
Nuwe Akademia-program: Nagraadse Diploma in Skoolleierskap en -bestuur
Só versterk Akademia die onderwyssektor
Die belangrikheid van én behoefte aan effektiewe onderwysleierskap en bestuursopleiding binne die Suid-Afrikaanse onderwyskonteks is van toenemende belang. Akademia, in antwoord op dié nasionale prioriteitsfokus, sal met die ingang van Maart 2025 ’n splinternuwe Nagraadse Diploma in Skoolleierskap en -bestuur aanbied.

Susan O’Reilly, departementshoof: Opvoedkundestudies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, meen die nuwe Nagraadse Diploma in Skoolleierskap en -bestuur sal ’n beduidende impak op die Suid-Afrikaanse onderwyssektor hê.
Dié opwindende nuus is op Woensdag 15 Januarie 2025 aanlyn bekend gemaak en die nuwe program sal die Fakulteit se bestaande programaanbod verbreed. Hierdie aanbod sluit die BEd (Grondslagfase-onderwys)- en BEd (Intermediêre Fase-onderwys)-programme via die instelling se voltydse kampusmodel in, asook die Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verder Onderwys en Opleiding-onderwys) wat volgens die nauurse afstandsmodel aangebied word.
’n Geleentheid vir die formele bekenstelling van die program sal op Donderdag 6 Februarie 2025 by die Leriba-kampus in Centurion plaasvind. Die bekendstelling val saam met die jaarlikse ereleerstoellesing aangaande Onderwysleierskap. Die bekleër van Akademia se ereleerstoel in onderwysleierskap, Pierre Edwards, sal as gasspreker optree.
Meer oor die program
Die Nagraadse Diploma in Skoolleierskap en -bestuur word op NKR-vlak agt aangebied, wat deelnemers ná die suksesvolle voltooiing daarvan toegang tot ’n verwante meestersgraadstudie sal bied.
Die volgende fokusareas vorm deel van die uitgebreide program:
- Leierskap en bestuur: ’n Teoretiese perspektief
- Bestuur en lei mense in skole
- Kurrikulumleierskap en -bestuur
- Bestuur van finansiële en fisiese bronne in skole
- Die reg, beleid en bestuur in onderwys
- Sluitsteenprojek (om gevorderde kennis en vaardighede te toets)
Die minimum tydsduur vir die voltooiing van die program is twee jaar en die maksimum toelaatbare tyd drie jaar. Klik hier vir meer inligting oor die toelatingsvereistes.
Volgens Susan O’Reilly, departementshoof: Opvoedkundestudies asook die programkoördineerder van dié nuwe nagraadse diploma, word dit voorsien dat die program ’n beduidende impak op Suid-Afrikaanse onderwys sal hê. Hierdie impak sal spreek tot die ontwikkeling van sterk, bekwame en ingeligte skoolleiers. “Dié program sal professionele onderwyslui in staat stel om hulself met gevorderde refleksie en ontwikkeling te bemoei,” sê O’Reilly. Sy voeg by dat ná die suksesvolle voltooiing van die program studente hulself as leiers, sowel as middel- of senior bestuurders, in die sektor kan vestig.
Wat die toevoeging van die program tot die fakulteit se programverskeidenheid betref, verduidelik O’Reilly dat dit Akademia se impaksfeer binne die Suid-Afrikaanse onderwyssektor versterk. Hierbenewens is sy opgewonde oor die bykomende geleenthede vir selfs groter netwerkvorming tussen die instelling en skole, departemente van onderwys en ander opvoedkundige instellings.
Studieaansoeke sluit op 21 Februarie terwyl klasse op 1 Maart ’n aanvang sal neem. Besoek gerus die Akademia-webblad vir meer inligting. ’n Aanlyn inligtingsessie op Donderdag 30 Januarie sal voorts nóg inligting aan belangstellendes bied. Klik hier om vir dié sessie te registreer.

