Die SA Akademie wag nominasies in vir die Akademiepryse wat in 2024 vir toekenning oorweeg word.
Die finale sluitingsdatum vir nominasies is 15 Februarie 2024 (behalwe waar anders vermeld).
Graag vestig ons u aandag op die Akademiepryse wat gedurende 2023 vir toekenning oorweeg word. Volledig gemotiveerde voorstelle vir enigeen van hierdie pryse word ingewag. Die volgende geld ten opsigte van die voorstelle:
|
Geesteswetenskappe
NP van Wyk Louwprys vir Geesteswetenskappe
Dit is een van die toppryse van die Akademie en kan jaarliks toegeken word vir ʼn betekenisvolle bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van ’n vertakking of vertakkings van die geesteswetenskappe en kan daarom slegs een maal aan ’n persoon toegeken word. ’n Kandidaat moet naas hoëgehaltepublikasies ook bewys lewer van die bevordering van sy/haar vakgebied in Afrikaans. Dit kan onder meer inhou studieleiding; redaksionele werk in Afrikaans; populêre bydraes in die media; optredes by kongresse of seminare; bereidheid om werk in Afrikaans te laat vertaal, ensovoort.
Stalsprys
Die Stalsprys is ’n jaarlikse prestigeprys wat toegeken word vir oorspronklike navorsing op die gebied van die geesteswetenskappe en kan net een maal aan ’n bepaalde persoon toegeken word vir die volgende:
- ’n Hoogstaande publikasie of ’n reeks sodanige publikasies wat wetenskaplike werk van die hoogste gehalte verteenwoordig;
- Individuele of gesamentlike wetenskapsbeoefening en/of die lewering van individuele of gesamentlike produkte van hoogstaande gehalte.
Indien die werk van ’n kandidaat wie se wetenskaplike werk grootliks in Engels of ’n ander taal gelewer is, moet bewys gelewer kan word van die bevordering van sy/haar vakgebied in Afrikaans. Dit kan onder meer inhou studieleiding; redaksionele werk in Afrikaans; populêre bydraes in die media; optredes by kongresse of seminare; bereidheid om werk in Afrikaans te laat vertaal, ensovoort.
Die vakgebiede roteer jaarliks en in 2024 kan een prys in elkeen van die volgende vakgroepe toegeken word:
Kategorie A: Afrikaans op taalwetenskaplike en/of taalgebruikskundige terrein; Afrikaanse literatuurwetenskap en literêre kritiek (dus in Afrikaans, maar oor enige taal)
Kategorie B: Drama-, musiek- óf kunswetenskappe.
Protea Boekhuistoekenning
Die Prys word jaarliks toegeken en roteer tussen ’n ongepubliseerde magisterverhandeling, ongepubliseerde doktorale proefskrif en ’n gepubliseerde boek in Afrikaans oor geskiedenis of kultuurgeskiedenis.
In 2024 kan dit toegeken word vir die beste doktorale proefskrif. Proefskrifte van persone wat in die voorafgaande drie jaar gegradueer het, kom in aanmerking.
Sluitingsdatum vir nominasies vir hierdie prys: 20 Januarie 2024
CL Engelbrechtprys vir Taalkunde
Die Prys word toegeken vir taalkunde (gepubliseerde werke in Afrikaans oor die Afrikaanse taalkunde). ’n Boek of saamgestelde boek wat in die vyf kalenderjare (2019, 2020, 2021, 2022, 2023) gepubliseer is, kom in aanmerking
Hugenote-Vereniging-en-DF du Toit-Malherbeprys vir Genealogiese Navorsing
Die Prys kan elke drie jaar toegeken word vir ’n hoogstaande publikasie of reeks hoogstaande publikasies in Afrikaans op die gebied van die genealogie wat voor die begin van die bekroningsjaar verskyn het. Die publikasie(s) moet bewys lewer van oorspronklike navorsing. ’n Eksemplaar van die kandidaat se werk wat genomineer word, moet die nominasie vergesel.
Erepenning vir Geesteswetenskappe
Die Erepenning word toegeken vir ’n persoon se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die geesteswetenskappe en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband, soos in landsbelang. Die Erepenning mag meer as een maal aan dieselfde persoon in dieselfde afdeling toegeken word.
Jacques van der Elstprys
Die Prys word toegeken vir die beste artikel wat gedurende 2022 in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe gepubliseer is.
Natuurwetenskappe
MT Steynprys vir Natuurwetenskappe
Dit word beskou as die topprys vir natuurwetenskap en tegnologie en kan daarom net een maal aan ’n persoon toegeken word.
Die Prys word jaarliks toegeken aan ’n persoon wat ʼn betekenisvolle bydrae gelewer het tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskappe en/of die tegnologie (of ’n vertakking of vertakkings daarvan) en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband, soos in landsbelang.
Dit sal ʼn sterk aanbeveling wees indien ’n kandidaat naas hoëgehaltepublikasies (patente, en dergelike) ook bewys lewer van die bevordering van sy/haar vakgebied in Afrikaans. Dit kan onder meer inhou studieleiding; redaksionele werk in Afrikaans; populêre bydraes in die media; optredes by kongresse of seminare; bereidheid om werk in Afrikaans te laat vertaal, ensovoort.
Havengaprys
Die Havengaprys is ’n jaarlikse prestigeprys wat toegeken word vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegniese gebied en kan net een maal aan ’n bepaalde persoon toegeken word.
Die belangrikste vereiste by die beoordeling van kandidate is navorsingspublikasies.
Dit sal ʼn sterk aanbeveling wees indien ’n kandidaat naas hoëgehaltepublikasies (patente, en dergelike) ook bewys lewer van die bevordering van sy/haar vakgebied in Afrikaans. Dit kan onder meer inhou studieleiding; redaksionele werk in Afrikaans; populêre bydraes in die media; optredes by kongresse of seminare; bereidheid om werk in Afrikaans te laat vertaal, ensovoort. Die vakgebiede roteer jaarliks en in 2024 kan die volgende in aanmerking kom vir die prys: Havengaprys vir Gesondheidswetenskappe (Geneeskunde, Tandheelkunde, Oftalmologie, ens.)
Douw Greeffprys
Die Prys word toegeken vir die beste artikel wat gedurende 2023 in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie gepubliseer is.
Erepenning van die SA Akademie se Fakulteit Natuurwetenskap en Tegnologie
Die Erepenning word toegeken vir ʼn persoon se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskappe en/of die tegnologie (of ’n vertakking of vertakkings) en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband, soos in landsbelang. Die Erepenning mag meer as een maal aan dieselfde persoon in dieselfde afdeling toegeken word.
Junior Kaptein Scott-gedenkmedalje (Dierkundige Wetenskappe)
Die Prys kan jaarliks toegeken word aan studente wat reeds ’n M.Sc.-graad verwerf het in die voorafgaande twee jaar vir die beste verhandeling ingedien by ’n Suid-Afrikaanse universiteit, om die beurt in die dierkundige of plantkundige wetenskappe.
Die verhandeling moet ’n bydrae tot wetenskaplike kennis lewer en moet bewys van oorspronklike navorsing lewer.
Elke universiteit word tot die insending van een verhandeling beperk. Verhandelinge in elektroniese formaat word aanvaar.
Kunste
SA Akademieprys vir Visuele Kunste
Dit is een van die toppryse van die Akademie op die gebied van die kunste en word toegeken vir ʼn betekenisvolle bydrae tot die visuele kunste en kan daarom slegs een maal aan ’n persoon toegeken word.
Die Prys word driejaarliks toegeken en die volgende gebiede kom in aanmerking: skilderkuns; beeldhoukuns; argitektuur; weefwerk; mosaïek; animasie; ensovoort.
Deleen Bekkerprys vir Beste Draaiboek vir TV-dokumentêre Program in Afrikaans
Die Prys kan jaarliks toegeken word en in 2024 kom die prys vir beste draaiboek (teks) vir ’n TV-dokumentêre program in Afrikaans aan die beurt wat in die voorafgaande drie jaar gebeeldsend is.
Erepenning vir Kuns
Die Erepenning word toegeken vir ’n persoon se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die visuele en uitvoerende kunste. Die Erepenning mag meer as een maal aan dieselfde persoon in dieselfde afdeling toegeken word.
Letterkundige pryse
Hertzogprys vir Drama
Die Prys word afwisselend vir drama, poësie en prosa toegeken. Alle gepubliseerde dramawerke van hoogstaande gehalte wat verskyn het in die drie kalenderjare wat die bekroning voorafgaan, kom vir dié toekenning in aanmerking.
Eugène Maraisprys vir Poësie/Drama
Die toekenning van hierdie prys word jaarliks oorweeg vir ’n eerste of tweede bellettristiese werk van ’n skrywer.
Tienie Hollowaymedalje vir Kleuterliteratuur
Die Prys is driejaarliks beskikbaar en word toegeken aan ’n skrywer wat gedurende ’n tydperk deur die Akademieraad bepaal, die beste werk van ’n bevredigende gehalte in Afrikaans gelewer het in die genre van kleuterliteratuur. Die kategorie kleuterliteratuur sluit boeke in vir kinders onder agt jaar, maar dié omskrywing word nie op ’n te beperkende wyse toegepas nie.
Elsabe Steenbergprys vir Vertaalde Kinder- en Jeugliteratuur in Afrikaans
Die Prys kan driejaarliks toegeken word vir vertaalde kleuter- en kinderliteratuur in Afrikaans.