Die Onderwyskommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap wens die 2024-matrikulante, onderwysers en almal wat ’n bydrae gelewer het tot hierdie noemenswaardige prestasie, geluk met die 2024-matriekuitslae. Die opwaartse kurwe in die nasionale slaagsyfer dui op verbeterings in sekere aspekte van die onderwysstelsel en word verwelkom.
Die bydrae van onderwysers en leiers in kwintiel 1-, 2- en 3-skole kan veral uitgelig word, waar groot uitdagings in moeilike omstandighede oorkom is deur ekstra klasse en toegewydheid van onderwysers en skoolbestuur; hierdie uitsonderlike pogings moet as inspirasie dien vir toekomstige verbeterings.
’n Betekenisvolle, al is dit klein, styging in die prestasie van leerders in hul amptelike huistale verdien ook erkenning.
Terwyl die positiewe tendens verwelkom word, is dit noodsaaklik om die merkwaardige toename in die slaagsyfer binne ’n enkele jaar krities te ondersoek.
Voorts is dit belangrik om te meld dat die slaagsyfer nie gelykgestel kan word aan gehalteonderwys nie. Gehalteonderwys behels meer as net statistieke. Dit sluit in:
- ’n Gebalanseerde benadering tussen tersiêre opleiding en beroepsgerigte onderrig.
- Die aanstelbaarheid van skoolverlaters wat ’n positiewe bydrae in ’n werksplek kan maak.
- Die kweek van positiewe burgers wat ’n verskil maak in die samelewing en die vermoë het om in landsbelang op te tree.
Hierdie breër definisie van gehalteonderwys behoort meer aandag te geniet. ’n Slaagsyfer alleen kan nie as die enigste maatstaf dien nie.
Hoewel die strewe na hoër slaagsyfers prysenswaardig is, moet realistiese verwagtinge gehandhaaf word. In ’n diverse samelewing is ’n 100%-slaagsyfer nie noodwendig haalbaar nie.
Vervolgens moet die huidige fokus op matriekuitslae as ’n weg tot tersiêre opleiding heroorweeg word. Dit is noodsaaklik om alternatiewe leer- en loopbaanpaaie vanaf die vroeë grade te prioritiseer.
Die Onderwyskommissie beveel die volgende stappe aan:
- Dieselfde pogings om die gr. 12-slaagsyfer te verbeter, moet toegepas word vir alle leerders, veral in die grondslagfase.
- Gerigte pogings vanaf die grondslagfase kan verhoed dat spesiale ingrypings op Verdere Onderwys- en Opleidingvlak nodig word.
- Die fokus moet verskuif van net die slaagsyfer na die bevordering van gehalteonderwys.
- Die uitvalsyfer moet verminder word deur verbeterde ondersteuning en hulp aan leerders te bied.
- Alternatiewe geleenthede moet geskep word vir die meerderheid leerders wat nie voldoen aan die vereistes vir tersiêre opleiding nie. Suid-Afrika het nie net burgers met tersiêre kwalifikasies nodig nie, maar ook beroepsgerigte opleiding wat praktiese vaardighede ontwikkel.
- ’n Fokus op beroepsgerigte opleiding moet daarop gemik wees om 100%-werksaanstellings ná matriek te behaal, eerder as net ’n 100%-slaagsyfer. Dít gaan hand aan hand met die bevordering van ekonomiese groei om werkgeleenthede te skep vir leerders wat die arbeidsmark betree.
Indien hierdie doelwitte nie bereik word nie, word ’n onrealistiese belofte aan leerders gemaak dat die slaag van matriek noodwendig hul lewens sal verbeter.
Die Onderwyskommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bly verbind tot die bevordering van gehalteonderwys in Suid-Afrika. Deur voortgesette navorsing, samewerking en strategieë wat gemik is op die verbetering van onderwys vanaf grondslagfase tot matriek, strewe ons daarna om ’n stelsel te bou wat nie net slaagsyfers verbeter nie, maar ook leerders toerus met die vaardighede en kennis om hul volle potensiaal te bereik. Gehalteonderwys is die sleutel tot individuele en nasionale vooruitgang, en die Akademie sal aanhou werk om ’n betekenisvolle bydrae tot hierdie visie te lewer.