Persverklaring: PEN Afrikaans kondig met trots suksesvolle Vertaalfonds-aansoeke op Vrouedag aan

  • 0

PEN Afrikaans kondig met trots op Vrouedag die volgende lot suksesvolle aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds aan. Dit is werke wat die perspektief en belewenis van vroue voorop stel en deur vertalings in Nederlands, Frans en Albanees ook uitvoerprodukte van die (Suid-)Afrikaanse letterkunde word.

Die volgende vier vertalings sal na afloop van die jongste ronde aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds gefinansier word:

  • ’n Nederlandse vertaling van Lady Anne deur Antjie Krog (De Arbeiderspers)
  • ’n Franse vertaling van Plunder deur Antjie Krog (Cheyne Éditeur)
  • ’n Nederlandse vertaling van Elisabet se oorlog deur Helene de Kock (Uitgeverij Den Hertog)
  • ’n Albanese vertaling van Swartval deur Martin Steyn (Ombra GVG)

Lady Anne deur Antjie Krog, wat oorspronklik in 1989 verskyn het, het Krog se eerste Hertzogprys aan haar besorg en word steeds as ’n hoogtepunt in haar oeuvre beskou. In haar resensie van dié “uitmuntende bundel” meld Louise Viljoen hoe interessant dit is dat die aktualiteit in die bundel bewerkstellig word deur die gebruik van ’n historiese figuur, Lady Anne Barnard: “Krog gebruik hierdie vrou met haar sonderlinge geskiedenis as reisgenoot terwyl sy haar eie tyd en ruimte, Suid-Afrika vandag, verken.” Sy meld ook hoedat daar gelet kan word op “die wyse waarop die vroue hulleself bevind en maneuvreer binne verskillende magsverhoudinge: tussen heerser en onderdrukte, tussen man en vrou, tussen kunstenaar en kunswerk.” Die blote feit dat Krog ’n vrou as onderwerp van haar postmoderne epos gekies het, maak ’n stelling oor die belangrikheid van geslagskwessies te midde van die stryd om rassegelykheid in Suid-Afrika, meld Viljoen elders.

De Arbeiderspers, ’n afdeling van die Nederlandse uitgewersgroep Singel Uitgeverijen, beoog om die Nederlandse vertaling in September 2026 te publiseer. Robert Dorsman, die bekende en gerespekteerde vertaler, wat onder meer onlangs Krog se Binnerym van bloed vertaal het, sal die vertaling saam met Jan van der Haar behartig. Van der Haar en Dorsman het saam al meerdere digbundels van Krog in Nederlands vertaal. Krog se gewildheid en aansien onder Nederlandse lesers blyk ook uit die toekenning van die Gouden Ganzenveer-prys aan haar in 2018. Sy was die eerste nie-Nederlandstalige persoon wat met dié kultuur- en literatuurprys vereer is vir haar uitsonderlike bydrae tot die Nederlandse taal en kultuur.

Ook in Frankryk kan lesers na ’n nuwe Krog-publikasie uitsien. Cheyne Éditeur, ’n bekende Franse uitgewery wat in kontemporêre digkuns spesialiseer, het suksesvol aansoek vir ’n subsidie om Plunder deur Antjie Krog in Frans te vertaal. Georges Lory, wat bekend is as vertaler van onder andere Breyten Breytenbach, Krog en JM Coetzee, sal die vertaling behartig en die beoogde publikasiedatum is in Januarie 2027.

Plunder het in 2022 verskyn en is tegelykertyd in Engelse vertaling uitgegee as Pillage (vertaal deur Karen Press). In hierdie bundel is die digter haar eie liggaam, ouderdom, familie, taal en ander skrywers se werk treffend aan’t “plunder”. Die bundel verken temas soos sterflikheid en intertekstualiteit en “al die bekende temas van vrouwees” aldus Joan Hambidge. Dit het die UJ-prys sowel as die Hertzogprys verower en is in resensies as ’n kragtoer en as meesterlik beskryf.

Elisabet se oorlog deur Helene de Kock sal na verwagting in Oktober 2027 in Nederlandse vertaling by Uitgeverij Den Hertog verskyn. Die roman het in 2021 by Human & Rousseau verskyn en in 2022 aan De Kock ’n ATKV-Woordveertjie besorg. Dit is ’n liefdesroman wat teen die agtergrond van die Tweede Wêreldoorlog vertel hoe die hoofkarakter, Elisabet Uys, teen die sosiale verwagtinge van die dag indruis deur haar verlowing aan ’n welgestelde boer te verbreek en te reis na die oorloggeteisterde Londen. Die roman ondersoek temas soos liefde, onafhanklikheid, identiteit, familie, verlies en oorlog. Elisabet worstel nie net met die werklikheid van oorlog nie, maar ook met haar eie innerlike stryd om vryheid en geluk.

Robert Dorsman sal vir die Nederlandse vertaling van hierdie bekroonde roman verantwoordelik wees. Uitgeverij Den Hertog bestaan al meer as 100 jaar en fokus primêr op die Christelike mark. Helene de Kock debuteer in 1978 met Soete dwaling en daar het sedertdien al meer as 50 boeke uit haar pen verskyn. Sy het ook ’n doktorsgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit verwerf.

Ombra GVG, een van die voorste uitgewers in Albanië, het suksesvol aansoek gedoen vir finansiële ondersteuning om ’n Albanese vertaling van Swartval deur Martin Steyn uit te gee. Dit sal na verwagting in November 2026 verskyn. Die vertaler is Sidita Dano, wat ook Steyn se vorige twee spanningsromans in Albanees vertaal het, sowel as ’n uitgebreide lys boeke deur ander skrywers, insluitend Marita van der Vyver en Jeffrey Archer.

Swartval word deur Willie Burger beskryf as ’n “meesleurende verhaal” wat hy verslind het omdat dit “met soveel vaart bly voortsnel en omdat die karakters veelkantiger raak en die leser bly boei.” Dit vertel die storie van die ontvoering en aanhouding van Claire Winters, wat as ontkleedanser werk. “Die boek se stofomslag waarsku dat dit nie vir sensitiewe lesers bedoel is nie. Neem hierdie waarskuwing ernstig op, maar moenie die boek afskryf daaroor nie. Want geweld teenoor vroue, die emosionele aftakeling wat dit meebring en die uitwerking daarvan op ons samelewing en diegene wat die misdade en moorde moet oplos, kan nie genoeg beklemtoon word nie,” skryf Maryke Roberts in haar resensie.

Hierdie vertaling dra nie net by tot die verdere toetrede van Afrikaanse spanningsromans tot die internasionale verhoog nie, maar ook tot relevante en nodige gesprekke oor geslagsgebaseerde geweld.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak deur die toekenning van vertaalsubsidies aan buitelandse uitgewers wat suksesvol daarvoor aansoek doen. Die fonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis.

Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.

Die reglement met volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: https://penafrikaans.org.za/pen-afrikaans-vertaalfonds/.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top