Persverklaring: Ons kom van vêr – bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans

  • 3

Die storie van Afrikaans het in die verlede meestal gefokus op die taal se wit geskiedenis, terwyl die taal se bruin en swart geskiedenis misken is. Met hierdie boek word die verhaal meer volledig vertel as wat tot dusver die geval was.  Michael le Cordeur en Wannie Carstens verduidelik waarom dit nodig was om die situasie reg te stel deur aan te toon dat bruin mense se verbintenis met Afrikaans inderdaad van vêr af kom.

Daar heers tans ’n groot debat in Suid-Afrika oor die toekoms van Afrikaans as onderwystaal. In hierdie debat word daar dikwels vinger gewys na bruin mense en veral bruin leiers oor hul “stilswye” in hierdie debat. Die punt word veral gemaak dat bruin mense die grootste komponent uitmaak van die totale Afrikaanssprekende gemeenskap.

Michael le Cordeur sê hy was nog altyd van mening dat bogenoemde stelling ’n aanvegbare stelling is. “Daarom het ek en Wannie Carstens reeds aan die einde van 2015 begin praat oor die moontlikheid om ’n gedenkboek saam te stel, opgedra aan Adam Small, met die tema: die bydrae van bruin sprekers van Afrikaans tot die ontwikkeling van Afrikaans as taal.

adam-en-rosalie

Adam Small en sy vrou, Rosalie.

Le Cordeur het verskeie skrywers hoofsaaklik uit die bruin gemeenskap genader om betrokke te raak en oor ’n aspek te skryf waarby hulle intens betrokke is/was en waar ’n bydrae tot Afrikaans gemaak is. “Die reaksie uit die bruin gemeenskap het ons wildste drome oortref en ons moes streng keuring toepas om die boek tot 35 hoofstukke te beperk.”

Uiteindelik het 35 skrywers, akademici en gemeenskapsleiers van byna elke sfeer van die samelewing hulle tot die projek verbind, wat deur die SA Akademie, die Jan Marais Nasionale Fonds, die Hiemstra Trust, die SBA en die ATKV ondersteun is.

Hulle is Fatima Alie (SBA, ATR en Moesliem leier), Herman Bailey (oud-burgemeester), Jacques Beukes (jeugpredikant), Charles Beukes (sportjoernalis), Willa Boezak (Khoisan-beweging), Wannie Carstens (taalredakteur), Johan Coetzer (akademikus), Gavin Davids (musiekkenner, UWK), John Diergaardt (onderwyskundige), Cecyl Esau (apartheidsaktivis en Robbeneilander), Gaireyah Fredericks (digter), Edwena Goff (kerkleier, Mej Suid-Afrika), Willem Fransman (digter), Henry Jeffreys (oud-koerantredakteur), Basil Kivedo (oud-burgermeester en MK-lid), Nico Koopman (vise-rektor, US), Michael le Cordeur (inhoudsredakteur, akademikus, US), Marlene le Roux (hoof van Kunstekaap, Voorsitter van die SBA), Llwellyn MacMaster (US en predikant), Basil May (onderwyskundige en oud-rektor), Patrick Mettler (onderwyskundige), Selwyn Milborrow (digter), Reggie Nel (akademikus, UNISA), Elias Nel (ATKV en kultuurmens), Robert Pearce (NMMU, dramaturg), Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel (US, kerkleier, moderator), Conrad Sidego (oud-koerantredakteur en ambassadeur), Cornelius Thomas (akademikus, Rhodes Universiteit), Danny Titus (ATKV), Christo van de Rheede (Agri Wes-Kaap), Raymond van Diemel (akademikus, Militêre Akademie), Danie van Wyk (FEDSAS, onderwyskundige), Ronel van Oordt (akademikus, NWU) en Archie Vergotine (onderwyskundige en KPO).

Die bydraes in hierdie omvattende werk van 600 bladsye val in tien kategorieë uiteen: ekonomie en bemagtiging, godsdiens en kerk , identiteit, die impak van apartheid, sport, kultuur, media, onderwys, politiek en taal.

Die plan was om die boek op 21 Desember 2016, die dag van Adam Small se 80ste verjaarsdag, vry te stel. Small het sy seën op die projek geplaas. Ongelukkig het die Hoër Hand ingegryp en Adam Small is op 24 Junie 2016 van ons weggeneem, maar die skrywers en sy weduwee Rosalie was oortuig om voort te gaan om sy nalatenskap te eer.

Die boek begin en eindig met ’n gedig; een van die twee genres wat Adam Small beoefen het: Selwyn Milborrow se gedig “Kô lat ôs ere bring aan Adam Small” – is ʼn ode aan die werk van Small en ’n gepaste manier om die boek te begin. ’n Pragtige gedig deur nog ’n talentvolle jong kunstenaar, Gaireyah Fredericks, rond die boek af.

Rosalie Small stel in haar hoofstuk die vraag: “Wie is Adam Small?”, waarin sy aspekte van die digter-dramaturg bekend maak waarvan niemand ooit geweet het nie. Op die flapteks skryf die redakteurs die volgende: “As akademikus, digter en dramaturg was Adam Small ’n stem vir die stemloses. Deur hierdie boek aan Adam Small op te dra, en dit op Versoeningsdag bekend te stel, gee gepaste erkenning aan ’n man wat lank in sy land misken is”.

In die proses word nie net bruin mense se bydrae tot die totstandkoming van Afrikaans geboekstaaf nie, maar die skrywers wys telkens uit dat die bruin gemeenskap dikwels aan die voorpunt gestaan het in die stryd teen apartheid – en hulle het dit boonop trots in Afrikaans gedoen. Franklin Sonn skryf op die agterblad van die boek die volgende:

“Die gesprek oor Afrikaans en bruin mense wat die skrywers in hierdie boek aanroer, is tydig in die opsig dat ná al die ambivalensie oor die Afrikaans van ons hart en die onverkwiklike manier waarop ons in hierdie taal verdruk en misken is, ons ons vryheid gekry het. Dit bring ook die verantwoordelikheid mee om minstens onder mekaar klaarheid te vind oor wat nou vorentoe met ons taal moet gebeur.”

Volgens Le Cordeur is die boek se grootste waarde dat dit die stigma dat bruin mense nie ’n stem het oor Afrikaans of ’n bydrae te maak het tot Afrikaans nie, weerlê. Die skrywers toon aan dat Afrikaans nie net die taal van apartheid was nie. Afrikaans is ook die taal van die struggle en versoening.

In die wyse woorde van Franklin Sonn: Hierdie boek is ’n aanduiding dat Afrikaans deel is van ons swart- en bruinwees, maar dat dit ons ook vasbind aan ons wit taalgenote. Met hierdie boek slaag die skrywers daarin om veral bruin Afrikaanssprekendes se trots in hul taal te laat herleef! Dit is geen geringe prestasie nie.

Al 35 skrywers se foto’s en CV’s is in die boek opgeneem en beskikbaar op aanvraag.

Wie is die redakteurs?

michael Michael le Cordeur is ’n NNS-gegradeerde navorser en hoof van die Departement Kurrikulumstudie aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is die outeur of mede-outeur van verskeie boeke en artikels en tree op as inhoudsredakteur.
wannie Wannie Carstens is ’n NNS-gegradeerde navorser en die huidige direkteur van die Skool vir Tale aan die Noordwes-Universiteit. Hy is die outeur of mede-outeur van vier akademiese boeke en talle artikels en tree op as taalredakteur.

 

 

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Bonnita Davidtsz

    I've just listened to the interview by Lynette Francis with these two authors, and was reduced to tears. I feel very strongly about the 'behoud van Afrikaans', and despite an over-full bookshelf (in my retirement), have just ordered my copy of 'Ons kom van ver' from Caitlin at Bargain Books, George. It is essential reading and SHOULD have a place on every bookshelf in SA. It's crucial message for our time, is that of inclusivity. And I see that reflected in the ideal of a Rainbow Nation.

  • Avatar
    Bonnita Davidtsz

    I still don't have the book, despite ordering it a month ago already from Bargain Books in George. Is there a shortage? Would be wonderful if it proves to be a good seller.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top