraai van iemand se lewensbootjie, om die branders trompop te vat, soos ’n skilpad die brand.
Die drama bevat volwasse inhoud en taalgebruik wat moontlik sensitiewe luisteraars kan ontstel.
Oor die span
Die skrywer is Albert Maritz en die spelers is Viljee Maritz, Wessel Pretorius, Pieter van Zyl, Carel Nel, Andre Terblanche, Pedro Camara en Tanja Franzen met regie deur Joanie Combrink.
Die stuk speel Donderdagaand 5 Junie om 8 uur die aand op RSG of rsg.co.za, asook op potgooi na afloop van die uitsending en op Spotify.

