
Kollokwium 2022: “Om die draai”
Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch
Die Kollokwium van die Departement Afrikaans en Nederlands vind op Dinsdag 4 Oktober plaas. Vier Afrikaanse skrywers – Jolyn Phillips, Alettie van den Heever, Ryan Pedro en SJ Naudé – sê met behulp van prosa en poësie hoe hulle Suid(er)-Afrika in 2050 verbeel.
Die jaar 2050 is om die draai. Sal die eerste 50 jaar van die eeu so ingrypend wees soos die eerste 50 jaar van die twintigste eeu? Hoe sien ons wêreld daar uit polities, kultureel, ekonomies, ekologies, sosiaal-maatskaplik? Watter tale praat ons in 2050? Hoe lyk die natuurlandskap? Hoe lyk Milnerton, Mitchells Plain, Mosselbaai? Hoe lyk die verdeling tussen arm en ryk? Het ons 24/7 beurtkrag, of is energievoorsiening soos ons dit ken iets van die verlede?
Kom luister in die eerste Kollokwium sedert die begin van die pandemie na ons vier skrywers wat hul visie krities dog speels in prosa en poësie uiteensit. Die Kollokwium bied ’n platform vir debat met behoud van selfrespek, respek vir ander en ʼn wellewende, geesryke retoriese styl. Deur middel van die Kollokwium hoop die Departement om ’n kritiese bewustheid oor eietydse diskoerse en gekontesteerde kwessies aan te moedig.
Die Kollokwium vind Dinsdag 4 Oktober 2022 (19:00 vir 19:30) in die Fismer plaas. Kontak gerus vir Alfred Schaffer (aschaffer@sun.ac.za) om ’n plek te bespreek of om meer oor die Kollokwium uit te vind.

